Bron: Die Kerkblad, 1995. 2 bladsye.

Die Christen en Sport

verskillende sportsoorte

Ek skop af met 'n aantal vrae: Waarom neem sport in die Bybel haas geen plek in nie? Mag 'n Christen dan aan sport deelneem? Indien wél, hoé? Mag 'n Christen aan beroepsport deelneem? Is beroepsport arbeid? Mag 'n Christen aan lewensgevaarlike sportsoorte deelneem?

Die Bybel🔗

Oppervlakkig beskou mag dit lyk of die Bybel selfs téén sport gekant is. Paulus skryf byvoorbeeld in 1 Tim 4:7-8 dat die "liggaamlike oefening weinig nuttig" is. Maar daarmee bedoel hy nie sport in die algemeen nie maar 'n asketiese lewenshouding wat die liggaam minag deurdat 'n huwelik verbied word en sekere kossoorte vermy moet word. Paulus ag hierdie soort onthoudingsmetodiek waardeloos.

Ons eeu🔗

Die kultuursituasie van baie mense van die twintigste eeu het egter ontsaglik verander sedert die dae van Adam en Eva. Talle mense is nie boere nie, maar stedelinge; talle mense doen nie meer hande-arbeid nie omdat dit deur masjiene gedoen word. Die moderne mens het in 'n groot mate liggaamlik passief geword. En sy liggaam het juis oefening nodig.

Daarom is dit nodig dat hy juis iets sal ontwikkel wat hierdie leemte vul. Hy moet bowendien ook groot stukke vrye tyd wat die eeue van outomatisasie teweeggebring het, vul.

Die speel waarmee die mens begin het, het egter spel geword, en spel weer sport, en die sport topsport. Moet ons hierdie opwaartse ontwikkeling toejuig of betreur?

Ek meen dat 'n Christen met vrymoedigheid aan talle sportsoorte kan en soms selfs móét deelneem indien die volgende gesigspunte in gedagte gehou word en daaraan uitdrukking gegee word – alles is immers vir 'n Christen (voorwaardelik) geoorloof (1 Kor 6:12, 10:23, Joh 8:36)?

Beginsels🔗

  1. Alles moet tot verheerliking van God gedoen. word (Matt 5:16, Joh 17:4, Rom 14:8, 1 Kor 10:31, Kol 3:23). Dit wil sê in alles moet God as Here, as Baas, erken word – as die Een wat oor alles finale seggenskap het. Orals moet sy gebooie gehoorsaam word en sy wil nagejaag word. Dit sluit onmiddellik alle kullery en oneerlikheid uit.
  2. Alles moet diensbaar wees aan die voortgang van die koninkryk van God (die koningsheerskappy) van God op aarde (vergelyk Matt 6:33, Hand 1:6-8). As my sportbeoefening in die pad staan van die uitbreiding van die koninkryk van God word dit twyfelagtig; aan die ander kant, as dit die gang van die koninkryk van God bevorder, dan gee dit soveel meer vrymoedigheid om daaraan deel te neem.
  3. In my sportbeoefening moet ek ook die welsyn van my medemens in die oog hou en bevorder. Ook op die sportveld moet ek aan ander doen wat ek graag aan myself gedoen wil hê (Matt 7:12). Vuilspel in rugby, hakskenetrap in atletiek, die man speel in plaas van die bal ensovoorts is nie net onsportief nie, maar ook duidelik immoreel. Doelbewuste benadeling en selfs eliminering van my naaste is 'n oortreding van die sesde gebod.
  4. In my sportbeoefening moet ek ook met myself rekening hou. Géén ontspanning is verkeerd, te véél oefening en ooreising wel, vir myself en vir my gesin. Ons moet ook baie krities kyk na lewensgevaarlike sportsoorte soos byvoorbeeld rotsklim, soms nog sonder toue!

wedren🔗

Slot🔗

Goeie sport bevorder kameraadskap, gemeenskaplikheid, spangees; dissipline en selfbeheersing; deursettingsvermoë; gesondheid en fiksheid; sosiale omgang en internasionale kontak; persoonlikheidsontwikkeling en hoflikheid; gesonde kompetisiegees; sin vir regverdigheid; mededingingsvermoë.

Teen sulke deugde is die Skrif nié (vergelyk Filip 4:8), maar wel teen skadelike en afbrekende ele­mente in die lewe.