Die Verbond en die Belofte van die Land
Die Verbond en die Belofte van die Land
Uit Genesis 15 is dit duidelik dat die verbond van God met Abraham — en deur Abraham ook met die ware Israel, en met ons — ʼn genadeverbond is. Dieselfde hoofstuk herinner ons egter aan ʼn ander merkwaardige kenmerk van die verbond met Abraham: dit behels ʼn belofte van die land.
Die belofte van die land word dikwels misverstaan en lei baie mense daartoe om ʼn toekomstige herstel van die volk Israel in die aardse land Kanaän te soek. Ons glo dit is ʼn vergeefse hoop.
Die verbond met Abraham wys hoe vergeefs so ʼn hoop is. As die verbond met Abraham die belofte van ʼn aardse land behels het, is daardie belofte nooit aan Abraham self vervul nie.
Die Woord sê in Handelinge 7:5 dat God vir Abraham geen erfdeel in die land gegee het om sy voet op te sit nie. Tog sê vers 5 dat God die land nie alleen aan Abraham se nageslag beloof het nie, maar ook aan homself. Daar kan by ons nie ʼn duideliker bewys wees dat die belofte van die land, en al die soortgelyke beloftes in die Ou Testament,ʼn geestelike vervulling het nie. Die landbelofte was in wese altyd die belofte van ʼn hemelse erfdeel, en nie die belofte vanʼn aardse land of erfdeel nie.
Dit word in Hebreërs 11:8-16 bevestig. Toe Abraham deur die geloof uit Ur getrek het na die land wat God hom beloof het, het hy “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (vs. 10). Isak en Jakob het ook “bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (vs. 13) en verklaar dat hulle verlang “na ʼn beter [vaderland], dit is “ʼn hemelse” (vs. 16). As hulle na ʼn aardse erfdeel gesoek het, sou hulle die geleentheid gehad het om terug te keer na die land waaruit hulle weggetrek het (vs. 15), maar dít was nie hulle hoop nie. Dit is ook nie ons hoop nie.
Omdat die belofte van die land aan Abraham in werklikheid ʼn belofte was van geestelike en hemelse dinge, sal al die ware kinders van Abraham (Rom. 3:28-29; Rom. 4:16-17; Gal. 3:29), húlle wat glo in die God van Abraham, Jode sowel as heidene, die vervulling van daardie belofte, en van al die ander beloftes van die verbond wat God met Abraham en sy nageslag opgerig het, geniet. Nie een sal faal om dit wat beloof is te verkry nie — nie Abraham self, nie die Jode wat na die ballingskap versprei is en nooit na Kanaän teruggekeer het nie, en nie die heiden gelowiges, wat ook deur die geloof ware kinders van Abraham is, nie.
Só erf al Abraham se kinders saam met Abraham iets ver beter as die heuwels en riviere en stede vanʼn aardse land. Hulle gaan daardie geseënde erfdeel in waarvan Hebreërs 12:22-24 praat, en daar is niks beter nie.