Die Septuaginta - die Ou Testament in Grieks
Die Septuaginta - die Ou Testament in Grieks
Die Septuaginta is die Griekse vertaling van die Ou Testament wat gedurende die derde en tweede eeue v. C. gemaak is en ruim deur die Jode en later deur die Christelike kerk gebruik is. Die benaming Septuaginta (Grieks vir "sewentig", afgekort as LXX), hang saam met die gegewens in Eksodus 24:1 en 9 waarvolgens sewentig oudstes Moses na die berg Sinai vergesel het om die wet te ontvang.
Hoe het die Septuaginta ontstaan?⤒🔗
Die presiese geskiedenis van hoe die Septuaginta ontstaan het, is baie onduidelik. Dit is omring met legendariese gegewens en boonop maak die tekort aan betroubare historiese gegewens dit moeilik om vas te stel hoe die vertaling werklik ontstaan het.
In 'n brief aan Filokrates vertel ene Aristeas dat die Septuaginta in opdrag van Ptolemeus II van Egipte uit die Hebreeus vertaal is. Ptolemeus het in die hoofstad van sy ryk, Aleksandrië, 'n geweldige groot biblioteek gehad wat sy vader laat oprig het. In hierdie wêreldberoemde biblioteek was daar onder meer 'n kopie van die Wetboek van Moses, natuurlik in Hebreeus en Aramees.
Volgens Aristeas wou Ptolemeus graag hê dat sy biblioteek die Wetboek ook in Grieks beskikbaar moes hê. Daarom het hy twee hofdienaars na Jerusalem gestuur en 72 geleerdes laat haal wat die vertaling van die Ou Testament in Grieks kon behartig. Dit het hulle dan ook kom doen.
Die Joodse geskiedskrywer Josefus voeg hieraan toe dat die 72 vertalers die vertaling in 72 dae voltooi het. Filo van Aleksandrië dik die verhaal nog verder aan: elk van die 72 vertalers het afsonderlik die hele Ou Testament vertaal en toe hulle uiteindelik hulle manuskripte vergelyk, het hulle gemerk dat dit op wonderbaarlike wyse presies woordeliks ooreenkom. Of dit werklik so gebeur het, val egter sterk te betwyfel.
Wat wel aanvaar kan word, is dat die Septuaginta sy ontstaan in die kring van die Aleksandrynse Jode gehad het. By dié Jode het daar sedert die derde eeu v.C. 'n dringende behoefte aan 'n Griekse vertaling van die Ou Testament ontstaan. Hulle is immers tydens hulle verblyf in Egipte sterk deur die hellenistiese kultuur beïnvloed, tot so 'n mate dat hulle die Koine-Grieks as omgangstaal aangeneem het en later glad nie meer Hebreeus kon praat of verstaan nie.
Die gevolg was dat die taal van die Ou Testament wat in die sinagoges voorgelees is, gaandeweg vir hulle onverstaanbaar geword het. Hierdie toedrag van sake het waarskynlik daartoe aanleiding gegee dat hulle die boeke van die Ou Testament in Grieks oorgesit het.
Die kenmerke van die Septuaginta←⤒🔗
Kenmerkend van die taal van die Septuaginta is dat dit nie in suiwer klassieke Grieks (soos deur geleerdes gebruik) oorgesit is nie. Dit is vertaal in 'n Koine-Grieks wat in Aleksandrië in omloop was.
Dit is ook duidelik dat daar verskillende vertalers aan hierdie vertaling meegewerk het. Soms is die Grieks van hoogstaande gehalte (bv. in Jesaja); soms is dit in slordige Grieks oorgeplaas (bv. in die Psalms en Kronieke). Die vyf boeke van Moses is in Grieks van hoogstaande gehalte.
Ook die wyse en gehalte van vertaling verskil van plek tot plek. Soms is die vertaling baie letterlik en hou baie naby aan die Hebreeuse grondteks. Soms is die vertalings baie vry.
Die gebruik van die Septuaginta←⤒🔗
Teen die tweede helfte van die tweede eeu v. C. was die vertaling waarskynlik afgehandel. Die Septuaginta is nie net deur die Aleksandrynse Jode gebruik nie, maar het spoedig ook by ander Jode in die verstrooiing volkome ingeburger geraak. Dit het meteens ook vir die heidene wat Grieks gepraat het, die Ou Testament toeganklik gemaak. En, les bes, dit was uiteindelik ook tot beskikking van die Christelike kerk.
Die betekenis van die Septuaginta←⤒🔗
Hierdie vertaling het 'n geweldige belangrike plek ingeneem in die wegbereiding vir die evangelie van Christus. Baie van die heidene wat met behulp van die Septuaginta in die Ou Testament leer ken het, het die Joodse godsdiens aanvaar. Hulle is óf as "proseliete" geheel en al in die Joodse gemeenskap opgeneem óf hulle het as "godvresendes" belangstelling gehad in die aktiwiteite van die sinagoge. Dink maar aan die groot verskeidenheid "godsdienstige manne uit elke nasie onder die hemel” (Hand. 2:5) wat op Pinkster by die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem byeen was. Die heidene wat sodoende reeds met die Ou Testament vertroud was, kon later met groot gemak deur Paulus en die ander apostels tydens hulle sendingreise bereik word. Op indirekte wyse is die Septuaginta dus deur God gebruik om die evangelie van Jesus Christus sy loop te laat hê. Die taal van die Septuaginta het 'n groot invloed gehad op die Grieks van die Nuwe Testament. Die apostels het dikwels die Ou Testament uit die Septuaginta aangehaal. Soms vind ons in die boeke van die Nuwe Testament ook aanhalings uit ander Griekse vertalings van die Ou Tes-tament, maar baie dikwels kom die aanhalings uit die Septuaginta. So het hierdie Griekse vertaling vormend ingewerk op die teks van die Nuwe Testament, waarin God sy openbaring in die nuwe bedeling aan ons gee.