Die genadeverbond
Die genadeverbond
As God se verbond ʼn verhouding of band is tussen God en sy volk, kan dit net ʼn verbond uit genade wees.
Dat ons in ʼn band van vriendskap, gemeenskap en liefde met die lewende God kan lewe, is onverdiende guns van God se kant. Dit is byna ondenkbaar dat God by ons sou woon en ons God sou wees, maar Hy beloof nietemin aan ons, sondaars: “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees” (2 Kor. 6:16). Hoe wonderlik!
Wat van ons waar is, was ook waar van Adam. Wie sou durf sê dat die skepping van Adam, as iemand wat deur God geken en liefgehad is, enigiets anders as onverdiende guns was? Dit was sekerlik nie gegrond op verdienste nie, want voordat Adam in so hoë stand geskape is, was daar vir hom geen geleentheid om verdienste teenoor God te verkry nie. Net so kan niemand enige verdienste by God hê nie, soos ons leer uit Lukas 17:10:” So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen”.
Daarom wys ons enige praatjies oor ʼn werkverbond wat op verdienste gebaseer is, af. Ons is nie geneë om van die werkverbond as ʼn beskrywing van die verbond met Adam te praat nie, hoewel ons dit versigtig wil kwalifiseer. Dit moet duidelik verstaan word dat as ons van ʼn werkverbond wil praat, dit nie ʼn ander verbond is nie, maar ʼn openbaring van die een verbond van God; ook was Adam se gehoorsaamheid en goeie werke nie die grond of rede vir die verbond nie, maar net vir die vreugde van Adam om daarin te lewe.
Dit is net ʼn ander manier om te sê dat die verbond deur God alleen gegee en gehou word, sonder die mens se hulp of samewerking. Dit wil sê die verbond hang nie van die mens af nie, al het hy pligte en verantwoordelikhede in die verbond.
Miskien kan ʼn analogie help. Ons weet dat ons moet eet om te lewe, maar ons erken dat ons vir ons lewe nie op voedsel en drank staatmaak nie, ons ontvang nie ons lewe van voedsel en drank nie. Ons lewe is afhanklik van God van wie ons dit elke oomblik ontvang. Voedsel en drank is net die middele, nie die rede nie, vir lewe. So is dit met die verbond. Gehoorsaamheid is die middel waardeur ons die seëninge en voorregte van God se verbond geniet, maar nooit die rede vir die verbond nie.
Aangesien die verbond uit genade is, is dit ʼn sekere en ewige verbond wat nie verbreek kan word nie. Alhoewel Adam ontrou was, en ons saam met hom, bly God getrou en breek nie sy verbond of verander dit wat oor sy lippe gegaan het nie (Ps. 89:34). Groot is sy trou. Aan Hom alleen die eer as die God van die verbond.