Die Spiritisme
Die Spiritisme
Die woord spiritisme is afgelei van die Latynse woord "spiritus" wat 'gees' beteken. Spiritisme kan beskryf word as die leer/kultus van geeste.
Die spiritisme hou homself besig met die geeste, en wel dié van afgestorwenes. Spiritiste is oortuig dat die siele na die dood nog voortleef en nog met die lewendes in aanraking kan kom. Werklike openbaringe en verskynings kan dus vanuit die geesteswêreld ontvang word. Okkulte verskynsels word volgens spiritiste daarin verklaar dat hulle veroorsaak word deur die geeste van afgestorwenes. Kennis wat só uit die geesteswêreld ontvang word, vorm dan die grondslag waarop 'n totale lewens- en wêreldbeskouing gebou word.
In die Bybel⤒🔗
Die Spiritisme is nie nuut nie, maar eintlik al baie oud. In die geskiedenis van byna alle volke en alle tye kom mededelings voor aangaande spiritistiese verskynsels.
Reeds in die dae van Moses het raadpleging van afgestorwenes voorgekom. In Deuteronomium 18:11 verbied God hierdie verskynsel, en roep Israel op om liewer uit te sien na die groot Profeet, wat die Here sou verwek, en om na Hom te luister (Deuteronomium 18:15). Ook die profeet Jesaja het hierteen gewaarsku (Jesaja 8:19-20).
Nieteenstaande hierdie duidelike Bybeluitsprake probeer baie spiritiste om hulle praktyke met die Skrif te regverdig. Só word (volgens hulle) in Deuteronomium 18 nie 'verhewe' spiritisme afgekeur nie, maar word wel gewaarsku teen banale mediumskap. Daar is selfs 'n sogenaamde Christelike rigting in die spiritisme, wat hulself baie vroom voorhou en hul graag op die Bybel beroep. Hulle noem hulself liewers die 'Spiritualisme'.
Die oorspronklike Christendom – só beweer hulle – was 'n pure spiritualisme en die Christendom word deur die spiritualisme in sy ware geestelike karakter herstel.
Só word ook die volgende spiritisties verklaar: die geheimsinnige hand wat op die muur geskryf het; Jesus se gesprek op die berg met Moses en Elia, sy verskyning aan Saulus. Die profete van Israel is nie deur die Gees van God geïnspireer nie, maar Samuel het bv. begin deur 'n horende medium (clair audiant) te wees, en daarna het hy opgetree as intuïtief geïnspireerde en versiende medium. Koning Joram het só 'n geskrewe mededeling van Elia ontvang, 4 jaar na Elia gesterf het.
Engele is – volgens die spiritualiste – ver gevorderde geeste van mense, wat óf op hierdie aarde, óf op een van die ander planete geleef en opgetree het. Alle engeleverskynings is dus 'bewyse' vir die waarheid van die spiritisme, want engele is wesens wat vroeër mense was.
Lot en sy mense is deur engele (dit is geeste) aan die hand geneem (Genesis 19:16).
Ontstaan van die 'Moderne' Spiritisme←⤒🔗
In sy moderne vorm dateer die spiritisme vanaf 1848.
Teenoor die bewering dat die geeste nogal lank gewag het met hul openbaringe, beweer die spiritiste dat die gemeenskap met die onsigbare wêreld nooit heeltemal verbreek is nie. Soms was dit wel baie verflou en verswak, maar die oorsaak lê nie by die geeste nie – daar was maar min vatbaarheid by die mensdom om met die dooies in verbinding te tree.
Die poort tussen die sigbare en die onsigbare wêreld was altyd oop gewees. Reeds onder Keiser Valens (364 n.C.) sou die geeste d.m.v. kloppe gespreek het en sou daar reeds van 'n alfabet gebruik gemaak gewees het. In plaas van 'n tafel is egter 'n bak met water gebruik, met die alfabet op die rand geskrywe. Die medium het 'n slinger in die hand gehou met 'n ronde koeëltjie vooraan, waarmee teen die bedoelde letter getik is.
In Duitsland het die geesteskloppery reeds in 1135 voorgekom. In 1740 het daar 'n sonderlinge kloppery in 'n boekdrukkery in Londen plaasgevind. In 1806 is onverklaarbare geluide op 'n kasteel in Silesië waargeneem en in 1825 en 1828 is kloppery ook in Weinsberg gehoor.
Die geboorteplek van die moderne spiritisme is egter Hydesville, in die staat New York, waar 'n gees na bewering hom deur kloppery aan die meisies Fox openbaar het. Daar is met die onsigbare klopper afgespreek dat die woord 'nee' deur een klop aangedui sou word; die woord 'onseker' deur twee en die woord 'ja' deur drie kloppe. Daar is voorts afgespreek dat iemand die letters van die alfabet na mekaar sou opnoem en by die bedoelde letter sou driemaal geklop word, totdat die mededeling klaar was.
Die geheimsinnige klopper blyk toe die gees van 'n mandjiesmous te wees wat in daardie huis vermoor en in die kelder begrawe is. Hy het gekom om die aandag van denkende mense te trek, en 'n nuwe tydperk, van kontak tussen die geestelike wêreld en die bewoners van die aarde, aan te kondig.
Vanuit Amerika het die spiritisme toe sy intog in Engeland gedoen en spoedig het dit oor die hele wêreld versprei. Oral het verenigings ontstaan met die doel om die spiritisme te bestudeer en te versprei. Talle tydskrifte en werke daaroor is uitgegee.
In Nederland het dit in 1858 sy intrek geneem en in 1859 is 'n vereniging gestig wat tot 1871 sou bestaan. Ondertussen is in 1869 in Amsterdam die vereniging 'Veritas' opgerig.
Die vereniging 'Harmonia' wat op 27 Desember 1888 gestig is, het egter ontwikkel tot die Sentrale Nederlandse Vereniging van spiritiste. Dit het bestaan uit 30 takke en ongeveer 2 100 lede en het aangesluit by die spiritistiese 'Internationale' (hoofsetel in Parys).
Na elke groot oorlog was daar opnuut 'n opbloei van hierdie geestesstroming. Na 1918 het vele probeer om met hulle geliefdes, wat hulle op die slagveld verloor het, in aanraking te kom. Ook na die laaste wêreldoorlog het die spiritisme soos 'n golf oor die wêreld gespoel. Baie vrouens het hulle mans, seuns of verloofdes in die oorlog verloor, en het probeer om deur die spiritisme in verbinding te tree met die oorledenes.
Verskillende Strominge←⤒🔗
Ook in die spiritisme is daar verskillende strominge. Die 'christelike' spiritiste beskou die engele as geeste van mense, in teenstelling met diegene wat die bestaan van engele loën. Sommige glo aan die leer van sielsverhuising (die sg. Franse rigting), terwyl die Engelse rigting hierdie leer bestry.
Hulle stem egter oor een ding saam: die mens het nie slegs 'n stoflike liggaam nie, maar ook 'n geestelike een. Die geestelike liggaam kan homself tydelik (bv. in die slaap) van die stoflike liggaam losmaak. Met die dood verlaat die geestelike liggaam die stoflike een vir goed. Die selfstandige geestelike liggaam kan van die stoflike liggaam van 'n lewende gebruik maak om homself te openbaar.
'n Medium is dan iemand wat weens sy organiese gesteldheid die gawe besit om die voertuig te wees vir geeste vir hulle openbarings en om berigte vanuit die geesteswêreld oor te bring. Hy is as't ware die brug waaroor die bewoners van die onsigbare wêreld naderkom.
Die toestand waarin die medium raak as sy eie geestelike liggaam plek maak vir dié van die gestorwene, word 'n 'trance' genoem.
Vorme←⤒🔗
Een van die bekendste vorme waarin die kommunikasie tussen die gestorwenes en die lewendes hom voordoen, is die sg. tafelkloppery. Enigiemand – daar moet minstens één medium onder hulle wees – neem plaas om 'n tafel, en plaas hulle hande liggies daarop. Na 'n rukkie begin die tafel meesal te beweeg en tik met die pote op die vloer.
Nog 'n manier is die sg. plankskrif. Dit bestaan uit 'n plankie wat op drie wieletjies rus en dus maklik beweeg. Deur die middel van die plankie word 'n potlood of stukkie houtskool gesteek. Hierdie plankie word dan op 'n stuk papier op die tafel geplaas. Twee persone (een moet 'n medium wees) lê hulle hande op die tafel. Na 'n tydjie begin die plankie te beweeg en word geskryf d.m.v. die potlood of houtskool.
Outomatiese skrif kom ook voor. Die medium skryf in 'n 'trance' toestand mededelings neer, sonder dat hy weet wat hy skryf. Selfs verse en gedigte word só neergeskryf.
Ook die indirekte stem kom voor: 'n gees, wat homself wil manifesteer, spreek deur die stemorgaan van 'n medium wat in 'n diep 'trance' is. Die teenoorgestelde hiervan is die direkte stem. Hier spreek die gees met sy eie stem, sonder om gebruik te maak van die stem van 'n medium, en word gebruik gemaak van 'n megafoon om die stem te versterk. Geeste kan ook selfs in 'n sigbare en tasbare gestalte verskyn, sodat hulle gefotografeer kon word. Geestesfotografie word veral beskou as 'n duidelike bewys vir lewe na die stoflike dood. Mense laat hulself afneem saam met 'n medium wat hierdie gawe besit. Daar verskyn dan dikwels op die foto behalwe die persoon 'n sg. ekstra: 'n afbeelding van 'n vriend of familielid, wat oorlede is.
Spiritisme teenoor Christelike Heilsfeite←⤒🔗
Dit ken nie die belydenis van sonde nie, en het daarom geen behoefte aan genade nie. Christus word nie as die Verlosser bely nie, omdat sonde swakheid is, wat langs die weg van ontwikkeling oorwin word.
'n Eenstemmige opinie oor die persoon van Christus bestaan nie. Volgens sommige is hy 'n verhewe medium, andere ag die vraag of Jesus werklik geleef het van weinig belang.
Die spiritisme veroordeel ook ten sterkste die leer van die voorbeskikking (uitverkiesing). God is die God van liefde, wat nie een van sy skepsele verlore sal laat gaan nie. Die ewige verdoemenis bestaan nie.
Ook vir diegene wat geestelik tot die laagste gesink het, sal in die hiernamaals die tyd aanbreek dat hulle tot besef van hulle foute kom, dat die sug na die beter dinge gebore sal word en die heerlike lig van God se almagtige liefde ná wroeging, berou en groot stryd eindelik sal opgaan.
Nie deur geloof aan dogmas gaan ons vooruit nie, maar daar word van ons die goeie, onselfsugtige gevra. Die verbetering van eie foute is hier, maar ook aan die ander kant, die weg om die hoogste te bereik.
Hoe moet ons oor die Geheimsinnige Geestesverskynings oordeel?←⤒🔗
In die eerste plek het ons in die spiritisme met baie selfbedrog of doelbewuste misleiding te doen. Voorts is alles glad nie so wonderlik en geheimsinnig as wat dit voorgestel word nie. Die uitsprake van mediums is grootliks herleibaar na sielsindrukke van die medium self, wat op 'n gegewe oomblik uit die onderbewussyn of onder invloed van andere tot uiting kom.
Met geheime kragte in die mens moet rekening gehou word, net soos met magnetiese krag, waardeur die geheimsinnige en buitengewone 'n gewoon natuurlike verklaring vind. Ook kan hipnose en suggestie 'n groot rol speel in die geheimsinnige sfeer van sensitiewe deelnemers aan 'n séance.
Ten slotte – die Heilige Skrif sê dat die duiwel deur die antichris groot tekens en wonders doen. Daarom, al sou ons nie alle spiritistiese verskynsels as duiwelswerk beskou nie, het ons tog vele 'openbaringe' aan die inwerking van bose geeste te danke, en is dit moontlik dat hierdie bose geeste onthullinge doen uit die doderyk.
Die spiritisme is 'n surrogaat van die religie. Die vors van die duisternis gebruik hierdie antichristelike beweging om die mens van die ware Christus af weg te lei.
Slot←⤒🔗
Dit kan nie ontken word nie dat die spiritisme baie skadelik inwerk op die gesondheidstoestand van sy beoefenaars. In plaas van om moedig die taak in die lewe op hulself te neem, gebruik hulle die kosbare tyd om allerlei mededelings van die 'ander kant' te ontvang.
En … wat is hierdie mededelings tog van weinig betekenis!
Sekerlik: daar is in die hart van die mens 'n onuitroeibare behoefte aan gemeenskap met die hoëre wêreld. Die behoefte word vervul deur die Woord van God. Die Woord openbaar aan die mens die toekoms, in soverre hy kennis daarvan nodig het. Maar wanneer die Woord verwerp word, soek die mens 'n jammerlike bevrediging op sondige paaie.
Die spiritis soek gemeenskap met die afgestorwenes. Die Christen het gemeenskap met die gestorwe, maar opgestane en verheerlikte Christus. Hy weet dat hulle wat in Jesus ontslaap het, nie deur bose geeste in hulle salige rus versteur kan word nie.