Die kerk 'n genadewinkel?
Die kerk 'n genadewinkel?
- God wat in Christus sondaars verlos -⤒🔗
Niemand kan Martin Luther, kerkhervormer uit die sestiende eeu, daarvan beskuldig dat hy hom verlustig het of oorgegee het aan kritiek op die kerk nie. Baie mense vir wie die kerk van Christus nie belangrik is nie, beroep hulle baie graag op Luther as sou hy ons kom bevry het van die (gelowige) verbinding aan die kerk van Christus. Luther moet pa staan vir die gedagte dat die lewe met Christus as Christen losgeskeur word van die roeping om lidmaat van die kerk van Christus te wees.
Die historiese feite gee ons egter ‘n heel ander beeld. Luther het trouens met veel geduld en verdraagsaamheid oor die Roomse kerk gepraat en aan haar probeer vashou met ‘n rein gewete. Dit was eers die Ryksdag van Augsburg (sic!; nie Worms nie!) in 1530, wat ‘n verandering gebring het in sy waardering van die roeping om deel van die Roomse Kerk te bly. Dáár het dit tot hom deurgedring dat daar in werklikheid reeds ‘n breuk in die band met Rome plaasgevind het. Luther laat nie somaar die kerk van Rome los nie, maar dit word vir hom hoe langer hoe meer duidelik dat dit moes. Die kerklike hiërargie weier om langer Luther se roeping van God as bedienaar van die Woord en daarmee sy leeramp te erken. Dit is eers in 1537/38 dat Luther die breuk met Rome as finaal beskou en uitspreek in die Schmalkaldiese Artikels : “Dus is en bly ons vir ewig geskei”.
Dit was geen goedkoop slagspreuk van Luther as hy gedurig weer sê dat hy die kerk van Christus nooit losgelaat het nie. In al sy hervormingswerk, het dit immers nog altyd oor die behoud van dáárdie kerk gegaan. Dit gaan vir Luther oor die kerk van Christus; ‘n “nuwe” kerk was daarom vir hom ‘n weerspreking. Reformasie beteken vir hom altyd weer die herstel van die oorspronklike kerk van Christus.
Vir Luther was die beslissende kenmerk van die kerk altyd weer dat Christus daar teenwoordig is. En Hy is dit alleen deur die verkondiging van die ware evangelie. Die evangelie sonder enige menslike uitvindings en menslike voorwaardes. Die kerk van Christus is dáár waar Christus self, wat die Woord van God is, aan die woord kom. In die kerk gaan dit om die werklike teenwoordigheid van Christus deur sy Woord. Dit is nie die vroom mens wat die kerk vorm nie, maar God wat optree en teenwoordig is met sý genade. Waar God in Christus sondaars sý kinders maak, dáár is die kerk.
Heilsanstalt / Genadewinkel←⤒🔗
Hierdie pragtige beskouing van Luther het wel sy beperkings. Hy het alles op die een punt gefokus, te wete die verlossing in Christus teenoor die heil wat Rome in haar sakramente wou uitdeel. In die Lutherse tradisie kry ons daarom later steeds meer die konsentrasie op die kerk as bloot ‘n instrument om die verlossing aan sondaars uit te deel. Hoe langer hoe minder het dit gegaan oor Christus wat vir Hom ‘n gehoorsame verbondsvolk versamel en waar ons, ons medegelowiges dien met ons gawes en skatte wat ons gesamentlik in Christus het (vgl. H.K. Sondag 21). In die Lutherse kerktradisie gaan dit daarom uiteindelik in die eerste en laaste plek oor die verlossing van die mens en nie meer oor Koning Jesus Christus wat nooit sonder onderdane sal wees nie (NGB Artikel 27)!
Die kerk word daarom in die Lutherse tradisie vergelyk met ‘n soort hospitaal. ‘n Plek waar siek en swak mense kan beter word. Die kerk word bloot ‘n stophalte vir beterskap om dan net weer as “verbeterde / gesonde” verder te gaan. Die kerk is dan geen verbondsvolk meer waar die Here in Gees en waarheid geken en gedien word nie. Christelike gehoorsaamheid vra ook niks anders as ‘n “gereelde” bywoon van die eredienste om “gesond” te word / bly nie. Die Skrif leer ons egter dat God die kerk vergader vir Homself en nie vir onsself nie. Natuurlik gaan dit vir God om ons. Maar dan wel om ons tot eer van Hom.
In die lig hiervan moet ons dan ook gaan kyk na die suiwer bediening van die evangelie in die kerk. Die suiwer bediening van die evangelie is nie wanneer ek my stigtelik “aangespreek” voel deur die predikant nie. Die vraag is ook nie of die predikant self ‘n “belydende Christen” is nie. Dit moet en behoort hy in elk geval te wees!! Die vraag oor die kenbaarheid van die ware prediking is of God se Woord gebring word tot eer van God en reg laat geskied aan Christus wat vir Homself ‘n gemeente vergader. Die kerk is geen genadewinkel waar sondaars kan in en uitstap om genesing te vind na eie behoefte nie. Die Lewende Water is ‘n fontein wat in die kerk loop tot genesing vir die nasies. Hierdie stroom kom uit die troon van God (vgl. Op. 22) aangesien God vanaf sy genadetroon vir Homself ‘n gehoorsame gemeente vergader.