1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus se Sondelose Menslike Natuur

die mens

Ons het die eerste twee van vyf waarhede wat oor Christus se menslike natuur geglo moet word gestel. Ons het gekyk na die wonderlike leer dat Hy ʼn ware en volkome menslike natuur het. Ons behandel nou die belangrike waarheid dat Christus ʼn sondelose menslike natuur het.

Dat Christus sonder sonde is, word die duidelikste in Hebreërs 4:15 geleer, maar ook in Jesaja 53:9, Lukas 1:35 en 2 Korinthiërs 5:21. Hebreërs 4:15 laat ewewel die vraag ontstaan of Christus, omdat Hy in alle opsigte versoek is net soos ons, wel kón sondig. Met ander woorde, beteken die sondeloosheid van Christus bloot dat Hy nie gesondig het nie, of beteken dit dat Hy nie kon sondig nie?

Sommiges het gesê dat die versoeking van Christus net werklik kon wees as dit vir Hom in sy menslike natuur moontlik was om te sondig; dat Hy nie gesondig het nie net omdat Hy ook God was. Teenoor die leer moet ons beklemtoon dat dit vir Hom nie moontlik was om te sondig nie. Ons moet onthou dat dit nie ʼn natuur is wat sondig nie, maar die persoon, en Christus is net een persoon, die Seun van God. As ʼn goddelike persoon kon Hy nie sondig nie. Om te sê dat dit vir Hom moontlik was om te sondig, is om te sê dat God kon sondig, want persoonlik, selfs in ons menslike natuur, is Hy die ewige Seun van God. Dit, so glo ons, is een van die waarhede wat in 2 Korinthiërs 5:21, waar daar staan dat Hy geen sonde geken het nie, en in Hebreërs 7:26 wat sê dat Hy “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” is.

Dat Christus sonder sonde was, beteken ook dat Hy sonder die erfsonde, die sonde wat ons van Adam het (Rom. 5:12), was. Ook in dié opsig was Hy smetteloos. Die maagdelike geboorte van Jesus en die feit dat God sy Vader is, ook die Vader van sy menslike natuur, is die waarborg dat Christus alleen, van al die afstammelinge van Adam, rein en heilig gebore is.

Nie alleen het Hy geen erfsonde gehad nie; Hy het ook nie werklike sonde gehad nie. Van sy geboorte af, deur sy hele lewe, het Christus nooit die wet van God oortree nie, nooit in die minste gefaal nie, en nooit ʼn woord gespreek wat ydel was of wat God nie verheerlik het nie. Hy was volmaak.

Kortom beteken sy sondeloosheid dus dat Hy sonder erfsonde, sonder werklike sonde en sonder die moontlikheid van sonde was. Dit, soos Hebreërs leer, is die rede waarom Hy ons Verlosser kon wees.

As die sondelose het Hy nie nodig gehad om elke dag eers vir sy eie sondes offers te bring nie, maar kon Hy vir ons die volmaakte offer bring (Heb. 7:27). Só kon Hy in ons plek sonde gemaak word, sodat ons die geregtigheid van God in Hom kan word (2 Kor. 5:21).

Die sondeloosheid van Christus is dus die waarborg dat sy geregtigheid volmaak is, en dat dié geregtigheid vir ons is. Niks wat Hy aan die kruis verkry het, het Hy self nodig gehad nie, Hy het dit vir ons verdien; vir ons wat die allergrootste behoefte daaraan het.