Bron: Kompas, 2006. 4 bladsye.

Die Kerk se Lae Drumpel en Hoë Doel

kerke

In hierdie artikel wil ek graag aandag skenk aan die missionêre karakter van die kerk van Christus. Missionêr, dit wil sê ’n kerk wat in sy wese gestempel is deur die opdrag van die Here Jesus in Matteus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” In die artikel kyk ons na watter riglyne die Nuwe Testament bied om as kerk wesenlik uitnodigend na sondaars en ongelowiges toe te wees. Vind ons in die Nuwe Testament konkrete voorbeelde hoe om missionêre kerk te wees?

Die Gemeente is Nooit Volmaak Nie🔗

As daar een Bybelboek is wat illustreer dat ’n gemeente nie eers volmaak hoef te wees om te kan evangeliseer nie, is dit die brief aan die Korintiërs. Waar in die Nuwe Testament vind ons ’n gemeente wat meer probleme gehad het? Paulus vermaan die gemeente ernstig oor talle sake: tweedrag, onderlinge minagting, ‘vleeslike’ optrede, spog met ‘gnostiese’ insigte, hoogmoed, ontug wat in die gemeente toegelaat word, reg wat gesoek word by wêreldse regters, geen rekening wat gehou word met swak broeders nie, skandelike misbruike soos dronkenskap by die nagmaal, opgeblasenheid vanweë spesifieke geestelike gawes, chaotiese eredienste, en sommiges wat selfs openlik aan die opstanding getwyfel het! Daar is geen gemeente wat beter illustreer dat God se kerk op aarde slegs in aanbou is. Wat egter opvallend is in Paulus se briewe aan hierdie gemeente, is dat hy nie verval in ’n eers-en-pas-daarna denke nie. Asof eers die ‘eie’ gemeente op orde gebring moet word voordat hulle buitentoe kan beweeg.

Paulus oor die Swakkes in die Gemeente🔗

In die Nuwe Testament word daar dikwels gepraat oor die ‘swakkes’. Ons is geneig om hierdie benaming veral ‘na binne gerig’ te interpreteer. Die term ‘swakke’ word dan toegepas op Christelik opgevoede mense met ’n streng gewete. In die missionêre situasie van die Nuwe Testament was dit egter anders. Ons vind hier gemeentes met ’n veelvoud van mense wat uit die wêreld oorgekom het. In 1 Korintiërs 8 sê Paulus oor hulle, onder die benaming ‘swakkes’:

  • hulle gewetens is nog nie los van die afgode nie, hulle staan as’t ware nog naby die heidendom

  • hulle word maklik deur die vryheid van meer ervare en ryper gemeentelede tot twyfel gebring

  • hulle is ook broers, vir wie Christus gesterf het

  • hulle kan nog verlore gaan

  • wie teen hulle sondig, sondig teen Christus, omdat hulle ook deel is van die liggaam van Christus.

As ʼn mens hierdie opmerkings op jou laat inwerk, bring dit die besef dat ons ‘sterk wees’, ons groter kennis en ervaring in die geloof, nie beteken dat ons voor in die ry staan by God nie.

Inteendeel, sê Paulus; en verwysende na homself noem hy dit ’n eer om self ook swak te wees (2 Korintiërs 11:30 en 12:9-10). Hy verwyt die Korintiërs dat hulle so spog met hulle krag (2 Korintiërs 13:9). Want juis in ons swakheid verheerlik ons God se genade. “Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk” (1 Korintiërs 12:22). ’n Gemeente wat geen ‘swakkes’ in hierdie sin ken of toelaat nie, loop groot gevaar om selfgenoegsaam en ‘kragtig’ in hulleself te word.

Ook in sy brief aan die Romeine praat Paulus oor die ‘swakkes’. “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Romeine 5:6). Die besef van ons eie ‘swakheid’ bring mee dat ons die ‘swakkes’ in die geloof aanvaar, sonder om oor hulle moontlike ‘slegte bedoelings’ te oordeel. “En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. Die een glo dat ’n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie” (Romeine 14:1-2). Dit getuig nie van eie nederigheid as kerkmense toetreders tot die kerk met agterdog bejeën nie. Soos Augustinus opgemerk het, nadat ’n onkerklike hom by die kerk gevoeg het: ‘Laat hom, noudat hy Christen geword het, duidelik die verskil agterkom tussen wat hy laat vaar het en wat hy gevind het. Hoe hy sal lewe en vir Christus sal ywer, dit sal die toekoms wel uitwys.’

wortels

Die aanvaarding van die swakke in die gemeente het alles te make met ’n houding van werklike navolging van Christus. Daarom moet die ‘sterk’ kerklede die gevoelighede van die swakkes verdra en nie net op hulleself gerig wees nie. In dié sin gee Paulus ons ’n Teosentriese (aan God die eer) visie op ‘swakheid’. God is nie afhanklik van menslike krag of prestasies nie, ook nie in die kerk nie. In plaas daarvan verkies Hy die swakkes, goddeloses en vyande, om hulle te vorm tot die maaksel van sy hande wat sy krag laat skitter.

Mense Wen en Red🔗

Hierdie is twee kernwoorde wat Paulus gebruik. Hy wil mense ‘wen’ vir sy doel, hulle as’t ware tot slawe maak. “Om soveel as moontlik van hulle te win” (1 Korintiërs 9:19-23). So wil Paulus vir die Jood ’n Jood, vir die heiden ’n heiden, vir die swakke ’n swakke word. Vir die Korintiërs moes hierdie houding van Paulus nog verwarrend oorgekom het. Wie is nou die egte Paulus? By die een groep eet hy ‘kosher’ kos en neem die rituele voorskrifte stiptelik in ag, by ander weer omgekeerd… Is so ’n onstandvastige houding nie ongeloofwaardig nie? Maar Paulus maak dan duidelik dat sy houding ’n dieper konsistensie vertoon as wat aan die buitekant sigbaar is. Hy is ten diepste daarop gerig om ‘in elk geval sommiges te win vir Christus’.

Binne en Buite🔗

Dit gaan dus daarom dat mense ‘gewin’ word, of hulle nou binne of buite die kerk is. In hierdie lig is evangelisasie ’n totaalkonsep, wat sowel verkondiging, onderwys, vermaning, versterking behels. Die hele pad van ongeloof tot bekering tot dissipelskap tot heerlikheid. Daarom dat die kerkdeur nooit bepalend kan wees vir waar evangelisasie ophou of begin nie. Daar moet oog, aandag en liefde wees vir die swakke, hetsy binne of buite die kerk. In hierdie verband is dit belangrik om daarop te wys dat die Bybeltekste oor die ‘swakkes’ soms misbruik word deur gemeentelede wat hul wil aan ander opdring. Die redenasie is dan soos volg: Ons moet ons altyd uit liefde aanpas aan die swakke. Dus as iemand êrens moeite mee het, moet ons dit nie doen nie, ter wille van die vrede in die gemeente. Nou hang dit natuurlik daarvan af waaroor dit presies gaan, maar as dit byvoorbeeld misbruik word om die strewe na ’n oper gemeente, of die teweegbring van missionêrgerigte verandering in die kerklike lewe te onderdruk, draai ons die saak natuurlik heeltemal onderstebo. Wie vashou aan vaste kerklike gewoontes, sonder om rekening te hou met die negatiewe konsekwensies daarvan op die missionêre uitstraling van ’n gemeente, gaan in teen die gees van die Skrifgedeeltes wat handel oor die swakkes. Hierdie argument weeg des te swaarder, omdat buitekerklikes of belangstellende nie-Christene geen stem het op gemeentevergaderings of in die kerkraad nie. Daarom sal die stem van die ‘insider’ altyd die botoon voer oor die buitestaander. Die buitekerklike kan sy belang (lees: behoud) nie bepleit in die gemeente nie.

Die Belang (= Behoud) van die Ander Voorop🔗

In die brief aan die Galásiërs lees ons dat Petrus hom op ’n gegewe oomblik “teruggetrek en hom eenkant gehou het uit vrees vir die wat uit die besnydenis is” (Galasiërs 2:12). Dit was nou ’n tipiese ‘aanpassing’ wat nie bedoel was om mense te ‘win’ nie. Inteendeel, Paulus noem Petrus se motief heel duidelik: dit was uit angs vir die medegelowiges. Hierdie motief deug nie. Nou sou ʼn mens jou kon afvra: is dit dieselfde Paulus wat Petrus so staan en vermaan, wat self vir die Jode ’n Jood en vir die Grieke ’n Griek wil wees? Inderdaad, hoewel dit oppervlakkig nie so voorkom nie, is dit dieselfde Paulus. Want Petrus se aanpassing was ’n stap terug. Dit was naamlik nie die Joodse Christene uit die kring van Jakobus wat hier as ‘swakkes’ getipeer moet word nie, maar juis die heiden-Christene. Juis hulle het ondersteuning en tegemoetkoming nodig gehad. Aan hulle moes Petrus hom bly aanpas het, juis ook nadat die Joodse Christene daar aangekom het. Die belang van die ander, die sondaar, dus voorop. Wie God se eer as hoogste doel het, sal bereid wees om alles op te offer, sodat mense behou word.

Jerusalem

Die Laaste Oordeel as Eindperspektief🔗

Die rede waarom Paulus in sy missionêre aktiwiteite geen onderskeid gemaak het tussen Christene en nie-Christene nie, lê in sy visie op redding. Wat is redding? Dit is duidelik dat Paulus die lidmaatskap van ’n kerk nog nie as ‘redding’ beskou nie. Redding en behoud word by Paulus gesien vanuit die perspektief van die laaste oordeel. Redding hou in regverdiging én heiliging. Sonder heiliging sal niemand God sien nie. Dus, nie die kerklidmaatskap is die einddoel van die evangelieverkondiging nie, maar redding in die oordeel. Die gemeente is ’n voorlopige opvanggebied vir die burgers van die koninkryk. Daarom staan ook die werk van ’n sendeling of evangelis in die lig van die laaste oordeel.

’n Lae Drumpel en ’n Hoë Doel🔗

In hoofstukke soos 1 Korintiërs 12 tot 14 sien ons veral drie uitgangspunte wat Paulus se optrede bepaal:

  • die eer van God bo alles

  • die belang van die ander bo die eiebelang

  • geen skerp onderskeid tussen ‘binne’ en ‘buite’ nie.

Dit merk ons byvoorbeeld in die adviese wat hy aan die Korintiërs gee insake die spreek in tale. Hy roep hulle op om hulle verlange na die spreek in tale te matig, en wys in plaas daarvan op die noodsaak van profesie. Hy waarsku dat die oordrewe nadruk op die spreek in tale in die erediens die drumpel vir besoekers van buite af onnodig hoog maak. Hy onderstreep die belang dat ook ’n besoeker gestig moet word deur die erediens. Daarvoor is dit nodig dat hy verstaan wat aangaan. En, maak Paulus duidelik wat die uiteindelike doel is: sodat ook die ongelowige aan God die eer kan bring. Kortom, Paulus benadruk dat die erediens ’n lae drumpel moet hê met ’n hoë doel. Die spreek in tale is uit die aard van die saak onbegryplik vir nie-ingewydes. Vanuit missionêre oogpunt is die tyd wat aan die spreek in tale in die erediens spandeer word, gemorste tyd. Paulus praat liewer in die gemeente vyf woorde, waarmee hy ook ander kan onderwys, as wat hy tienduisend woorde in ’n vreemde taal praat (1 Korintiërs 14:19).

Wat vir ons in hierdie opsig baie leersaam is, is dat Paulus die probleem by die gemeente lê en nie by die ongelowige of toehoorder nie. Die gemeente moet sy taalgebruik aanpas. Die erediens moet plaasvind in die gewone volkstaal, sodat oningewyde besoekers ook werklik bereik word.

Die Eer van God in die Middelpunt🔗

Opvallend in 1 Korintiërs 14 is dat Paulus die gebed en die sang in die erediens as voorbeelde neem. Eintlik is dit die mees intieme sake van die Christelike samekoms. Juis met betrekking tot hierdie sake sê hy dat hulle nie ’n drumpel mag wees vir besoekers nie. Hulle moet dit nie slegs kan verstaan nie, hulle moet self hulle ‘amen’ daarop kan sê, dit wil sê daardeur gestig word (1 Korintiërs 14:17). Paulus kyk dus ook na die ongelowige as iemand wat aan God die eer moet gee. Die gemeente sien hy as die middel daartoe. Kortom, ’n gemeente wat slegs gerig is op interne sake en na binne funksioneer, doen tekort aan die eer van God. Dit mag ’n harde konklusie wees, maar die brief van Paulus aan die Korintiërs laat geen ander gevolgtrekking toe nie. Wat die oogmerk is, is dat die ongelowige “op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is” (1 Korintiërs 14:25). Dus aan God die eer, sowel deur mense binne as buite die kerk. En die kerk is die middel waardeur Christus dit wil verwesenlik.

En die Res…🔗

Die erediens is die hart van die gemeentelewe. Juis van hierdie hart sê Paulus dat dit oop moet staan vir die toehoorder en die ongelowige. Dit wat in die kerk plaasvind, is ’n openbare gebeurtenis. En wanneer die hart toeganklik moet wees, geld dit ook vir die ander onderdele van die gemeentelewe. Die res moet dus ook toeganklik wees: katkisasie, vereniging, Bybelstudiekringe, ens. Hoe vanselfsprekend is kerklike aktiwiteite tog nie dikwels net gerig op die eie publiek nie. Maar as ons dit wat Paulus in die Korinthiërbrief leer, eerlik toepas, beteken dit dat geen onderdeel van die gemeentelewe gevrywaar is van die eis tot toeganklikheid nie. Daar is geen byeenkoms waarvan ons kan sê: dit is slegs vir ‘insiders’ nie. Natuurlik is daar verskil in mate. Belydeniskatkisasie is nie uit die staanspoor bedoel vir nie-gelowiges nie. Deelname aan die nagmaal is nie uit die staanspoor bedoel vir besoekers nie, al neem dit nie weg nie dat die nagmaal ’n openbare verkondiging van die dood van Christus is. Ook tydens ’n nagmaalsdiens sal daar volledig rekening gehou moet word met die aanwesigheid van nie-gelowiges, belangstellendes, mense met ’n buitekerklike afkoms.

opstapel stene

Kom op vir die Swakkes🔗

Die Bybelse gegewens laat ’n eenduidige geluid hoor in hierdie opsig. Die swakkes, dit is in die kerk die besoekers, die toehoorders, die nie-gelowiges, moet hulle nie aanpas by die gemeente nie. Maar die gemeente moet hulle soveel as moontlik tegemoetkom om saam na Christus te gaan. Nie toetredende buitekerklikes moet hulle aanpas nie, maar ‘gevestigde’ Christene in die kerk. Hulle moet vir hulle opkom. Die sendeling Paulus is hier self ’n voorbeeld, en hy vaar ongekend fel uit teen Joodse Christene wat die heiden-Christene tot die besnydenis wil dwing. Laat hulle hulself maar vermink (Galásiërs 5:12, letterlik staan hier kastreer). Dit klink grof, maar ʼn mens verstaan dit teen die agtergrond van Paulus se hartstogtelike verdediging van die evangelie wat GRATIS is en nie verdien kan word deur goeie Joodse of goeie Christelike gedrag nie.