Die Seuns van Abraham
Die Seuns van Abraham
⤒🔗
Die Midde-Ooste←⤒🔗
Dat die Midde-Ooste vandag een van die grootste kruitvate in die wêreld is, hoef seker nie meer aangetoon te word nie. Dit kort net een dwase fanatikus wat daar iewers 'n kernwapen gebruik en die slag van Armageddon het aangebreek.
Die Bybel vertel ons dat Abraham twee seuns gehad het, Isak en Ismael. Hierdie twee seuns was van jongs af in voortdurende konflik met mekaar, 'n konflik wat vandag nog voortduur in die stryd tussen Jood en Palestyn/Arabier. Dis terselfdertyd ook 'n stryd tussen Jood en Moslem — die Moslem-Arabiere lei hulle afkoms van Ismael en Abraham af.
En dit alles 'n stryd in die naam van die God van Abraham, wat aan die konflik 'n fanatieke karakter verleen. Want daar is geen oorlog so fanaties soos 'n godsdiensoorlog nie.
Isak←⤒🔗
Van Abraham se twee seuns, so weet ons, loop die lyn van die belofte en verbond oor Isak. Hy is die beloftekind, die verbondskind (Gen 21:1-7), 'n tema wat ook regdeur die Nuwe Testament resoneer (o.a. Rom 9:10; Gal 4:28; Heb 11:20).
Uit sy nageslag ontstaan die volk Israel (die Jode), die volk wat later in Egipte teregkom, maar uit daardie slawerny bevry word en die Beloofde Land binnegaan. Dis dieselfde volk wat later weer in Babiloniese ballingskap gaan, maar vandaar weer terugkeer om die verwoeste tempel en Jerusalem weer op te bou. Dis hierdie volk wat in 70 nC met die val van Jerusalem, en in 135 nC met die uitdrywing van die Jode uit Judea, oor die hele aarde verstrooi word. Dis ook hierdie volk wat in 1948 terugkeer na die Beloofde Land, die Hebreeuse taal laat herleef en die staat Israel vestig.
Dis hierdie volk wat die Ou Testament as die Woord van God aanvaar en hulle vertroue plaas op die God van Abraham, Isak en Jakob en al sy beloftes (veral dan die ortodokse Jode). En dis hierdie volk wat (in massa) weier om Jesus van Nasaret as Messias te aanvaar.
Die vraag is of God met hierdie volk nog 'n plan het. Hoe ons ook al vandag Romeine 9-11 verklaar, een saak staan egter vas en dit is dat God se heilsplan met sy volk Israel nog nie afgehandel is nie. Presies watter rol Israel nog in God se toekomstige handelinge gaan speel, is baie moeilik om (uit die beskikbare Skrifgegewens) te bepaal en is iets waarna Christene met groot verwagting kan uitsien.
Dit is duidelik dat ons in ons geloofbesinning die bondsvolk Israel nooit mag vergeet nie, trouens, ook in ons teologiese nadenke (dogmatiek) mag die afsonderlike behandeling van Israel nie nagelaat word nie. (Dit val op dat in ons reformatoriese belydenisskrifte geen uitgebreide aandag aan Israel bestee word nie.) (Vir fynproewers verwys ek graag na die onlangs verskene boek van A van de Beek, De kring om de Messias: Israel als volk van de lijdende Heer. 2002. Zoetermeer: Meinema.)
←⤒🔗
Ismael←⤒🔗
Die verbasende in die Ou-Testamentiese geskiedenis is egter dat die Here God Hom nie net met sy verbondsvolk bemoei het nie. Die Bybel vertel ons dat God die jong sterwende Ismael "hoor huil" het (Gen 21:17) en aan Hagar die belofte gegee het dat Hy hom "'n groot nasie sal laat word" (Gen 21:18). Daar staan selfs: "God was by die kind en hy het grootgeword" (Gen 21:20). Ismael ontvang selfs die Ou-Testamentiese verbondsteken (Gen 17:25).
Reeds in die Ou Testament toon God dat sy heilsplan ook buite Israel 'n bepaalde gestalte vind. Reeds ten tye van die Ou Testament maak God bemoeienis met Kanaänitiese vroue soos Tamar en Ragab, Moabitiese vroue soos Rut en Hetitiese vroue soos Batseba. Jona word na die Siriërs in Ninevé gestuur.
Uit die Nuwe Testament weet ons dat Jesus sy aanvanklike bediening op die Jode gerig het, maar dat Hy reeds voor sy kruisiging en opstanding uitgereik het na 'n Kanaänitiese en Samaritaanse vrou en 'n Romeinse hoofman. Na sy hemelvaart moet die evangelie na die uithoeke van die aarde gedra word. God se koninkryk loop blykbaar wyer as wat mense soms dink en sy heilsplan oorstyg ook die grense van die (ou) verbond.
God handel ook anders as mense. Sou dit nie (vir ons vandag) beter gewees het as God Ismael nie hoor huil het nie? As Hy hom in die woestyn laat sterf het? Dan was daar vandag tog geen konflik tussen Jood en Palestyn, Christen en Moslem nie? Maar nee, God laat Ismael leef. Hy gee aan hom 'n groot nageslag. God laat sy son opkom oor slegtes en goeies en Hy laat reën op die wat reg doen en die wat verkeerd doen (Matt 5:45). Hy is geduldig en maak geleentheid vir redding (2 Pet 3:15). "God is die Verlosser van alle mense, van almal wat glo" (1 Tim 4:10).
Jesus←⤒🔗
Uit Abraham word in die volheid van die tyd ook Jesus gebore, die Christus en Here, die Heiland en Verlosser. In Hom vind gelowiges uit alle nasies hulle ware eenheid, heil en versoening.
Het dit nie tyd geword nie dat Christene — as derde faktor in die Midde-Oosterse konflik sterker na vore kom en sê: Jerusalem is nie net die heilige stad van Jode en Moslems nie, maar ook van Christene — simbolies verstaan? Jerusalem is die stad waar :Jesus gewandel en gepreek het, waar Hy gekruisig is en opgestaan het. En die boodskap wat Hy uitgedra en uitgeleef het, is die van liefde, diens, selfopoffering, vergifnis en vrede — en nie van wraak, vergelding, heerssug en selfhandhawing nie. Solank die boodskap van Jesus Christus, die Groot Seun uit die nageslag van Abraham, nie in die Midde-Ooste ernstig opgeneem word nie, so lank sal menseslagting, selfmoord- en weerwraak-aanvalle 'n kenmerk wees van daardie wêrelddeel Jesus Christus is die weg en die waarheid en die lewe — ook vir Jood en Palestyn. Sonder Hom is daar permanente konflik en uiteindelike ondergang; met Hom is daar hoop en 'n goeie toekoms.