Die Gees lei in die hele Waarheid
Die Gees lei in die hele Waarheid
⤒🔗
Gerusstellende belofte←⤒🔗
Pinkster herinner ons aan die werk van die Heilige Gees. Kort voor sy kruisiging gee Jesus aan sy dissipels die gerusstellende belofte dat Hy sy Gees sal stuur om hulle — die kerk in kiem — in die hele waarheid te lei (Joh 16:13). Die Gees word spesifiek "die Gees van die waarheid" genoem (Joh 14:17; 15:26; 16:13), want alleen Hy kan in die hele waarheid lei.
Hierdie belydenis word deur nagenoeg alle kerkgemeenskappe (soms genoem "denominasies") aanvaar. Telkens wanneer belangrike besluite geneem moet word, word die leiding van die Heilige Gees afgebid en as sodanig erken.
Die groot vraag←⤒🔗
Die "kerk" waarvan ons vandag praat, is egter 'n verdeelde kerk. Van watter "kerk" praat ons as ons daarvan melding maak dat die Gees die kerk in die hele waarheid lei? Van die Katolieke Kerk, die Oosters-Ortodokse Kerk, die Protestantse Kerk, die Pinksterkerke?
Juis dit was die groot vraag wat die Christen-humanis Desiderius Erasmus aan Maarten Luther in die sestiende eeu gestel het: "Wie kan glo dat hierdie Gees vir honderde jare 'n dwaling in sy kerk opsetlik oorgesien het?" Dis dieselfde vraag wat lidmate van die NG Kerk en die Hervormde Kerk in 1859 aan die Doppers (kon) gevra het:
Wil julle beweer dat die Gees nie die kerk vanaf 1652 tot 1859 in die waarheid gelei het nie? Dis ook dieselfde vraag wat Gereformeerdes vandag aan beswaarde Gereformeerdes stel: Wil julle sê dat die Heilige Gees die GKSA vanaf 1859 tot 2003 nie in die waarheid gelei het nie?
Dis 'n diep-ingrypende vraag waarop geen goedkoop antwoord moontlik is nie en waarop in 'n kort artikel soos hierdie net die buitelyne van 'n antwoord aangedui kan word.
Die vraag na gehoorsaamheid←⤒🔗
Dit is belangrik om te besef dat Jesus hierdie belofte aan sy twaalf dissipels, dit wil sê aan die Nuwe-Testamentiese kerk, gegee het. Hulle is kinders van die verbond en burgers van die koninkryk van God, mense dus van wie geloof in, gehoorsaamheid aan en navolging van Christus gevra word. Die belofte van die leiding van die Heilige Gees is dus nie in die sin onvoorwaardelik dat die dissipels maar kan doen wat hulle wil en dan nog leiding van Bo kan verwag nie. As hulle Hom verraai, val hulle uit (Judas), as hulle Hom verloën, moet hulle weer in hulle amp herstel word (Petrus), as hulle twyfel, moet hulle weer versterk word (Tomas). En as Petrus later weer op 'n dwaalspoor beland, dan moet hy deur Paulus skerp en in die openbaar tereggewys word (Gal 2:14).
←⤒🔗
Drie aspekte←⤒🔗
Dis opvallend dat die leiding van die Heilige Gees in waarheid altyd met ten minste drie aspekte verbind word.
-
Die Gees lei ons altyd na Jesus Christus toe. Presieser gesê: Die Gees lei ons altyd om te bely dat Jesus die Messias en Seun van God is (Matt 16:16), dat Jesus die Here is (1 Kor 12:3). Die sentrale tema van Petrus se preek op Pinksterdag is dat die gekruisigde en opgestane Jesus die Here en Christus is (Hand 2:36). Die Gees leer ons alles van en herinner ons aan alles wat Jesus gesê het (Joh 14:26). Geen wonder nie dat die Heilige Gees ook dikwels die "Gees van Christus" genoem word (Rom 8:9; Gal 4:6; Fil 1:19).
Dit is die Gees wat ons oë daarvoor open om in Jesus van Nasaret meer te sien as net 'n goeie en offervaardige en voorbeeldige mens (soos die Nuwe Hervormers leer), maar om Hom te bely as Heiland van die wêreld, ja, ook as my Here en my God (Joh 20:28). -
Die Gees lei ons altyd na die Woord toe. Want die Woord van God is die waarheid (Joh 17:17). Die Gees lei ons nooit weg van die Woord, die Bybel, nie, maar altyd weer terug na daardie Woord, om daardie Woord beter te verstaan, suiwerder te vertolk en voorbeeldiger uit te leef. Dit sluit die Ou Testament in. Nêrens in die Christelike tradisie word daar soveel klem gelê op die waarde en betekenis van die Ou Testament as juis in die Gereformeerde benadering nie.
Petrus se Pinksterpreek in Handelinge 2 kan ook hier as model dien: dit is deurspek van aanhalings uit die Ou Testament, uit Joël 2, Psalm 16 en Psalm 110 — soos ook die geval is met (veral) sy eerste sendbrief. - Die Gees lei ons altyd na ons medebroers (en susters) toe. Die eerste kerkvergadering soos in Handelinge 15 vermeld is hiervan 'n goeie voorbeeld. Daar het naamlik 'n "heftige meningsverskil" (vs 2) ontstaan oor die vraag of Christene uit die heidendom ook besny moes word; met ander woorde oor die vraag of die Ou-Testamentiese wette in alle besonderhede onderhou moes word. Anders gesê: Hoe moet die Ou Testament (op hierdie punt) verstaan word?
Die "meningsverskil" word nie opgelos deur in twee kerke uiteen te skeur in 'n Petruskerk (Jerusalem) en 'n Paulus-kerk (Antiogië) nie (separatisme); ook nie deurdat die gemeente van Jerusalem sy eie koers gaan en dié van Antiogië 'n ander rigting volg nie (independentisme); ook nie deurdat elke individu sy eie antwoorde gee nie (individualisme).
Nee, daar word in Jerusalem saam 'n kerkvergadering gehou, waar saam gepraat en saam besluit word. Sodat uiteindelik gesê kon word: "Die Heilige Gees en ons het besluit" (Hand 15:28). Besluit dat mens "net deur die genade van die Here Jesus gered word" (Hand 15:11) — en nie deur wetsvervulling nie. Daarmee is ook aangedui hoe Christene die Ou Testament moet lees en verstaan. Alleen "saam met al die gelowiges begryp ons hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek" (Ef 3:18). Juis hierin is die besondere waarde van gesonde ekumeniese verhoudings geleë: dit weerhou kerke van sektariese neigings.
Dit is waar: in die Gereformeerde tradisie bestaan daar nie so iets soos onfeilbare sinodale besluite nie, omdat besluite wat in stryd met die Skrif geneem is, altyd weer verander kan (en moet) word (Kerkorde art. 31). Maar daar bestaan ook nie so iets soos onfeilbare kerkraadsbesluite nie, ook nie onfeilbare besluite van dominees nie. (Dominokrasie is net so afkeurenswaardig as sinodokrasie.) Daarom bly die kerk van die Here in hierdie gebroke bedeling altyd op weg, steeds met mekaar worstelend om op nuwe wyses in nuwe tye verantwoorde gestalte te gee aan die evangelie van God se genade in Christus.
So werk die Gees←⤒🔗
So werk die Gees van Christus: Hy hou ons naby Christus, naby die Woord en naby mekaar. Dit is ons innige bede dat die Gees van Christus ook die GKSA in hierdie tye op hierdie pad sal lei. Dit is die enigste pad waarop gelowiges — en kerke — mekaar uiteindelik weer (kan) terugvind.