Die troonbestyging van twee regeerders
Die troonbestyging van twee regeerders
In die afgelope week was daar twee vakansiedae in Suid-Afrika. By albei vakansiedae was feesvierings rondom bewindsaanvaarding in die brandpunt. Op Dinsdag 10 Mei was dit die fees by die bewindsaanvaarding van pres. Mandela. Twee dae later, op 12 Mei, was die kerk feestelik saam ter viering van Christus se hemelvaart — die geleentheid waarby Hy sy hemelse troon aan die regterhand van God bestyg het. Die vraag vir selfondersoek is: Watter fees het by ons die meeste gewig gedra?
Natuurlik moet ons nie die regering van Christus en die regering van aardse owerhede teen mekaar afspeel nie. Prinsipieel weet ons mos waar ons staan: elke aardse owerheid is dienaar van God. Maar as dit by praktiese sake van die dag kom, kom die vraag weer na vore: Wie het die grootste invloed op ons lewe hier op aarde: Jesus Christus, of die regering van die dag? As dit op stuk van sake kom, by wie soek ons ons redding?
Christus se regering: konkreet of geestelik?⤒🔗
Die normale tendens is om Christus se regering te wil terugskuif na die terrein van ons "geestelike bestaan". Vandaar ook die piëtistiese neiging om die evangelie te gaan vergeestelik. Of, uit meer Skrifkritiese kant, word die Bybel vergeestelik: Christus se hemelvaart, soos ook sy opstanding, word afgemaak as blote verhale of simboliese voorstellings sonder enige historiese gronde.
Volgens hierdie beskouing het die twee feesvierings van verlede week op twee totaal verskillende vlakke gelê: Hemelvaart het op geestelike vlak gelê; die inhuldiging van mnr. Mandela op die konkrete terrein van ons daaglikse bestaan. By wie ons dan ons heil moet soek? Wel, volgens hierdie beskouing lê ons geestelike heil by Christus en ons konkrete heil by die regering van die dag. Christus se regering wat by sy hemelvaart aangebreek het, is dus nie absoluut nie. Dit omvat nie hemel én aarde nie, maar slegs die hemel.
Sodoende word Christus se heerskappy en verlossing gerelativeer. Relativering van Christus se regering is 'n baie ou strategie wat Satan van lankal af gebruik. In die boek Handelinge kom daar 'n treffende voorbeeld hiervan voor.
Die slavin met die waarsêende gees←⤒🔗
In Handelinge 16:16-18 skryf Lukas dat daar in Filippi 'n slavin met 'n waarsêende gees was. Sy het vir dae lank agter Paulus en sy medewerkers aangeloop en uitgeroep: "Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing." Lukas skryf dat Paulus baie ontevrede oor die slavin se optrede was en die gees in die Naam van Christus beveel het om uit haar uit te gaan. Die gees het haar onmiddellik verlaat en sy het stilgebly. Op die oog af lyk Paulus se optrede vreemd. Waarom sou hy tog die slavin die swye wou oplê? Was dit wat sy geloop en skreeu het, dan nie die reine waarheid nie? Buitendien, Filippi was die eerste stad op Europese bodem waar Paulus die verlossing van Jesus Christus verkondig het. Die optrede van die slavin kon tog 'n wonderlike advertensie vir hom wees! Waarom was Paulus ontevrede daaroor?
Verydeling van die koninkryk van God←⤒🔗
By nadere ondersoek blyk dat Paulus grondige rede gehad het om ontevrede te wees. Die woorde wat die slavin geloop en skreeu het, was immers nie die waarheid nie, maar 'n baie groot leuen! Uit die Grieks is dit duidelik dat sy eintlik geskree het: ". .. hulle verkondig aan julle 'n weg van verlossing." Paulus het besef dat die slavin nie besig is om die evangelie te bevorder nie, maar juis besig was om dit te relativeer. Sy het al die omstanders goed laat verstaan dat Jesus Christus nie die weg, oftewel die enigste weg, tot saligheid is nie, maar 'n weg, dit wil sê: een van baie weë om gered te word. Naas Jesus Christus is daar ook ander geldige verlossers.
Al het die slavin se woorde geklink of dit in diens van die ware God is, was sy inderwaarheid 'n mondstuk vir Satan. Satan begeer immers van harte om die valse gode van die heidene met God gelyk te stel. Die optrede van die slavin daar in Filippi was dus 'n poging van Satan om die koninkryk van God te verydel deur subtiele verdraaiing van die waarheid. Paulus kon nie anders nie. Hy moes die slavin se mond snoer.
Wat daar in Filippi gebeur het, is vir die kerk van alle tye ter waarskuwing opgeteken. Ook vir ons. Die waarskuwing is: woorde en dade wat baie Christelik klink, is dikwels nie wat dit voorgee om te wees nie. Dit vra dikwels fyn onderskeidingsvermoë om die verskil tussen die erkenning van God en die relativering van God raak te sien. Hierdie onderskeidingsvermoë word van ons gevra wanneer ons die stemme van ons tyd om ons hoor opklink.
Godsdiensvryheid of godsdiensgelykheid←⤒🔗
Een van die stemme is die stem van "godsdiensvryheid". Die slagspreuk van godsdiensvryheid word baie gebruik as deel van die vredesoplossing in die Nuwe Suid-Afrika. Die gedagte van godsdiensvryheid is in sigself goed. As godsdiensvryheid egter die gestalte aanneem wat dit by die inhuldiging van die nuwe staatspresident gehad het, naamlik dat daar by een geleentheid uit die Koran én die Ou Testament gelees word en die Christelike gebed voorafgegaan word deur 'n Hindoegebed, dan het ons nie meer met godsdiensvryheid te doen nie, maar met 'n gelykstelling van godsdienste. Dan klink die stem van die slavin met die waarsêende gees weer op: "Christus is maar één weg tot die saligheid!"
Nkosi sikelel' iAfrika?←⤒🔗
Nog 'n moderne stem is die stem van die "nuwe volkslied".
Ten einde Christene sover te bring om in die Nuwe Suid-Afrika saam te sing Nkosi sikelel' iAfrika, word baie vroom argumente geopper, soos: Die lied is tog niks anders nie as 'n gebed tot God. Waarom sou Christene dan huiwer om daaraan saam te sing?
Wat helaas verswyg word, is dat die belangrikste elemente van die Christelike gebed in dié lied ontbreek. Dit bevat geen lofprysing tot God nie; skuldbelydenis en die gebed om vergifnis ontbreek; en les bes, dit is nie uitsluitlik aan die ware God gerig nie. Daarom die vraag: Kan 'n lied wat so opgestel is dat dit vir dieselfde prys as gebed aan die ware God en as gebed aan die afgode gerig kan word, werklik vir die Christen as gebed geld? Of hoor 'n mens in so 'n lied die stem van die waarsêende gees opgaan, wat sê: Christus is maar een van vele?
God regeer ewig in Jesus Christus←⤒🔗
In die Nuwe Suid-Afrika sal ons waarskynlik al meer stemme hoor wat met oënskynlik vrome en godsdienstige woorde praat. Ons weet dat God aan sy kinders die onderskeidingsvermoë sal gee om sulke woorde reg te beoordeel. Ons roeping is nie net om die stem van die leuen en van die verdraaide waarheid die swye op te lê nie. Ons is geroepe om self te praat.
Soos Paulus, moet ons getuig - onbevange, onbevrees, onverswak - dat Jesus Christus werklik en konkreet oor ons regeer. Aan Hom is gegee alle mag op hemel en op aarde. Wat Hy doen en besluit, raak ons bestaan van dag tot dag. Aan Hom alleen kom toe alle eer in hemel en op aarde. Belangrik soos aardse konings ook mag wees, die belangrikste Koning voor wie alleen ons bereid is om die knie te buig, is ons hemelse Here, die Drie-enige God, wat Hom in sy Woord openbaar.
Sy lof alleen sal ons besing. Laat ons dit maar weer duidelik en ondubbelsinnig in hierdie wêreld sê.