Die Naam Immánuel
Die Naam Immánuel
Die naam Immánuel, of Emmánuel, kom net twee maal in die Skrif voor — in die belofte van Jesaja 7:14 en die vervulling daarvan in Matthéüs 1:23.
Die naam beteken “God met ons”, die uitgang –el is die Hebreeuse woord vir “God” en die res van die naam beteken “met ons’. Dit is dan ook die uitleg van die naam wat deur God self, by monde van die engel Gabriël, in Matthéüs 1:23 gegee word.
Die naam is die eerste keer in die Ou Testament deur die profeet Jesaja aan koning Agas aangekondig in Jesaja 7:14. Die aankondiging was ʼn deel van die teken wat God aan Agas gegee het om die getroues van Israel daarvan te verseker dat God hulle nie verlaat het nie en hulle nooit sal verlaat nie.
Later, toe die profesie van Jesaja vervul is in die geboorte en naamgewing van Christus, het God getoon hoe Hy met sy volk sal wees en waarom Hy hulle nooit sal verlaat nie. Hy sal in Immánuel met hulle wees en om die ontwil van Immánuel sal Hy hulle nie verlaat nie.
Die naam Immánuel verwys na die feit dat Jesus God én mens in een persoon is. In Hom is God op die mees innige manier één met ons, deur ons menslike natuur met Homself te verenig. Immánuel is die vervulling van al die verbondsbeloftes van God om vir sy volk ʼn God te wees en by hulle te woon.
As Immánuel is Jesus self immers die verwesenliking van daardie vriendskap- en gemeenskapsverbond. Deur die goddelike en menslike natuur in Homself te verenig, maak Jesus ons deelgenote van die goddelike natuur (2 Pet. 1:4) en, as die eniggebore seun van God, woon Hy in ons en met ons in onverbreeklike eenheid sodat Hy in vlees en bene met ons een is (Ef. 5:30).
As Immánuel is Jesus die ware tabernakel of tempel van God in vervulling van die belofte in Openbaring 21:3: “En ek het ʼn groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God”. Daarom is daar nie ʼn tempel in die nuwe Jerusalem nie “want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam [as Immánuel]” (vs. 22).
Die naam Immánuel verwys ook na die werk van Christus, want God kan nie anders as deur versoening “by” sondaars wees nie. Dié naam is ʼn herinnering “dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het” (2 Kor. 5:19). In Immánuel is God met ons as die een wat in ons verlore staat na ons toe kom, ons sondes op Homself neem en wat só al ons sondes wegneem om ons daarvan te verlos en ons te red.
Wat ʼn seën is die naam Immánuel dan vir almal wat daarin glo. Dit is die hele evangelieboodskap in één woord wat ons van ons Saligmaker, en die seën van ons heil in Hom, leer.