Die Regulerende Beginsel
Die Regulerende Beginsel
In Sondag 35 van die Heidelbergse Kategismus bely ons dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie. Beteken dit dat ons vir elke vorm van erediens ’n uitdruklike bevel van God moet hê? In die Presbiteriaanse wêreld praat hulle van die regulerende beginsel. Daarmee word meestal bedoel: “Dit wat die Here nie gebied nie, is verbode”. Is dit ook die bedoeling van Sondag 35? Hoe moet ’n mens die beginsel toepas?
Wat is die Regulerende Beginsel?⤒🔗
Die regulerende beginsel word gesien as die toepassing van die reformatoriese beginsel van Sola Scriptura op die gebied van die erediens. In die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7 bely ons dat die Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word. In sy lesing aan die International Conference of Reformed Churches te Philadelphia definieer Williamson die regulerende beginsel volgens vraag en antwoord 96 van die Heidelbergse Kategismus.
Daar word gevra: Wat eis God in die tweede gebod?
Die antwoord lui: Ons mag God op geen enkel manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.
In ’n ander geskrif skryf Williamson: Dit is paslik om God slegs te dien soos Hy dit wil hê. Dit beteken slegs op maniere wat Hy in sy Woord beveel, ingestel of voorgeskryf het … Wat nie beveel is nie, is verbode.
Wat God beveel moet volgens Williamson nie beperk word tot die uitdruklike bevele van God nie. Ons vind byvoorbeeld geen uitdruklike bevel dat ons kinders moet doop nie. Indien aangetoon kan word dat sekere praktyke deur die apostels goedgekeur is, het die praktyke dieselfde normatiewe krag as ’n uitdruklike bevel. Ons kan ook deur goeie en noodsaaklike gevolgtrekkings uit die Skrif weet wat God wel of nie goedkeur nie (vergelyk Westminster Konfessie 1.6).
Skriftuurlike Begronding←⤒🔗
In die Ou Testament het die Here bepaal hoe en waar Hy vereer moes word. Soos wat Israel God nie los van die sentrale heiligdom mog dien nie, so moet ons, volgens Williamson, vandag gefokus wees op die hemelse heiligdom waar ons groot Hoëpriester vir ons pleit. Na sy opstanding sê die Here Jesus vir sy dissipels:
Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Die vetgedrukte woorde maak duidelik dat daar in die Christelike kerk geen legitieme gesag is wat nie in die Here Jesus gevind of deur Hom ontvang word nie. Selfs die apostels het geen gesag behalwe dit wat hulle van Christus ontvang het nie.
Jesus het gewys hoe mensgemaakte tradisies die neiging het om die gebooie van God aan die kant te skuif (Markus 7:1-13). Die apostels was versigtig om in leer en erediens hulle te hou aan wat hulle van Christus ontvang het. Dink aan wat Paulus skryf oor die Heilige Nagmaal: “… ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het…” (1 Korinthiërs 11:23). Daarom praat Paulus ook met gesag oor wat wel of nie in die erediens toegestaan is nie (1 Korinthiërs 14:27-37). Tog het die gemeente steeds weer die neiging gehad om terug te keer tot die swakke en armoedige eerste beginsels van die Ou Testamentiese erediens (Galasiërs 4:9, 10). Mense was bereid om hulle te onderwerp aan “die gebooie en leringe van mense”, wat die apostel as “eiesinnige [NV: selfgemaakte] godsdiens” bestempel (Kolossense 2:22, 23). Ons moet ons onderwerp aan God-gemaakte godsdiens. Tot so ver Williamson se begronding van die regulerende beginsel.
Ons kan die volgende daaraan toevoeg. Ware aanbidding is ’n ernstige saak. Ons moet die Here in gees en in waarheid aanbid (Johannes 4:23), as mense wat deur die Gees vervul is en daarom ooreenkomstig die waarheid van God Hom aanbid. Om met die Gees vervul te wees, beteken mos dat die woord van Christus ryklik in jou woon (vergelyk Efesiërs 5:18 en Kolossense 3:16). Die wat God anders vereer as wat Hy in sy Woord aan ons voorhou, speel met vuur. Opregte motiewe is nie voldoende nie. Dink maar aan Nadab en Abihu wat vreemde reukwerk op die reukoffer gebring het. God het hulle met vuur verteer (Levitikus 10:1-11). Dink ook maar aan Ussa wat sy hand na die ark van God uitgesteek het om dit te beskerm, maar onmiddellik deur God gedood is. Waarom het hulle gesterf? Omdat hulle God nie ooreenkomstig sy bevele gedien het nie. Dieselfde geld vir koning Saul (1 Samuel 13; 15:22, 23).
Goeie bedoelings is dus nie genoeg nie. God wil meer hê. Hy wil hê dat ons Hom volgens sy Woord dien. In die Skrif keer God Hom voortdurend teen eiewillige erediens. Ons mag Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie. Hierdie reël in ons belydenis mag ons dankbaar maak. Veral by die huidige verwarring waarby menslike voorkeure en behoeftes die norm word. Die Woord van God is die enigste norm vir ware aanbidding. Ons erediens moet volkome skriftuurlik wees. As ons in ons erediens God wil behaag, moet ons dus eers luister na wat God self vir ons sê oor wat Hom behaag. Hy het dit vir ons in die Skrif genoegsaam bekend gemaak.
Die belangrikste beginsel vir ons erediens is dus: “Ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie”. Dit geld vir alle onderdele van die erediens. Ook vir die sang en musiek in die erediens en vir ons onderhouding van die Christelike feesdae. Moenie die beginsel vergeet nie. Ons moet erken dat dit nie altyd ons uitgangspunt is wanneer ons oor die erediens praat nie. Ons is geneig om eerste te kyk na: Wat spreek ons aan? Hoe kan ons voldoening daarin vind? Moet ons nie meer gebruikersvriendelik wees nie? ens. Maar die eerste vraag moet wees: Wat is die wil van God?
Dit beteken natuurlik nie dat die mens heeltemal genegeer moet word en nie van die erediens mag geniet nie. Die erediens moet ’n fees wees, nie slegs vir God nie, maar ook vir sy volk. ’n Fees waarin God en sy volk saam geniet van die verbondsomgang met mekaar. God wil blye en dankbare kinders sien. Kinders wat hul vreugde vir Hom en vir mekaar wys. Psalm 100 roep ons op: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” Dis egter geen blydskap omdat ons goed oor onsself voel nie, maar omdat ons goed oor ons God voel. Dit is belangrik dat ons fokus op God gerig is. Ware erediens is God-gesentreerd en nie mens-gesentreerd nie. Juis omdat God sentraal staan, kom ons ook self in beeld as sy verloste kinders. Ons kom saam in erediens. Nie tot eer van onsself nie, maar tot verheerliking van God. Eers wanneer dit die geval is, sal ons ook self deur Hom geseën en opgebou word. God is diegene wat in die eerste plek bly moet wees met ons erediens. Daarom is dit ons taak om vanuit die Skrif te ontdek hoe God wil hê dat Hy gedien word en hoe Hy voel oor die manier van ons erediens.
Uitdruklike Bevele?←⤒🔗
Beteken dit nou dat ons vir alles ’n skriftuurlike bewys moet hê? Moet ons byvoorbeeld ’n skriftuurlike bewys vir die handdruk van die ouderling, vir die votum, die staan of sit van die gemeente ensovoorts hê? Daar was ’n tyd waarin mense dit gedink het. Ons praat oor die Puriteine. Hulle het gedink dat hulle vir alles ’n skriftuurlike bewys moes hê. Ons waardeer hul stryd teen die misbruike van daardie dae, maar hulle het egter in uiterstes verval. Hulle het gedink dat hulle Calvyn daarin gevolg het.
Insiggewend en leersaam is egter wat Calvyn self skryf n.a.v. die gewoonte om te kniel vir die gebed. Hy skryf:
Ek moet betuig dat ek uiteindelik slegs daardie menslike instellings goedkeur wat sowel op God se gesag gegrond as aan die Skrif ontleen is en wat daarom Goddelik is. Kom ons neem byvoorbeeld die buig van ons knieë wanneer plegtige gebede gedoen word. Nou is die vraag of dit ’n menslike tradisie is wat enigeen kan weier of versuim. Ek sê dat dit net sowel ’n menslike tradisie is as wat dit tegelyk van God kom. Dit kom van God in soverre dit deel is van daardie betaamlikheid wat die apostel by ons aanprys dat ons daarvoor sorg moet dra en dit moet onderhou. Dit kom egter ook van mense af in soverre dit besonderlik aantoon wat die apostel oor die algemeen aandui eerder as uitdruklik gestel het.Institusie 4.10.30
Calvyn erken dat God nie vir alles ’n uitdruklike bevel gegee het nie en dat die gebruike in die gemeentes verskillend kan wees. Hy skryf:
Omdat dit egter nie sy wil was om in die uiterlike dissipline en seremonies uitdruklik voor te skryf wat ons moet volg nie, omdat Hy voorsien het dat dit van die tydsgewrig afhang en Hy geoordeel het dat een vorm daarvan nie by alle tye pas nie, behoort ons hier ons toevlug te neem tot daardie algemene reëls wat Hy ons gegee het sodat alles wat die nood van die kerk vereis met die oog op die orde en betaamlikheid voorgeskryf moet word, aan hierdie reëls getoets moet word.
Ten slotte, omdat Hy niks uitdruklik hieroor geleer het nie, en omdat dit nie vir ons saligheid noodsaaklik is nie, en dit ooreenkomstig die gewoontes van elke volk en tyd verskillend aangepas moet word, sal dit paslik wees om enersyds gebruiklike instellings te verander en te herroep en andersyds nuwes in te stel na gelang die voordeel van die kerk dit vereis.(4.10.30)
Dit is dus duidelik dat Calvyn erken het dat sekere uiterlike seremonies nie in die Skrif gebied word nie en ook nie ’n uitdruklike bevel nodig het nie. Die maatstaf om sulke seremonies te aanvaar lê volgens hom daarby dat dit ordelik en bevorderlik vir die opbou van die kerk moet wees en dat dit nie deur die Skrif veroordeel word nie. Calvyn was dus meer oop vir verskillende liturgiese praktyke as sy Puriteinse volgelinge. Dis nie omdat Calvyn nagelaat het om konsekwent sy beginsel na te leef nie. Nee, so het Calvyn sy beginsel bedoel. Die beginsel het ruimte gelaat vir seremonies wat met die algemene leer en reëls van die Skrif ooreenkom.
Dis ’n wesenlike fout om ’n skriftuurlike bevel vir alle aspekte van die erediens te eis. In feite skryf die Skrif nie spesifiek en presies voor hoe ’n erediens gehou moet word nie, veral nie vir die Nuwe Testamentiese gemeente nie. Dit geld selfs in ’n sekere mate vir die Ou Testament. Ons vind byvoorbeeld nêrens ’n bevel vir of ’n volledige uiteensetting van die sinagogale erediens nie. Dieselfde geld vir die Purimfees en die fees van die tempelwyding waar Christus self aanwesig was (Johannes 10:22).
Konklusie←⤒🔗
Ons mag bly wees met die regulerende beginsel soos ons dit in Sondag 35 van die Heidelbergse Kategismus bely: “Ons mag God … op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.” Dit bewaar ons by ’n God-gesentreerde erediens en beskerm ons teen ’n mens-gesentreerde erediens wat vandag steeds meer veld wen.
Omdat die beginsel soms te ekstreem deurgevoer word, is ek huiwerig om die regulerende beginsel te omskryf as: “wat God nie gebied het nie, is verbode”. Hierdie omskrywing gaan ’n stap verder as die formulering van ons Kategismus. Dit wek die indruk dat ons vir alle dinge ’n uitdruklike gebod van God moet hê, anders sou dit verbode wees. Die formulering van die Kategismus laat ruimte vir dinge wat God nie uitdruklik beveel het nie.
Die diens waaroor ons belydenis (HK. 35; NGB art. 7) praat is nie beperk tot die Sondagse eredienste nie. Dit omvat ons hele lewe. Ons moet in ons hele handel en wandel skriftuurlik optree. God het egter nie vir al ons daaglikse doen en late uitdruklike bevele gegee nie. Ons moet op grond van die algemene Bybelse prinsipes en reëls God se wil vir ons spesifieke situasie leer ken en opvolg.
Die kerk moet voortdurend waak teen wettisisme en uiterlike vormdiens. Daarom is dit goed dat ons ons besin oor ons liturgiese gebruike. Waarom doen ons die dinge soos wat ons dit doen?
Waarom onderhou ons byvoorbeeld die Kersdag, sing ons Skrifberymings naas die Psalms en het die sinode ten gunste van die ondersoek na geskikte gesange besluit? Ons het geen belang by die gebooie en leringe van mense nie. Die apostel noem dit eiesinnige of selfgemaakte godsdiens (Kolossense 2:22, 23). Daarom moet ons op God se woorde en dade gefokus bly.
Laat ons ook oppas vir ’n reaksie houding. Uit reaksie teen die nuwe geluide wat ons hoor, kan ons krampagtig gaan skuil by die gereformeerde gebruike wat ons reeds jare ken en waarby ons onsself gemaklik voel. Andersyds, uit reaksie teen ’n vermeende tradisionalisme of liberalisme kan ons verval in ’n stuk fundamentalisme of wettisisme waarby dit weer reël op reël, gebod op gebod word. Uit reaksie teen die strikte hantering van die regulerende beginsel kan dit gebeur dat ons die regulerende beginsel heeltemal afwys. Andersyds, uit reaksie teen die verwerping van die regulerende beginsel kan ons verval in ’n ekstreme hantering daarvan. Ons weet dat ’n reaksie houding altyd aan eensydigheid, onewewigtigheid en vervorming van die volle waarheid ly. Bepaalde Skrifgegewens word dan geïgnoreer om ons eie standpunte te staaf.
Laat ons mekaar stimuleer om steeds die Skrifte te bly ondersoek om so op grond van die Skrif ons antwoorde te formuleer. Daarom is dit nodig dat ons dit noukeurig lees, in die verband waarin dit staan. Dit geld nie slegs vir die Bybel nie, maar ook vir ons belydenisskrifte en die geskrifte van die kerkvaders. Slegs dan sal ons reg kan doen aan wat hulle vir ons sê.
Ek sluit af met die wyse en nog-steeds aktuele woorde van Calvyn. Calvyn erken dat dit soms paslik sal wees om enersyds gebruiklike instellings te verander en te herroep en andersyds nuwes in te stel na gelang die voordeel van die kerk dit vereis. Maar dan voeg hy daaraan toe:
Ek erken weliswaar dat ons nie ondeurdag of onverwags en ook nie om oppervlakkige redes ons daartoe moet wend om dit te vernuwe nie. Maar die liefde sal die beste oordeel oor wat skadelik en wat stigtelik is en as ons toelaat dat liefde regeer, sal alles wel wees. (4.10.32)