Die regte kerkregeringstelsel?
Die regte kerkregeringstelsel?
'n Akademiese werkstuk oor die kerkreg behoort eintlik aan sy praktiese waarde vir die kerkregering getoets te kan word. Daarom gaan ek graag in op die versoek van Die Kerkblad om iets van my proefskrif aan die lesers oor te dra. Die studie het gehandel oor: Kerkreg en kerkorde in die lig van God se reg en orde vir sy kerk.
Die kerkreg is nou ten ene male nie 'n wetenskap wat in die lugleegte van 'n proefbuis sweef, of wat deur die eksperimenttoestelle van 'n laboratorium ontwikkel word nie. Kerkreg wat geskei sou word van die praktiese toepassingsterrein van die kerkregering, sou hoogstens die waarde van brein-gimnastiek hê. Die kerkregering is dus die mikpunt: slegte kerkreg het slegte kerkregering ten gevolg; Skriftuurlike kerkreg kan 'n Skriftuurlik-verantwoorde kerkregeringstelsel daarstel. Die vraag na watter kerkregeringstelsel die Skriftuurlike is, het deur die loop van hierdie eeu al iets van 'n teologiese moedeloosheid tot gevolg gehad. Die Skrif hou nie 'n wetenskaplik uitgewerkte kerkregeringstelsel en 'n verfynde regsorde vir die kerk voor nie.
Daarom sien talle kerkregtelikes die Skriftuurlike moontlikhede van en 'n episkopaalse, en 'n presbiteriale, en 'n presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel. Dit laat 'n skare gelowiges nog steeds met die vraag: Watter kerkregeringstelsel is dan uiteindelik die regte een?
Om 'n eenvoudige maatstaf vir 'n beoordeling van die wesenlik Skriftuurlikheid van die kerkregeringstelsels daar te stel doen ek die 'wie-vraag' aan die hand: Wie is die bepaler (en selfs die bedienaar) van die reg en die orde vir die kerk? Die vraag na die 'wie' is die vraag wat deur die are van elke kerkregeringstelsel pols. Die 'wie' bepaal die 'wat' en die 'hoe', die inhoud en die metode van elke kerkregeringstelsel. Ons toets die geykte modelle van kerkregering vlugtig aan hierdie maatstaf.
Die Roomse kerkregering⤒🔗
Die Roomse beskouing oor die bepaler en bedienaar van die reg en die orde in die kerk is uit 'n komplekse stelsel van teologiese gedagtekonstruksies af te lei. Die Roomse kerkbegrip en gesagsbegrip wat in 'n indrukwekkende gedagtesisteem tot dogma verwerk is, word uitsluitlik deur die Roomse ampsbegrip bepaal. Die Roomse siening van die amp is bepalend. En die pouslike amp, waaruit elke ander amp sy bestaansreg ontleen, is die vertrekpunt van waaruit die Roomse kerkregering verstaan moet word. Die pous is as die kerklike monarg die uitsluitlike bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die Roomse Kerk. Wat die kerklike monarg beslis, is wet. Kerkreg word beoefen uit die kerkwet wat deur die kerklike monarg buite om die Woord van God daargestel word.
Die Lutherse en die Erastiaanse kerkregering←⤒🔗
Daar is 'n hele aantal bepaalbare faktore waarom Luther, en veral sy navolgers, asook Erastus, die kerkregering prakties aan die staatsowerheid oorgegee het. Die belangrikste hieronder is die Lutherse leer van die twee ryke: 'n geestelike ryk waaroor die Heilige Gees deur die Woord beskik en 'n wêreldlike ryk waaroor die staatsowerheid deur die grasie van God beskik. Die kerk is vir die "innerlike" (geestelike) heerskappy van God nodig. Daarbenewens is die staat vir die "uiterlike" (wêreldlike) heerskappy van God nodig. Hiervolgens is reg en orde begrippe wat tot die terrein van die wêreldlike ryk behoort. Die staat is verantwoordelik om die regsorde — ook vir die kerk — daar te stel en te handhaaf. Derhalwe is die staatsowerheid volgens hierdie beskouing die bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die kerk.
←⤒🔗
Die kollegialistiese kerkregering←⤒🔗
Volgens die kollegialisme word die kerk bloot histories verklaar. Die oorsprong van die kerk word aan die mens se vrye wil toegeskryf. Die gemeente, wat uit vrye individue bestaan, is soewerein. Die gemeente dra sy regsbevoegdheid egter aan sy 'ampsdraers' oor. Op grond van die oorgedraagde bevoegdheid handel die ampsdraers in die naam van die gemeente. Die gemeentes vorm as 't ware die verskillende 'takke' van 'die kerk'. Die sinode word as die hoogste regeerliggaam van die gemeentes eintlik 'die kerk'. Omgekeerd is die kerkrade eintlik die verteenwoordigers van die sinode in die gemeentes. Wat die sinode deur middel van besluite en reglemente bepaal, is 'wet' vir die gemeentes. In werklikheid is die sinode die bepaler (en bedienaar) van die reg en die orde vir die kerk.
Die kongregasionalistiese kerkregering←⤒🔗
Die kongregasionalisme is algemeen bekend as independentisme. Hierdie beskouing bou op die interpretasie dat Christus sy gesag aan die gemeente gedelegeer het. Die gemeentes tree in werklikheid onafhanklik van mekaar op. Die dienaars is verteenwoordigers van die gemeente. Hulle voer hulle dienswerk in opdrag van die gemeente uit. Hulle is ook aan die gemeente verantwoording verskuldig. Derhalwe staan hulle onder toesig van die gemeente. Prinsipieel is die gemeente in hierdie kerkregeringstelsel die bepaler van die reg en die orde van die kerk, terwyl die 'ampsdraers' die bedienaars daarvan is.
Die presbiteriale kerkregering←⤒🔗
Die vader van hierdie kerkregeringstelsel is die groot hervormer Johannes Calvyn. Sy teologie is deur die soewereiniteit van die drie-enige God beheers. God bou en behou sy kerk onder heerskappy van Jesus Christus. Hy doen dit deur sy Woord en Gees. Hy rus sy diensknegte vir hulle dienswerk toe en roep hulle as sy dienaars in die gemeente. Hy is as 't ware self die voorsitter van die kerkvergaderings waar reg gespreek en orde bepaal en gehandhaaf word — natuurlik deur die gehoorsaamheid van die kerkdienaars (presbiters) aan sy Woord en Gees. Die presbiteriale kerkregeringstelsel moet dus as 'n teokraties-presbiteriale kerkregering verstaan word. In hierdie kerkregeringstelsel is die drie-enige God die bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die kerk.
'n Antwoord←⤒🔗
'n Antwoord op die vraag wie die bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die kerk is, verklaar tegelyk waar die reg en die orde vir die kerk setel en waaruit dit nagevors moet word.
Is die bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die kerk die kerklike monarg, dan moet hierdie reg en orde uit die pouslike wette en bepalings nagevors en omlyn word.
In geval van die staatsowerheid moet die reg en die orde vir die kerk uit die staatsregtelike wette en bepalings vasgestel word.
In die geval van die sinode moet die reg en die orde vir die kerk uit besluite, bepalings, en reglemente van die sinode bepaal word.
In die geval van die gemeente moet die reg en die orde vir die kerk uit die meerderheidswil van die lidmate vasgestel word.
Maar is die bepaler en bedienaar van die reg en die orde vir die kerk die drie-enige God, dan moet die reg en die orde vir die kerk uit die Woord van God nagevors en bepaal word.
God se Woord as bron vir die kerkreg kom dus hier kontrasterend te staan teenoor óf die pouslike wette en bepalings, óf staatsregtelike wette en bepalings, óf die besluite, bepalings en reglemente van die sinode, óf die meerderheidswil van die lidmate as bron waaruit die reg en die orde vir die kerk nagevors moet word. Die waarde van die 'wie-vraag' as kriterium waaraan kerkregeringstelsels getoets moet word, spreek vanself hieruit.
’n Verdraagsame houding←⤒🔗
Aan die hand van die 'wie-vraag' is dit duidelik dat die teokraties-presbiteriale kerkregeringstelsel die een is waarin God se bepalings vir kerkwees die beste gestalte kan verkry. Maar juis die erkenning van God as die Bepaler en Bedienaar van die reg en die orde vir die kerk, en van sy Woord as die bron van hierdie reg en orde, impliseer klaar 'n bepaalde houding teenoor ander kerkregeringstelsels. Verrassend genoeg, nie 'n houding van veroordeling nie. Maar 'n houding van verdraagsaamheid, juis vanweë die erkenning van 'n mens se onvolkome en gebrekkige interpretasievermoë van God se Woord. Want selfs waar 'n menslike outoriteit as regeerder in die kerk aangehang word, beteken dit nie noodwendig dat die regering van die Woord geheel en al tot niet gemaak is nie — en só Christus se heerskappy volkome verdring word nie. God bepaal sy reg en orde tog vir die kerk in sy Woord en laat dit deur sy Gees bedien. Daar moet dus nog sprake van 'n Christusheerskappy wees waar hoegenaamd nog na die Woord geluister word. Al sou die luister na die Woord hoe deurspek met menslike denkkonstruksies en menslike regeringstrukture wees. Die kerkregering hoort aan Christus, maar die kerkregeringstelsels is menslike 'positivering' van God se reg en orde vir sy kerk waarvan Hy die beginsels in sy Woord geopenbaar het. Derhalwe kan geen kerkregeringstelsel die volmaakte wees nie. Maar die kerkregeringstelsel waarin 'n minimum menslike denkkonstruksie en 'n maksimum Woordopenbaring spreek, bied die beste beveiliging vir die Woord-regering.
Geen kerkregeringstelsel is 'n waarborg vir die saligheid nie. Maar die besondere belang van 'n Skrifgehoorsame kerkregering lê daarin dat dit nie die weg verdring nie, maar dat dit die weg open waardeur die vrygekooptes hulle Koning se stem in die kerkregering mag herken. So moet die kerkregeringstelsel daartoe meewerk dat die kerk onverhinderd, onvoorwaardelik en met blydskap voor die al-oue en ewig-nuwe heerskappy van die drie-enige God mag buig.