2 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman.

Die Geskiedenis van die Verbond

slang

Soos ons gesien het is die verbond van genade in wese al met Adam en Mannin opgerig na die sondeval. Daar is op seremoniële wyse meer vorm daaraan gegee by Abram en so ondergaan dit ʼn proses. Die HERE God maak al hoe duideliker en nadrukliker bekend wat die betekenis en inhoud van sy verbondsverhouding is. Daarom, as ʼn mens van die verbond praat, kan jy dit nie los van die geskiedenis beskou nie.

Ons onderskei ʼn aantal tydperke in hierdie verbondsgeskiedenis, ‘bedelings’ of ‘ekonomieë’ sodat daar ook van ‘verbonde’ sprake kan wees (sien Romeine 9: 4).

Die Adamitiese tydperk🔗

In die tyd vanaf Adam tot Abram kom dit baie duidelik na vore dat God sy verbond opgerig het met die gevalle, sondige mens. Hy gryp in die doodsituasie van die ongehoorsaam geworde mens in en belowe verlossing en ware lewe. Die tweede aspek wat in hierdie fase sterk na vore kom, is die universele karakter van die verbond. God se genadeverbond omvat nog die hele mensheid, al word sy beloftes en die kennis van sy Naam die beste bewaar in die geslag van Set en Noag. Ook sien ons selfs twee keer dat God moet ingryp – by die bou van die toring van Babel en in die tyd van Noag – om sy verbond te laat stand hou onder die mense, die stamme en geslagte.

Die Abrahamitiese tydperk🔗

Hierin word die eensydige karakter van die ontstaan van die verbond van genade baie duidelik beklemtoon. God gaan alleen tussen die middeldeur gedeelde diere deur (Genesis 15) en praat van ‘my’ verbond en van die feit dat Hy die verbond ‘oprig’ (Genesis 17). Die inisiatief word heeltemal en uitsluitlik deur God geneem. Verder word die inhoud van die verbond en sy beloftes nader omskryf. Dit lui nou:

om vir jou en jou nageslag ʼn God te wees.

Dit is ʼn onvoorwaardelike heilsbelofte, waarin alle genade vervat is (Genesis 17:7). In die derde plek word dit duidelik dat God sy verbond nou uit die volkerelewe terugtrek en in die bane van een geslag en een volk lei, nl. dié van Abraham en Israel. Dit sal dan tot Pinkster voortduur. Ons noem dit die partikularistiese bedeling van die genadeverbond. Verder word die duursaamheid van die verbondsgemeenskap op die voorgrond gestel en benadruk. Dit is ʼn verbond met Abram en sy nageslag … in hulle geslagte. Daar is dan ook sprake van ʼn “ewige” verbond. In die vyfde plek kom daar nou ook ʼn teken dat iemand deel uitmaak van die verbond: die besnydenis. Daaruit mag ʼn mens met alle sekerheid weet dat God se beloftes ook aan hom gemaak is en dat dit waarlik vir hom geld.

Vervolgens word hierdeur aan ons geopenbaar dat slegs diegene wat aan Abraham behoort, aan sy stamgemeenskap, in die verbond opgeneem is. Al sy slawe en slavinne en hulle kinders, sy knegte en hulle gesinne. Ismael en Isak word besny. Later ontvang sowel Esau as Jakob die verbondsteken. Alle Israeliete het deel aan die verbond en ontvang so God se heilsbeloftes. Saam met die beloftes kom ook die oproepe, die eise van die verbond helder in fokus: wandel voor my aangesig, wees onberispelik, hou my verbond (Genesis 17: 1,9 e.v.). God stel sy verbondskinders onder die verpligting om Hom te dien, te vrees, te gehoorsaam en in vertroue sy beloftes as waaragtig te beskou en so deel te kry aan dit wat beloof is. En ten slotte word aan ons in hierdie bedeling van die verbond bekend gemaak dat daar ook moontlik verbondsbreuk en ongehoorsaamheid ten aansien van God en sy verbond kan voorkom, waaroor God sy straf sal laat kom (Genesis 17:14).

berg Sinai🔗

Die Sinaïtiese tydperk🔗

Hierdie tydperk is eintlik nie ʼn nuwe fase in die geskiedenis van die verbond nie. Daar word voortgebou op die raamwerk van die verbond wat God met Abram begin het; dit word slegs bevestig (vgl. o.a. Deuteronomium 29:13). Die nasionale karakter van God se verbondsbemoeienis staan baie sterk op die voorgrond. God eien Israel vir Homself toe, heilig hierdie volk tot sy volk, soos by die uittog uit Egipte en sy wetgewing by Sinaï duidelik word. Ook kom nou die aspek van die tweesydigheid in die voortbestaan van die verbond sterk na vore.

God vra uitdruklik dat die volk inwillig tot sy verbond (sien: Eksodus 24:7,8). Voortaan klink God se oproep tot Israel om Hom te dien altyd weer op. Die profete herinner die volk keer op keer daaraan en dreig met oordeel wanneer die volk sy God vergeet en verlaat. Ten slotte word dit al hoe meer duidelik vanuit God se verbondsopenbaring dat Hy die volk Israel uitverkies het om die Heiland en Middelaar van die verbond in die wêreld in te bring, in Wie God se beloftes rotsvas gesetel is, deur Wie die beloofde heil verwerf word en om Wie se ontwil die bediening van daardie heil deur die Gees tot volle sterkte sal kom.

Die hernude verbond.🔗

Reeds die profete, met name Jeremia (31:31-34) en Esegiël (16:60-63; 36:22-28) het verkondig dat daar ʼn nuwe of hernude verbond sal kom. Dit sal die tydperk wees waarin God alle verbondsinhoude sonder enige onduidelikheid sal bekendmaak. Die beloftes spreek nou openlik van vergewing van sondes, vernuwing deur die Gees en heiliging van die lewe van binne uit. God hou niks meer terug nie. Dit is ook “kragtiger” beloftes, omdat hulle nou hul begronding gekry het in die offer wat volbring is en die opstanding van die Middelaar van die verbond, Jesus Christus, wat nou voltrek is. Verder is die verbond nuut omdat dit nie net Israel omvat nie, maar nou uitgebrei word en onder vele volke in werking gestel word. Die heidene word ingelyf, tussen die takke van Israel geënt (sien: Psalm 87 en Romeine 11:17). Oral waar die evangelie van behoud in Jesus se Naam gaan opklink en weerklank vind, daar het God se verbond onder die volke verskyn. Almal wat deel uitmaak van die Here se gemeente is voortaan ook deel van God se verbond. Gemeentelede staan dan ook bekend as “heiliges”, “geroepenes” ens. In Galasiërs 3 en 4 skryf Paulus uitvoerig en diepgaande oor die eenheid tussen die Abrahamitiese-Sinaïtiese verbond en die nuwe verbond. Dit gaan om dieselfde God, dieselfde beloftes, dieselfde eise en dreigemente. Soos nooit tevore nie kom dit in die nuwe of hernude verbond na vore dat dit nie voldoende is om onder die beloftes te staan nie, maar dat dit daarop aankom dat ʼn mens die beloftes vir jouself moet toe-eien, om deel te kry aan dit wat belowe is in geloof en deur die werk van die Heilige Gees, waardeur ʼn mens in die volle sin van die woord kind van die verbond en kind van die belofte is (vgl. Galasiërs 4:28, Romeine 9:5). Dit blyk dus dat daar twee soorte kinders van die verbond is: hulle wat onder die beloftes lewe, vir wie die beloftes in alle reg toekom, en hulle wat hierdie beloftes tot hulle behoud leer aanvaar en so ten volle deel in die beloofde heil. Dit wil sê: benewens die bedeling van die verbond moet daar ook gepraat word oor die bediening van en in die verbond, waardeur kinders van die verbond met die daad deelagtig word aan die verbondsgoed.