Die funksie van ons kerklike belydenisgeskrifte
Die funksie van ons kerklike belydenisgeskrifte
Sommige mense sê dat ons ‘n verkeerde rigting inslaan met belydenisgeskrifte. Het hulle nie tog ‘n punt beet nie? Hier kom mos verstarring van geloof en nog meer gevaarlik, hier kom selfs iets in die plek van die Bybel! En is dit nie ook presies wat ons glo nie?
NGB Artikel 5 : “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig.” Daar het ons dit - die “Sola Scriptura – die Skrif alleen” beginsel!
NGB Artikel 7 : “Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Lees gerus ook die res van die artikel.
Hierin hoor ons duidelik ons eie geloof in die genoegsaamheid / volkomenheid van die Skrif. Hieraan mag in elk geval nooit te kort gedoen word nie.
Waarteen was hierdie belydenis oor die gesag en genoegsaamheid van die Bybel dan gemik? In die eerste plek teen die Roomse aanspraak dat die Skrif sowel as die kerklike tradisie aanvaar moet word. Die Skrif word ook volgens Rome alleen aanvaar omdat die kerk dit vir ons leer. Daarteenoor kom bely die gereformeerdes, dat ons die Skrif op niemand anders se gesag aanvaar as die gesag van die Skrif self nie. Daarom handel Art. 5 dan ook oor die Getuienis van die Heilige Gees in ons harte. Niemand kan die Skrif aanvaar sonder die getuienis van die Gees van God nie.
In die tweede plek is dit ook gemik teen die aanspraak van Rome wat sê dat die Skrif ons alleen kan bereik in die kerklike tradisie en daarom slegs deur die kerklike leergesag van Rome. Die Bybel word alleen verstaan deur onderwerping aan wat die kerk daaroor leer. Die Bybel is as’t ware in ’n tronk toegesluit waaruit die kerk met haar ampte dan die Skrif moet kom bevry.
Daarteenoor sê ons: Die Skrif het self sy eie gesag en dit is ’n gesag wat bo alle ander uitgaan. Die Skrif is ook sy eie uitlegger. Die Bybel vorm daarom die grondslag vir ons vryheid voor God. Ons is nie aan mense, wat betref ons geloof, gebind nie. Ons kom tot geloof deur die getuienis van die Heilige Gees wat in ons harte deur die Skrif getuig van die boodskap van verlossing. In die verseëling deur hierdie Gees lê ons verlossing!
Nou verstaan u dat daar allerlei gevare in hierdie vertrekpunt lê. Wanneer die sekerheid van die kerk verwerp word, wat kom in die plek daarvan? Is dit nie nou ’n geval van elke ketter het sy letter nie? Kan elkeen nie nou maar met die Bybel maak wat hy wil nie. Het die uitgangspunt van die “Sola scriptura” nie ’n leë ruimte geword wat elkeen maar kan volmaak met sy eie idees nie. Dit was natuurlik ook presies waarvan die Roomse kerk vir Luther en Calvyn en ander Protestante beskuldig het!!
“Die Skrif alleen” word so maklik : “Ek en my eie oortuigings alleen!” Dan begin die een wat die meeste geraas kan maak te heers in die kerk, of die een wat die meeste kennis het of die een wat die nuutste insig in die Skrif na vore kan bring. U verstaan dus dat die “sola scriptura” INHOUD moet kry.
Nou het die Here sy Gees gegee aan sy kerk en aan sy kerk die opdrag gegee om deur hierdie Gees te leer en te onderrig (Matt 28:19-20 ; 1 Tim 3:15). Maar dan nooit op eie gesag (soos by Rome) nie. Daarvoor het die Here in sy gemeente ook die ampte ingestel om uit die hele Skrif te vermaan, bestraf, onderrig en weerlê. Ons noem dit die leergesag van die kerk. Wanneer die kerk van Christus in die openbaar verkondig wat die Woord van die Here leer, dan kry ons te doen met KERKLIKE BELYDENISSE. Dit is ook wat in die dogmatiek “dogma’s” genoem word. Altyd wanneer daar in die openbaar gepoog word om te verkondig wat die Skrif leer, word ‘n belydenis gemaak. Niemand van ons kan daarsonder nie. Die vraag is alleen maar wat ons belydenis is!
Beteken dit dat die belydenisse ’n “uitbreiding” op die Skrif of ’n “plaasvervanger” van die Skrif wil wees? Dit is dwaas. Dit gaan alleen oor die uitoefening van die roeping om te verkondig wat die Woord van die Here leer oor bv. die sondeval, die genadeverbond, die werk en persoon van Christus ensovoorts. In die belydenis kom die geloof wat ons in die Drie-enige God deur Christus as enigste Middelaar het aan die woord.
En, hierdie taak kan die kerk doen, want in die Skrif is daar ’n LEER – ’n leer van die Skrifte of te wel ’n leer van Christus, vgl. Rom 6:17, 2 Joh 9, Jud 3 en 4 (leer = genade!!). Ons het die roeping om die geloof te verstaan en te verkondig “saam met al die heiliges” (Ef 3:18). Geloof is geen individualistiese saak nie. Ons glo as gemeente en individu saam met die kerk van alle eeue. Hierdie “gesonde leer” (Titus 1:9) is veel meer as om op ’n bonte manier ’n klomp teksverse aan mekaar te ryg of naas mekaar te plaas.
Hiermee neem ons ten sterkste standpunt in teen alle vorme van BIBLISISME. Biblisisme wil nie die Skrif uitlê volgens die “analogia fidei” nie, maar op die klank van teksverse af. Biblisisme wil onder die leuse van “die Bybel alleen” plek maak vir die indringing van die nuutste of individuele filosofie of modegier.
Die konfessie is duidelik geen “verlengstuk / uitbreiding” van die Bybel nie. Konfessies het alleen maar die doel om die leer van die Bybel uit te lê / te verkondig / te formuleer. En dit kan, omdat ons glo in “die nabyheid van God se Woord” (Rom 10:8; Deut 30:14). Die Woord van die Here kan in ons monde geneem word en ons kan dit verkondig – op watter manier dan ook al – ook skriftelik!