Die Beker en Tafel by die Nagmaal
Die Beker en Tafel by die Nagmaal
Om die beker-teken by die nagmaal goed te begryp, moet ook ander Skrifgetuienis rakende die beker in ag geneem word. In Johannes 6:54-55 staan:
Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys en my bloed is waarlik drank.
Hierdie verse spreek nie direk oor die nagmaal nie, maar is wel van belang vir die nagmaal. Jesus gebruik immers hier 'n uitdrukking wat onmiskenbaar by die nagmaal aansluiting vind, naamlik om "sy vlees te eet en sy bloed te drink".
In aansluiting by die uitstekende artikel van prof. L. Floor oor Johannes 6 en die nagmaal (Koers 1990:67-77), die volgende: Jesus sê hierdie woorde net na die vermeerdering van die brode (Johannes 6:1-15) en sy wandeling op die see (6:16-21). In antwoord op die skare wat weer na Hom toe kom om kos te kry, wys Hy hulle daarop dat die verlossing wat Hy gee nie maar net liggaamlik is, soos die manna wat hulle voorouers in die woestyn ontvang het om hulle net tydelik aan die lewe te hou nie (vs. 31,49). Jesus self is die ware brood van die lewe (vs. 48, 51). Om die ewige lewe te ontvang, moet húlle Jesus se vlees eet en sy bloed drink (vs. 54, 55).
Hierdie woorde gebruik Jesus dus as beeld/simbool om na die volkome en innige gemeenskap met Hom te verwys: die gemeenskap met Christus is so innig asof ons sy vlees geëet en sy bloed gedrink het. Hierdie innige verborge lewensgemeenskap met Hom kom tot stand deur die geloof, 'n gemeenskap wat in die Nagmaal sigbaar voorgestel en plegtig verseker word.
Hierdie gedeelte stel dus die beginsel dat ons wesensdeel is met die versoeningswerk van die Here Jesus Christus. Dit word uitgebeeld deur die eet en drink van die tekens by die sakrament, wat die simbole is van Jesus se liggaam en bloed.
In Handelinge 2:42, 46 word nie na die beker verwys nie, maar dit het tog implikasies vir die nagmaal. Daar staan:
En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en die breking van die brood en die gebede… En daagliks het hulle eendragtig in die tempel volhard en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet.
Te midde van verskillende interpretasies of Handelinge 2:42, 46 na die Nagmaal verwys of nie, is dit duidelik dat die breek van die brood in hierdie twee verse in direkte verband gestel word met "volharding, gemeenskap en eendragtigheid". Hierdeur word aangetoon dat die breking van die brood minstens die gevoelswaarde van gemeenskapsbelewing gedra het.
Hierdie gevoelswaarde moet dus ook aan die breking van die brood van die nagmaal verbind word, waaruit die gemeenskapskarakter van die nagmaal bevestig word.
Verder is dit belangrik dat die breking van die brood "van huis tot huis" plaasgevind het Tog is dit uit Handelinge 2:46; 5:12 duidelik dat al die gelowiges by die tempel saamgekom het. Blykbaar sou dit byeenkomste van meer as 3000 gelowiges wees. Dit blyk egter uit die gedeeltes soos Handelinge 2:42, 46 dat die belewing van die gemeenskap nie van sulke groot samekomste afhanklik was nie, maar dit het in kleiner gemeenskappe "van huis tot huis" plaasgevind.
In 1 Korintiërs 10:14-22 staan die bekende woorde:
Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood… Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die demone nie.
Hierdie gedeelte staan in die groter konteks van Paulus se woorde op die Korinthiërs se vraag of hulle van die afgode se offervleis mag eet al dan nie (8:1-10:33). Die besondere bydrae van die perikoop tot Paulus se argumente is dat hy daarin aantoon dat 'n mens nie by 'n religieuse maaltyd van enige aard kan gaan aansit sonder om daardeur gemeenskap te beoefen en te betuig nie. Waar hy in vers 16-17 oor die nagmaal skryf, doen hy dit dan nie om iets nuuts oor die nagmaal as sodanig mee te deel nie; maar uitgaande van die nagmaal as 'n bekende maaltyd by sy lesers, gebruik hy dit as 'n basis vir vergelyking waarvandaan hy sy standpunt ten opsigte van die heidense offermaaltye verduidelik.
In die gedeelte vergelyk Paulus die offermaaltye van die afgode (waaroor die hele hoofstuk) met twee ander (vir sy lesers) bekende maaltye, naamlik die nagmaal en die Ou Testamentiese offermaaltye. Dit doen hy in verse 14-18. Daarna gee hy 'n interpretasie van die vergelyking in verse 19-22, naamlik dat afgodediens beteken om gemeenskap met die demone te hê.
Ten opsigte van die brood by die nagmaal, bring hierdie verse die volgende na vore:
-
dat die nagmaalsganger deur die eet en drink van die brood en die beker, sy gemeenskap met Christus ondubbelsinnig verklaar;
- dat die brood by die nagmaal van nog 'n ander gemeenskap getuig, naamlik 'n gemeenskap van die gelowiges.
Hiermee weerlê Paulus 'n argument wat die Korinthiërs ook sou kon gebruik, naamlik dat hulle as individue by die etenstafel in die afgodstempels sou gaan aansit. Hy maak egter die punt duidelik: as jy saam eet, assosieer jy jou onweerlegbaar met jou tafelgenote. So is dit immers by die nagmaal.
Tersake Getuienis oor die Beker by die Nagmaal⤒🔗
Die "beker" word in die Nuwe Testament in letterlike en figuurlike sin gebruik. Letterlik verwys dit na 'n drinkbeker wat in die Palestynse huis 'n gewone gebruiksartikel was (bv. Lukas 11:39). Dit was 'n erdebak wat volgens tipies Oosterse gebruik volgemaak op die tafel gestaan het. Daar is onsekerheid of daar by etes gemeenskaplik uit die beker gedrink is.
Soos die breek van die brood destyds 'n bepaalde gevoelswaarde gehad het, was dit ook die geval met die drinkbeker. Hierdie gevoelswaarde kom na vore in 'n figuurlike betekenis wat ontleen is aan die Ou Testament. In die Ou Testament word meermale verwys na die beker in die hand van die Here (bv. Psalm 75:9), gewoonlik as heenwysing na die Here se beskikking oor die mense se lewe. In die Here se hand kan 'n beker van toorn wees (bv. Jesaja 51:17; Openbaring 14:10) of 'n beker van lyding (bv. Matteus 26:39, 42). Dit kan egter ook 'n beker van verlossing wees (Psalm 116:13), só vol blyke van die Here se genade, dat die begenadigde se beker oorloop (Psalm 23:5). In aansluiting by die beker van verlossing wat die Here vir sy volk by Egipte verhef het, is die beker (letterlik) van danksegging (dus: tog ook met figuurlike betekenis) by die Pasga gedrink; by die nagmaal word die beker van danksegging gedrink uit dank vir die verlossing wat God in Christus bewerk het.
Hieruit is dit duidelik dat die drinkbeker by die nagmaal wel 'n gewone gebruiksartikel is, maar beslis ook figuurlike betekenis dra: dit wys heen na God se beskikking oor die mens: die genadige verlossing wat Hy in Christus bewerk het
Samevatting oor Beker←⤒🔗
Die genitief "van die Here" kan besitter aandui (die beker wat aan die Here behoort). In die lig van wat hierbo genoem is, moet dit eerder beskou word as subjektiewe genitief (die Here gee die beker), of objektiewe genitief (die beker verwys na die Here), of genitief van verhouding (die beker stel 'n mens in 'n bepaalde verhouding met die Here).
Die Beker as Simbool van Gemeenskap←↰⤒🔗
Die verhouding waarin die nagmaalganger met die Here gestel is, is die van "koinonia". Met die woord dui Paulus "gemeenskap" in die sin van "onlosmaaklike verbondenheid" aan. Dit is belangrik om daarop te let dat die beker nie die bloed van Christus versimboliseer nie (sy bloed word deur die wyn versimboliseer), maar die gemeenskap met sy bloed. Daarmee sluit Paulus aan by die betekenis wat die Here self aan die nagmaalsbeker verleen het, naamlik dat dit "die nuwe verbond van sy bloed" aandui: die gemeenskaplike beker dui aan dat almal deel het aan die een bloedstorting van Christus aan die kruis. Die gemeenskap met die beker van Christus is dus simbool van gemeenskap tussen die mens wat uit die beker drink en die vrug van die dood van Christus, naamlik die vergewing van sondes en die versoening met God.
Net soos die brood (vers 17) getuig die beker by die nagmaal van die gemeenskap van die gelowiges. Dat vers 17 nie na die beker verwys nie, kan nie as argument gebruik word om te beweer dat die beker nie van so 'n gemeenskap sou getuig nie. Inteendeel, die verloop van die perikoop dui daarop dat Paulus hier van 'n doelbewuste verwysing gebruik maak: die tweede been van 'n verwagte parallellisme word verswyg. In vers 16 het hy die duidelike parallelle betekenis van beker en brood gestel. Dit lei tot die verwagting dat hy dieselfde parallel in vers 17 gaan stel. Hy doen dit egter nie – nie omdat die parallel nie bestaan nie, maar omdat die leser vanuit die voorafgaande parallel in sy gedagtes die parallel moet raak sien (vgl. ook Romeine 8:12). Die bedoeling van vers 17 is dus duidelik dat, net soos die brood, ook die beker van die gemeenskap van die gelowiges getuig.
Die Beker van die Demone←↰⤒🔗
Paulus verwys in vers 21 na die beker van die demone. Sover bekend was daar in Korintiese afgodstempels nie 'n fisiese "beker van die demone" gedrink nie. Die woorde is egter 'n verwysing na alle handelinge wat met afgodediens verband hou, wat in vers 20 aan die demone verbind is. Dus: wie gemeenskap met die gekruisigde Jesus Christus het (soos in die nagmaal uitgebeeld en beseël word), kan nie te doen hê met aktiwiteite wat met afgodediens verband hou (dit is die beker van die demone drink) nie.
Die beker (asook die brood) is deur die Here by die nagmaal gegee as simbool (teken en seël) van gemeenskap met die dood van Christus tot vergewing van sondes en versoening met God; dit wil sê as simbool van die nuwe verbond in sy bloed. Daarom, wie die beker van die nagmaal drink, getuig daarmee dat hy hom met die betekende saak vereenselwig, naamlik dat hy gemeenskap het met die een en enige soenoffer van Christus aan die kruis. Daarom ontvang die nagmaalsganger die beker en brood nie op indifferente wyse nie maar tot lofprysing van God, terwyl sy hart in dankbaarheid na God opgaan.
Skrifgetuienis oor die Tafel←⤒🔗
In die Afrikaanse vertaling kom die woord "tafel" op verskeie plekke voor sonder dat dit in die oorspronklike Grieks voorkom. Tog kom die Griekse woord vir "tafel" drie keer uitdruklik voor met die betrekking tot die nagmaal.
-
By die instelling van die nagmaal (Lukas 22:21) sê Jesus: "Maar kyk, die hand van hom wat my verraai, is by my aan die tafel".
-
In Lukas 22:29-30 word na die "tafel" verwys as deel van die nagmaal se belofte-verwysing na die hiernamaals (eskatologiese boodskap): "En Ek beskik vir julle ʼn koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel". Dus: die feit dat julle nou op aarde kan aansit "aan my tafel", is teken en seël dat julle ook in my hemelse koninkryk eendag sal aansit saam met my aan my koningstafel.
-
Die derde keer is in 1 Korintiërs 10:21 "Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die demone nie; julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die demone nie".
Hier word die nagmaalsviering dus uitdruklik beskryf as "deel hê aan die tafel van die Here". Daarom kan aanvaar word dat die "tafel van die demone", net soos "die beker van die demone" waarskynlik nie letterlik opgeneem moet word nie, maar figuurlik. Dit is duidelik uit die verband dat Paulus daarmee verwys na die offermaaltye in die heidentempels. Die punt wat Paulus maak, is dat Christene wat aan die heidense offermaaltye gaan deelneem, daarmee onmiskenbaar getuig dat hulle gemeenskap met die offer en met die heidene het.
Getuienis←⤒🔗
Hy vergelyk dit dan met die tafel van die Here. Om deel te hê aan die tafel van die Here beteken om aan die nagmaal van die Here deel te neem. Wie by die tafel van die Here gaan aansit, dit wil sê aan sy nagmaal gaan deelneem, is nie maar net met 'n maaltyd besig nie, maar met 'n getuienis – 'n getuienis van gemeenskap met die gekruisigde (liggaam van) Christus en getuienis van gemeenskap met die gelowiges. 'n Mens kan nie onverskillig aan die nagmaal deel hê nie. Dit is onteenseglik 'n aktiewe daad van getuienis.
Nêrens in die Skrif is daar direkte liturgiese voorskrifte dat die nagmaalsgangers by 'n fisiese tafel (van watter aard ook al) aangesit of aangelê moet word nie. Die Here het egter die nagmaal onteenseglik ingestel as 'n maaltyd waarby gelowiges moet saam kom. By die maaltyd gaan dit nie bloot om dit wat geëet en gedrink word nie. Deur aan die maaltyd deel te neem, is die nagmaalsganger aktief besig met 'n daad van getuienis en verkondiging. Deur deelname aan die maaltyd word getuig van persoonlike onderlinge geestelike gemeenskap van almal wat om die maaltyd vergader is. Deur deelname aan die maaltyd getuig en verkondig die nagmaalsgangers hulle gemeenskap met die kruisoffer van Christus.
Liturgies behoort die nagmaal dan so ingeklee te word dat dit op die duidelikste moontlike manier as 'n maaltyd sigbaar is en dat die deelnemers se deelname op die duidelikste moontlike manier 'n getuienis en verkondiging sal wees van:
-
hulle onderlinge gemeenskap
-
hulle gemeenskap met die kruisoffer van Christus.