Die Eed van Hippokrates en die Negende Gebod
Die Eed van Hippokrates en die Negende Gebod
Verskillende mediese kodes het deur die eeue ’n rol in die geneeskunde gespeel. Baie dokters en verpleegsters het reeds in die tyd voor Christus, na hul studies ’n belofte afgelê waarin hulle hul tot sekere gedragsreëls in die beroep verbind het. Die negende gebod vra dat ons in alle handelinge die waarheid moet liefhê, opreg spreek en bely. Dit is natuurlik ook die geval in die professionele gedragsreëls van ’n beroep, veral met die aflê van ’n belofte vir sover ons daarmee as christene kan instem.
Verskeie medies-etiese kodes in die geneeskunde stem dikwels breedweg ooreen met die wette van die Here; veral wanneer dit gaan om respek vir die lewe wat die Here gemaak het. Gewoonlik word die natuurreg as uitgangspunt gebruik. Die Hippokratiese eed (ongeveer 400 jaar voor Christus) is seker die bekendste. Ander, soos die 1947 kode van Neurenberg, die 1948/1968 deklarasie van Genève, die 1964 deklarasie van Helsinki, die 1970 deklarasie van Oslo en die 1975 deklarasie van Tokio, is nog voorbeelde.
Daar word oor die algemeen verkeerdelik aanvaar dat dokters vandag, voordat hulle begin praktiseer, die eed van Hippokrates aflê: ’n eed waarin daar verskeie beloftes ten opsigte van die uitvoering van die toekomstige arts se werk gemaak word. Dit is insiggewend om te weet dat hierdie eed in byna geen mediese skool meer afgelê word nie. Sommige mediese skole het ’n afgewaterde vorm van die eed behou, naamlik ’n belofte wat tydens die gradeplegtigheid ‘afgelê’ word.
’n Interessante feit is dat die Hippokratiese eed geensins algemeen aanvaar is in die tyd van Hippokrates nie. Trouens dit was maar ’n paar artse wat die eed aanvaar het. Eers in die tyd van die Renaissance het die eed groot byval gevind; waarskynlik omdat daar heelwat raakpunte met die christelike denk- en handelswyse bestaan.
Die Hippokratiese eed lui soos volg:
Ek sweer by Apollo, die Geneesheer, by Asklepios, by Hygieia, by Panaceia en alle gode en godinne, as getuies, om na my vermoë en oordeel hierdie eed en verbintenis uit te voer:
Dat ek hom wat my die geneeskuns geleer het, gelyk sal stel met my ouers, my huis en goed met hom sal deel, hom op sy wens in sy nood sal tegemoetkom, sy kinders dieselfde agting sal gee as my broers, aan hulle en my eie seuns as hulle die onderrig begeer, hierdie kuns sal aanleer sonder beloning of skuldbewys en hulle aan ’n deel van voorskrifte, lesings en enige ander onderrig sal laat deelneem, benewens die leerlinge wat hulle aangesluit het en gebonde is aan die mediese wet. Niemand anders egter nie.
Die geneeskundige handeling sal ek aanwend tot nut van die sieke na my vermoë en oordeel, en van hulle weerhou wat tot hul verderf of letsel sal wees. Ek sal aan niemand, ook nie op sy versoek nie, ’n dodelike geneesmiddel toedien nie, nog my leen tot enige advies van hierdie aard, ewemin sal ’n vrou ’n pessarium vir ’n miskraam van my bekom. Want rein en vroom sal ek my lewe lei en my kuns uitoefen.
Ek sal geen insnyding doen, sekerlik nie hulle wat aan ’n steen lei, maar sal hulle na deskundiges van die operasie verwys. Waar ek ’n woning betree, sal ek dit doen in die belang van die sieke, my onthou van enige moedswillige verkeerde handeling, in die besonder van seksuele omgang met vroue en manne, hetsy slawe of vrymense.
Alles wat ek tydens die behandeling sal sien of hoor, of ook buite die praktyk oor die lewe van mense, vir sover dit glad nie rondvertel mag word nie, sal ek stilbly, en daarvan uitgaan dat sulke dinge geheim is.
Mag in sover ek hierdie eed vervul en nie breek nie, met my goedgaan in lewe en geneeskuns en mag ek by alle mense te alle tye eervol bekend staan, by oortreding egter en meineed mag die teendeel my lot wees. (vry vertaal uit: Medische ethiek en gedragsleer, uitgave KNMG 1959, p. 296)
Enkele hoofelemente van die eed is die volgende:
-
Die houding ten opsigte van die leermeesters: Die student mag nie in kompetisie staan met die leermeester ten opsigte van die werf van pasiënte nie.
-
Verwysingsplig: In die geval waar spesifieke kundigheid en bevoegdheid nodig is wat die dokter nie self het nie, moet hy die pasiënt verwys.
-
Die dokter mag nie deelneem aan moedswillige verkeerde handelinge nie.
-
Die dokter mag geen misbruik maak van sy posisie as dokter ten aansien van pasiënte nie (veral nie seksueel nie).
-
Die dokter mag nie ’n dodelike middel toedien of ’n pessarium voorsien om ’n miskraam te bewerkstellig nie.
Laasgenoemde word veelal beskou as ’n bewys dat geen aborsies en eutanasie deur dokters in die tyd van Hippokrates gedoen is nie. Dit is egter nie waar nie. Daar is genoeg getuienis dat beide aborsie en eutanasie in die Griekse wêreld wyd gepraktiseer is. Sommige meen dat hierdie bepaling in die eed opgeneem is om die goeie naam van die dokter te beskerm deur nie met die dood geassosieer te word nie.
Daar is goeie bewyse dat die onderhouding van die Hippokratiese eed in die Griekse tyd nie op morele grondslag berus het nie, maar ’n beter reputasie aan die dokter sou verleen wat sy vermoë om pasiënte te werf sou vergroot.
Tog maak dit die eed nie totaal waardeloos nie; daar is in elk geval breedweg verskeie raakpunte met christelike norme. ’n Aantal dokters in die Griekse wêreld het hulle van sekere handelinge soos aborsie en eutanasie onthou. Kritiek op die genoemde bepaling in die Hippokratiese eed het veral gekom uit die hoek van diegene wat nie die norme wat al jare lank deur medici gehandhaaf word, aanvaar nie.
’n Voorbeeld van ’n geneeskundige kode uit die tyd van die Reformasie is dié van Thomas Sydenham (1624-1689). Dit illustreer op treffende wyse sekere verskille met die Hippokratiese eed:
Elkeen wat die geneeskundige beroep kies moet die volgende ernstig oorweeg. Eerstens sal hy/sy verantwoording moet aflê teenoor die Opperregter ten opsigte van die lot van die siekes wat aan sy sorg toevertrou is. Tweedens, sal hy/sy in nederigheid (al beskik hy/sy oor baie kennis en wysheid) bewus moet bly van die majesteit van die Heer en sal moet streef na die welsyn van die mensheid. Derdens sal hy/sy steeds bewus moet wees dat ’n pasiënt wat aan sy sorg toevertrou is, nooit ’n veragtelike individu is nie, maar deel is van die menslike geslag, waarvoor God se Seun mens geword het en op die aarde gewoon het.
Opmerklike verskille is die klem op die verantwoordelikheid van die dokter teenoor die Here in die eed van Sydenham, asook die afhanklikheid van die Here en die nederige posisie van die dokter in die uitoefening van sy beroep.
Die eed van Hippokrates is baie konkreet ten opsigte van die beroepsgeheim. ’n Swygplig word opgelê oor inligting rakende die pasiënt. ’n Moderne weergawe van hierdie deel van die Hippokratiese eed word as volg verwoord in die belofte van mediese graduandi aan die Universiteit van die Vrystaat: “To carefully protect all confidential information about my patients.”
Interessant is die bevinding dat hierdie belofte beslis nie altyd in die Griekse wêreld gehandhaaf is nie. Ons weet byvoorbeeld van ’n inskrywing op ’n kleitablet deur ’n arts wat soos volg lui:
In Thasos a woman of gloomy temperament, after a grief with a reason for it, without taking to bed lost sleep and appetite, and suffered thirst and nausea. She lived near the place of Pylades on the plain … (Corpus Hippocraticum, Epid. 3 case 12, pp 276)
Dit bly steeds ’n vraag hoeveel inligting ’n dokter aan ’n derde party bekend kan maak ten bate van die pasiënt, en wanneer swye wel noodsaaklik is. Moet ’n dokter ’n meisie se ouers in kennis stel as sy swanger is, ’n seksueel oordraagbare siekte het, of kontrasepsie gebruik of vra? Wat sê die Skrif hieroor? Tot waar strek vertroulikheid? Moet die dokter die polisie of die beplande slagoffer of beide inlig indien sy pasiënt beplan om iemand dood te maak? Moet die arts sy pasiënt se verloofde inlig indien die pasiënt homoseksueel is?
Die antwoord is in kort: Ja. ’n Swanger en losbandige tiener benodig hulp en haar ouers is verantwoordelik om haar daardie hulp te gee. Die naaste van ’n pasiënt moet beskerm word teen die wetteloosheid van daardie pasiënt. Jou pasiënt se verloofde het reg op inligting wat ’n enorme belangrike besluit in hulle lewens kan bepaal.
Die Skrif stel ’n perk aan vertroulikheid. Dit verwerp skinder; dit sluit in om iemand se probleme met mense te bespreek wat nie kan help nie (Spreuke 18:8; 26:18-28). Die Skrif waarsku verder teen praterigheid (Spreuke 10:19; 29:20; Prediker 5:2 ev.; 10:14). Die Skrif spreek ook in die algemeen oor die hou van ’n geheim (Spreuke 11:13). Vertroulikheid is volgens die Skrif egter nie absoluut nie. As ek hoor dat iemand iets teen my het, moet ek na die persoon gaan en my met hom of haar versoen (Matteus 5:23 ev.). Wanneer ek gevra word om wetlike getuienis te gee, moet die waarheid vertel word (Exodus 23:2 ev.). Daar is ’n tyd vir stilbly en ’n tyd vir praat (Prediker 3:7). Die laaste word slegs gedoen om op te bou en om ’n sinvolle bydrae in God se koninkryk te maak (1 Korintiërs 14:26, Efesiërs 4:29).
Pasiënte kan ingelig word dat die dokter geen onvoorwaardelike belofte van vertroulikheid kan gee nie. Hy sal inligting vertroulik hanteer so ver as sy gewete dit toelaat. Die Skrif waarsku teen onnodige en oorhaastige ede. ’n Onvoorwaardelike belofte van vertroulikheid is oorhaastig en onnodig.
’n Argument kan aangevoer word dat met so ’n voorwaardelike vertroulikheid minder mense vrymoedig van mediese dienste gebruik sal maak en gevolglik groter skade sal berokken. Dit is niks minder as ’n utilitaristiese argument 1 nie. Die grootste geluk vir die grootste aantal staan hier in die middelpunt. In elk geval moet God se wet wat ons beveel om goed te doen, voorkeur kry bo hierdie argument. Dit sal jammer wees as sommige mense mediese behandeling verwerp uit vrees dat hul sondes aan die lig sal kom. Vir ander sal dit deel van die prys wees om vir ongehoorsaamheid aan God se wet te betaal.
Uiteraard is onvoorwaardelike vertroulikheid dikwels die heersende hedendaagse wetlike beginsel. Hierdie beginsel hoef ons ook nie te verbreek nie tensy die gewete (en daarom God se wet) dit vereis. Om konflikte oor vertroulikheid te verminder is dit wys om - voordat ’n pasiënt met ’n medies sensitiewe probleem behandel word - eers die pasiënt se toestemming te verkry dat die dokter vry is om Bybelse beginsels oor vertroulikheid te volg. As ’n mens die Hippokratiese eed mooi lees, is dit duidelik dat die plig tot vertroulikheid nie absoluut is nie. Tog is die eed nie heeltemal duidelik oor die arts se rol in bespreking van inligting met ’n derde party wat vir die opbou en genesing van sy pasiënt noodsaaklik is nie. Daarin is die negende gebod duideliker: ‘my pasiënte se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder’.