Bron: Die Kerkblad, 1998. 3 bladsye.

Die standpunt van die Reformasie oor die reg van verset

vuis

Om oor die reg van verset te skryf soos die Reformasie dit gesien het, is 'n baie wye onderwerp wat moeilik in een artikel gedek kan word. Vir ons doel, en gesien die Calvinistiese tradisie waarin ons staan, beperk ons ons tot die siening van Calvyn oor die reg tot verset. Ter wille van aktualiteit word die standpunt van Calvyn plek-plek met die van Marx gekontrasteer. Verder is dit belangrik om ook kortliks aandag te gee aan die wye invloed wat die standpunt van Calvyn uitgeoefen het.

Daar was onder Gereformeerdes nooit twyfel oor die prinsipiële reg tot verset teen 'n owerheid nie — natuurlik onder bepaalde voorwaardes. Wanneer daar verskil van standpunt opgeduik het, het dit gegaan oor 'n beoordeling van die konkrete situasie. "Nee, nie nou nie, maar wel later." Of: "Ja, juis nou, die tyd is daarvoor ryp."

'n Ander vraag is natuurlik of daar genoegsame Bybelse begronding vir die reg tot (gewelddadige) verset bestaan. Gereformeerde Christene is "mense van die Boek", maar watter Skrifgegewens kan aangevoer word om byvoorbeeld 'n rebellie te ondersteun?

Calvyn🔗

Wanneer na die standpunt van Calvyn oor verset gekyk word, moet in gedagte gehou word dat namate omstandighede vir die Protestantse Christene verander en versleg het, Calvyn sy versigtige standpunt van die Institusie in sy preke, kommentare en briewe verskerp het. Calvyn gaan uit van die Bybelse beginsel dat onderdane die owerheid moet gehoorsaam. Gevolglik voer hy aan dat onderdane selfs 'n tiran, ja, 'n "allerslegste tiran", moet gehoorsaam.

Tog is daar iewers 'n grens aan hierdie gehoorsaamheid, aangesien slegs aan God absolute gehoor­saamheid verskuldig is. Om die owerheid grensloos te gehoorsaam, sou daarop neerkom dat van die owerheid 'n god gemaak word en sodoende sou die eerste gebod oortree word. Soms is protes en selfs verset, ja, ook gewelddadige verset, teen die owerheid geoorloof. Was Daniël en sy vriende asook Petrus dan nie ook aan die owerhede ongehoorsaam nie? Aldus Calvyn.

Voorwaardes🔗

Daar is egter 'n baie groot verskil tussen die voorwaardes van verset soos dit deur Calvyn ontwikkel is en die voorwaardes vir 'n revolusie soos dit in die Marxisme uitgebou is.

  • Ten eerste het Calvyn geoordeel dat sodanige verset as allerlaaste middel oorweeg mag word nadat alle ander vreedsame middels gefaal het. (In die Marxisme word 'n revolusie gewoonlik as vertrekpunt aanvaar.)
  • Ten tweede moet sodanige verset slegs deur verkose volksmagistrate onderneem word en mag dit nie oorgelaat word aan onderleiers, individue of die massa nie (soos in die Marxisme die geval is.)
  • Ten derde mag dit net onderneem word in geval dat godsdiensvryheid, en moontlik ook volksvryheid, aangetas is. (Die Marxisme gaan uit van 'n voortdurende revolusie ten einde die proletariaat te bevry en selfs godsdiens te vernietig.)
  • Ten vierde moet soveel moontlik menslikheid tydens die verset betrag word sodat die gevolge nie erger is as die middel wat aangewend word nie. (In die Marxisme is enige middel en enige metode geoorloof solank dit die revolusie bevorder.)

rewolusie🔗

Vrae🔗

Die standpunt van Calvyn is natuurlik nie sonder vrae nie. So kan byvoorbeeld gevra word of die Skrifgegewens wat Calvyn gebruik het inderdaad ondersteuning verleen aan gewelddadige verset en of dit nie eerder betrekking het op passiewe verset nie (Daniël, Petrus). Die indringende vraag moet gestel word of daar hoegenaamd enige Ou- of Nuwe-Testamentiese gegewens is wat 'n gewelddadige verset ondersteun.

Verder, indien selfs gewelddadige verset teen 'n owerheid geoorloof is wanneer godsdiensvryheid aangetas is, is die vraag akuut of so 'n benadering nie maklik aanleiding kan gee tot godsdiensoorloë nie. Wat word van die beginsel om vir die evangelie te ly en selfs (as martelaar) te sterf?

Calvinistiese tradisie🔗

Die kerkgeskiedenis leer ons dat die standpunt van Calvyn wye ingang gevind het in die gereformeerde tradisie. So het ook die GKSA die standpunt van Calvyn oorgeneem. Sinode 1916 het byvoorbeeld oor die vraag na die regmatigheid van 'n rebellie gehandel nadat daar inderdaad in 1914 'n rebellie in Suid-Afrika uitgebreek het, maar onderdruk is.

Die Sinode is van oordeel dat onderwerping aan die owerheid 'n Christelike plig is, maar wanneer die wet van God en volksvryhede geskend word, moet die burgers God meer gehoorsaam wees. Ak­tiewe verset moet egter deur erken­de volkshoofde plaasvind. As die Nagmaalsformulier hom uitspreek teen almal wat tweedrag in wêreld­like regerings aanrig en wat ower­hede ongehoorsaam is, dan sien dit op die onwettige versteuring van die gevestigde orde.

In die sewentiger- en tagtigerjare het gereformeerde kerke in Suid-Afrika oorwegend negatief geoor­deel oor die aktiewe verset van die sogenaamde bevrydingsbewegings. Tans, in 'n ander politieke konteks, word deur sommige wat vroeër 'n passiewe houding oor verset ingeneem het, 'n meer aggressiewe houding ingeneem.

Verandering van regering veroorsaak dikwels 'n verandering van standpunt by onderdane. Dit on­derstreep die feit hoe belangrik dit is dat ons in ons besinning oor ver­set ons vry sal hou van 'n opportunistiese benadering tot die vraagstuk.

Kontekstualiteit🔗

Ons het in die begin genoem dat Calvyn se standpunt verander — en verskerp het toe die omstandig­hede van Protestante verander en versleg het. So 'n benadering veral wanneer dit te ver deurgevoer word — hou natuurlik die gevaar in dat omstandighede beginsels bepaal.

Aan die ander kant is dit belangrik dat omstandighede/konteks in 'n besluitnemingsproses verreken word. Mens kan jou beginsels op­offer aan die omstandighede/kon­teks, en dit sou verkeerd wees, maar jy kan ook jou beginsels op verkeerde omstandighede toepas, en dit sou rampspoedig wees.

Juis daarom is daar altyd verskil van opinie gewees oor wanneer aktiewe verset geregverdig sou wees. So het Sinode 1916 ook nie die vraag beantwoord of die Rebellie van 1914 geregverdig was nie, maar volstaan met die uitspraak dat 'n rebellie geregverdig kan wees.

vredesteken🔗

Vreedsame verset🔗

Wat uit die Skrifgegewens wel dui­delik afgelei kan word, is dat vreedsame protes en selfs vreedsame verset met die evangelie van Jesus Christus gerym kan word. Christene mag hulle organiseer en mobiliseer om teen 'n owerheid te getuig wanneer fundamentele regte (van vryheid en geregtigheid) wat hulle van Godsweë toekom, aangetas en geskend word.

Calvyn het ons geleer dat gehoorsaamheid aan die owerheid nooit in blinde gehoorsaamheid mag ontaard nie. Dis ongeoorloof vir 'n Christen om 'n houding in te neem van "My country, right of wrong" Aan God kom die hoogste gehoorsaamheid toe en die owerheid mag in sy optrede nooit die lewende God verdring of verplaas nie.

Vir die koninkryk van God hoef daar nie met menslike wapens geveg te word nie (Joh. 18:36; 2 Kor. 10:4).

In die kruis en opstanding van Christus is die oorwinning gewaarborg.