Is die Bybel duidelik oor Homoseksuele Verhoudings?
Is die Bybel duidelik oor Homoseksuele Verhoudings?
Binne Skrifgetroue kerke bly daar diskussie oor homofilie. By die Algemene Sinode te Amersfoort in Nederland is daar tans ʼn versoek om ʼn studiedeputaatskap aan te stel om dit te ondersoek. Die Deputate van Huwelik & Egskeiding het die kritiek gekry dat hul benadering oor die toepassing op homofilie ʼn verkeerde uitkoms sou hê. Die Christelik Gereformeerde Kerke soek tans helderheid rondom ʼn verdraagsame beleid in die kerk van Zwolle.
In verskillende gemeentes bestaan daar protokolle wat onder sekere voorwaardes die saamleef met homofiele gemeentelede reël. Onlangs het die Gereformeerde Kerkblad vir “midde” en “suid” (58/11, 28 Mei 2005, 2) deur ds. HJ Messelink ʼn beleidsgeskrif hieroor aangebied. In die artikel wil ek ingaan op twee punte wat volgens my tans in hierdie situasie belangrik is. Hoe kan jy vandag as kerk oor homoseksuele verhoudings ʼn oortuigende Bybelse boodskap uitdra? Vervolgens: watter positiewe sin kan dit hê dat Christene homofiel of lesbies is?
Platgeslaan⤒🔗
Die gesprek oor die vraag wat leer die Bybel ons rondom homofilie, het gestagneer. Sowel voor- as teenstanders van homoseksuele verhoudings het al so baie op dieselfde aambeeld gehamer dat die argumente al almal platgeslaan is. Dit is vir my ʼn baie gevaarlike situasie. Want so ontstaan die idee dat die Bybel hieroor nie so duidelik is nie. Sê die bekende tekste oor homofilie dan tog miskien nie dit wat ons nog altyd gedink het daar staan nie? Dit dring ook gou deur in die pastorale versorging. As pastor erken jy: dit is ʼn moeilike probleem, jy kan die Bybeltekste inderdaad verskillend uitlê, maar veel verder kom ons nie. So groei daar ʼn soort aanname en gee jy by voorbaat krediet aan ʼn ander konklusie. Dit word dan ʼn probleem om samestemmend een Bybelse weg te wys. Uiteindelik staan ons al hoe minder op dieselfde lyn hierin. Ek kan dit nie bewys nie, maar tog kry ek die gevoel dat daar onder ortodokse Christene ʼn geleidelike verskuiwing aan die gang is ten opsigte van ons houding teenoor homofilie.
Simptome←⤒🔗
Is dit erg? In elk geval niks erger as die ander verswakkinge van insig of van lewenstyl nie. Baie Christene het ʼn ekstra groot afkeer van “homoseksualiteit”. Maar in die lig van die Bybel konkludeer ek dat God se afsku oor egoïsme en oneerlikheid met geld en goed (genotsug, swartgeld, ens.) of oor die harde oordeel oor mekaar in die kerk, in elk geval op sy minste ewe groot moet wees as oor verhoudings van homofiele wat al worstelend kies vir ʼn noodoplossing. Dit word gou skynheilig om ekstra te fokus op bepaalde sondes, let wel, van mense wat meestal in groot nood verkeer, en intussen ander sondes (wat moontlik baie makliker afgeleer sou kon word) te verkleineer. Tog beteken dit natuurlik nie dat ons ʼn moontlike verskuiwing rondom homofilie in ʼn “Eli-houding” oor ons moet laat gaan nie. Want die verskuiwing vorm ʼn simptoom van die diepere probleme. Ons kan met ons etiek effens vasloop met so ʼn gebruik van die Bybel. Dan het ons ons Christelike lewe ontbind in ʼn reeks los beslissings op grond van direkte Bybeltekste. Die raamwerk hierom, wat juis rigting aan ons moet wys, het ons daarby soms uit die oog verloor. Maar as dit verander, sal die boodskap rondom homoseksualiteit oortuigender klink. Dit is in vandag se tyd nodiger as ooit.
Nie Outomaties nie←⤒🔗
Met baie etiese onderwerpe is ons geneig om na Bybeltekste te soek wat direk daaroor gaan. Hierdie tekste lê ons so goed as moontlik uit. Ons verbind die resultate met mekaar en so vind ons die Bybelse rigting. Dit gebeur ook met homofilie. Maar hierdie werkswyse vind ek om meerdere redes minder gepas.
Dit is in die eerste plek metodies. Die Bybel wys ons ʼn pad vir ons hele lewe, nie net vir konkrete onderwerpe waaroor die Bybel direk iets sê nie. Ook by temas waaroor die Bybel nie direk praat nie, gee die Bybel steeds rigting. Daaruit kan ons leer dat hierdie “rigting wys” in die Bybel eerder begin en op iets diepers vassit as net konkrete gepraat oor die konkrete temas. Ook as die Bybel oor sekere temas wel iets sê, moet jy tog altyd eers begin by die fundamentele basis en nie dink dat die konkrete tekste, wat altyd ʼn seleksie uit die geheel vorm, voldoende is nie. Daarom vind jy ook nie die rigting wat die Bybel rondom homofilie wys as jy net maar luister na al die direkte tekste daaroor nie.
Nie oor Dieselfde nie?←⤒🔗
Dit lyk “toevallig” dat die Bybel oor sekere onderwerpe iets sê en oor ander niks sê nie. Dit het te doen met die feit dat die Bybel vertel oor die konkrete geskiedenis van God se werk te midde van konkrete mense in ʼn sekere tyd en onder sekere omstandighede. Daardeur kan dit soms lyk asof ʼn Bybelteks direk gaan oor ʼn verskynsel van vandag, terwyl dit by nader insien tog anders is. So sê die Bybel iets oor “rente ontvang”. As ons dit egter van naderby bekyk, het “rente” in die Bybelse tyd nie dieselfde betekenis as vandag nie. Kan jy daarom vandag niks van hierdie tekste leer nie? Verseker kan jy. Maar dit werk anders as dat jy direk uit so ʼn teks kan aflei wat jy vandag moet doen. Ook rondom homofilie moet jy eerlik die moontlikheid oorweeg dat die “homofilie” wat ons in die Bybeltekste teëkom, nie dieselfde is as die “homofilie” van vandag nie. Net soos ds. Messelink, vind ek dit begryplik dat Christen-homoseksueles hulself nie direk herken in die beeld wat Paulus in Romeine 1 van homoseksualiteit skets nie. Want in Romeine 1 heers ʼn atmosfeer van uitspattigheid. Is dit op jou van toepassing as jy verlang na ʼn vaste vriendskap met een “partner”? En die homoseksueles uit Romeine 1 het die natuurlike omgang “opgegee”. Volgens ʼn eksegese wat minstens oorweegbaar is, beteken dit dat hulle eintlik heteroseksueles was wat bewustelik gekies het vir homoseksuele omgang. Is dit dan oor jou geskryf, as jy as jongman van 17 tot jou eie skrik ontdek dat jy nie verlief raak op meisies nie, maar op seuns?
Nie Willekeurig nie←⤒🔗
Daar is nog ʼn rede hoekom dit belangrik is om nie maar net te fokus op tekste wat direk praat oor homoseksualiteit nie. Dit gee sommer die indruk dat God se wil bestaan uit ʼn reeks los en ietwat willekeurige opdragte. In die pastoraat word soms vir homoseksueles gesê: “Hoekom God dit so wil hê, weet ek ook nie; persoonlik sou ek jou wel ’n vriend of vriendin gun, maar dit staan nou maar eenmaal in die Bybel dat dit nie mag nie.” So ’n opmerking kan ons waardeer, omdat daaruit blyk dat ons ook teen ons eie gevoel in voor die Bybel wil buig. Maar dit klink tegelyk magteloos en onoortuigend. God se wil is uiteindelik ʼn eenheid. En op verreweg die meeste punte kan jy vanuit die geheel van die Bybel ook begryp of aanvoel waarom God dit van jou vra. God se wil pas regtig by God self, by sy werk en by hoe Hy dit met ons as mense bedoel het.
Juis as jy leer om God se wil in hierdie lig te sien, ervaar jy die oortuigingskrag. Wie wil oortuig, moet meer doen as om los morele konklusies te trek uit enkele direkte Bybeltekste.
ʼn Geheelbeeld←⤒🔗
Wat hou hierdie “meer” in? Op die een of ander manier moet jy begin by die geheel van die Bybelse boodskap. Elke Christen wat hom op die Bybel beroep, werk bewus of onbewus vanuit ʼn beeld van hierdie geheel. Hierdie beeld stuur jou Skrifgebruik en verklaar soms dat mense met dieselfde tekste in verskillende rigtings dink. Ons is reeds van ouds af met hierdie gereformeerde Bybeluitleg vertroud. Want ons lê die Bybel uit in samehang met ons belydenis. Ook Christene wat nie ʼn offisiële belydenis het nie, kan nie voorkom dat in hulle omgang met die Bybel, hul sentrale geloofsoortuiging altyd ʼn sturende rol vervul nie. Jou belydenis verwoord die geheelbeeld van die Bybelse openbaring.
Iets dergeliks speel op ʼn toegespitste manier ook as jy die Bybel gebruik in die etiek. Daarin werk, bewus of onbewus, jou “etiese belydenis” deur. Wat is God se bedoeling met ons lewenstyl en etiek? Watter rigting word deur die Bybel aan ons gewys?
Laaste Trajek←⤒🔗
Sommiges sien die liefde as beeld van hierdie geheel. Wat nie by die liefde pas nie, sê hulle (soms onbewus), kan nie goed wees nie. Ander werk vanuit die gedagte dat God in sy skepping wetmatighede ingebou het, universele skeppingsordeninge. Die Tien Gebooie vat hulle saam. Self dink ek dat jy dit soek in ʼn samevatting van die geheel van God se werk soos die Bybel daaroor vertel. Daarin gaan dit oor die skepping, oor God se werk deur Israel, om sy redding in Christus en om sy gang na die komende koninkryk. Daarvan vorm die persoon en die werk van Christus die hart. Dan sou jy die etiese “hoofboodskap” byvoorbeeld so kan saamvat: “God vorm rondom Jesus Christus die gemeenskap van die Nuwe verbond, wat moet leer om Christus te volg op die weg via die kruis na sy nuwe skepping”. God het ʼn lang roete deur die geskiedenis gemaak: van sy skepping waarop die sonde inbreuk gemaak het, tot sy koninkryk. Christus bring hierdie koninkryk uiteindelik naby vir sondige mense. Met die oog daarop versamel Hy sy gemeente voor die beslissende laaste trajek van God se geskiedenis. Geborge in Christus gaan ons ʼn pad van lyding tot heerlikheid agter Hom aan. In die hede van die ou wêreld vorm Hy ons in die lewenstyl van die komende, die styl van die koninkryk. In hierdie perspektief staan alle konkrete gebooie en verdere rigtingwysers vir vandag wat ons in die Bybel vind. Hier begin ons lewenstyl en dit bepaal al ons etiese beslissings.
Huwelik en Seksualiteit←⤒🔗
Al sou die Bybel niks oor ʼn onderwerp sê nie, moet ek altyd leer om die vraag te vra: watter rigting volg op hierdie punt uit die etiese hoofboodskap? Maar ook as die Bybel wel iets oor ʼn onderwerp sê, moet dit die vraag wees. Ook ten opsigte van homofilie. Om hierdie hoofrigting van God se wil goed op homofilie te betrek, moet dit eers toegepas word op die raamwerk waarin homofilie staan: naamlik die raamwerk van menslike relasievorming en seksualiteit. Juis op hierdie punt gaan God ʼn duidelike weg deur die geskiedenis.
Genesis 1 en 2 leer dat die polariteit van man en vrou fundamenteel is vir die manier waarop God ons geskep het en ook vir die ontstaan van die basisrelasie van die huwelik: man en vrou is daartoe bestem om saam ʼn verbond te sluit en daarbinne heeltemal een te word. Binne hierdie raamwerk staan ook die seksuele omgang as uiting van hierdie eenheid.
By Christus word egter duidelik dat God se doel verder reik. Dat die verbond tussen man en vrou in diens staan van die band tussen Christus en sy gemeente. In die komende koninkryk word die huwelik daarin vervul. Dit beteken dat ook die onderlinge seksuele omgang van man en vrou daarin vervul sal wees. Seksuele omgang blyk geen doel op sigself te wees nie, maar ʼn middel. Dit is ʼn intense manier om met liefde te kommunikeer en in die gee daarvan tegelykertyd te ontvang in ʼn gesamentlike ervaring van geluk en genot. Tegelykertyd sorg juis dit vir die uitbreiding van die mensheid. Dat hierdie laaste aspek in die koninkryk nie meer nodig is nie, dit spreek vanself. Maar ook van die eerste moet ons aanneem dat dit vervul sal word in iets wat verder reik. Sonder die spesiale band tussen man en vrou sal ons in die band met Christus en met mekaar op ʼn nuwe manier liefde kommunikeer. En saam volmaak geniet en gelukkig wees met Christus en met mekaar in ʼn diepgang wat ons denke en ervarings van nou te bowe gaan.
Relativering←⤒🔗
As die bostaande reg is, bewerk die nadering van God se koninkryk ʼn relativering van huwelik en seksualiteit in die bestaande vorm. Dit is nie langer net maar “normaal” dat mans en vroue trou en in dié raamwerk die gawe van die seksualiteit vier nie. In 1 Korintiërs 7 sê Paulus dat ook om ongetroud te bly vir ʼn Christen ʼn “normale” manier van lewe is. En in Matteus 19 leer Christus ons dat jy ter wille van die koninkryk “jouself onbekwaam kan maak”. Daarmee sinspeel Hy op ʼn lewe van seksuele onthouding. Van beide moontlikhede vorm Jesus self die groot voorbeeld. As jy net kyk in die lig van die skepping, is ongetroud bly en seksuele onthouding onnatuurlik. Daarom voel dit ook baie keer as ʼn gemis. Maar in die lig van die koninkryk ontdek jy in dié manier van lewe ʼn voorsmaak van die vervulling van die huwelik en seksualiteit wat gaan kom. Binne die Christelike kerk behoort huwelik en ongetroud wees volop voor te kom en ook gelykwaardig te wees. En sowel getroudes as ongetroudes moet leer om hul eerste vervulling te soek in die band van liefde wat ons saam met Christus het. Ook via opvoeding en kategese moet ons mekaar nie alleen vorm en voorberei met die oog op ʼn vaste verhouding nie, maar ook met die oog op ʼn ongetroude lewe.
Homoseksuele Relasies←⤒🔗
Hierdie toepassing van die etiese hoofboodskap van die Bybel werp ʼn helder lig op homoseksuele relasievorming. Vir sover dit daarby gaan oor ʼn variant wat herinner aan wat wesenlik is vir die man-vrou-verhouding, pas dit nie by God se oorspronklike skepping van man en vrou nie. Tegelykertyd pas dit ook nie by die vervulling in God se komende koninkryk nie. Want dit bring wel ʼn relativering van die huwelik, maar dit is ook tegelykertyd ʼn relativering van seksuele omgang as sodanig. Die alternatief lê dan ook nie in die openheid vir min of meer vergelykbare ander “partner”-relasies nie, maar in die afsien daarvan binne die raamwerk van die Christelike gemeenskap.
Homofilie is een van die baie gevolge van die versteuring wat die sondeval meegebring het in die lewe van ons almal. En as mense in eie verantwoordelikheid kies vir ʼn homoseksuele relasie wat min of meer afgelei is van die man-vrou-verhouding, is dit sonde. In die letterlike betekenis van sonde: dan mis jy God se doel met die lewe. Hierby moet volgens my ook die liggaamlike kenmerke ʼn groter rol speel as wat dikwels gebeur. Die moderne Westerse kultuur het afstand geneem van elke denkwyse op basis van ʼn voorgeskrewe natuurlike orde. Ons skep as mense self ons orde. Ook die geskape struktuur van die menslike liggaam geld vir baie nie langer as ’n grens nie. Maar as jy God erken as die Skepper moet jy die risiko van hierdie denkwyse deursien. Ook die geslagsorgane van die manlike en vroulike liggaam onderstreep die bedoeling van die Skepper. As Paulus in Romeine 1 praat oor “natuurlik” en “onnatuurlik” dink hy waarskynlik self in die eerste plek daaraan.
Vanweë die Vreugde←⤒🔗
Nou het ek twee aspekte uitgelaat uit die etiese hoofboodskap, soos ek dit geformuleer het. Die gemeenskap van die nuwe verbond volg Jesus op die weg van die kruis. Om Christus te volg, kan slegs as jy agter Hom aan jou kruis opneem. Konkreet beteken dit: jouself heeltemal oorgee aan Christus en jou deur Hom ʼn nuwe identiteit laat gee. Dit is op die eerste gesig ʼn pynlike weg wat teen jou diepste “ek” ingaan. Hy maak ʼn einde aan jou ou lewe. Maar juis langs hierdie weg maak Jesus deur sy Gees jou lewe nou en later nuut.
Om hierdie kruis te dra is geen harde wet nie. Dit is ʼn aspek van die gemeenskap met Christus. En in die band met Christus lê volgens die Bybel en volgens die ervaring van elke egte Christen ʼn “onuitspreeklike blydskap” (1 Petrus 1). Die Bybel sê dat ook Jesus vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het (Hebreërs 12:2). So word dit ook by ons bedoel. Jy vind in God jou hoogste geluk. Jesus is die skat vir jou hart. Hoe meer jy jou versadiging in God soek, des te radikaler waag jy dit om nee te sê vir jou ou lewe. Geen mens sal sy kruis onder dwang op hom neem nie, as ʼn pure plig wat jy logies uit Bybelwoorde afgelei het nie. Jy word daartoe berei as God jou hoogste geluk word en Jesus regtig die lewe van jou lewe Dan ontdek jy hoe waar dit is as Hy sê: “My juk is sag” (Matteus 11).
Wegsteek←⤒🔗
Bowendien geld dit alles nie maar net vir homoseksueles nie, maar vir die kerk as geheel, vir die gemeenskap van die Nuwe verbond. Dit is selfs gevaarlik en oneerlik om dit spesiaal toe te pas op homoseksueles. Ons help mekaar nie met die volgende eksegetiese debat oor die konkrete “homoseksuele tekste” nie. En ek sê dit terwyl ek op grond van grondige onlangse studies van mening is dat ook die eksegese van die konkrete tekste duidelik maak dat God homoseksuele relasies nie toelaat nie. Ons help mekaar ook nie om skepties vas te stel dat dit alles glad nie so duidelik is nie. Ons sal meer oortuigend wees wanneer ons binne die gemeente ook self leef uit die etiese hoofboodskap en vanuit die vreugde in Christus ons kruis op ons neem. So kan jy ook oortuigend die etiese hoofboodskap toepas op relasievorming en seksualiteit. Dan kan hierdie boodskap vir homoseksueles niks anders beteken nie as ʼn keuse teen ʼn homoseksuele manier van lewe. Dit is pynlik en gee jou die gevoel om jouself te moet prysgee. Maar dit is nie onbegryplik nie. Dit pas by God se werk van skepping tot koninkryk. En selfs hierdie pynlike gevoel blyk in die lig van die etiese hoofboodskap en vir die deurgaande Christelike lewenstyl nie vreemd te wees nie. Juis as jy jouself verloor, sal jy jou lewe vind (Matteus 16).
Dit sou skade wees as die kerk hierdie boodskap sou verdoesel of versag. Dit kan ons medeskuldig maak aan die oordeel oor ons naaste. Dit sou ewe verkeerd wees om hierdie boodskap veral aan homoseksueles voor te hou en dit nie almal (opnuut) uit te leef nie. Met die maat waarmee ons ons homoseksueles meet, sal God ons meet. Sowel vir homoseksueles as vir ander kerklede is nuwe oortuigingskrag met betrekking tot homoseksuele relasievorming vandag broodnodig. Maar meer as dit is nodig.
Homofilie as Pynlike Gawe←⤒🔗
Is die Bybel so duidelik oor homoseksuele verhoudings? Ons het op hierdie punt ʼn nuwe oortuigingskrag nodig. Dit vind jy slegs as jy begin by die etiese “hoofboodskap” van die Bybel en jouself nie beperk tot die direkte tekste nie. Maar as jy net duidelik sê dat homoseksuele verhoudings nie goed is nie, bly dit negatief.
Is daar ʼn positiewe doel as jy homofiel of lesbies is? Wat word dan van jou gevra? En sou jy nie miskien kon kies vir ʼn vaste verhouding as net “’n bietjie verkeerd” nie? As ons sulke vrae laat lê, laat ons die homoseksueles buite staan. Bowendien doen die kerk homself daarmee tekort.
Lewensroeping←⤒🔗
Vanuit die koerante weet ons dat veral die wêreldwye Anglikaanse kerkfamilie die laaste jare sterk beroer word deur verskille rondom die vorming van homoseksuele verhoudings. In Noord-Amerika staan hulle tans baie oop daarvoor. Vir die derde wêreld was dit onaanvaarbaar. Reeds in 1995 het enkele vooraanstaande Engelse Anglikaanse teoloë ʼn verklaring opgestel om voor- en teëstanders te stimuleer om met hul diskussies binne Bybelse raamwerk te bly: die “St Andrews Day Statement”. In die toeligting tot hierdie verklaring het ʼn Anglikaanse etikus uit Oxford, Oliver O’Donovan, ʼn belangrike voorstel gemaak. Hy het probeer om die posisie van ʼn homofiele Christen te verstaan vanuit Paulus se brief in 1 Korintiërs 7 oor die lewensroeping wat elke Christen het. Paulus skryf: laat elkeen bly in die posisie waarin hy verkeer het toe hy deur God geroep is. Wie getroud is, moet as getroude sy Heer dien en nie dink dat hy nou maar beter alleen verder kan gaan nie. Wie nie (meer) getroud is nie, moenie ʼn verhouding soek nie, maar kan juis as ongehude die Here dien. Hierdie beginsel pas Paulus ook toe op ander kategorieë. Byvoorbeeld slawe moenie alles binne hul vermoë doen om vry te word nie. Jy kan juis as slaaf Christus volg. Hierdie benadering relativeer elemente van jou identiteit en jou posisie in hierdie wêreld vanuit die band aan Christus. En tegelyk gee juis hierdie band aan Christus ook ʼn nuwe betekenis aan hierdie identiteit en posisie. Dit word jou wagpos van waaruit jy op die ou aarde die lewenstyl van die komende wêreld (die koninkryk) laat deurwerk. So gebruik God jou om die lewe te heilig en midde-in die strukture van die ou wêreld ʼn lewendige verwysing na Christus te wees. In die tradisie van die kerk het hierdie insig by die Christelike etiek behoort. Jy moet nie net in die algemeen goed doen nie. Gee jou toewyding aan God ooreenkomstig die besondere posisie wat jy onder God se voorsienigheid in hierdie lewe toebedeel gekry het. Dit noem ons jou “vocatio”, jou besondere lewensroeping.
Oor die manier waarop O’Donovan die inset verder invul, is daar egter ʼn paar vrae. Maar as uitgangspunt om positief na te dink oor God se bedoeling met iemand se homofiele geaardheid, word dit van hom oorgeneem. Homofilie is meer as ʼn gevolg van die sondeval, gebrokenheid of lyding. Jou homofiele identiteit kan jou spesifieke positiewe lewensroeping word in diens aan Christus.
Identiteit en Selfaanvaarding←⤒🔗
By Christus moet ons almal leer om aspekte van ons identiteit te relativeer. Die Bybel sê: in Christus is daar nóg Jood nóg Griek, nóg slaaf nóg vryman, nóg man nóg vrou (Galasiërs 3). So is daar in Christus ook nie “homoseksueel of heteroseksueel” nie. Al die tiperings sê nie wie ons ten diepste is nie. Jy is wie jy is in Christus. Dit gee jou die moed om afstand te neem van dit wat jy nog meer is. Want daarin is altyd twee “identiteite” deurmekaar aanwesig. Jy is hierdie mooi kind van God soos Hy jou geskape het in Adam. En jy is tegelyk die sondaar wat die gevolge van die sondeval en die gebrokenheid tot in jou gene met jou saamdra. Die twee kan nie sommer van mekaar losgemaak word nie. Byvoorbeeld in homoseksuele gevoelens is tegelyk God se goeie skepping aanwesig en die verkeerde gerigtheid wat die sondeval meegebring het. In jou homoseksuele gevoelens merk jy jou vermoë om lief te hê, te gee, te verlang, te geniet, intimiteit te ervaar, en skoonheid te waardeer. En ook as homoseksueel mag jy vir al hierdie goeie stukkies goeie skepping van God “ja” sê. Maar teen die verkeerde gerigtheid daarvan moet jy “nee” sê. Sonder Christus lei dit tot ʼn onmoontlike tweestryd. Sê jy ja vir die goeie, dan voel jy onmiddellik daar is ʼn ja teen jou homoseksuele gerigtheid. En sê jy nee daarvoor, dan voel dit tog of die egte jy, met al die ander gevoelens, nie daar mag wees nie.
As jy in Christus die derde, blywende identiteit vind, dan sien jy hiervoor kans. By Hom verloor jy nie jouself nie, maar vind jy jouself volmaak terug.
Om Jouself Opnuut te Ontvang←⤒🔗
Dit plaas ook die aspekte van jou identiteit wat jy eers geleer het om te relativeer, in ʼn nuwe lig. As Paulus sê dat daar in Christus nóg man nóg vrou is, en nóg slaaf nóg vryman, beteken dit nie dat hy die manwees en die vrouwees afskryf en die verskil tussen ʼn slaaf en ʼn vryman weg verklaar nie. Juis nie: die nuwe identiteit in Christus gaan nou jou man of vrou, jou slaaf of vryman wees, kleur gee met ʼn nuwe betekenis. As jy die eerste woorde oor jouself in Christus laat opklink, kan dit op ʼn nuwe manier tweede woorde oor jouself word. Hulle vorm die “plek” om vanuit jou identiteit in Christus te leef en te laat sien wat dit in ons lewe doen.
Van O’Donovan leer ek dat jy op so ʼn manier teen ʼn eventuele homoseksuele identiteit kan vaskyk. Moet nooit daaraan vasklou as jou eintlike identiteit nie. Maar moet dit ook nie ignoreer nie. Ontvang ʼn homoseksuele identiteit uit Christus se hand terug, met ʼn nuwe betekenis. Sien daarin die spesifieke plek waar God jou geroep het en kan gebruik. Vir ʼn Christen kan ʼn homoseksuele identiteit ʼn positiewe lewensroeping word, ʼn “vocatio”, ʼn geleentheid om Christus se werk te demonstreer en te dien. In 1 Korintiërs 7 noem Paulus so ʼn “vocatio” selfs ʼn “gawe”: ʼn plek in die lewe wat jy gekry het om God, die gemeente en die wêreld te dien. Wat ʼn pynlike gevolg van die sonde was, word in perspektief tot die komende koninkryk ʼn gawe.
Dit geld nie alleen vir homoseksueles nie, maar vir alle Christene. Ook wie getroud is, moet wees “asof ongetroud”, skryf Paulus. Moenie jou identiteit soek in jou verhouding of in die seksuele omgang wat daarby behoort nie. Ook getroude mense moet leer om huwelik en seksualiteit vanuit Christus te relativeer en dan op ʼn nuwe manier terug te kry: as “gawe”, om God, die gemeente en die wêreld te dien. Alleen as hierdie besef diep in die gemeente wortel skiet, sal die gemeente leer om ook so na homofiele en lesbiese Christene te kyk en hulle juis in hulle geaardheid te ontvang as “gawes” van God binne die gemeente. En alleen as die gemeente so na hulle kyk, kan ons verwag dat homoseksueles ook sal leer om so na hulself te kyk.
Vriendskap met God←⤒🔗
Nou kan dit maklik by mooi woorde bly. Daarom moet ons verder soek. Waarin lê hierdie besondere lewensroeping? Op watter stadium word dit konkreet dat die homoseksuele identiteit in Christus ʼn “gawe” kan wees?
Ek dink eers aan die vriendskap met God. Paulus sê in 1 Korintiërs 7: as jy nie getroud is nie, kan jy jouself onverdeeld aan God wy. Die opmerking kan maklik irriterend wees. Asof homoseksueles en ander ongetroudes ekstra aktief moet wees terwyl ander kan opgaan in hul gesinne. Maar die onverdeelde toewyding aan die Here is juis die bestemming van ons almal. Tog laat ons ons lewens baie vol maak met ander dinge. Ongetroudes dra op die eerste gesig ʼn gemis met hulle saam. By homoseksueles gaan dit nog dieper omdat die gemis sterk saamhang met dit wat naby die “ek” lê. Dit kan lei tot selfbeklag. Maar dit kan jou ook meer as gemiddeld terugwerp op God en jou laat besef dat Hy alles vir ʼn mens is. As dit gebeur, sal jy al gou ʼn meer intense en meer intieme band van vriendskap en liefde met God ontwikkel as wat baie ander Christene ondervind. Jy kan daardeur ekstra ontvanklik word vir die diep gevoelsmatige dimensie wat in die band met God opgesluit lê. En ook eerder ʼn spoor vind van die volledige versadiging en die allesomvattende genot wat saamkom in die geluk in God. Daarin bespeur jy iets van die toekoms waarin selfs die seksuele omgang vervul word in iets wat verder reik.
Ek bedoel dit dus nie as ʼn kompensasietoertjie nie. Want dit is God se wil vir ons almal en nie net vir homoseksueles nie. Maar as homoseksueles juis vanuit hul spesiale, en dikwels pynlike, posisie in die lewe hierdie intense vriendskap met God soek, en daarvan iets laat merk, blyk hulle God se gawe vir ons almal te wees. Dit is nie ʼn teorie nie. Vandag let ons in die kerk veral op homoseksueles en lesbiërs wat dit nie kan of wil opgee om te leef sonder ʼn vaste verhouding en hulself nie wil onthou van seksuele omgang nie. Maar laat ons nie vergeet dat daar ook ander is nie. Die Nederlands Dagblad het kort gelede berig oor ʼn studiedag rondom Henri Nouwen. Daar is gewys op die verband tussen die gebrokenheid wat Nouwen as homoseksueel sonder vaste verhouding met homself saamdra en sy intense vriendskap met God. Vanuit die vertroudheid met God het hy baie beteken vir die geloofsbelewing van ander Christene. En ek kan ook self voorbeelde noem van homoseksueles en lesbiërs wat op dieselfde manier vir my “gawe van God” is (was).
Vriendskap Binne die Gemeente←⤒🔗
Die spesifieke lewensroeping van “homofiel wees” kan op nog ʼn punt as gawe duidelik word. In die komende koninkryk is huwelik en seksuele omgang vervul. Maar vervul is by God nie sommer afskaf nie. Hy het gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. En as dit toe nie goed was nie, is dit nou nog nie goed nie. Menswees is ook saamwees. As die huwelik later nie meer die vorm daarvoor is nie, kry dit ʼn nuwe gestalte. Saamwees het later die vorm van die besondere eenheid in die liggaam van Christus, die gemeente. Dis nie sommer dat Paulus “huwelikstaal” gebruik vir die wonder van die gemeente nie: die twee word daarin een (Efesiërs 5) en die baie vorme daarin word ʼn unieke eenheid (1 Korintiërs 12). Binne hierdie een gemeente groei ʼn netwerk van onderlinge verhoudings, Christelike vriendskappe. Deurdat jy jou gesamentlik aan Christus gee, kommunikeer jy sy liefde en kom dit tot ʼn vorm van gemeenskap wat meer volmaak sal wees as die huwelik en intenser voldoening sal bied as die seksuele eenwording. Die gemeente van later begin nou al!!
Juis met die oog daarop is die spesiale lewensroeping van ongetroudes en homoseksueles ʼn “gawe”. Hulle hoef nie alleen te bly nie. Hulle sal juis meer as ander verlang na, en oopstaan vir, sulke intense Christelike vriendskapsverhoudings. Daarby gaan dit nie oor eksklusiewe twee-verhoudings of oor verhoudings waarvan verliefdheid en seksuele polariteit en omgang die spil vorm nie. Dit gaan juis oor ʼn klein begin van die nuwe werklikheid waarin sulke verhoudings vervul sal wees. Maar dit gee dus wel ruimte vir diep gevoelsmatige bande en selfs vir ʼn vernude liggaamlikheid. Homoseksueles en ongetroudes het so ʼn netwerk van vriendskapsverhoudings nodig en mag die gemeente daartoe stimuleer. Want dit is nie goed dat die mens alleen is nie.
Ook hier gaan dit nie oor ʼn susmiddel vir homoseksueles nie, maar oor die bestemming vir ons almal. Homoseksueles en ander ongehudes kan getroude mense losruk uit ʼn verabsolutering van hul huwelik en gesin en hulle stimuleer om juis as getroude mense op weg na God se vervulling hierdie netwerk van Christelike bande al meer te onderhou. Is dit geen “gawe” nie?
Vriendskap vir die Wêreld←⤒🔗
Wat ek tot nou toe geskryf het, geld ook vir ander ongetroudes, al kry verskillende aspekte by homoseksueles wel ʼn besondere lading. Maar in die verhouding tot die wêreld is ook ʼn aspek van die lewensroeping wat op ʼn besondere manier vir homoseksueles geld. In Romeine 1 gebruik Paulus homoseksuele verhoudings om te laat sien hoeseer die Grieks-Romeinse kultuur van God vervreemd is. As jy deur afgodediens die orde tussen Skepper en skepsel omdraai, hou jy later ook nie meer die orde binne die skepping in ere nie. Dit sien jy, sê Paulus, in die vervanging van die natuurlike seksuele omgang tussen man en vrou deur homoseksuele verhoudings. Dit onderstreep hoe nodig die wêreld die evangelie van Christus het.
Nêrens in die Nuwe Testament bemerk jy dat homoseksualiteit ook binne die gemeente probleme gee nie. Vir die Jode en die eerste Christene het homoseksualiteit gegeld as ʼn tipiese heidense sonde. Dit maak ʼn groot verskil met baie Christen-homoseksueles vandag. Voordat hulle hul homoseksuele verlangens ontdek het en eventueel vorm daaraan gegee het, het hulle glad nie afskeid van God geneem nie. Hulle het nie opgegroei binne ʼn heidense konteks nie, maar binne die gemeente van Christus. En sonder dat hulle dit wil, bemerk hulle ʼn homoseksuele oriëntasie.
Beteken dit dan dat Romeine 1 vir Christen-homoseksueles vandag niks te sê het nie? Volgens my maak Romeine 1 juis hul besondere lewensroeping in die huidige Westerse kultuur duidelik. Want die Westerse kultuur vertoon ʼn duidelike parallel met die wêreld van Romeine 1. Ons kultuur neem die laaste paar eeue steeds meer afskeid van die lewende God en die orde van sy skepping. Met name sedert die middel van die 20ste eeu het hierdie proses versnel. Is dit toevallig dat daarmee saam ʼn groeiende nadruk op die homoseksuele gerigtheid gelyke tred hou? En dat, onder invloed van die homobeweging aan die einde van die 20ste eeu, die maatskaplike aanvaarding weer net so sterk word as in die tyd van Paulus? Ook in die Westerse wêreld lei die afskeid van die lewende God tot ʼn miskenning van die orde tussen man en vrou. En net soos in Romeine 1 leer dit ons hoe nodig ons Westerse wêreld die evangelie het.
Maar, anders as in Paulus se tyd, kom die evangelie vandag nie (alleen) van buite af na die Westerse wêreld toe nie. Dit was hier al eeue lank tuis, en die kerk wat dit dra, vorm deel van hierdie kultuur. Juis daarom het Christen-homoseksueles in die huidige situasie ʼn besondere missionêre roeping. God laat hulle deel in die tipiese kenmerk van ʼn kultuur wat van Hom vervreemd geraak het. Hy plaas hulle naby die mense in wie die ontsporing van die Westerse wêreld so duidelik geïllustreer word. As Christen-homoseksueles juis op dié plek hul vervulling in God soek, hul plek inneem in die Christelike gemeente en geen seksuele verhoudings aangaan nie, laat hulle iets van God se bewoënheid met ons wêreld sien. Uit die hart van die Westerse kultuur loop daar ʼn pad terug na die lewende God.
So kan dit ook regtig werk. Van New York (Redeemer Church) tot Amsterdam tot Kaapstad en Pretoria maak God vandag in tot in diepte gesekulariseerde Westerse omgewings vir Christen-homoseksueles tot sprekende tekens van sy bewoë evangelie. Daarin sien ek hoe ʼn homoseksuele identiteit juis vandag ook ʼn positiewe lewensroeping en ʼn gawe van God kan word.
Praktyk←⤒🔗
Nog enkele opmerkings oor die kerklike praktyk. Juis as daar in die kerk panele dreig om verskuif te word waar dit die aangaan van homoseksuele verhoudings betref, moet ons onsself nie daarop blind staar nie. Om maar net te probeer om met alle geweld die ontwikkeling te keer of te beheers, is soos om die vloer te probeer droogmaak met ʼn oop kraan. Net nuwe Bybelse oortuigingskrag met dade en woorde kan sorg vir ʼn gesamentlike rigting. En daarby hoort dat ons homofiele en lesbiese gemeentelede nie meer alleen of veral sien as mense met ʼn probleem nie, maar dat ons hulle besondere lewensroeping herken en waardeer.
Tegelyk kan die kerk, in die lig van die Bybel, nooit homoseksuele verhoudings goedkeur nie. Daarmee dui ek op verhoudings wat die kenmerk van die huwelik vertoon: ʼn eksklusiewe verbond tussen twee “partners”, gebaseer op wedersydse seksuele aantrekking, wat hulle hele lewe deel en waarbinne seksuele verkeer plaasvind. In sy artikel in die Gereformeerde Kerkblad, skryf ds. Messelink iets soortgelyks. En ek stem daarin met hom saam.
Maar ook met hierdie duidelikheid mag die kerk nie volstaan nie. Die kerk moet homoseksueles stimuleer tot, en help met, die ontwikkeling van Christelike vriendskapsverhoudings binne die netwerk van die gemeente. Daarin begin immers die vervulling wat die koninkryk sal bring. Die waarheid lê hier binne noukeurig bepaalde grense. Juis in hierdie verband bied sommiges tog weer ruimte vir min of meer eksklusiewe vriendskappe tussen twee homoseksueles onderling. Daaraan stel hulle dan die voorwaarde dat daarbinne geen seksuele gemeenskap mag plaasvind nie. Hierdie ruimte vind ons ook in die artikel van ds. Messelink. Ek stem saam dat die kerk soms sulke verhoudings moet dra. Maar ek glo nie dat jy dit by voorbaat as moontlikheid moet voorstel nie. Want so isoleer jy die seksuele gemeenskap van die ander kenmerke van die huweliksverhouding en lyk so ʼn homofiele vriendskap wat betref die ander kenmerke tog net soos die man-vrou-verhouding. Om uit sulke verhoudings net die homoseksuele omgang dood te trek, lei maklik tot ʼn onnatuurlike spanning wat nie volgehou sal kan word nie.
Volgens my moet ʼn mens as kerk nooit sulke verhoudings aanmoedig nie, maar die andersoortige Christenvriendskapsverhoudings wat ek in die voorafgaande beskryf het. Daarby het dit nie gegaan oor verhoudings tussen “partners” nie, maar oor intense bande tussen mense wat juis nie op mekaar verlief is nie. En in plaas van eksklusiewe twee-verhoudings kom ’n vertakkende netwerk van bande met vele andere. Daarin neem nie alleen homoseksueles deel nie, maar ook heteroseksueles, en nie alleen ongetroudes nie, maar ook getroudes. Binne sulke vriendskapsverhoudings kan jy ook saamleef, en woon- of leefgemeenskappe vorm. Selfs gesinne kan daarin (eventueel tydelik) deelneem of hulle minstens oopmaak in die rigting van homoseksueles en ander ongetroudes.
Keuse tussen Verkeerdes←⤒🔗
Ek besef dat baie hiervan idealisties lyk. Maar daar is in die wêreld kerke en Christelike gemeenskappe waar dit regtig so werk. Dit is soms maar net ’n kwessie van dit waaraan jy gewoond is en wat jy bereid is om saam aan te leer. Tegelykertyd erken ek dat die realiteit ook baie keer heeltemal anders is. En vir sommige homoseksueles kan dit lei tot onoplosbare probleme. As hulle in so ʼn situasie kies vir ʼn meer eksklusiewe vriendskapsverhoudings en daarin opreg wil afsien van seksuele omgang, moet die kerk dit dra. Wel pleit ek daarvoor dat hulle “’n openbare belofte van onthouding” aflê. Daarmee vra jy hulp van God, gee jy verantwoording na buite en beskerm jy mekaar. Soms is die beter ding so ver weg dat ons die mindere nie heeltemal moet negeer nie. As dit maar duidelik bly dat dit hier gaan oor ʼn – altyd tydelike – noodmaatreël.
Maar ʼn verder reikende keuse tussen die kwade lyk vir my binne die kerk op hierdie punt nie aanvaarbaar nie. Sommige vergelyk dit met ʼn volgende huwelik na ʼn egskeiding. As dit in bepaalde ernstige gebroke situasies nie mag nie, maar dit word tog aangegaan, berus die kerk soms daarin as ʼn “mindere kwaad”. Tog sien ek ʼn deurslaggewende verskil. By so ʼn volgende huwelik kan wel die beslissings om te trou verkeerd wees, maar is die getroud-wees op sigself ʼn struktuur wat pas by God se bedoeling. Maar ʼn volledige homoseksuele verhouding stry juis as sodanig met God se wil. As jy daarvoor kies, kies jy dus vir ʼn situasie van “in sonde leef”. Daarom sien ek hier ʼn grens aan die moontlikhede om in gebroke situasies kompromieë aan te gaan. Die “minder verkeerd” rondom die vorming van homoseksuele verhoudings mag volgens my nooit verder reik as ʼn berusting in ʼn tydelike vriendskapsverhouding op voorwaarde van ʼn gelofte van onthouding nie. Daarmee blyk jy saam in ere te hou dat God se lewensroeping vir homoseksueles eintlik verder reik en daarna verlang dat binne die kerk daaraan meer vorm gegee kan word.