Die toepassing van die heil deur Christus verwerf
Die toepassing van die heil deur Christus verwerf
⤒🔗
“Toe-eiening van die heil”←⤒🔗
In hierdie artikel gaan dit oor die ‘toe-eiening van die heil’. Vir sommige lesers sal dit dadelik duidelik wees wat met die term bedoel word. Ander mag dalk frons, want vir hulle klink dit vreemd, ietwat ouderwets. ‘Toe-eien’ is die ou woord vir ‘oorhandig, ‘beskikbaar stel’; jou iets ‘toe-eien’ wil dan sê ‘in ontvangs neem’. ‘Heil’ is ‘n samevattende woord vir die geheel van die verlossing wat God in Christus tot stand bring. Prof. Dr. W. H. Velema, waar hy met die toe-eiening van die heil handel, omskryf dit as ‘...die antwoord op die vraag hoe die mens deel kry en deel hou aan die heil. Ons kan ook sê: die ervarings wat die Heilige Gees die mens wat in die heil sal deel en daarin bly deel, laat deurmaak’.
‘n Aanhaling van Calvyn kan ons help om die raamwerk van die toe-eiening van die heil nader te beskryf: ‘...alles wat Christus vir die saligheid van die mensdom gely en gedoen het, is vir ons nutteloos en van geen waarde solank ons sonder Hom is en solank ons van Hom geskei is. Om dus die dinge wat Hy van sy Vader ontvang het, met ons te deel moes Hy ons eie word en in ons inwoon. Op ons beurt (word) ons in Hom ingelyf...’ Calvyn verwys dan na die verborge werking van die Heilige Gees en sê verder: ‘Die Heilige Gees is die band waarmee Christus ons kragdadig aan Hom verbind’ (J. Calvyn, Institusie III, 1, 1). Calvyn onderstreep dus dat die heil, naamlik die vergewing van sonde, geregtigheid en ewige lewe as die skatte wat deur Christus verwerf is, deur die Gees toegepas moet word. Die Heilige Gees doen dit deur ons as ranke in die wynstok Jesus Christus in te ent (Johannes 15). Hy sorg vir die ‘unio mystica cum Christo’, die mistieke, in die sin van innige en verborge, eenheid met Christus, sodat Hy in ons leef, en ons in Hom.
Die drie subjekte van die toe-eiening←⤒🔗
Hier moet bygevoeg word dat waar die Heilige Gees toe-eienend werk, die mens die heil vir homself toe-eien deur die geloof. Toe-eiening word primêr toegeskryf aan die Heilige Gees, maar daarby moet gesê word dat die gelowige self die heil vir hom toe-eien deur die geloof, wat vrug en werk is van die Gees. Prof. Dr. W van ‘t Spijker noem drie verskillende subjekte van die toe-eiening: ‘Christus, wat aan ons die lewe gee wat Hy verwerf het; die Gees, wat aan ons toe-eien dit wat ons in Christus besit; maar ook die gelowige self, wat deur die geloof dit wat ons in die evangelie geskenk is, deur die Gees vir homself toe-eien. Die één spreek nie die ander teen nie’. Die verhoogde Christus werk immers deur sy Gees. Die Heilige Gees, andersyds, verheerlik Christus. Sonder die Gees is geloof nie moontlik nie, maar die Gees glo nie vir ons, in ons plek nie. So skakel alles ineen soos ‘n goue ketting.
Aktualiteit←⤒🔗
Oor die toe-eiening van die heil is nie net in die dae van die Reformasie en Nadere Reformasie baie gepraat en geskryf nie, dit is ook in kerklike Nederland ‘n aktuele onderwerp. So het daar gedurende die afgelope dekades baie gesprekke plaasgevind tussen verteenwoordigers van verskillende kerke wat tot die ‘gereformeerd gesindes’ hoort, by name die Christelijk Gereformeerde Kerken, die Nederlands Gereformeerde Kerken en die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) in Nederland. By die soeke na kerklike eenheid blyk die verskillende aksente wat op dié punt in prediking en pastoraat gelê word, tot op hede ‘n struikelblok te wees, hoewel daar inhoudelik tog nader aan mekaar beweeg word. As vrug van die samesprekings het Deputate vir die eenheid van die Gereformeerde belydendes in Nederland (CGK) en die Gereformeerde Kommissie vir samespreking (NGK) tot ‘n ‘Gemeenschappelijke verklaring ten aanzien van de toeëigening des heils’ kon kom. Hopelik bied hierdie konsensus mettertyd perspektiewe vir kerkvereniging.
Visie op die prediking←⤒🔗
Aandag aan die toe-eiening van die heil lei daartoe dat die besondere werk van die Gees ‘n duidelike klem kry. Ons het gesien dat die Gees die besondere werk van die aanvang en onderhouding van die verbinding met Christus, uitvoer deur middel van die Woord. Die nou verbintenis tussen Woord en Gees is egter nie ‘n outomatisme nie, en die Woord is nie op ‘n magiese manier met die Gees gelaai nie. Die feit dat ek as kerkganger, en ook andersins, gereeld met die Woord in aanraking kom, impliseer dus nie vanselfsprekend dat ek die Gees in sy saligmakende bearbeiding ontvang het, en persoonlik deur die Gees van God gelei word nie. Hier moet die soewereiniteit en vrymag van God gerespekteer word, sonder om origens enigsins af te doen aan ons eie verantwoordelikheid. Ons is immers geroepe om toe te sien hoe ons hoor, en om ag te gee op so ‘n groot saligheid wat aan ons verkondig word.
Hierdie duidelike klem en hierdie ewigheidserns word gemis in prediking wat die noodsaak van die toe-eiening van die heil verbygaan, en wedergeboorte en bekering as’t ware by die gemeentelede veronderstel. Ons het hier met ‘n ernstige ontsporing te doen. Deur ‘n eensydige prediking waarin die noodsaak van persoonlike bekering en van die toepassende werk van die Gees gemis word, word siele vir die ewigheid mislei. Dan kom daar ‘n verbondsoptimisme na vore, waarmee gemeen word dat dit goed gaan omdat mens gedoop is en kerk toe gaan. Hoewel die argument teoreties verwerp mag word, kom so ‘n oppervlakkige benadering maar al te dikwels voor.
Die prediking moet ook geestelike leiding gee, sodat daar kos is vir die skape van Christus se kudde in hulle verskillende omstandighede en persoonlike gesteldheid. In die oproep tot geloof en tot daaglikse bekering behoort die kenmerke van die ware Christen ter sprake te kom, maar nie as grond vir die sekerheid van geloof nie. Christus is immers die enigste grond van die geloof. Wanneer dít vooropgestel is, is daar regmatige ruimte om te praat oor die merktekens van die Christen (art. 29 NGB) of die vrugte van die verkiesing (Dordtse Leerreëls I, 12). Wanneer die kenmerke van die geloofslewe so aan die orde kom, word aan die gemeente ‘n toetssteen gegee by die selfondersoek of mens in die geloof is. Dit beteken nie dat die preek in ’n vaste skema gedwing word, waarby dieselfde kenmerke altyd weer in dieselfde volgorde genoem word, en die teks so aan ‘n skema ondergeskik word nie. Dit is opmerklik hoe verstandelik en afstandelik daar in sommige kringe, wat hulleself bevindelik ag, gepreek kan word, asof dit oor ‘n geestelike spoorwegtydrooster gaan. In die regte prediking sal daar geen sprake wees van ‘n wettiese sisteemdwang, klassifikasie van die hoorders, of ‘n sistematisering van die weë waarlangs die Gees met die mens op pad is nie. Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.
Visie op die gemeente←⤒🔗
Die noodsaaklike aandag vir die toe-eiening van die heil het ook invloed op ons benadering van die gemeente. Wat die voordrag aan die gemeente betref, word dit nooit bepaal deur die huigelaars en ongelowiges in hulle midde nie. Die verkiesing mag nie die verbond oorheers nie. Die wese van die gemeente van die Here word nie bepaal deur die meelopers en huigelaars wat, helaas, in hulle midde verkeer nie. Die preek moet dan ook gerig wees op die gelowige kern van die gemeente. Wanneer daar dan in die prediking ‘n goeie verdeling blyk, dit wil sê ‘n helder onderskeid tussen geloof en ongeloof, bekeerd en onbekeerd, sal die gevaar van verbondsoutomatisme hom nie voordoen nie. Die lede van Christus se gemeente wat as huigelaars lewe, moet met ontdekking deur die prediking vermaan en ernstig gewaarsku word om hulle te bekeer.
Daar is ‘tweërlei kinders van die verbond’. God se belofte en die geloofsbelewing is twee verskillende sake. Alle gemeentelede, oftewel ‘bondelinge’, het wel die belofte van God ontvang, maar daarmee is hulle nie almal opregte gelowiges nie. Glo is ‘n persoonlike saak. Net langs die weg van wedergeboorte en bekering word ons die heil, wat ons in die belofte geskenk is, inderdaad deelagtig. Daar moet gewaak word om geloof nie te versaaklik nie. Geloof is nie maar die verstandelike aanname van ‘n stand van sake nie. Dit gaan om ‘n persoonlike verhouding met God in Christus, waarby die mens met hart en siel betrokke is.
Die doodsstaat van die verbondskind moet erken word. Daar is wel onderskeid tussen die gedoopte en die nie-gedoopte ‘Adamskind’, aangesien die eersgenoemde, danksy die ontfermende liefde van God, as erfgenaam van al God se beloftes, onder die koepel van die verbond lewe. Maar die ‘Abrahams-posisie’, die groot voorreg om kind van die genadeverbond te mag wees, neem nie die ‘Adams-posisie’ weg nie. Gedoopte kinders mag nie vir wedergebore kinders gehou word nie. Hulle is van nature kinders van die toorn, wat die ryk van God nie kan inkom sonder om wedergebore te word nie. Hulle is wél in Christus geheilig en as lidmate van Christus se gemeente gedoop. Dit beteken, onder meer, dat die wedergeboorte aan hulle toegesê is en dat hulle ootmoedig en vrymoedig mag pleit op wat aan hulle in Christus geskenk is en langs die weg van wedergeboorte en bekering deelagtig gemaak sal word deur die Heilige Gees.
Visie op die pastoraat←⤒🔗
Die vraag na die toe-eiening van die heil het ook vir die pastoraat blywende betekenis. Dr. W. Verboom het daarop gewys dat die vraag hoe mense in die heil van God deur Jesus Christus deel, al hoe meer dreig om uit die gesigsveld te verdwyn. In hedendaagse literatuur lyk dit asof dié stasie reeds verby is. Die tendens blyk te wees: ‘Ons moet ons nie langer besig hou met die persoonlike toe-eiening van die heil wat Jesus Christus tot stand gebring het nie, maar ons moet die heil – in breë sin bedoel – die wêreld indra’. Daarteenoor stel Verboom, met ‘n beroep op Skrif en belydenis: ‘Wanneer die boodskap van versoening in die prediking sentraal staan met die oproep: laat u met God versoen (2 Korintiërs 5:20), dan kan dit nie anders nie, as dat die vraag na die toe-eiening van die heil ook in die pastoraat ‘n regmatige plek kry. Gemeentelede wat grootgeword het in die reformatoriese tradisie, herken die vraag van Luther op ‘n dubbele wyse. Hoe kry ek ‘n genadige God, en hoe kry ek ‘n genadige God? As ons hierdie vrae in die pastoraat negeer, doen ons nie alleen geen reg aan die Bybelse boodskap nie, maar dan laat ons ook diep vrae in die mensehart agterbly. Dan doen ons nie reg aan die mens as skepsel van God nie’.
Toe-eiening en kerklike lewe←⤒🔗
Ek wil in kort, in navolging van Van ‘t Spijker, nog twee aspekte noem. Die Apeldoornse hoogleraar beklemtoon dat die verdeeldheid van kerke wat tog dieselfde belydenis het, individualisering in die hand werk en die toe-eiening van die heil belemmer. ‘Die kerke sou in hierdie versplinterde wêreld die eenheid van die toe-eiening kon soek in die eenheid van die gemeente van Christus, onder die heilsame gesag van Christus en ontroer deur die mag van sy Gees’.
Toe-eiening en toekoms←⤒🔗
Verder moet ons die gesprek oor die toe-eiening onder die voorteken van die groot toekoms van Christus stel. Die Nederlandse Geloofsbelydenis eindig in artikel 37 met die stralende woorde: ‘Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet’. Dan is die toe-eiening van die heil voltooi en sal God ewig die eer ontvang.
Literatuur←↰⤒🔗
- R. ter Beek, ‘Enigheid voor eigenheid’, De Reformatie, 68/28 (1993).
- W. H. Velema, ‘De toeëigening van het heil – in de prediking’ in: Dr. W. H. Velema (red.), Delen in het heil. Over de toeëigening van het heil in Christus,