In hierdie artikel word die prediking as bediening van die verbond bespreek, asook die werking van die Gees in die verbond, en die plek van geloof in die verbond.

4 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman.

Die Bediening van die Verbond

predikant

Die HERE God het sy verbond opgerig en deur die geskiedenis heen ontplooi, maar Hy sorg dan ook daarvoor dat daar ʼn respons op hierdie verbond van die mensdom kom. Hy staan ook self in vir die bediening van die verbond van genade. Hierdie bediening vind plaas deur verskillende middele:

a. Deur die prediking🔗

Die inhoud van die verbond word in die prediking baie naby en met dringendheid aan die bondelinge gebring. In die prediking vind dan ook die bediening van die verbond, die bediening van versoening plaas. In hierdie prediking ontvou God sy beloftes, dit wat Hy ons toegesê het. Ook sy eise en oproepe klink helder en dringend vir die hoorders op. Die bedreigings word ook net so duidelik voorgestel. Dit gebeur wel altyd in hierdie volgorde. Die HERE begin altyd met sy beloftes, doen op grond daarvan ʼn oproep tot die aanvaarding daarvan en dreig elkeen met die ewige verderf wat sy beloftes en daarmee Homself en die bloed van sy Seun van geen waarde ag nie. So word in die prediking van die genadeverbond die beloftes altyd eerste genoem, volgens die aard van hierdie verbond.

In die prediking steek die versoende God die hand van versoening uit met die bevel om hierdie hand aan te neem; so nie, dan bly daar geen slagoffer meer oor vir die sonde nie. Ons lees hiervan in 2 Korintiërs 5:18 e.v.:

En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

God se belofte sluit sy oproep in.

So beskou, is die prediking as bediening van die verbond en van die versoening die sentrale gebeurtenis in die verbondsomgang van God met ons. God wil ons daardeur bereik, aanspreek en ons sy heil meedeel. Dit gebeur deur middel van die woorde van Skriflesing en Skrifprediking.

God rig Hom deur hierdie verbondsverkondiging tot sy hele verbondsvolk en sonder onderskeid tot alle bondelinge. Want vir hulle is die verbonde en die beloftes (sien Romeine 9:4).

In die Dordtse Leerreëls word hierdie Bybelse gegewens baie kernagtig onder woorde gebring. In Hoofstuk 1 art. 3 staan daar:

Om mense tot die geloof te bring, stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en die geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?Romeine 10:14-15

gemeente

In hoofstuk 2 word dan verder bely: ‘Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof’ (art. 5).

In die prediking bedien God Self deur die prediking sy verbond in al sy rykdom, volheid en erns. Die hele verbond kom in gekonsentreerde vorm in die verkondiging na ons toe. So moet die prediker die verbond, die evangelie, die heil bedien. Dit is aan hom toevertrou. Dit beteken ook dat hy verantwoordelikheid daarvoor dra en dat daar eendag rekenskap van sy diens geëis sal word. Die prediker moet die inhoud van al die beloftes vir die gemeente ontsluit. Hy moet die gemeentelede oproep, ja beveel en gebied om die evangelie aan te neem, hul geloof daarin te stel, hulle tot God te bekeer en hulle met Hom laat versoen. Die prediker moet ook verkondig dat God se toorn rus op elke bondeling en hoorder van die evangelie wat in ongeloof voortleef en hulle daarin verhard ondanks die ontvouing van die belofte en die aandrang van die eise.

So word die verbond in en deur die prediking bedien.

Ons sal binnekort sien dat hierdie verbondsmatige prediking ook ʼn sekere uitwerking het. Deur die prediking van die belofte werk die Heilige Gees die geloof in die belofte. Onder die prediking is daar bondelinge wat in geloof en deur die Gees die beloftes vir hulself gaan toeëien, en in die beloftes ook die heil. So vind die prediking van die verbond weerklank onder die hoorders, die gemeentelede, en vind daar deelagtigmaking van die verbondsheil plaas.

Dit blyk dat nie alle bondelinge ingaan op God se beloftes en eise nie. Hulle wys die evangelie van die hand. Die vrymoedigheid ontbreek nog by hulle om die beloftes vir hulself te laat geld. Ook is daar mense in die gemeente wat hulle nie opreg bekeer nie. Die Bybel ken besnedenes en gedooptes wat die evangelie nie glo nie en hulle nie met God (wil) laat versoen nie. Hulle bly in die mag van die kwaad en in die skuld van hulle sondes gevange. So loop daar ʼn skeiding deur die verbondsvolk, deur die gemeente van die HERE God en onder die geheiligde en uitverkore geroepenes, ʼn skeiding wat blyk uit die reaksies op die prediking van die belofte en roeping deur die evangelie van God. Dit kan die sg. onderskeidende element in prediking genoem word.

In my dissertasie van 1974 het ek hierdie element in die volgende skerp woorde weergegee: ‘In die prediking sal daar binne die beweging van die beloftes en die werking van die Heilige Gees rekening gehou moet word met die Bybelse gegewe dat daar hoorders is wat Christus in geloof aanneem, maar ook hoorders wat Hom in ongeloof verwerp, met al die konsekwensies wat vir beide daaruit voortvloei.’

In ʼn ander publikasie het ek dit op die volgende wyse verwoord: ‘Die gepredikte Woord dring aan op reaksie, op antwoord, en elkeen reageer ook by die aanhoor van die Woord van Christus. Die Bybel laat ons duidelik sien dat een die boodskap verwerp en wegstoot, en dat ʼn ander dieselfde boodskap aanvaar, in sy hart opneem en daar bewaar. Elke ware prediker sal die mense konfronteer met Christus, met die inhoud van die Skrifte. Dit is die Heilige Gees se bedoeling. Die prediking moet die mense dwing tot geloof en bekering en dit kragtig stel dat wie die Seun van God afwys, ook die liefde van God afwys en dat sy toorn op hom sal rus. Die reaksie van die hoorders op die verkondiging mag deur geen predikant verdoesel word nie. Dit is vir of teen Christus. Dit gee ook vandag ʼn indringende karakter aan prediking.’

Die prediking het dus òf die een òf die ander uitwerking op die verbondsvolk, in die gemeente van Christus. Daar vind skeiding plaas tussen bondelinge en bondelinge. So word die verbond bedien. Daar vind positiewe en negatiewe reaksies plaas. Die belofteryke aanbod van die God van die verbond word aanvaar of afgewys. Ook aanvaar, in geloof, met die hart, tot behoud. Hierdie positiewe aanvaarding deur die geloof kan net so goed gesien word as toeëiening of deelagtigmaking deur die Heilige Gees. So vind die voortgaande bediening van die verbond plaas onder en met die prediking deur die werk van die Gees.

b.  Deur die werking van die Gees🔗

Ons wil eers die bediening van die verbond en die verbondsheil van nader beskou in pneumatologiese perspektief, d.w.s. dat dit geskied weens ʼn besondere aktiwiteit van die Heilige Gees. Ook Hy is by die oprigting en voortsetting van die genadeverbond persoonlik en intens betrokke. Hy maak tot ons eiendom wat ons in Christus het (sien die doopformulier). Hy maak ons deelagtig in die heil wat ons beloof en aangebied is. Want toesegging en toeëiening is nie dieselfde nie. Die skenking van die heil is nog nie die deelagtigmaking daarvan nie.

duif

Johannes Calvyn het in sy Institusie (1536 en latere drukke) hom duidelik uitgespreek oor hierdie toeëienende of deelagtigmakende werking van die Heilige Gees.

In die derde boek van sy Institusie skryf hy ‘Oor die wyse waarop die genade van Christus verkry word.’ Aan die begin daarvan laat hy al dadelik blyk dat Christus deur die Gees werk en dat die Gees vir Christus werk. Die Heilige Gees is die band waardeur Christus ons kragdadig aan Hom verbind. Dit is die verborge werking van die Gees waardeur ons Christus en al sy goed geniet. By die skenking, aanbieding en belofte sal ook die toeëiening, aanneming en deelagtigmaking moet bykom, as ons waaragtig wil deel hê aan dit wat aan ons geskenk en beloof is. Hoewel Christus deur die Vader aan almal tot saligheid aangebied en voorgestel word, word Hy tog nie deur almal erken en aangeneem nie. Juis deur die werk van die Gees neem ons die heil aan wat ons aangebied is en kry ons deel aan die saligheid wat geskenk is. So werk die Heilige Gees toepassend en toeëienend in ons harte.

God maak ons self deur sy Gees deelagtig aan die skatte van sy verbond en van die Middelaar van die verbond. In Johannes 16 sê die Here Jesus self dat die Heilige Gees sy volgelinge die weg na die volle waarheid sal wys; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. En dan volg die kernagtige woorde: ‘Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig’ (v. 14).

Die Gees maak tot ons eiendom wat ons in Christus, die Middelaar van die verbond, het; en dit is alles wat ons tot behoud en vernuwing nodig het: wysheid, regverdigheid, heiliging en verlossing (vgl. 1 Korintiërs 1:30).

Hoe maak die Heilige Gees ons dan nou deelagtig aan hierdie heil?

Hy maak daarvoor gebruik van die middele van die genadeverbond: die prediking van die evangelie en die bediening van die sakramente. Ons sou hier kon verwys na die geskiedenis van Filippus en die hofdienaar (Handelinge 8:26-40). ʼn Engel gee die diaken-evangelis Filippus opdrag om die pad te volg wat van Jerusalem na Gasa lei. As die belangrike dienaar van Kandacé dan aangery kom, sê die Gees vir hom: gaan daarheen en bly by daardie wa. Kort voor lank sit Filippus langs die minister van finansies van Ethiopië, terwyl hy vir hom die Skrif uitlê en Jesus aan hom verkondig. Dit bring hierdie minister tot geloof in die Here Jesus, in Wie se Naam hy gedoop word. Die Gees bring die toeëiening of deelagtigmaking van die heil in Christus deur die verkondiging van die Woord tot stand. Ons dink hier ook aan Handelinge 16, waar vertel word dat Paulus in Filippi aankom, enkele dae daar vertoef en op die Sabbat buite die poort, langs die rivier ʼn paar vroue ontmoet, onder wie Lidia, wat besig was om God te aanbid (en wat een van die proseliete was). Hy het met hierdie vroue gepraat, en terwyl hy daarmee besig was, het die Here Lidia se hart geopen om ag te gee op dit wat Paulus gesê het en so tot geloof in die Here Jesus Christus gekom (v. 14 e.v.).

Daarom kan dieselfde Paulus in sy brief aan die Romeine skryf: ‘Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God’ (10:17).

Die bediening van die verbond in deelagtigmaking van die beloofde heil geskied deur die Heilige Gees.

c.  Deur die geloof🔗

Tegelykertyd – en ons hoor dit reeds in Romeine 10 – word die verbondsbeloftes ook ons eiendom deur die geloof.

Ons het al gesien dat die oprigting van die verbond monopleuries is, maar dat die voortgang daarvan bedoel is om dipleuries te wees. Dit beteken dat God van die bondelinge vra om in te willig. Uit die belofte, en volgens die aard van hierdie belofte, vloei die noodsaak voort dat dit gelowig aangeneem moet word. Die genadeverbond wil ons uitdruklik daartoe lei om in geloof in gemeenskap met God en Christus te leef. So is hierdie verbond bestem om in die krag van God bewus en vrywillig deur die bondeling aanvaar en bewaar te word.

mosterdsaad

Dit was veral Martin Luther wat geworstel het met die vraagstuk van hoe om die heil jou eie te maak. ‘Die vrae wat Luther se geestelike en teologiese belangstelling beheers het in die jare voor en tydens sy breuk met die Katolieke dogma en die hiërargie, het ten diepste almal gewentel rondom die vraagstuk van die toeëiening van die heil.’ Luther is daarvan oortuig − deur aanvegtinge en twyfel heen geleer − dat ons nie moet bou op ons gewetens of op goeie werk nie, maar op die Goddelike belofte wat nooit sal wankel nie. Belofte en geloof hou steeds met mekaar verband. In een van sy eerste werke skryf die hervormer van Wittenberg:

Daar waar die woord is van God wat die belofte maak, is immers die geloof nodig van die mens wat hierdie belofte aanneem; sodat dit duidelik is dat die grond van ons behoud die geloof is wat rus op die woord van God wat die belofte maak, wat ondanks al ons inspanning, deur vrywillige en onverdiende barmhartigheid bewoë, eerste na ons kom en die woord van sy belofte vir ons aanbied… Die Woord van God is die eerste van alle dinge, en daarop volg dan die geloof, en op die geloof die liefde… God het Homself nooit op ʼn ander wyse in ʼn verhouding tot die mens gestel as deur die woord van die belofte nie. En omgekeerd is dit so dat ons ons nooit anders in ʼn verhouding tot God kan stel as langs die weg van die geloof in die woord van sy belofte nie.

So het Luther die korrelasie van belofte en geloof allerduideliks gestel. Deur die geloof kry ons deel aan die beloofde heil. Deur die geloof eien ons ons hierdie heil persoonlik toe.

Die geloof is nie ʼn voorwaarde om deel te kry aan die verbond of om die beloftes te ontvang nie, maar dit is die weg waarlangs ons deel kry aan die beloofde heil. Die geloof is ook die eerste en belangrikste ding wat die Gees ons leer by ons inwilliging tot die verbond.

Die Bybel bepaal self hierdie samehang van beloftes en geloof en die volgorde van God wat ons eers alle heil in Christus kom belowe en op grond daarvan beveel om daardie belofte in ware geloof aan te neem, om dit tot ons eiendom te maak, vir onsself te laat geld. Ons lees al daarvan by Abram. Wanneer God met sy belofte na hom toe kom, staan daar dat hy in die HERE geglo het en dat God hom dit tot geregtigheid gereken het (Genesis 15:6, vgl. Romeine 4:18 e.v.; Galasiërs 3:6, 14 en Jakobus 2:23). Die hoofsaak in die verbondsomgang met God is dus dat ons sy beloftes gehoorsaam moet aanvaar en dat die ware diens van God begin by die geloof. Dieselfde verband tref ons ook aan in 2 Korintiërs 1:20, waar ons lees: ‘Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.’

J. van Genderen sê hiervan: ‘Al God se beloftes is in Christus bevestig en ons kan volkome daarop vertrou. God se ja en ons amen hoort bymekaar. Die goddelike ja in Christus is die grond van die gelowige amen deur Christus. As Middelaar bring Hy sondaars deur die werk van sy Gees sover om amen te sê op die belofte van die evangelie. Uit hulself sou hulle nie sover gekom het nie! Alles is uit God: die heilsbeloftes wat in Christus vervul word, en die geloof in die beloftes van God wat deur die Heilige Gees gewerk en versterk word… God se belofte is aan ons gegee, sodat ons geloof daarop gerig sal wees om ons daardeur te laat lei en daaruit te lewe.’

In Hebreërs 6:12 word ons vermaan om langs die weg van geloof en geduld daartoe te kom om die beloftes te beërwe. Vir die bondelinge dreig die gevaar steeds dat ʼn mens wel met sekerheid die Goddelike beloftewoord besit en ken en hoor, maar dat ʼn mens in ongeloof en ongehoor­saamheid jou rug daarop draai. Om die belofte te besit, is nog nie ʼn waarborg vir die ontvangs van die beloofde goedere nie. Die belofte laat nie toe dat ʼn mens veronderstel dat jy deel het aan dit wat beloof is nie. Om deel te hê aan dit wat beloof is, is nie onafhanklik van die beoefening van die geloof en vertroue nie. Daar is vele afskrikwekkende voorbeelde uit Israel se geskiedenis van hoe die bondeling homself deur ongeloof uit die belofte kan uitsluit (sien o.a. Hebreërs 3:7-19, 4:2).

Vir die bondelinge is dit belangrik om die beloftes te omring met geloof, aanvaarding, aanneming en toeëiening. Slegs op hierdie wyse word dit wat beloof is waarlik ons eiendom vir altyd. Maar dit is dan ook heeltemal seker. Iemand wat God se beloftes as betroubaar erken en dit op homself toepas en in geloof aanneem, het ongetwyfeld deel aan die beloofde heil in Christus!