Die evangelie van Judas
Die evangelie van Judas
Die publikasie van Die evangelie van Judas het wye publisiteit geniet. Die manuskrip is omstreeks 1978 by die dorpie El Minya in Egipte gevind, en is ná talle omswerwings en herstelwerk onlangs gepubliseer. Hierdie “evangelie” teken ’n volkome ander Judas Iskariot as wat die Evangelies en die Nuwe Testament aan ons voorhou. Hiervolgens het Judas nie uit homself – en ter wille van geld – vir Jesus verraai nie, maar het Jesus aan Judas opdrag gegee om Hom te verraai. Sodoende sou Jesus se siel, wat in sy liggaam soos in ’n tronk ingekerker was, kon ontsnap en ware vryheid vind. Kundiges wys egter daarop dat hierdie dokument ’n duidelike gnostieke agtergrond verraai.
Wat weet ons van die gnostiek en die gnostisisme?⤒🔗
Hierdie beweging het veral in die tweede en derde eeu na Christus ’n bloeityd beleef en het groot klem daarop gelê dat ’n mens oor kennis (gnosis) van God moet beskik om gered te word. Nie deur ’n Verlosser nie, maar deur kennis word ’n mens verlos. So word die mens eintlik sy eie verlosser. Hoewel daar in dié beweging talle variasies voorgekom het, het die meeste daarvan die volgende kenmerke besit:
- Daar is enersyds ’n hoë, maar veraf God, en andersyds ’n laer God (die God van die Ou Testament) wat die wêreld geskape het.
- Die geskape wêreld, soos alle materiële en liggaamlike dinge, is sleg; slegs die sogenaamde geestelike dinge is goed.
- Die (siel van die) mens is ’n hemelse vonk wat vasgevang is in ’n materiële liggaam.
- Die mens benodig verlossing uit sy gevalle toestand, en dit kan slegs bereik word deur kennis van (en terugkeer na) sy goddelike oorsprong.
Dit is duidelik dat dit in hierdie beweging oor selfverlossing gaan en dat hier geen plek vir Christus is nie. Trouens, sy ware mensheid word juis ontken. Die apostel Johannes noem sulke mense antichristusse (1 Joh 4:2-3).
Die gnostieke trekke – veragting van alles wat liggaamlik en stoflik is – is duidelik in Die evangelie van Judas sigbaar. Verlossing bestaan daarin dat die siel uit die liggaam verlos word. Die totale stoflike wêreld is minderwaardig en boos en nie deur ’n goeie God goed geskape nie.
Dieselfde gnostieke tendens is ook in Die evangelie van Tomas, wat in die Nuwe Hervorming so ’n belangrike rol speel, sigbaar. Hoewel hierdie “evangelie” talle woorde van Jesus bevat wat ook in die Nuwe Testament voorkom, vermeld dit niks van die dade van Jesus nie, ook niks van sy kruis en opstanding nie. Volgens hierdie “evangelie” is laasgenoemde klaarblyklik nie belangrik vir die verstaan van die lewe en werk van Jesus nie. Maar daarmee word ’n streep getrek deur ongeveer alles wat die apostel Paulus en Hebreërs oor Jesus leer.
Die Christelike geloof bely dat die goeie God die ganse skepping goed geskape het, dus dat die stoflike en liggaamlike goed is, en dat verlossing nie bestaan uit kennis en eenwording met die goddelike nie, maar uit vergewing van sondes deur Jesus Christus; voorts dat ons aardse liggame eenmaal opstaan en dat ons eindbestemming die nuwe hemel én die nuwe aarde is.
Gnostiek, ook in sy sogenaamde Christelike gewaad, is onversoenbaar met die evangelie van Jesus Christus.