Die Gesag van die Skrif
Die Gesag van die Skrif
Omdat die Skrif die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God is, dra dit die hoogste gesag. Daar is geen menslike gesag wat groter is, geen mensgemaakte reël wat dit kragteloos kan verklaar nie en geen lering wat enigiets daarin kan weerspreek nie.
Die Skrif het gesag in alles rakende die leer. Dit word in 1 Timoteus 3:16 aangedui wanneer die leer eerste gestel word. In daardie Skrifgedeelte is dit nie die gesag van die Skrif wat beklemtoon word nie, maar wel die nut daarvan. Ons moet egter begryp dat die Skrif van nut is omdat dit gesag het: die leer van die Skrif is altyd “die laaste woord” in enige saak, maar in besonder wat lering betref.
Dieselfde gesag as dié van die leer, het die Skrif ook in sake rakende die praktyk en lewe van die Christen. Die feit dat dit duisende jare gelede, in ander kulture en aan ander mense geskryf is, maak hoegenaamd geen verskil nie. Dit is die Woord van God self, wat die begin van die einde kan onderskei en wat nie verander nie. Daarom kan veranderende omstandighede van die lewe en van die wêreld niks aan die gesag van enigiets wat die Skrif sê, afbreuk doen nie.
Dat Paulus in ʼn ander kultuur as ons s’n gelewe het toe hy oor die plek van die vrou in die huis en in die kerk geskryf het, maak nie wat hy sê ongeldig nie. Dit is nie Paulus wat dit sê nie, maar God self. ʼn Goeie voorbeeld hiervan word gevind in 2 Petrus 3:1-7, waar die ewolusie-teorie weerspreek en vernietig word in die Skrif se verwerping van die uniformiteitsleer, die veronderstelling dat alle dinge voortgaan soos dit van die begin van die skepping af was.
Die Skrif is ook, wanneer dit daaroor praat, die alles oortreffende gesag selfs oor die geskiedenis, geografie, wetenskap en enige ander akademiese vakgebied. Dit het nie alleen maar gesag op die gebied van die teologie en die Christelike lewe nie. Die gesag van die Skrif is so groot dat die gelowige dit moet aanvaar, selfs wanneer hy van die wetenskap teenkanting kry.
Ons moet goed begryp dat die gesag van die Skrif die gesag is van God self. Om te sê dat die Skrif die Woord van God is, beteken dat dit alle gesag het. Om dit te ontken, is om God te ontken; om dit te weerspreek, is om God self te weerspreek.
Niemand kan sê dat hy die Skrifgesag op een punt aanvaar, maar dit op ʼn ander punt verwerp nie. Hy kan nie sê hy aanvaar wat die Skrif oor Jesus sê, maar nie wat dit oor die skepping sê nie. Dit is alles God se Woord en dit is alles bekroon met God se gesag. Wat God sê, kan nie na willekeur aanvaar en verwerp word nie. Sy Woord kan nie gebreek word nie (Joh. 10:35).
Dit is een ding om die gesag van die Skrif te bely, maar dit is iets anders om daarvoor te buig. Op elke punt van ons Christelike lewe word ons gehoorsaamheid aan die Skrif getoets. Om jou aan die Skrif se eise te onderwerp wanneer dit nie met ons wil ooreenstem nie of, soos gewoonlik die geval is, aan die leer van die Skrif wanneer dit teen elke vleeslike begeerte indruis, is nie maklik nie.
Alleen deur genade kan ons gehoorsaam. God, wat die Skrif gegee het, gee ook die genade wat ons nodig het. Saam met Augustinus sê ons “Gee wat U eis, en eis wat U wil”1