Die Predikant se Besondere Verhouding met God
Die Predikant se Besondere Verhouding met God
Wanneer die dienswerk van die predikant ter sprake kom is die eerste vraag om te beantwoord: In wie se diens staan die predikant? Op die ingewing van die oomblik antwoord die meeste mense: in diens van die kerk. En as ons erg Gereformeerd wil wees, voeg ons daarby: in diens van die plaaslike kerk.
Hierdie antwoorde tref die teiken wel êrens, maar nie een van hulle is in die kol nie. Want prinsipieel gesien is die predikant in niemand anders se diens nie as in diens van die Here. In die Bybel word Woordbedienaars by herhaling "diensknegte van Jesus Christus" genoem (bv. Fil. 1:1; 2Tim. 2:24). Ja wel, Christus stel hulle aan as diensknegte van sy kerk (2 Kor. 4:5; Ef. 4:11,32). Maar ten diepste bly elke predikant in diens van die Here staan omdat Hy in werklikheid sy Werkgewer is.
Werknemer-Werkgewer Verhouding⤒🔗
Die predikant staan dus in die eerste plek in 'n werknemer-Werkgewer verhouding met die Here. Dit beteken dat hy sy opdrag van die Here ontvang en hom deur niks en niemand van daardie opdrag sal laat afwyk nie. Anders is hy 'n ontroue werknemer. En waar anders hoor hy die opdrag van sy Werkgewer as in sy Woord? Meer as bekend is die opdrag wat in 2 Timoteus 4:2 opgeteken is: "Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering..."
Maar die opdrag van die Woordbedienaar is nie beperk tot 'n Bybelteks hier en 'n Bybelteks daar nie. Dit lê verspreid oor die bladsye van die Bybel. Daarom is 'n predikant wat 'n goeie dienskneg van sy Here is, voortdurend in 'n proses van eie Bybelstudie. Nie soseer Bybelstudie met die oog op preek maak nie. Die gevaar bestaan immers dat 'n predikant so in beslag geneem word deur sy taak as Woordbedienaar dat hy die Bybel lees bloot as 'n teksboek vir preke. Nee, as dienskneg van die Here moet Hy die Bybel gereeld oopmaak met geen ander doel nie as om self na sy Here se stem te luister.
'n Getroue dienskneg doen nie net wat sy Werkgewer hom sê nie. Hy doen dit ook met blymoedigheid. Dit is hom 'n vreugde om sy Heer te dien. Daarom pas dit nie 'n predikant om te loop en kla omdat die werk so baie is en omdat die gemeente hom soveel moeite besorg nie. Hy sluit ook nie by allerlei vakbonde aan wat hom bystaan by die opeis van beter finansiële en ander diensvoorwaardes nie. Hy weet immers dat hy in diens van die Here staan. En Hy verwag blymoedige en toegewyde diens.
Die Here onderneem ook om te sorg vir diegene wat in sy diens staan (vgl. 1 Kor. 9). Daarin is die kerkraad instrumenteel in sy hand. Die kerkraad mag nie die feit dat die predikant in diens van die Here staan, misbruik as 'n verskoning om nie behoorlik na hom om te sien nie. Die feit dat die predikant Christus se dienskneg in die gemeente is, plaas juis die plig op die gemeente om hom behoorlik te versorg. So kan hy dan onbekommerd en blymoedig dienswerk in die gemeente doen.
Die gesindheid van die predikant as dienskneg van die Here word pragtig verwoord in Psalm 116:9 (berymd):
Ag, Heer, ek is, o ja, ek is u kneg,
seun van u diensmaagd, in u diens gebore:
my bande is los; vir hoër diens verkore,
bring ek die offers aan U toegeseg.
'n Kind-Vader-Verhouding←⤒🔗
Die predikant kan egter nie by die werknemer-Werkgewer verhouding bly vassteek nie. So 'n verhouding loop gevaar om onpersoonlik te raak en in blote formele diensplig te verval. Daarom kan en mag predikante hulle nooit losmaak van die genadeverhouding waarin God alle gelowiges met Hom stel nie: Hy maak hulle sy kinders; hulle het Hom as Vader (Rom. 8:15). Daarom is ook die predikant kind van die Here. En as sodanig moet hy leef en optree in die gemeente en in die samelewing.
Die sekere wete dat jy kind van die Here is, bring 'n bepaalde leefwyse na vore. Efesiërs 4:2 praat van "nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid". Galasiërs 5:22 voeg daarby: "liefde, blydskap, vriendelikheid, goedheid, getrouheid en selfbeheersing." Hierdie leefwyse is die vrug van die Gees wat in die kinders van God na vore tree. En as voorganger van die gemeente (1 Tess. 5:12) moet die predikant die gemeente ook hierin voorgaan.
As voorganger in hierdie dinge is die predikant dan 'n belangrike persoon in die gemeente en in die samelewing. Daarom word die gelowiges in 1 Tessalonisense 5:13 vermaan om "die hoogste agting ter wille van sy werk" aan hom te bewys. Maar dit is belangrik dat die predikant ook hierdie aansien met kinderlike nederigheid ontvang. Dit beteken dat dit hom nie statusbewus of magsbehep mag maak nie. Die predikant wat op 'n troontjie wil klim, probeer die Here van sy troon afstoot. En dit mag nie. Dit is die goddelose werk van die duiwel. Daarom, as kind van die Here, moet selfs die mees gesiene predikant gekenmerk word deur nederige en kinderlike afhanklikheid van sy Vader.
'n Lewende Verhouding←⤒🔗
Om die Woord van God te verkondig, is 'n duiselingwekkende taak. Want geen mens kan sommer ligtelik sê "So sê die Here" nie. Daarom is 'n groot deel van 'n predikant se werk Bybelstudie en nogmaals Bybelstudie. Skrifuitleg (eksegese) is harde en moeisame werk en verg groot inspanning en deursettingsvermoë. Om daartoe bekwaam te wees, ondergaan predikante 'n lang en moeilike studietyd van sewe jaar. Maar die opleiding in eksegese is maar 'n baie klein deel van die toerusting van die predikant om die Woord te kan verklaar. Sy belangrikste opleiding vind hy by die Gees van die Here. In die teologie word daar gepraat van "kongenialiteit" tussen die eksegeet en die Heilige Gees. Dit beteken dat die predikant so deurdronge van die Heilige Gees moet wees dat hy dink soos die Gees dink. Hy moet in sy besig wees met die Bybel besef wat die Gees werklik sê.
Hierdie "kongenialiteit" is slegs moontlik as daar 'n lewende verhouding tussen die predikant en God bestaan. Bybellees en gebed moet so inherent deel van 'n predikant se dagtaak wees dat dit eintlik nie eens genoem hoef te word nie. Vroeg-môre staan hy op met sy eerste gedagte aan die Here. Eintlik kan hy nie sy dagtaak begin as hy nie eers 'n tyd lank stil was by die Woord en in gebed nie. Van bekende predikante en professore hoor 'n mens dikwels dat hulle elke dag 'n volle uur met persoonlike Bybellees en gebed deurgebring het voordat hulle met hulle dag se werk begin het. En hulle dag se werk was om met die Bybel besig te wees!
Op die keper beskou kan dit nie anders nie as dat die predikant elke oomblik van sy dag diep bewus moet wees van die teenwoordigheid van die Here. Alleen op dié manier kan hy krag kry om te bly werk, om versoekings te weerstaan, om met vrymoedigheid die Woord te verkondig. So lees ons by meer as een geleentheid dat die apostel Paulus die gelowiges vra om vir hom te bid "sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak" (vgl. Ef. 6:19).
Dieselfde Maar Tog Anders←⤒🔗
Net soos elke ander gelowige is die predikant dienskneg van die Here en kind van die Here wat vol van die Heilige Gees in 'n lewende verhouding met Hom lewe. Maar tog is 'n predikant se verhouding met die Here uniek. Omdat hy instrument in die hand van Christus is waardeur Hy sy kerk versorg en lei, word daar des te meer van die predikant verwag om 'n lewe van diensbaarheid te lei; word daar 'n nog groter appèl gemaak op sy nederige afhanklikheid van die Vader; moet sy lewe 'n nog duideliker toonbeeld wees van 'n lewende verhouding met God. Hiermee het ons, die kerke, meer as genoeg rede om ons predikante te ondersteun met ons gebede en andersins. Want om sulke voorgangers in die kerk te wees, verg genade wat net van God afkomstig is. Laat ons daarom vir hulle bid.