Die Opneem van die Offergawes
Die Opneem van die Offergawes
⤒🔗
Die herkoms van die gebruik←⤒🔗
Uit die Nuwe Testament en vroegste geskrifte kan afgelei word dat die Christene allerlei gawes in natura na die erediens gebring het. Dit is aanvanklik gebruik vir die liefdesmaaltye, maar ook vir die sorg van die geestelikes en vir die behoeftiges. Daar kan aangeneem word dat van hierdie gawes ook gebruik is vir die viering van die nagmaal. Sedert die derde eeu is die bring van die gawes duidelik ingesluit vir die viering van die nagmaal — die brood en wyn. In die Bisantynse liturgie ontwikkel die bring van die gawes vir die nagmaal tot die "groot intog".
Sedert die elfde eeu verval die offergang. Die gawes in natura word vervang met offerande in geld.
Die kerke van die Reformasie het die gebruik om gawes na die erediens te bring, voortgesit, maar dit losgemaak van die offertorium met die klem op die offer.
Die betekenis van die bring van die offergawes na die erediens←⤒🔗
Soos die gebede, die geloofsbelydenis en die lied, is die gee van die offergawes 'n deel van die antwoord op die aanspreke van God deur die Woordbediening. Dit is 'n offer van dankbaarheid vir God se gawes, veral vir die gawe van die verlossing in Jesus Christus.
Die gee van die gawes is ook vir die nood van die naaste, maar primêr is dit gerig op God en tot sy eer. Dit is die teken van die regte luister na die Woord van God. Meer nog, dit is die teken van die oorgawe van die self met alles aan die Here. Ons gee nie net ons gawes nie, maar onsself. Christus as die Koning van die Kerk vra ons gawes en ons gee dit aan Hom en Hy stel ons in staat om dit inderdaad te gee. Wie sy gawes gee, staan voor God en sê: "Hier het U my! By die sin: Hier het U my gawes!" (G. Voigt).
Die gee van die gawes in die erediens is ook 'n wyse om God te dank en te eer. So word die lof van die lippe konkreet in die gawe van die hand. Die dankoffer in die erediens is "'n stom, maar reële lofprysing van God" (G. Voigt).
Uit hierdie primêre bedoeling van die dankoffer as gawe aan God, is dit ook gawe om Christus se ontwil in belang van die gemeente na al sy behoeftes, ook van die kerk in wyer verband. Dit is ook in belang van die naaste wat naby en wat veraf is. Die gee van die gawes druk die noue samehang tussen die aanbidding en die getuienis, tussen die aanbidding en die diens, uit. Liturgie kan nie geskei word van getuienis en die diakonie nie. Die diens van barmhartigheid is verankerd in die nagmaal. Die diens "van die tafels" hang saam met die diens "van die tafel". By die gee van die gawes in die erediens, moet dit steeds gesien word in die afhanklikheid van die allergrootste Gawe van God, Jesus die Verlosser.
Die plek van die offergawes in die erediens←⤒🔗
Histories is die plek van die offergawes na die dankgebed en by die oorgang na die nagmaal. Hierdie noue verband met die nagmaal, wat weer herinner aan God se groot Gawe, moet steeds vasgehou word. Prakties al die oud-gereformeerde ordes van erediens plaas die plek van die opneem van die offergawes na die preek. Pollanus, 1551, en Micron, 1554, het die insameling gehad by die uitgang of na die gebed vir alle nood. Dikwels is by die oud-gereformeerde ordes ook nog 'n insameling vir die behoeftiges by die deure opgeneem.
Prinsipieel is die beste plek vir die insameling van die offergawes in diens omdat dit deel is van die aanbidding van die gemeente. In die diens is die beste plek na die preek en na die dankgebed en geloofsbelydenis. By die nagmaal sou dit goedskiks opgeneem kon word voor die viering, by die voorbereiding van die gawes. Daar is egter sterker gronde om dit ook na die nagmaal, as deel van die groot danksegging vir die Woorddiens en vir die Nagmaalsviering, op te neem.
Die wyse van insameling←⤒🔗
Dit het oral in die verskillende kerke gebruiklik geword om die insameling van die gawes te laat opneem terwyl die lidmate in die banke sit. Dit geskied deur borde, sakkies of mandjies. So 'n gebruik is hoofsaaklik uit praktiese gronde. Daar is veel voor te sê dat die gemeente self na vore beweeg en hulle gawes persoonlik bring na die liturgiese ruimte en dit plaas op die nagmaalstafel.
In sommige kerke is daar 'n gebruik dat nadat die gawes ingesamel is, die liturg 'n gebed daaroor en daarvoor doen. So 'n gebed kan by geleentheid, soos by 'n jaarlikse dankoffer of by die maandelikse dankoffer, sinvol gedoen word. Om dit egter elke Sondag by elke diens te doen, is te opsienbarend en lê weer 'n te groot klem op die gawes. Dit ruk die saak van die gawes uit verband.