Deur 'n eed aan die Woord gebind
Deur 'n eed aan die Woord gebind
“Ek, die ondergetekende, toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, die Sinode van Dordrecht in die jare 1618 en 1619 aangeneem – ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen dié leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goeder trou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.” (My kursivering – CS)
Dit is die bewoording van die Legitimasie-eed wat alle kandidate onderteken wat tot die bediening toegelaat word in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In feitlik alle ander gereformeerde kerke, klink die eed basies dieselfde. Die inhoud van hierdie eed is gewigtig en tog besonder duidelik. Dit is vir geen misverstand vatbaar nie. Die aspirant-leraar lê voor die Here ’n eed af dat die Drie Formuliere van Eenheid 100% met die Woord ooreenkom en dat hy dit alleen sal verkondig en alles wat daarmee in stryd is, aktief sal bestry. Die leraar lê dus voor die Here ’n eed af dat hy trou gereformeerd sal wees en bly. Oppervlakkig gesien, lyk dit soos ’n stuk konfessionalisme, maar dit is nie! Hier is geen sprake van binding aan kerklike leergesag nie, maar wel binding aan die leer van die Woord van die Here. Let op die woordjie “ooreenkom”…
Die tye waarin ons leef is ongunstig vir volstrekte binding aan die belydenis. Post-moderne religieuse twyfel en relativisme vind so ’n binding te strak. Individualisme verdra geen gemeenskaplike konfessie nie. Die hedendaagse ruimhartige kerklike pluralisme bied gewoon geen ruimte vir één belydenis wat as norm vir geloof en prediking funksioneer nie! Die kerklike vernuwingsdrang ervaar die binding aan die belydenis as ’n baie lastige remskoen. Dit is die klimaat waarin ons vandag kerklik leef. Sommige leraars soek nou “vryheid” teenoor “konfessionalisme”. Die binding aan die belydenis word sonder meer gesien as konfessionalisme. Die Legitimasie-eed word van konfessionalisme verdink. Maar, ís dit? Na my mening is dit ’n valse teenstelling, want IN die binding lê juis die ware vryheid!! Dink maar hoe het Luther daarin vryheid gevind deurdat die doop sy gewete gebind het aan die Woord! Soveel so dat hy die Pous kon veroordeel en die Pouslike ban kon verwerp. Dit was geen ongebonde vryheid nie! Dit was die volmag wat God aan hom verleen het deur die doop. Die volmag van die Woord in al sy rykdom.
Dit is opvallend dat die binding aan die belydenis nie ’n tipies Nederlandse verskynsel is, wat ontstaan het by die Dordtse Sinode (1618-1619) nie. Dit is veel eerder eg reformatories en dateer vanuit die dae van die Reformasie. Tydens die Dordtse Sinode het die broeders voorbeelde van ondertekeningsaktes gebruik wat reeds in gebruik was. Tewens, sedert 1574 het die Klassis Walcheren die eed onderteken dat hulle “gelooven en bekennen dat de voorschreven belijdinghe des geloofs…. begrepen in 37 artikelen… den woorde Gods in alle stukken ghelijkformigh is.” Hierdie ondertekening het reeds in 1571 plaasgevind tydens die gereformeerde sinode van Emden. Die praktyk het toe reeds bestaan, want in 1563, slegs 2 jaar nadat Guido de Brès die Nederlandse Geloofsbelydenis geskryf het, het die sinode van Armentières dit (die NGB) reeds onderteken. Die kerk van Genève het in 1561 reeds sy predikante aan die ware leer van die Woord gebind en die Franse kerke in 1559. Dit was ook die geval in Duitsland in die 16de eeu.
Belydenisbinding het sy wortels in die breë reformatoriese kerkgemeenskap van die 16de eeu. Geen wonder dat Maarten Luther die binding aan die belydenis bestempel het as ’n “daad van geestelike vryheid” nie. In 1574 verbaas iemand soos Gaspar van der Heyden hom daaroor dat sommige predikante in Delft nog nie die afspraak van die sinode van Emden nagekom het om hul aan die belydenis te bind nie. “Hoe zouden toch zij, die nu weigeren de belijdenis met ink te onderschrijven, haar met hun bloed bezegelen?” O ja, binding aan die Waarheid van die Woord was ’n saak van lewe en dood. Dit is ondenkbaar dat die gereformeerde martelare op brandstapels kon klim ter wille van ’n stuk konfessionalisme!! Op geen manier het hulle menslike geskrifte gelykgestel met die Woord nie. Nee, die belydenis het hulle juis aan die Woord gebind! Binding aan die belydenis is binding aan die ware leer van die Woord. Vir die martelare was daar absoluut geen onderskeid tussen Belydenisbinding en persoonlike navolging van Christus nie. Juis dit is eg gereformeerd! Juis in die toegespitste gehoorsaamheid van die geloof, waartoe die Here ons roep in die doop (Luther), vind ons die ware Christelike vryheid.
Maar daar is iets meer. Hierdie binding is die grondslag van ware kerklike eenheid. Die legitimasie-eed word die grondslag van gemeenskap met ander wat één is in dieselfde geloof. So kom kerkverband spontaan tot stand. Hierdie eenheid rus in die dieperliggende feit dat die belydenis ’n suiwere weerspieëling is van die Woord. Geen wonder dat ons praat van “Drie Formuliere van EENHEID” nie. Die belydenis se krag tot eenheid berus op sy ooreenstemming met die Woord. Word die binding aan die belydenis losgelaat, word die eenheid verbreek en word die kerk gerysmier met honderde (soms teenstrydige) standpunte. Is dit nie presies wat vandag gebeur nie?! Die binding aan die belydenis perk dus nie vryheid in nie, maar wys juis die weg van vryheid aan! Dit hou die kerk by die Woord. Dit beskerm die leraars en gemeentes teen hul eie dwaalsiek hart. Dit bewaar die kerk van die individualistiese insigte van sommige leraars. Dit hou die kerk by die gesonde Apostoliese leer. Dit bevry die kerk om selfs die marteldood te sterf as dit moet….
*Met erkenning aan JW van der Jagt vir sy artikel Voor het leven getekend in: Nader Bekeken. November 1998. Aan die einde van die artikel verskyn ’n goeie bronnelys.