Die Kerk en Israel
Die Kerk en Israel
Ons het gewys op die baie name en beskrywings wat in die Skrif gebruik word om aan te toon dat die kerk en Israel identies is. Die kerk is Sion, die stad van God, die hemelse en heilige Jerusalem (Heb. 12:22-24; Openb. 21:9, 10), die heilige volk (1 Pet. 2:9), die wingerdstok (Joh. 15:1-6; Ps. 80:8) en die bruid van God (Ef. 5:31, 32; Openb. 21:9, 10). Die kerk is alles wat Israel in die Ou Testament was.
Hierdie vereenselwiging van die kerk met Israel word ook in Handelinge 7:38 bevestig, waar die Israel “die vergadering1 in die woestyn” genoem word.
Net so word die uitverkorenes van God uit elke nasie, die ware Israel, die ware Jode, genoem (Rom. 2:28, 29; Rom. 9:8; Gal. 3:29; Filip. 3:9). Die profesieë van die Skrif wat oënskynlik na die nasie Israel verwys, word inderdaad met geestelike betekenis op die kerk van die Nuwe Testament toegepas (vergelyk hier Hos. 1:10 wat in Rom. 9:24-26 vervul word, en Amos 9:11-15, wat in Hand. 15:13-17 vervul word)
Dit is van die grootste belang wat die leer van die kerk betref, want hierin lê die betekenis van die Ou Testament, met sy geskiedenis, sy waarskuwings en beloftes, vir die kerk. As die Ou Testament net betrekking het op ʼn volk wat nie aan die kerk identiek is nie, het die Ou Testament vir ons vandag niks te sê nie en sou dit vir ons ʼn blote rariteit wees.
Dink daaroor. Christene wat glo dat Israel en die kerk twee verskillende groepe mense is, kan nie in hulle prediking en hul leer aan die ou Testament laat reg geskied nie. Die Ou Testament het niks met hulle te doen nie, so sê hulle. As Israel en die kerk egter dieselfde is, moet die geskiedenis van die Ou Testament as die geskiedenis van die kerk verkondig word, en die beloftes en waarskuwings van die Ou Testament aan die kerk gerig word.
Hierdie eenheid van Israel en die kerk is ook grondliggend aan die verstaan van die doop. Die eenselwigheid van verbonde, beloftes en van Israel en die kerk lê aan die wortel van die Bybelse leer oor die kinderdoop. Die aandrang op “geloofsdoop” teenoor kinderdoop moet noodwendig die Ou Testament van die Nuwe Testament, Israel van die kerk en daarmee saam ook hulle verbonde en beloftes skei.
By alles wat gesê is, moet ons onthou dat in die ware sin van die woord dit net die uitverkorenes is wat ooit werklik Israel (Leidsman van God) of kerk (uitgeroepenes) genoem word. Die ander is nóg Israel, nóg die kerk (Rom. 2:28, 29; Rom. 9:6-8). Hulle het die naam Israel of kerk net omdat hulle, deur geboorte of belydenis, met die volk van God geïdentifiseer word.
Natuurlike geboorte maak mens nie ʼn ware Jood of ʼn lid van die kerk nie. Johannes die Doper het gesê: “God (het) mag . . . om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek” (Matt. 3:9). ʼn Mens moet uit die belofte en uit God gebore wees om ʼn ware Israeliet te wees. Uit hierdie ware Israel, Jood en heiden, het God, deur die krag van sy belofte, ʼn geestelike geslag van Abraham geroep. Is jy van daardie geslag van Abraham?