Christus en die Prediking
Christus en die Prediking
Die belangrikste ding wat die Bybel oor prediking sê, is dat die volk van God daarin die stem van Christus self hoor. In Johannes 10:27 sê Christus dat ons sy stem moet hoor en gehoorsaam.
Dit is ook uit ander Skrifgedeeltes duidelik dat ons sy stem in die prediking hoor (Rom. 1:16, 17; Rom. 10:13, 14; 1 Kor. 1:18, 23, 24; Ef. 2:17). In Efesiërs 2:17, byvoorbeeld, is dit Christus wat die evangelie van vrede aan Jode én heidene kom verkondig het. Self in die Ou Testament was dit die Gees van Christus wat deur die profete gespreek het (1 Pet. 1:10, 11).
Dit is van die allergrootste belang. As Christus nie deur die prediking spreek nie, sal niemand ooit deur die prediking van die evangelie tot redding kom nie. Geen stem van ʼnmens kan sondaars oordeel en hulle tot bekering lei nie. Net die stem van Christus kan dit doen. Niemand anders as Christus het die krag om sondaars te bekeer en hulle na God te bring nie (Joh. 10:27).
Christus spreek deur die prediking en laat sy stem daarin hoor, daarom is die evangelie “ ʼn krag van God tot redding” (Rom. 1:16). Die evangelie ís inderdaad “Christus, die krag van God en die wysheid van God” (1 Kor. 1:23, 24).
Dat dit Christus is wat deur die evangelie spreek, verklaar ook waarom die evangelie altyd ʼn tweeledige uitwerking het. Dit red, én dit verhard. Dit is ʼn geur van die lewe, maar ook van die dood (1 Kor. 2:14-16). Niemand kan só naby aan Christus kom, en neutraal bly nie. Hy sal óf, deur die genade van God, daardie stem liefhê en begeer om dit altyd te hoor, óf die geklank daarvan haat en sy ore en hart daarvoor sluit (Jes. 6:9, 10).
Mense wat deur ongeloof struikel, struikel daarom oor Christus. Wanneer die evangelie gepreek word soos dit hoort, is Hy is die steen des aanstoots en die rots van struikeling, nie die predikant nie.
Verskeie dinge is nodig sodat Christus deur die evangelieprediking gehoor kan word. Eerstens moet net die Skrifte gepreek word. Net die skrifte, en hulle alleen, is die Woord van Christus aan sy volk. Staaltjies, grappe, vermaak en die predikant se eie gedagtes, hoe waardevol ook al, is in ʼn preek van geen nut nie. Die Woord alleen moet gepreek word.
Tweedens moet die prediking verklarend wees. Dit is ʼn ander manier om te sê dat dit die Woord is wat gepreek moet word. Soveel prediking is vandag nie verklarend nie. ʼn Paar mooi gedagtes word aan ʼn teks uit die Skrif gehang, maar die Skrif self word nooit verduidelik, en die betrokke teks nooit verklaar nie.
Derdens moet die predikant, soos reeds gesê, gestuur wees (Rom. 10:15), dit wil sê, gemagtig en georden deur die kerk van Christus (Hand. 13:1-4. Let daarop dat stuur deur die kerk in vers 4 gelyk gestel word aan stuur deur die Heilige gees). As die predikant nie gestuur is nie, het nóg hyself, nóg sy gehoor enige versekering dat Christus hom sal gebruik en deur hom sal spreek nie.
Mag God gee dat die stem van Christus weer in die kerke gehoor word.