Die reen het gekom
Die reen het gekom
Die reën het toe gekom. Oor groot dele van ons land is die droogte gebreek – nie net in die natuur nie, maar ook in menseharte. Vir baie boere het die reën nuwe hoop gebring. Die trekkers dreun weer op die landerye, en met elke voor wat oopgeploeg word, is daar die hoop: dalk hierdie jaar! Ook vir die stedeling het die reën nie onopgemerk gekom nie. Almal was so diep bewus van die knellende droogte dat elke druppel reën oraloor met blydskap ontvang is.
As kinders van God het ons in die reën 'n dubbele rede vir blydskap. Ons is nie net bly omdat die aarde weer nat is nie. Ons blydskap is veral groot omdat die reën vir ons ook geloofsbetekenis het. Vir ons is die reën 'n teken van God se sorg. Dat Hy die Gewer van reën op die aarde is, weet ons maar al te goed uit sy Woord; "Die HERE julle God ... laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd ..." (Joël 2:23).
Maar as God die reëns op hulle tyd stuur, waarom het die reën dan so lank weggebly? In die geloof is daar maar een antwoord: omdat God dit teruggehou het. En wanneer God die reën terughou, doen Hy dit om baie goeie redes. Wat sy redes presies is, kan ons gewoonlik nie begryp nie – daarvoor is sy gedagtes veels te hoog vir ons gedagtes (vergelyk Jes. 55:9). Werklik verstaan kan ons ook nie, want (om die woorde van Totius te gebruik) as ons die hande uitsteek na die wag-'n-bietjie-bos van God se wilsbesluit, dan gryp ons in die dorings vas.
Nogtans maak God aan ons in sy Woord bekend dat Hy soms droogtes oor ons laat kom met die doel om te tugtig, sodat daar bekering sal kom (Amos 4:7); en soms met die doel om ons geloof te beproef en sterk te maak (Jak. 1:2-4), sodat ons in groter afhanklikheid tot Hom sal bid (Sag. 10:1). So het daar in die afgelope maande talle gebede uit die harte van gelowiges na Hom opgegaan: Ag, Here, gee tog reën!
En nou dat die reën gekom het? Moet ons dit sien as 'n aanduiding dat die verlangde bekering plaasgevind het? En dat ons hard en lank genoeg gebid het? 'n Mens sou graag hierop "ja" wou antwoord, maar ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie:
- Soos God die droogte oor onregverdiges én regverdiges laat kom het, oor onbekeerdes én bekeerdes, oor hulle wat nie wou bid nie én hulle wat vurig gebid het, so stuur Hy ook weer die reën oor regverdiges en onregverdiges (Matt 5:45), oor biddende en biddelose mense. Die bekeringsroep is dus nog steeds nie oor nie, die tyd vir bid nie verby nie. Ons het met soveel volharding om reën gebid – sal ons dan nie met eweveel volharding God daarvoor dank nie?
- Verder kan ons nie sê dat die reën gekom het omdat ons so hard of so lank of so ernstig gebid het, of omdat so baie van ons gebid het nie, want daarmee sou ons mos in onsself roem. En dit allermins! Ons weet dat die gebede van regverdiges groot krag het (Jak. 5:16-18), maar wanneer God ons gebede verhoor en gee wat ons vra, is dit nie ons wil nie, maar steeds sy wil wat geskied (Luk. 22:42). Wanneer Hy gee, gee Hy vrymagtig en enkel en alleen uit genade.
Hoe moet ons dit alles verstaan? As die reën dan nie 'n teken van ons bekering is nie of 'n aanduiding van hoe vurig en opreg ons gebede is nie, waarvan is dit dan 'n teken? Uit die Woord van die Here weet ons dat reën baie minder van die mens sê as wat dit van God sê. In die Bybel lees ons dat God Homself in sy skepping aan ons bekend maak (Psalm 19) en ons bely ook so in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Ook in die reën wat val openbaar God iets van Homself. In die afgelope maand se reën het ons opnuut gesien: God is ons hemelse Vader wat elkeen wat tot Hom bid, hoor en verhoor. Hy sorg vir ons en vir alle dinge. Wanneer dit vir die mens lyk of daar geen uitkoms is nie, gee God die verlossing. Hy stuur en bepaal ons lewe, net soos Hy die wolke en die reën stuur en bepaal, sodat alles gebeur op die regte tyd.
En wanneer ons vol verwondering sien hoe die veld na die reën nuwe lewe kry, sodat 'n mens nie kan dink dat dit dieselfde droë en barre aarde van enkele weke gelede is nie, sien ons ook daarin iets van die wonderlike almag van God. God kan ons lewe verander – in 'n oogwink! – sodat ons nie kan dink dat dit dieselfde lewe is waaroor ons so flussies gekla het nie. Hy verander ons lot, soos waterstrome in die suidland (Psalm 126:4) – skielik, drasties, wonderdadig. Die grootste wonder hiervan is dat Hy van sondaarmense kinders van God maak: erfgename van die ewige lewe! Daarvoor dank en loof ons Hom ons lewe lank.