1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Onskeidbare Eenheid van die Twee Nature van Christus

Wanneer ons van die geheimenis van die vleeswording van ons Here Jesus praat, moet een ding beklemtoon word, en dit is dat Hy steeds ware God en ware mens is. Die eenheid van die goddelike en die menslike is ʼn onskeidbare eenheid.

Sommige Christene het ʼn opregte, maar vae en onbybelse, siening dat Christus na sy opstanding opgehou het om mens te wees. Hy sou dan, so dink hulle, ons menslike natuur opgeneem het toe Hy in Bethlehem gebore is en dit weer afgelê het toe Hy uit die dood opgestaan het. Sy opstanding uit die dood bewys inderdaad dat Hy steeds ʼn mens is soos ons. Omdat Hy God is, kan Hy nie sterf nie en het Hy nie nodig om uit die dood op te staan nie.

Dit is dus ook in sy menslike natuur wat Hy na die hemel opgevaar het. God het nie nodig om op te vaar nie, want Hy is alomteenwoordig. As mens sit Christus nou aan die regterhand van God en tree vir ons in, en as mens sal Hy aan die einde van alle dinge terugkeer om te oordeel.

Ons moet onthou dat, as Hy nie steeds menslik is soos ons nie, ons nie aan Hom deel het nie; dat wat die Skrif oor Hom sê — dat Hy “in alle opsigte aan sy broeders gelyk word” sodat “Hy ʼn barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan” (Heb. 2:17) — nie meer waar is nie. As Hy nie aan ons gelyk is nie, is ons immers nie sy broeders nie.

Die menslike natuur van Christus word ook nie goddelik deur die opstanding nie. As dit só was, sou Hy nie meer ons Ouer Broer wees, die Een wat vir altyd leef om vir ons in te tree nie. As die Een wat ons swakhede ken en daarin met ons medelye het, tree Hy nou só vir ons in, soos iemand wat in alle opsigte soos ons is, maar sonder sonde. As mens verteenwoordig Hy ons voor God en verkry alle seëninge in die hemele vir ons in Hom.

Deur die opstanding is die menslike natuur van Christus verander en verheerlik, soos wat ons ook sal word wanneer ons op die laaste dag uit die dood sal opstaan en Hom tegemoet sal gaan. Sy menslike natuur het nie het nie met sy dood agtergebly, of in die goddelike verander nie. Hy is steeds Seun van die mens.

Omdat Christus steeds sy menslike natuur het, sal Hy by die einde van die wêreld weer in daardie menslike natuur kom, net soos Hy van ons weggegaan het toe Hy na sy Vader opgevaar het. As God is Hy natuurlik alomteenwoordig en is Hy by ons tot aan die einde van die wêreld, maar ons sal Hom as mens nie sien en persoonlik ontmoet totdat Hy weer kom nie.

Moeilik om te verstaan? Ja, dit is, maar net omdat Christus se vleeswording en die eenheid van sy twee nature ʼn werk is van God, wie se weë altyd vir ons te hoog is. Dit is deel van die wonder van ons verlossing deur sy genade.

Dit is inderdaad moeilik om te verstaan, maar heerlik vertroostend, want dit beteken “dat ons ons menslike natuur in die hemel as ʼn betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem”.1

Endnotes🔗

  1. ^ Heidelbergse Kategismus, Sondag 18, Vraag en Antwoord 49.