Die Verbond met Dawid
Die Verbond met Dawid
Die laaste groot Ou Testamentiese openbaring van God se verbond was aan Dawid (2 Sam. 7). Dié openbaring het ook besondere kenmerke as verbondsopenbaring gedra.
Ons vind hier weer die verbondsformule, wat aantoon dat die verbond met Dawid, ten spyte van veranderde omstandighede, steeds die één, ewige verbond van God is. In die verbond belowe God om die God van sy volk te wees en bevestig Hy hulle as sy eie (vs. 24). Dit is altyd die doel van die verbond.
Die openbaring van die verbond aan Dawid is egter in verskeie opsigte uniek. Dit bring verbond en koninkryk saam en toon aan dat hulle noú verwant is. God belowe om Dawid se koningskap en sy troon te bevestig tot in ewigheid (vs. 12,13), ʼn belofte wat vervul is in Christus, die Koning van die konings (Lukas 1:32,33).
Deur te wys dat verbond en koninkryk saam hoort, leer God aan Dawid én aan ons ʼn paar belangrike waarhede. Die verhouding tussen verbond en koninkryk vertoon die ordelike struktuur van die verbond. In dié verbond is God se volk burgers van ʼn koninkryk, elkeen met sy regmatige plek onder God se eie heerskappy. Die “troon” waarvan God praat (2 Sam. 7:13), is inderwaarheid altyd God se troon, selfs wanneer ʼn mens, soos Dawid, daarop sit.
Die verband tussen verbond en koninkryk openbaar ook die geestelike aard van die koninkryk. Daar is vandag baie mense wat dieselfde aardse en vleeslike begrip van die koninkryk het as wat die Fariseërs tydens Jesus se aardse bediening gehad het. Hulle dink dat die hele wêreld God se koninkryk is, of sal word; dat die koninkryk reeds hier op aarde, voor Christus se wederkoms, bestaan uit ʼn wêreldgemeenskap wat deur Christene oorheers word, óf hulle dink aan die koninkryk as ʼn aardse Joodse staat, gebaseer op die Ou Testamentiese koninkryk van Israel, wat gevestig sal word vóór die wederkoms van Christus.
Deur die koms van die koninkryk met die belofte van die verbond te verbind, stel God dit duidelik dat hierdie opvattings verkeerd is. Die koninkryk is nie ʼn Joodse staat óf ʼn Christelike wêreldgemeenskap nie. Dit is die geordende inwoning van God, in gemeenskap met sy volk. Die middelpunt van die koninkryk is daarom God se huis, die tempel (vs. 13), die groot Ou Testamentiese beeld van die kerk as die liggaam van Christus (Joh. 2:18-22).
In die werk van Christus sien ons die vervulling van hierdie verbondsbeloftes aan Dawid. Hy vestig sy koninkryk en gaan sy koninkryk in, nie deur wêreldoorheersing of die vorming van ʼn Joodse staat nie, maar deur die weg van lyding en veragting (2 Sam. 7:14; Ps. 89:31 e.v.) Dit is sónde wat oorwin moes word, nie leërs, wapentuig en regerings nie.
Die woorde aan die kruis bo die hoof van Christus het daarom die vervulling van hierdie verbondsbeloftes aan Dawid beteken, al het húlle wat dit daar opgestel het, gedink dat hulle daardeur die spot dryf. In sy lyde was Christus die Koning van die Jode, van ál die ware kinders van Abraham. Dit is Christus wat hulle van hulle geestelike vyand verlos, en vir hulle ʼn plek in die paradys, in sy eie hemelse koninkryk, verdien.