Is daar behoefte aan ’n Nuwe Belydenisskrif?
Is daar behoefte aan ’n Nuwe Belydenisskrif?
Verskillende onlangse gebeure laat die besef posvat dat ons aan die vooraand van die geboorte van ’n nuwe belydenisskrif staan. Hierdie artikel is geskryf voor die ontstaan van die. Belhar-belydenis, en moet so gelees word.
Ek dink hier aan die Belhar-konsepbelydenis (1982) van die NG Sendingkerk en aan die Kairos-dokument (1985) wat wêreldwyd opspraak verwek het. Mens sou ook kon dink aan die beroemde Barmen-verklaring (1934) wat die Belydende Kerk in Duitsland kort voor die uitbreek van die tweede Wêreldoorlog uitgereik het – hoewel dit nie die status van ’n offisiële belydenisskrif besit nie. Meer geslaagd was die United Presbyterian Church in the USA met hulle veelbesproke Confession of 1967. Minder geslaagd was die Proeve van een eenparig geloofsgetuienis (1974) deur professore H.N. Ridderbos en G.C. Berkouwer. Dit is in opdrag van die Sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland opgestel. Juis hierdie laaste mislukte proeflopie het die besef opnuut tuisgebring hoeveel waarheid daar in die bewering steek dat ’n belydenisskrif nie “gemaak” nie, maar “gebore” word. Opvallend is ook die besonder groot plek wat aan die boodskap van versoening in die jongste (proef-)belydenisskrifte gegee word.
’n Vanselfsprekende vraag is of daar werklik ’n behoefte aan ’n nuwe belydenisskrif bestaan? Is dit werklik nodig? Is die mooi reformatoriese belydenisskrifte dan uitgedien? Watter motiewe speel hier ’n rol?
Motiewe⤒🔗
Kyk ons na die verskillende motiewe, blyk dit gou dat hier tussen goeie en slegte motiewe onderskei moet word. ’n Slegte motief is dat ons huidige belydenisskrifte heeltemal uitgedien, ouderwets, histories-bepaald en onaktueel sou wees.
Daar is egter ook ander en meer verantwoorde motiewe waarvan ek enkele van die belangrikste uitlig.
- Dit is ’n feit dat die kerk van God telkens voor nuwe uitdagings te staan kom. Nuwe antwoorde moet daarop gegee word. Die probleme van die twintigste eeu is anders as die van die vierde of sestiende eeue. Vraagstukke soos atoomoorlog, omgewingsbesoedeling, oorbevolking, wêreldarmoede en energiebronne-uitputting was vroeër nie bekend nie. Nié dat al hierdie vraagstukke in ’n nuwe belydenisskrif ter sprake moet kom nie. In ’n belydenisskrif hoort slegs dit wat noodsaaklik bely moet word. Vir sover bogenoemde sake egter in verband staan met die koms van die koninkryk van God, is hulle inderdaad ter sake. Die verhouding van die kerk en sy gerigtheid op die wêreld is hier van groot belang.
- Daar het in die loop van die kerkgeskiedenis dikwels nuwe dwalinge ontstaan wat afgewys moet word. Dit is wel waar dat ou dwalinge net in nuwe gedaantes na vore tree. Tog kan nie ontken word dat núwe dwalinge ontstaan het en telkens weer ontstaan. Hier kan gedink word aan die God-is-dood-teologie, (aspekte van) die Teologie van die Rewolusie, Afrika-godsdienste, Marxisme-as-heilsweg en apartheid-as-heilsweg.
- Nuwe eksegese het aspekte van die Godsopenbaring na vore gebring, Sedert die sestiende eeu het daar ontsaglik veel Skrifstudie en Skrifondersoek plaasgevind. Dit is eenvoudig ondenkbaar dat daar nie nuwe insigte opgespoor sou word nie. In Joh 16:13 het Christus trouens belowe dat die Heilige Gees “toekomstige dinge” aan die kerk sal verkondig. Hier kan daarop gewys word dat die Bybelse leer oor die koninkryk van God, oor die sending en oor Israel in ons huidige belydenisskrifte nie uitgebreide aandag ontvang nie.
- Die motief van, kerkeenheid. Die huidige belydenisskrifte bind kerke saam, byvoorbeeld gereformeerde kerke. Dit funksioneer egter ook as verdelende faktor, byvoorbeeld tussen Gereformeerde en Lutherse kerke. Met die oog op kerkeenheid, wat ’n Bybelse eis is (Joh 10:16, 17:21, Ef 4:4-6), moet dus gestrewe word na ’n eenheidsimbool. Dit moet uiteraard gebaseer wees op die waarheid van die Woord. Belangrik is dat só ’n belydenisskrif die produk van interkerklike samewerking moet wees. Veral tussen ou en jong kerke, aangesien ons slegs saam met al die gelowiges ’n begrip van die omvattende liefde van Christus (Ef 3:18) kry. In ’n sekere sin beskik ons natuurlik rééds oor so ’n ekumeniese belydenisskrif in die Twaalf Artikels. Dit is waarskynlik te kompak om werklik as hegte samebindende simbool te dien.
- Die kerklike motief: Dit lê in die aard van die kerk as kerk dat dit ’n belydenis- én belydende gemeenskap is. Telkens weer bely die kerk (= gelowiges) sy geloof in nuwe omstandighede te midde van nuwe gevare en nuwe uitdagings. Dan is dit dikwels nie nodig om nuwe dinge te bely nie, maar om die ou dinge op ’n nuwe manier te bely.
←⤒🔗
Agenda←⤒🔗
Is dit noodsaaklik dat aan sekere aspekte van die Bybelse openbaring konkrete aandag bestee moet word? Myns insiens wel. Ek noem enkeles:
- Die Skrifleer staan vandag in die branding, en roep om besondere aandag. In ons gereformeerde belydenisskrifte gee feitlik net die Nederlandse Geloofsbelydenis daaraan aandag. In die Heidelbergse Kategismus ontvang dit min aandag en in die Dordtse Leerreëls ontbreek dit.
- Die leer oor Christus, veral oor die verlossing/bevryding en versoening staan in die brandpunt.
- Die kerkleer (eenheid, ekumene, sending, roeping, kerkregering) vra om herbesinning.
- Die leer oor die koninkryk van God (toekomsleer) vra besondere aandag. As een van die sentrale temas van die ganse Bybelse boodskap roep dit om uitgebreider en 'n meer noukeurige simboolvorming. In die sestiende eeu was dit veral ’n stryd om ware en valse geloof – gevolglik ware en valse kerk. In die twintigste eeu spits die stryd toe op ware en valse koninkryk.
Aanvulling of vervanging←⤒🔗
’n Laaste belangrike vraag is of so ’n eventuele nuwe belydenisskrif die bestaande belydenisskrifte moet vervang of aanvul. Hierdie vraag is werklik nie eenvoudig nie, en daaroor bestaan ook heelwat meningsverskil. Myns insiens moet ons die antwoord in die volgende rigting soek. Gestel dit sou moontlik wees om in ’n toekomstige nuwe belydenisskrif, naas nuwe punte, ook al die wesentlike aspekte van die bestaande belydenisskrifte op te neem, dan sou vervanging ter sprake kon kom. Ons bestaande belydenisskrifte is te vol ou goud om sommerso oorboord gegooi te word. Word egter nie daarin geslaag om een omvattende simbool op te stel nie, spreek dit vanself dat aanvulling en uitbouing van die bestaande die enigste alternatief is.
’n Nuwe belydenisskrif? ’n Confession Africana selfs? Dit lyk my nie net onvermydelik nie maar inderdaad ook wenslik.