Die Uitverkiesende Mens
Die Uitverkiesende Mens
Al hoe meer mense glo aan die uitverkiesing — ’n uitverkiesing vanuit die mens self. Die mens kies God uit om in te glo. Die dankbaarheid verskuif van die mens na God. Stalin, wat ook ’n ruk lank by ’n teologiese seminarie deurgebring het, het gesê: ‘dankbaarheid hoort by ’n hond’. Die nuwe fase in die koms van die antichrist is dat daar besin word oor God se dankbaarheid — dat die mens Hom kies om in te glo. Dit klink nie net Godslasterlik nie — dit is dit ook. ’n Uitverkiesende mens met ’n dankbare God.
Die wortel van hierdie aardse uitverkiesing was in ’n sekere sin nog altyd by die mensdom aanwesig. Tog het die spoed waarmee die dwaling vorm aanneem toegeneem. Daar het ’n soort eendrag in die gedrag van die mens begin kom. Die globalisme, veral die digitale aard daarvan, het ’n groot bydrae hiertoe gelewer. Kort gestel: die mens met sy elektroniese masjientjies het geleer om sy eie wêreld saam te stel. Die postmoderne mens, van wie ons nou al sy laaste stuiptrekkings begin sien, is by uitstek ’n uitkieser. Hy kies sy styl vir klere en ’n kar, waar hy sy eie persoonlikheid saamstel. Hy kies sy eie woorde — wat geradbraakte SMS kodes word — waarmee hy kommunikeer net met wie hy wil. Hy kies sy eie seksualiteit wat by sy sondesmaak pas. Hy kies nie net die aantal nie, maar binnekort ook die geslag van sy kind. Hy stel vir hom ’n familie saam, as hy een wil hê. Hy kies dan ook sy eie god. Dit is niks nuuts vir die afgode nie. Maar nou kom daar iets by. Die mens kies God — sodat God dankbaar sal wees. Die mens kies en verleen so bestaansreg aan God. Ons het nie net te doen met die vergoddeliking van die mens nie, maar met die vermensliking van God.
Stalin het ook gesê hy het by die priesters leer lieg. In watter mate leer die kerk die wêreld lieg? Wanneer die waarheid vir die leuen verruil word. Wanneer die uitverkiesing, deur God in Christus, van die mens ondergrawe word met ’n mens wat van die aarde af sy hart vir die Here gee. Daarom is dit so gevaarlik as Remonstrantse dwalings, Arminianisme en humanisme afgewit in die kerke ingedra word. ’n Voorbeeld hiervan is die bykans fanatieke ywer waarmee die dwalings van Bruce Wilkinson en Rick Warren deur gereformeerde predikante bevorder word. Moet God nou dankbaar daaroor word? Hoeveel gereformeerde predikante het die vermensliking van God raakgesien in Mel Gibson se The passion of the Christ? Moet God nou dankbaar wees? Hoeveel preke moet ons nog hoor oor wat jy alles vir die Here moet doen? Gaan Hy vir jou dankie sê? Glo die gereformeerde kerke in God wat uitkies of in die mens wat uitkies? Glo ons aan die mens se reg om te kies of in God se reg om te kies? Dit is óf menseregte óf Christus se reg(verdigheid).
God het in Christus gekies. God het mens geword in Christus. God is en bly volledig God — al sou geen mens Hom aanbid nie. Wanneer gaan die gereformeerde kerke — ook binne die gereformeerde kerkverband ophou om iets vir God te probeer doen? Jy kan niks vir God doen nie, want dan moet Hy vir jou dankie sê. Die waarheid is dat God deur sy Seun, Christus, en deur sy Heilige Gees sy werk in jou doen. Daarvoor is daar plek vir dankbaarheid. God het Homself klaar verneder deurdat sy Seun mens geword het. Jy hoef Hom nie te probeer verneder met remonstrantse dwalings en ’n nuwe post-moderne uitverkiesingsleer wat God net ’n blote medemens wil laat wees nie. Soos die popliedjie lui: ‘What if God were one of us...’ Ja, inderdaad, wat dan? Dan kan Hy mos maar vir jou dankie sê. Hierdie valse christus wat deur die uitverkiesende mense aangehang word is ’n afgod en afgode is dood. Is jy seker dat die nuwe entoesiasme en ‘lewe’ wat hierdie nuwe neigings in jou gemeente geblaas het, werklik die asem van God is?
Sy Heilige Gees en sy Woord is die waarheid. God kies. Nie jy nie. Laat die kerk ophou om die wêreld te leer lieg oor Christus. Leef jou dank uit, as jy in Christus gekies is. Wees ware kerk van die ware Christus in die wêreld.