Bron: De Reformatie, 1998. 5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Begin van ons Heiligmaking

man en kruis

Die werk van die Heilige Gees in die heiliging van ons lewe het die laaste tyd in ons kringe baie aandag gekry. Daar word baie gepraat en geskryf oor die voortgang van die vernuwende werk van die Gees by die kinders van God. Wie hom deur die Gees laat lei, kan van Hom baie verwag. In die lewe van ʼn Christen is daar nie ʼn status quo nie. Die lewe wat die Gees in ons werk, verdiep en verbreed dit. Daar word met nadruk daarop gewys dat daar by ʼn Christen groei kan, en moet wees. Praat Paulus dan nie van verander word na die beeld van Christus, “van heerlikheid tot heerlikheid” nie (2 Korintiërs 3:18)? En roep Petrus nie op tot “heilig word” “in jul hele lewenswandel” (1 Petrus 1:15) en tot “toeneem in … genade en kennis” (2 Petrus 3:18) nie?

By al die spreke oor geloofsgroei, hoe noodsaaklik ook, het ek tog die begin van die werk van die Heilige Gees in ons gemis. Ek wil in enkele artikels hierdie begin behandel. As ons die Heilige Gees as die groot Lewendmaker en Vernuwer wil eer, sal daar steeds weer oor die aanvang van sy werk in ons gepraat moet word. Want dit is juis die aanvang wat ons leer hoe uitnemend groot sy krag is vir ons wat glo (lees Efesiërs 1:17-19).

As die Gees van Christus🔗

Ons belydenis skryf die heiliging van ons hart en lewe toe aan die Heilige Gees. Sondag 8 van die Heidelbergse Kategismus praat van ‘God die Heilige Gees en ons heiligmaking’. In Artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) word die Heilige Gees ‘ons Heiligmaker’ genoem. En wanneer die Dordtse Leerreëls (DL) oor die bekering van die mens handel, word in Hoofstuk III/IV die werk van die Gees nadruklik bely. In die Skrif kom die heiliging en vernuwing van mense na ons, as die werk van God se Gees. In Psalm 51 verbind Dawid die skepping van ’n rein hart met die Heilige Gees. Die Here beloof aan Israel: “Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:27). In Romeine 8:1-17 beskryf Paulus die Christelike lewe as ’n lewe “in” en “na” die Gees. Dieselfde apostel getuig van die “heiligmaking van die Gees” (2 Tessalonisense 2:13). Hoeseer die heiligmaking ook al as die werk van die Heilige Gees geëer moet word, mag ons egter nie Christus uit die oog verloor nie. Hy is die Verlosser wat álles vir ons verwerf het. Ook by die heiliging gaan dit oor ’n geskenk wat ons uit sy hand ontvang. Hy het vir ons nie net geregtigheid geword nie, maar ook heiligmaking (lees 1 Korintiërs 1:30).

Wie oor die vernuwing van ons lewe praat, sal altyd by Christus moet begin. Hy het die heil vir ons verwerf. Dit is ook Hy wat ons daaraan deel gee. Agter die koms van die groot Lewendmaker op Pinkster, staan Christus (lees Handelinge 2:33). Die Gees wat in harte en lewens werk, is die Gees “van Christus” (Romeine 8:9). Dit is die Gees wat Hom deur Christus laat stuur om mense deel te gee aan alles wat hulle in Christus het.

Bybel

Dit tref ons telkens hoedat die Heidelbergse Kategismus (HK) vanuit Christus oor hierdie werk van die Gees spreek. Dit is Christus wat ons, deur sy Heilige Gees, van die ewige lewe verseker en bereid maak om vir Hom te lewe (HK Antwoord 1). Dit is Christus wat ons met sy Woord en Gees regeer (HK Antwoord 31), wat sy Gees na ons toe stuur (HK Antwoord 49), wat deur sy Gees en Woord sy gemeente vergader (HK Antwoord 54), wat ons deur sy Gees tot sy beeld vernuwe (HK Antwoord 86).

Die Gees gryp ons hart aan🔗

Wanneer dit in die Skrif oor die verandering van mense gaan, kom die hart byna altyd ter sprake. Mens moet ’n ander, ʼn ‘nuwe’ hart kry. Die hart van die mens kom in die Skrif na vore as die sentrum van sy gevoel, sy wil, sy denke en sy handel. Die Spreukedigter sê: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Die hele lewe kom op uit ons hart. Wat ons wil doen, word in ons hart beraam. Deur die sonde het ons hart verdorwe geword. Die kwaad het die sentrum van ons lewe aangetas. Daarom is wat ons hart voortbring “sleg” van ons jeug af (Genesis 8:21). Ons hart is “bedrieglik ... bo alle dinge, ja, verdorwe” (Jeremia 17:9). Ons het “verkeerd van hart” geword (Spreuke 17:20), hardnekkig en weerstandig (Handelinge 7:51). Die sonde het nie aan die buitekant van ons persoon gebly nie; dit is “gegrif op die tafel van [ons] hart” (Jeremia 17:1).

Dit is dan ook hierdie verdorwe hart wat deur die Heilige Gees aangegryp word wanneer Hy ons vernuwe na die ‘beeld’ van Christus. Die begin van ons heiliging bestaan daarin dat die Heilige Gees ons hart verander, vernuwe, radikaal omkeer. Die Skrif dui hierdie radikale verandering op verskillende, tekenende maniere aan. Dit praat van “jou hart besny” (Deuteronomium 30:6), “die onbesnedenheid van julle hart ... verwyder ” (Jeremia 4:4) en “die hart van klip ... verwyder en ... ʼn hart van vlees gee” (Esegiël 11:19). Dawid bid vir ʼn “rein hart” (Psalm 51:12). En die Here beloof om ’n hart te gee om Hom te vrees (Jeremia 32:39) en Hom te ken (Jeremia 24:7). Die weerklank hiervan vind ons waar die DL met die bekering van die mens handel. By hierdie bekering verlig die Heilige Gees nie net ons verstand en vernuwe ons wil nie, maar Hy werk in ons hart (DL III/IV, 12). Hy open die geslote hart, versag die verharde hart, besny wat onbesnede is (DL III/IV, 11). Teenoor die Remonstrantse gedagte dat God by die bekering ’n vriendelike beroep op ons doen en inwerk op ons gevoel, bely die DL ’n ander, veel kragtiger en goddeliker werking van die Heilige Gees: Hy gee 'n nuwe hart en ’n nuwe gees in ons binneste (DL III/IV, Verwerping van die Dwalings 7).

Ons hart word deur die vinger van God (Lukas 11:20) geraak en vernuwe. A.A. van Ruler noem ‘die aanraking’ die groot deel in die leer van die Heilige Gees.1  Soos versoening die geheimenis in die leer van Christus is, só is die aanraking dit in die leer van die Heilige Gees. In die Gees raak God self ons aan in ons hart, in die sentrum van ons lewe en só verander Hy ons. Met hierdie aanraking begin ons heiligmaking. Hierdie aanraking gaan al ons geloof en al ons liefde tot die Here vooraf. Ons staan hier voor die diepste geheim van die bekering van ’n mens. Dit kan nie nader beskryf word nie. Daar is iets onnaspeurlik aan die werk van die Heilige Gees in die verandering van ons hart. Ons staan voor ’n aanbiddelike wonder, waarvan ons saam met die DL moet bely: “Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God” (DL III/IV, 12).

Wanneer die Heilige Gees met sy vernuwende werk in die lewe van God se kinders begin, kom woon Hy in hulle hart. Hierdie inwoning van die Gees is die agtergrond van alles wat Hy aan die kinders van God doen. Die Gees is op Pinkster uitgestort om by ons in te woon. Nie maar net ’n Goddelike krag is in ons besig nie; God sélf het ons hart betrek as die invalsplek vir sy vernuwende werk. Ons kry ’n inwoner in die sentrum van ons persoonlikheid! Niemand anders nie as God self, naamlik God die Heilige Gees, woon by ons in. Ons kan moontlik saam met Jodocus van Lodensteijn sê dat die hele Drie-eenheid op dié manier en in die krag van die Heilige Gees by ons inwoon.2  Paulus praat herhaaldelik oor hierdie inwoning van die Heilige Gees (1 Korintiërs 3:16; 6:19; 2 Timoteus 1:14). Deur hierdie inwoning word die individuele gelowige (1 Korintiërs 6:19) én die hele gemeente (2 Korintiërs 6:16; Efesiërs 2:21) tempel van die Heilige Gees. Die uitdrukking ‘inwoon’ wys op die innerlike en blywende. Volgens die woord van Christus is die Gees ‘in’ ons en ‘bly’ by ons (Johannes 14:17).

hart van klip

Só word die heilshistoriese voortgang gekarakteriseer.3  Ons lees nie in die Ou Testament dat die Gees in die harte van die gelowiges ‘woon’ en dat hulle sy tempel is nie. Dit is die weelde van die nuwe verbond in die bloed van Christus. Die God wat in tabernakel en tempel gewoon het, kom woon nou in die harte van sy kinders (2 Korintiërs 6:16). Inniger en innerliker kan dit nie! Die Heilige en Verhewene ‘bly’ by ons en is ‘in’ ons.

Die wedergeboorte🔗

Vir die werk van die Heilige Gees in en aan God se kinders word in die Skrif verskillende aanduidings gebruik. Daar is sprake van roep, verlig, bekeer, vernuwe, reinig, heilig en heilig maak. In hulle dogmatiese besinning het gereformeerdes die begin van die vernuwende werk van die Gees, die wedergeboorte genoem. Praat die Here Jesus dan nie van “gebore word” uit die Gees (Johannes 3:5) en die apostel Johannes oor “gebore” wees uit God nie? En noem Petrus nie die gelowiges “wedergebore” uit onverganklike saad nie (1 Petrus 1:23)? Daar is baie voor te sê om die begin van die werk van die Gees in ons, so te noem. Meer as ander aanduidings in die Skrif, bepaal ‘wedergeboorte’ ons by die radikale aspek van die werk van die Gees. Om die koninkryk van God in te gaan, moet ons opnuut gebore word. Ons moet totaal ander mense word. Daar is niks minder nie as ʼn geboorte, ʼn geboorte opnuut, nodig om geloof en gehoorsaamheid by ons te kan vind.

Onmiskenbaar gebruik die DL die woord ‘wedergeboorte’ vir die aanvang van die vernuwende werk van die Heilige Gees (DL III/IV, 11, 12), maar dit mag ons nie ontgaan dat ons belydenis die woord ook in ruimer sin gebruik nie. Dit wys dan op die voortgaande werk van die Gees in die vernuwing van ons lewe. Só sê Artikel 24 van die NGB dat die ware geloof die mens weergebore laat word en tot ʼn nuwe mens maak.4

Die vraag ontstaan nou: wat hou dié begin van die werk van God, wat ons wedergeboorte noem, in? Oor watter verandering gaan dit? A. Kuyper het hom in die besonder met dié vraag besig gehou. Wie Kuyper se beskouing lees, moet nie vergeet nie dat dit by Kuyper gegaan het om met alle hoogmoed by mense weg te doen en die prioriteit van God se werk in die lig te stel.

Vir Kuyper gaan dit by die lewendmaking van ons hart oor die inplanting van die nuwe lewe,5  die beginsel van ʼn nuwe lewe,6  die plant van ʼn kiem van die lewe7 of van die geloofsvermoë,8 die inbring van ‘iets’,9  die verbinding van ons siel met die lewensbeginsel van die Heilige Gees.10 Hoewel Kuyper daarmee nie dink aan ʼn substansiële verandering nie,11  kan sy terminologie wel so ʼn gedagte in die hand werk. Sy verwysing na die inbring van ʼn ‘lewenskiem’12  laat die vraag onstaan of mens dan nog reg laat geskied aan die wonder van ons wedergeboorte as ʼn geestelike ommekeer van ons hart.

Ek sluit dus eerder aan by die DL wanneer dit probeer om die wonder van die wedergeboorte nader te omskryf. Die DL bely dat dit gaan oor die open van die geslote hart, versagting van wat hard is en besnyding van wat onbesnede was (DL II/IV, 11), oor vernuwing, opwekking uit die dood en lewendmaking (DL II/IV, 12). Wanneer die Heilige Gees ons wederbaar, gryp Hy ons in die sentrum van ons lewe aan, open Hy, vernuwe Hy ons hart en wek Hy ons op uit die dood en maak ons lewend.

By ons besinning oor wat die Gees by die aanvang van ons heiliging doen, moet ons voor oë hou dat Hy ook die Gees is wat van die Vader uitgaan. Hier is die belydenis van die drie-eenheid van God ook van beslissende betekenis! Die Gees eerbiedig die skeppingswerk van die Vader. Die heiligmaking maak nie hierdie werk van die Vader tot niet nie, maar verlos dit van die sonde en dood en herstel dit na die bedoeling van God. Die DL erken dit in die manier waarop dit sê wat by ons wedergeboorte met ons wil gebeur: die Heilige Gees maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam (DL III/IV, 11).13  Die Heilige Gees gryp aan wat deur die sonde bedorwe geword het, maar bewerk nie ’n geheel nuwe skepping, ’n tweede skepping nie. Dit geld nie net vir ons wil nie, maar vir alles wat my ’n unieke persoonlikheid, hierdie mens, maak. Saam met Bavinck kan ons sê dat by die wedergeboorte die kontinuïteit van ons eie ek, van ons natuur, met al die vermoëns en kragte daarvan, gehandhaaf word.14  Op wonderbare wyse laat die Gees dit alles in plek, terwyl Hy vernuwe en heilig. Ek bly ‘ek’, maar word tog radikaal anders!

graf

Hierdie radikale vernuwing van ons hart beteken nie dat daar nie meer sonde in ons binneste is nie. Ons is wel verlos van die heerskappy en slawerny van die sonde (DL, V, 1), maar daar bly nog oorblyfsels van die inwonende sonde in ons (DL V, 3). Ons het ook as wedergeborenes nog ’n sondige natuur, waarteen ons ons lewe lank moet stry (Heidelbergse Kategismus, Antwoord 56). Paulus ken die stryd tussen ‘gees’ en ‘vlees (Romeine 7:14-26; Galásiërs 5:16, 17) en roep op tot aflegging van die ‘ou mens’ (Efésiërs 4:22).

Calvyn en die ou Gereformeerdes het in die verband van wedergebore ‘deel’ en ’n onwedergebore ‘deel’ in die gelowige gepraat. A. Kuyper praat van ’n wedergebore ‘kern’ en ’n onwedergebore ‘omtrek’.15  Maar in die Skrif vind ons hiervoor geen aanduiding nie. Ons ‘hart’ word vernuwe, en ‘ons’ word weergebore. Dit gaan oor ’n verandering van die hele mens in die sentrum van sy persoonlikheid. W.H. Velema sê tereg: “Die problematiek van oud en nuut in één hart kan nie antropologies en terminologies helder gestel word nie”.16  Ons het ʼn ‘nuwe hart’, maar tog roer ons ‘verdorwe aard’ nog daar. ‘Oud’ en ‘nuut’ staan ewewel nie op gelyke voet naas mekaar nie (Romeine 6:6 en 7:17). Ons het die gesindheid van die Gees (Romeine 8:5) en die “sin van Christus” (1 Korintiërs 2:16); ook al ken ons die begeertes van die vlees. Dit is veelseggend dat die DL praat van die ‘oorblyfsel” van die sonde in ons!

Ons moet ook daaraan dink dat die vernuwing van ons hart ’n voortgaande werk van die Heilige Gees is. Ons wórd verander na die beeld van Christus (vgl. Kolossense 3:9). Die wedergebore Dawid bid vir ’n rein hart (Psalm 51:12). Ook die gelowiges kan, vanweë ‘die boosheid wat ons nog aankleef’ (Heidelbergse Kategismus Antwoord 126), nie sonder dié gebed nie:

“Deurgrond, o HEER, en ken die swart,
verborge dieptes van my hart;

of diep in my, waar U kan lees,
'n skadelike weg mog wees.
En lei voortaan my wank'le skrede
tog op die weg van eewge vrede” Psalm 139 vers 12.

Endnotes🔗

  1. ^ A.A. van Ruler, Theologisch Werk, VI, Nijkerk 1973, p. 21.
  2. ^ Vgl. A.A. van Ruler, a.w., p. 15. Van Ruler merk hierby op dat dit die mees verbysterende aspek van die hele pneumatiese grondgedagte is. Ons herinner ons hier die woorde van Christus: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).
  3. ^ Vgl. Jonggil Buyn, The Holy Spirit was not yet, Kampen 1992, p. 190: “This ‘indwelling’ of the Holy Spirit is something new which characterizes the N.T. Church. For, though he exercised various kinds of works in them, we do not read anywhere in the Bible that the Holy Spirit dwelt in the believers of the O.T.”.
  4. ^ Die Nederlandse Geloofsbelydenis gebruik ‘weergebore wees’ óók vir die aanvang van God se werk in ons, vgl. Artikel 35: “Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind”. D.J. de Groot, De Wedergeboorte, Kampen 1952, merk hierby op: “Die leer van die wedergeboorte in enger sin, wat die wese van die saak betref, was dus nie ‘n uitvindsel van sewentiende eeuse dogmatici wat wat skolastiese onderskeidings nagejaag het nie. Ook die Reformatore en die oudste simboliese geskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar ’n werking van die Heilige Gees in die hart van die sondaar waardeur Hy dit prinsipiëel verander, sodat hy die roepstem van die Evangelie kan hoor en kan glo. Hulle het ook hierdie werking en verandering ‘wedergeboorte’ genoem, al het hulle nagelaat om dit skerp te begrens teenoor die voortgaande vernuwing vasn die mens” (p. 192).
  5. ^ A. Kuyper, Het werk van den Heilige Geest, Kampen 1927, p. 375, p. 380.
  6. ^ A. Kuyper, a.w., p. 379.
  7. ^ A. Kuyper, a.w., p. 561.
  8. ^ A. Kuyper, a.w., p. 393.
  9. ^ A. Kuyper, a.w., p. 382.
  10. ^ A. Kuyper, a.w., p. 391.
  11. ^ Hy skryf: “Die saad van die wedergeboorte is in geen enkele opsig aanwysbaar, tasbaar of waarneembaar nie. dit is suiwer geestelik van aard” (a.w., p. 401).
  12. ^ Die spreke van Kuyper oor die inbring van ʼn ‘lewenskiem’ hang met sy skeppingsleer saam: alle skepsels dra, kragtens hulle skepping deur die Woord, ʼn lewenskiem in hulle om. Vgl. W.H. Velema, De Leer van de Heilige Geest bij Abraham Kuyper, ‘s-Gravenhage 1957, p. 43.
  13. ^ Wanneer die DL in III/IV sê: ‘In die wil stort Hy nuwe eienskappe (Latynse teks: novas qualitates) in’, beteken dit nie dat die Heilige Gees nuwe eienskappe by die geskape wil toevoeg nie. Die formulering kan dalk duideliker wees, maar dit moet duidelik gestel word dat die vaders van Dordt dit hier het teen die beskouing van die Remonstrante dat in die geestelike dood die ‘geestelike gawes’ nie van die wil geskei is nie (vg. DL III/IV, Verwerping van die Dwalings 3). In die voorafgaande paragraaf hoor ons wat hierdie geestelike gawes is. Die Dordtse vaders hou by die standpunt dat die wil nie uit homself die goeie kan voortbring nie. Daarvoor moet God ‘nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitstort’ (DL III/IV, Verwerping van die Dwalings 6). In hulle, moontlik gebrekkige, formulering wou die vaders van Dordt reg laat geskied aan Filippense 2:13: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”. Vgl. wat die teoloë van Hessen voor die sinode gelê het: “Van die verandering van die wil, en van die instorting van nuwe en bonatuurlike kragte en eienskappe daarin, om geestelike en hemelse dinge te verkies en te wil, is daar ’n mooi bewysplaas, Filippense 2:13, Dit is God wat die wil in julle werk” (Acta of Handelingen der Nationale Synode te Dordtrecht, red. J.H. Donners/S.A. van der Hoorn, Leiden, p. 488).
  14. ^ Vgl. H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, IV, Kampen 1930, p. 69
  15. ^ Vgl. A. Kuyper, De Gemeene Gratie, II, Amsterdam-Pretoria, 1903, p.308: “... en as ons uitsluitlik op die verborge ek van ons wese, in die diepste kern van ons persoonlikheid let, dan is wat dood is lewend gemaak, het wat krank was gesond geword, wat onder die toorn was in die glans van die welbehae gekom, en is hierdie ek volkome heilig”. Volgens Kuyper kan ek dan ook nie meer sondig nie. Vgl. ook A. Kuyper, Het werk van den Heiligen Geest.
  16. ^ J. Van Genderen/W.H. Velema, Beknopte gereformeerde dogmatiek, Kampen (1992), p. 595.