1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus se Nederige Geboorte

krib

Die omstandighede van Christus se geboorte is byna al wat ons van sy vroeë lewe weet. Dit word gekenmerk deur armoede, verwerping, swaarkry en vervolging. Betlehem, die stal, die krip, die doeke, die skaapherders, die vlug na Egipte — alles vertel dieselfde droewe verhaal.

Waarom word die verhaal van sy geboorte in soveel besonderhede vertel, en waarom is daar soveel klem op sy nederige geboorte? Die rede is dat sy geboorte die eerste stap in sy staat van vernedering was. Reeds by sy geboorte behandel God Hom om ons ontwil soos ʼn skuldige sondaar.

Die verhaal word nie vertel om simpatie te wek of om ons te oortuig dat niemand ooit soveel armoede en verwerping soos Hy ervaar het nie. Die verhaal is nie een met ʼn maatskaplike sedeles of ʼn oproep vir maatskaplike verandering en vir die beëindiging van armoede en lyding nie. Dit is deel van die evangelie en word in die Skrif verhaal om aan te toon dat Christus die Saligmaker is.

Die Skrif gee self die rede vir sy nederige geboorte wanneer dit sê dat Hy “wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak [is], sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Die nederigheid, vernedering en armoede was deel van sy lyding as die Een wat die sondes van sy volk gedra het om hulle te verlos.

In 2 Korinthiërs 8:9 word dit baie duidelik geleer: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word”. Daar is geen twyfel daaroor dat sy armoede na sy vleeswording en die omstandighede daarvan verwys nie. Dit, sê die Woord van God, het gebeur sodat ons deur sy armoede ryk kan word, nie aan aardse rykdom nie, maar aan die rykdom van hemelse seëninge wat daar in Hom is (Ef. 1:3).

Sy lyding, al sy lyding, is ons redding. Sy vernedering is ons verhoging, sy nederigheid is ons heerlikheid. Hy was nie net aan die kruis ons Verlosser nie, maar sy lewe lank. Wat ʼn Verlosser!

Dit was noodsaaklik dat Hy van sy geboorte af ons saligmaker sou wees. Net soos ons in sonde, ongeregtigheid en verdorwenheid gebore is (Ps. 51:7), só moes Hy reeds met lyding as straf vir ons sonde, gebore word. Net soos ons hele lewe, van geboorte tot sterwe, onder die heerskappy van die sonde is, so moet ons hele lewe van dié heerskappy bevry word deur die lyding van sý lewe, wat in sy vernedering, smart en bloedstorting aan die kruis die hoogtepunt bereik het.

Die verhaal van sy geboorte is dus nie bloot ʼn aangrypende storie of  ʼn saak van vroom sentiment nie; dit is die evangelie. Wanneer ons van sy geboorte hoor, sê ons saam met die gryse Simeon toe Hy die kindjie Jesus sien: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — ʼn lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel” (Luk. 2:29-32).