Die Herdersamp
Die Herdersamp
Die oproep van Jesus: ‘Bly in my soos Ek in julle’ (Joh 15:4) is ook van toepassing op die ampsdraer. Die ‘bly’ is nie staties bedoel nie. In 2 Petr 3:18 staan mos “maar julle moet toeneem in die genade”. “Julle moet julle roeping en verkiesing vasmaak” (1 Petr 1:10).
Dit kan net gedoen word as daar ’n reiniging is van die besoedeling van die vlees (2 Kor 7:1). ’n Herder hou nooit op om skaap te wees nie. “Jy wat ’n ander leer, leer jy jouself nie?” (Rom 2:21).
Paulus werk dit verder uit: “Laat ons dan die werke van die duisternis aflê...” (Rom 13:12). Hy bind dit ook Timótheüs op die hart: “Let op jouself en op die leer...” (1 Tim 4:16). Hy leer dit ook vir die ouderlinge van Efese: “Gee dan ag op julle self en op die hele kudde...” (Hand 20:28).
Van bo⤒🔗
Die amp is nie van benede nie, maar van bo, van God. Vat daarom met bewende hande die herderstaf. “En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jer 3:15 en 23:4). “En as julle die huis ingaan, groet dit ... laat julle vrede daarop kom ... of na julle terugkeer.” (Mat 10:12, 13). “Ons tree dan op as gesante om Christus wil … (2 Kor 5:20) en ... dat julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is...” (1 Thes 2:13).
Die amp is dus ’n heilige roeping van God en nie van die mens nie. Anders sou die ampsdraers dit nie kan vervul nie. Lees maar ’n slag wat Paulus vir Timótheüs leer oor wat hy van mense kan verwag (2 Tim 3:1-5).
Volk←⤒🔗
In Jes 5 vergelyk God sy volk met ’n wingerd. Hy vertel hoeveel moeite Hy aan haar bestee het. Hy het dit omgespit, die klippe verwyder en dit beplant met edele wingerdstokke, maar dit het wilde druiwe voortgebring (vs 2). Hy het gewag op reg, maar dit was bloedvergieting, op geregtigheid, dit was geskree (vs 7).
Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis (vs 13). Verseker, die werkterrein van ’n ampsdraer is nie altyd maklik nie. Die gemeente waaroor die herders gestel is, word met nog ander dinge vergelyk. “...die akker van God, … die gebou van God is julle” (1 Kor 3:9). Sowel op die akker, as aan die gebou kan goed of sleg gewerk word.
Wat die akker betref lees ons: “...maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang” (vs 8). En by die bou aan die gebou (met goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels) sal aan die lig kom wie se werk sal bly staan as dit deur vuur openbaar gemaak sal word. (vs 12-15).
By hierdie gemeente-opbou het die ampsdraers ’n leidende rol. “Gee dan ag op julle self en op die kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het, om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Hand 20, 28).
“Gelukkig is daar die dienskneg vir wie sy Heer, as hy kom, so besig sal vind” (Luk 12:43). Natuurlik nie met ydele sake nie. In 1 Tim 6 vermaan Paulus Timótheüs om in te stem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die Godsaligheid is. Om nie in te meng in twisvrae en nuttelose stryery nie. Om vergenoegd te wees met voedsel en kleding. Om nie die begeerte te hê om ryk te word nie, want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels. Maar om die goeie stryd te stry en na die ewige lewe te gryp. Om opofferings te maak, soos die wat aan ’n wedstryd deelneem, nie om ’n verwelklike, maar om ’n onverwelklike krans te ontvang (1 Kor 9:25). As ’n voorbeeld vir die kudde en nie as heersers oor die erfdeel nie (1 Petr 5:3).
Gevare←⤒🔗
By hierdie belangrike opdrag is daar gevare om elke draai. Die duiwel is nie onnosel nie. As hy ’n ampsdraer aan sy kant kan kry, dan is die kans groot om ’n klompie lidmate ook te vang.
Die grootste gevaar is egter ons eie sondige vlees. Heerssug en om te dien lê naby mekaar. Veral sterk persoonlikhede loop hier gevaar. Om ’n goeie redenaar te wees, kan uitloop op ydelheid. Die ampsdraer moet nederig wees. Hy moet hom nie laat prys nie, maar aan God die eer gee.
Daar is gevaar van verslapping en ook om te onttrek aan minder aangename take. Daar is gevaar om ongeduldig te word in die onderrig, in die vermaan en om te bestraf. Die grootste gevaar lê miskien wel om die ampswerk outomaties te doen, dus nie met die hart nie.
Vermaan nie sonder om te lei nie. Bestraf met die doel om te behou. Giet g’n woorde uit sonder om te troos nie. Pas die Woord eers toe op jouself en dan op die gemeente.
Bekwaam←⤒🔗
Wie is tot hierdie dinge bekwaam?
Die ampsdraers sal hulle geloofstryd moet ken. As ’n ampsdraer bang is vir so ’n groot taak, verkeer hy in die geselskap van ’n man soos Moses, wat nie kon praat nie (Ex 6:11) of van Jeremia wat sê: “Vervloek is die dag waarop ek gebore is” (Jer 20:14).
Die ampsdraer sal sy prioriteite moet ken. In jou ampswerk moet jy jou huisgesin nie verwaarloos nie. Slegte gesondheid kan ook ’n belemmering wees om die kudde te lei. Wat dink u van ampsdraers wat nie kan slaap na ’n moeilike huisbesoek of ’n besige kerkraadsvergadering?
Die ampsdraer sal moet besef dat die Here hom bekwaam sal moet maak, maar dat dit alleen kan as sy persoonlike verhouding met God reg is. Hy sal tyd moet vrymaak vir persoonlike Bybellees en gebed.
Die boodskap wat hy moet bring word nie altyd aanvaar nie, “...maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en 'n dwaasheid vir die Grieke” (1 Kor 1:23).
En tog het hierdie evangelie die wêreld oorwin. Dit sal ook vandag ondanks alle afval nog die geval wees.