Die Kruisdood van Christus
Die Kruisdood van Christus
Christus se dood is die derde stap in sy staat van vernedering. Die bloedstorting en dood van Christus aan die kruis is die hoofgebeure in die geskiedenis en die hart van die evangelie. In 1 Korinthiërs 2:2 verwys Paulus hierna, waar hy sê: “ ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde”; en ook in Galasiërs 6:14: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus”.
Die kruis was baie dinge. Dit was die oordeel van hierdie wêreld. Jesus self het dit gesê in Johannes 12:31 en dit het ook uit die duisternis, die aardbewing en die skeur van die voorhangsel in die tempel geblyk. Die oordeel wat God by die kruisiging geopenbaar het, was so klaarblyklik dat die skare wat huis toe gegaan het op hulle bors geslaan het (Luk. 23:48).
Die kruis is ook vir hulle wat nie glo nie ʼn voortdurende steen van aanstoot en ʼn rots van struikeling. Aan die kruis is Christus nie alleen as kosbare hoeksteen gelê nie, maar ook as ʼn rots van struikeling (1 Pet. 2:6-8).
Daarom is dit die kruis wat die geloof van ongeloof en uitverkiesing van verwerping skei. Die kruis en “Jesus in die middel” wys duidelik dat die rede waarom een mens glo en ʼn ander nie, nie by die mens lê nie, maar in die kruis van Christus en in die wil van God wat deur Christus geopenbaar word.
Die bloed van die kruis is die versoening van alle dinge op die aarde en in die hemele (Kol. 1:20), maar bowenal is die kruis ons versoening met God, die betaling vir ons sonde, boetedoening, en ons verlossing (vs. 21, 22). Aan die kruis het die lyding en vernedering van Christus, veral tydens die drie ure duisternis, die hoogtepunt bereik. In dié tyd het Hy, met ons sonde belaai, teenoor God, die Regter, gestaan. Wat in die paar ure gebeur het, is ver bo ons begripsvermoë.
Net een kort woord kom uit die duisternis na ons toe: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Gedurende dié tyd was die Seun van God deur sy Vader verlaat. Só het Hy alles gely wat ons sonde verdien. Hy is verlaat sodat ons deur God aangeneem en nooit deur Hom verlaat sal word nie. Deur die volle toorn van God te verduur, het Hy ons van daardie toorn verlos, sodat ons nooit dit wat in daardie drie ure duisternis gebeur het, of wat dit beteken om voor die aangesig van God as toornige en onverbiddelike Regter te verskyn, sal beleef nie.
Laastens is die kruisdood van Jesus Christus die bron van ons heiligmaking, soos Paulus dit in Galasiërs 6:14 stel: “deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld”. Dit is vir ons ʼn oorsaak van vervolging (Gal. 6:12). Dit is eweneens die simbool van die selfverloëning wat ons om sy ontwil moet beoefen (Matt. 10:38). Dit is die bron van al ons seëninge in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom. Laat ons dan oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.