Die Beloftes van die Verbond
Die Beloftes van die Verbond
Ons het so pas gehoor dat die beloftes van die HERE God alle verbondkinders toekom, sonder onderskeid, vir almal wat hulle op die ‘verbondserf’ bevind, wat deel is van die gemeente van God.
Maar wat omvat hierdie beloftes van die genadeverbond dan presies? Waaroor gaan dit in hierdie beloftes?
Daaroor moet nou helderheid verkry word uit die Skrif. Want ook op hierdie punt wil ons ons vanuit die staanspoor laat onderrig deur die God van die verbond self. Hy is die Oprigter van die verbond, wat nie alleen die raamwerk, die verbande van die verbond vasstel nie, maar wat ook die beloftes van die verbond bepaal. Wat het die HERE in sy verbond aan die bondelinge belowe? Watter goedere, seëninge of weldade is in hierdie belofte verpak?
Die ‘moederbelofte’ van Genesis 3, soos ons reeds verneem het, gaan oor verlossing, bevryding uit die magte van die bose en die kwaad, uit die bedreiging van die dood en verderf en die weer in die gemeenskap van vrede met die Skepper stel deur die saad van die vrou. Eintlik lê alle heil reeds daarin vervat.
Dit blyk nog duideliker wanneer God in Abram se tyd die verbond in meer besonderhede omskryf. God belowe om hom tot ʼn groot volk te maak, om hom te seën en tot ʼn seën te maak vir alle geslagte op aarde (Genesis 12:2 e.v.). God belowe om vir hom ʼn skild te wees, hom ʼn nageslag en ʼn eie land te gee (Genesis 15:1, 5; 17:8). In Genesis 17 word dit alles as volg saamgevat in ʼn neutedop: ‘Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte tot ʼn ewige verbond, om vir jou en jou nageslag ʼn God te wees’ (v. 7, vgl. v. 8b).
‘Ewige’ verbond beteken nie: ʼn verbond van ewigheid nie, omdat die HERE God vir Abram sê dat Hy nou hierdie verbond met hom instel of oprig. Hy stel hierdie verbond ook nie in as ʼn verbond ‘van ewigheid’ nie, maar ‘tot ʼn ewige verbond’. Hier beteken ‘ewig’ dan ook: ʼn hegte, vir ewig durende verbond, waarop ʼn mens kan vertrou. Dit gaan voortbestaan deur die tye wat kom en dit lê veranker in die trou van God. ‘…die duursaamheid van hierdie verbondsgemeenskap word in die ewige karakter daarvan oor die nageslag deur die eeue heen aangegee.’
In hierdie belofte ‘om vir jou en jou nageslag ʼn God te wees’, lê alles, alle heil vir tyd en ewigheid opgesluit. Die belofte van die verbond omvat die vergewing van sondes, die heropname in God se gemeenskap van vrede en versoening, die deel hê aan sy genade en liefde, die gawe, inwoning van en inwerking deur die Heilige Gees, die regverdigende en heiligende krag van die die geloof, die ewige oorwinning en heerlikheid.
Met en in die belofte van die genadeverbond skenk die Here Homself aan die bondeling, en Hy is die hoogste Goed. Dit gaan in die beloftes ten diepste om ʼn ‘drievoudige genade’; naamlik dié van regverdiging, heiliging en ewige heerlikheid. God gee ons in die belofte volkome saligheid vir nou, en binnekort die volledige verlossing in die Here Jesus Christus deur die Heilige Gees. Alle heil is in die beloftes van die verbond vervat en daar is geen heil buite hierdie beloftes nie!
Al God se heil het dus ʼn belofte-karakter. Dit kom op geen ander manier van God af na ons toe nie dan slegs langs die weg van ʼn belofte. God het na aan ons gekom met sy beloftes. En vir ‘belowe’ word daar ook woorde gebruik soos: toegesê, skenk, gee, bied, aanbied, offer. Die beloofde heil word dan ook op geen ander manier gerealiseer as deur in hierdie beloftes van God te glo nie, hierdie toesegging van Hom te aanvaar, die geskenk vir onsself toe te eien, dit wat aan ons oorhandig word aan te neem, dit wat vir ons aangebied word te aanvaar, te ontvang. Maar oor hierdie toeëiening en deelagtigmaking sal ons later breedvoeriger skryf.