Hierdie artikel handel oor Sondag 42 Heidelbergse Kategismus.

Bron: Kerk en Woord, 2002. 4 bladsye.

Die HERE eis Barmhartigheid

hande en geld

Met Sondag 42 som die kerk kortliks op wat God verbied en verwag met die agste gebod.

Ons leef midde ’n materialistiese dampkring met sy groot onderskeid tussen die wat het en die wat nie het nie, waar dikwels hoogste prioriteit gegee word aan vraagstukke soos wat trek ek aan, watter ryding bestuur ek rond, waar en waarin woon ek, watter implemente is alles in ons huise en so meer. Daarom lyk die vraagstukke wat met die agste gebod aan die orde kom, besonder aktueel in ons gemeente.

Buitendien is dit nie sonder baie goeie rede  dat die Bybel ons leer dat hebsug die wortel van alle kwaad is nie.

Die HERE onse God wat ons verlos het van wrede slawerny, eis dat ons ook deur ons dienswerk barmhartigheid aan ons naaste betoon.

Aan wie behoort alle dinge?🔗

Dis nou baie prakties, maar aan wie behoort die skoene wat jy dra? Aan wie behoort die motor, die fiets, die pragtige klankstelsel, die huis waarin u bly? Volgens die wette van die land behoort dit aan u. Maar die Bybel leer ons dat dit nie die volle waarheid is nie.

Die HERE God het eens die wêreld geskape. Hy is die Maker van alle dinge, ook die besitter van alle dinge. So sê Dawid dit in Ps 24:

Die ganse aarde, land en meer
Met al wat leef, is uwe HEER!

Asaf bevestig hierdie punt in Ps 50:

Geen stier hoef’k uit jou huis te lei
of offerdiere uit jou kraal
Die diere wat in wildheid wei
kan Ek van duisend berge haal.
Die voëls op die berge vry
al wat beweeg – dit behoort aan MY

Die punt is duidelik. Die wêreld met elke stukkie daarbinne behoort aan God. Ook alles wat ek is en het.

diere

Wat doen God met sy besittings? Daarvan getuig Dawid in Ps 8:

U laat die mens heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het dit onder hom gestel,
Dit hoor sy stem en beef voor sy bevel
Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur die hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see –
Tesaam het u dit in sy mag gegee...

So is die mens dan rentmeester. God het dit aan die mens opgedra om sy besittings tot sy eer te bewerk en te bewaak en daaroor te heers.

So leer ons die HERE ken binne die raamwerk van die agste gebod. So leer ons van die HERE dat alle dinge aan Hom behoort, ook die skoene aan ons voete en die voertuie op die parkeerruimte.

Maar dan sien ons verder dat Hy in sy alwysheid sy besitting verdeel het en aan verskillende mense verskillende besittings toevertrou het. Ons is dus nie besitters van ons besittings nie, maar rentmeesters en bestuurders van wat God aan ons toevertrou het.

Wat moet ons daarmee doen?🔗

Uit die nadere uiteensetting van die agste gebod in Deuteronómium is dit opmerklik hoe die HERE ingestel is op die barmhartigheid wat ons teenoor mekaar moet beoefen. Ons behoort ons naaste met koninklike waardigheid en met priesterlike bewoënheid te behandel. Ingestel op mekaar se welsyn, in ’n besliste gesindheid om mekaar nie te benadeel nie.

En die wyse waarop die HERE ons in staat stel om dit teenoor mekaar te kan doen, is normaalweg deur ons werkywer, deur ons fluksheid, deur ons arbeid in die sweet van ons aanskyn. Wanneer Paulus hierdie gebod teenoor die Efésiërs behandel, stel hy in Ef 4:28: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het”.

En soortgelyk vermaan hy in 1 Tim 5:8: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige”.

Wanneer ons bid dat ons Hemelse Vader aan ons ons daaglikse brood sal gee, is dit nie bedoel om in stryd met die orde van hierdie skepping te gaan nie. Want brood val nie gewoon outomaties in die skoot nie, maar word eers geëet nadat in die sweet van ons aanskyn geploeg en gesaai, geoes en gewan, gemaal en gesif, gewerk en gebak is.

Maar binne hierdie raamwerk het dit Hom behaag om aan een dienskneg tien talente toe te vertrou, aan ’n ander vyf en aan nog ’n ander een om daarmee te gaan werk en woeker. So is Hy dan die Een wat bepaal dat sommige mense ryk is en ander arm.

Ons moet goed verstaan dat dit nie verkeerd is om ryk te wees nie, net soos wat dit nie verkeerd is om arm te wees nie. Job, byvoorbeeld, was ’n ryk man deur die seën van die HERE. So ook Abraham.

Maar dit is die strewe en die smagting na rykdom wat in die oë van die HERE verkeerd is. Ons dink aan die woorde van Agur in Spr 30:

8. “Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is;

9. dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”

brood

En hierby aansluitend Paulus se woorde in 1 Tim 6:

9. “aan die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.

10. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”

Ons uitlewing van hierdie gebod behoort in navolging van die beeld en die gelykenis van God te wees, besonderlik soos wat ons dit in en deur die Here Jesus ontvang het.

Ons moet ons dit maar net oordink watter gesindheid van liefde dit is, wat God openbaar het deurdat Hy sy enigste, sy Seun wat Hy liefhet, oorgegee het ter wille van ons. Dat Hy sy kosbaarste, die enigste een wat Hom behaag, oorgegee het in die smarte van die verdoemenis om ons uit ons ellende-dood, ons allerdiepste nood, te bevry. En in die dae van ons Here Jesus het Hy hierdie gebod in die volmaakte uitgeleef en toegepas. Al het Hy wat Homself betref, nie eers ’n gat in die grond besit soos die jakkalse nie, nogtans het Hy voortdurend uitgedeel en barmhartigheid bewys waar Hy gekom het, en eindelik sy onskuldige siel oorgegee ter wille van ons. Paulus verkondig dit in 2 Kor 8 soos volg:

9. “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”

Hierdie is die Beeld waaraan ons gelykvormig moet word wanneer ons hoor: Jy mag nie steel nie. En dit is ook die rede waarom die Kategismus hierdie gebod leer en sê:

Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (Matt 7:12).

Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (Ef 4:28).

Wanneer ek dan soos die dwase Nabal in die dae van Dawid dinge slegs vir myself, vir my eie gerief en gemak hou, is ek ’n oortreder van die agste gebod.

En daarby – as ek maar op my louere sit en wag vir beter dae, en eerder die bedelaarshoeke en kruispunte loop uitsoek of my met naaste-verontregtende skemas besig hou, eerder gaan dobbel of steel, en ek sorg nie aktief vir my eie huismense in die sweet van my aanskyn nie, het ek slegter as ’n heiden geword, ek het die geloof verloën en ek sondig voor God onse Verlosser.

Daarom is hierdie gebod ook so regstreeks gerig op die diakonale dienswerk van die gemeente. Ons moet weet dat dit nie maar net ’n geringe saak is wanneer die broeders diakens tydens die eredienste liefdesgawes versamel nie.

Die opbrengs van ons barmhartigheidsoffer is op ’n besondere manier die toets van ons egte godsdiens. Jakobus het hieroor dit in sy algemene sendbrief daarom ook so sterk na vore gedruk dat hy – tot so baie van ons se beskaming – sê: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: Om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek, en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld. Om die nooddruftiges in hulle daaglikse versorging ter wille te wees.”

Wat behoort ons met daardie ekstra R50 te doen? Gooi dit in die kar en brand ’n tenk petrol op om rond te ry? Koop nog ’n kledingstuk omdat dit mooi lyk? Of sal so ’n daad eintlik neerkom op wat die Kategismus hier noem die misbruik en verkwisting van God se gawes?

kos uitdeel

Daar kan nie net een finale lyn getrek word oor almal se koppe nie. Ons omstandighede en behoeftes verskil van huis tot huis, maar een ding geliefdes: Ons gesindheid, ons harte, ons oorgegewenheid, ons passie vir ons medebroeders en susters in hierdie gemeente, en daar in Eersterust, en in ander plekke waar nood is, moet een van hart en een van sin wees. Selfs al kom dit daarop neer dat ons ook maar ons lewenstandaard ’n bietjie laat sak om ander s’n op te tel.

Sien dit so:🔗

Ons Here Jesus was ryk in die hemele by die heerlikheid van die Vader, maar Hy het dit geen berowing geag om prys te gee nie. Hy het dit oorgegee sodat ons ryk kan wees. Daarom ervaar ons vandag genadiglik die vergewing van sondes. Ook die sondes wat teen die agste gebod gedoen word.

En nou behoort ons, na liggaam en siel, met alles wat ons is en het, nie aan onsself nie, maar aan ons saligmaker Jesus Christus. Ons is getroostes!

Hoor dan steeds die Saligspreking van die Here Jesus (Mt 5:7):

Salig is die Barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.