Christus is die vrugbare wynstok
Christus is die vrugbare wynstok
Enkele opmerkings oor die prediking vanuit Johannes 15:1-17⤒🔗
Elkeen wat geroep is om te preek wil dit graag met vrug doen. Resultate is belangrik. Prediking moet “effektief” wees. Op sig is dit natuurlik nie onbelangrik om vrug op die prediking te verwag nie. Dit is ook nie verkeerd nie. Prediking is tog niks minder nie as die Lewende God wat die hart van verlore sondaars soek nie. As ons daarvan uitgaan, is prediking sekerlik nie ‘n roep in die wind nie. Dit is God se manier om elkeen wat die prediking glo, te red. Vrugbaarheid en prediking gaan hand aan hand.
Waarin soek ons egter hierdie vrugbare prediking? Antwoorde is legio. Soms is dit die persoonlikheid van die predikant wat die resultate waarborg. Indien hy ‘n hartlike en toeganklike mens is, kan hy verwag dat mense na hom sal luister. In van die meer resente preekkunde word baie gemaak van die predikant se funksie om sy plek te gaan inneem in die midde van die gemeente en nie “van bo” (van God se kant) na die gemeente te kom nie. Sy woorde moet ‘n verwoording wees van die worsteling en die vrae van die gemeente, eerder as God se boodskap vir ‘n wêreld in vyandskap teen Hom. ‘n Ander antwoord kry ons uit die wêreld van die moderne kommunikasiekunde. Daar lê volgens talle teorieë geen probleem in die hoorders van die boodskap nie. Veel eerder lê die probleem by die prediking as monoloog wat verouderd is of die boodskap self wat vreemd is aan die leefwêreld van die moderne mens.
In Johannes 15 gee Christus self die waarborg vir vrugbare prediking. Hy wys na Homself as waarborg. En Hy mag na Homself wys, want sy getuienis oor Homself is waar (Joh. 8:14). Jesus wys ook na sy Vader as landbouer. Hierdie Landbouer sorg vir ‘n vrugbare wynstok. Hierdie gesprek oor die vrugbare wynstok, is deel van Jesus se afskeidsgesprekke met sy apostels. Hy sou na sy sterwe en opstanding opvaar na die hemel. Hulle moes daarna die wêreld ingaan met die verkondiging van die evangelie. Die vraag wat die apostels moes oorweldig het was: hoe kan ons die wêreld ingaan met ‘n boodskap van ‘n Dienskneg wat ander se voete was (Joh. 13:7-10). Veral in die lig van al die weerstand teen Christus. Aan die einde van Johannes 14 kom die groot teëstander van Christus ter sprake – die owerste van hierdie wêreld wat niks met Christus te doen wil hê nie.
Juis in die lig hiervan praat Jesus dan oor Homself as die ware en vrugbare wynstok en die Vader as die landbouer. Die Een wat vrug op hierdie aarde gee, is die hemelse Landbouer. Die Vader van ons Here Jesus Christus. Hy het hier op aarde ‘n Wynstok kom plant wat nie sonder vrug kan of sal bly nie. Daarom noem Jesus ook Homself die “ware” (alèthinos) wynstok. Dit verwys hier na die “waaragtigheid” of betroubaarheid van die Landbouer en sy Wynstok. Met hierdie beeld van die wynstok, wil Jesus duidelik maak wat in die toekoms (ná sy hemelvaart) die verhouding tussen Hom en sy apostels sal wees. Hy laat sien waarin die waarborg vir die toekoms van die apostoliese kerk lê.
Die apostels is die ranke en Jesus self die wingerdstok. Die ranke wat nie vrug dra nie, neem Hy weg. Dit het reeds met Judas Iskariot gebeur. Van die twaalf “ranke”, bly net elf oor (Joh. 13:21-30)! Die vrugbare lote (die elf apostels) het egter ook behandeling nodig. Hulle moet skoon gemaak word, sodat hulle meer vrug kan dra (Joh. 15:2). Deur die woord wat Jesus tot hulle gespreek het, is hulle reeds skoon (15:3). Daar is nog werk aan hulle te doen. Net later daardie aand sal dit nog duidelik word wanneer Jesus gevange geneem word (Joh. 18) en Jesus brutaal deur Petrus verloën word.
Petrus (en die ander apostels) se wegvlug van Jesus sal gelukkig nie die laaste woord wees nie. Daarom dat Jesus hulle nou reeds die regte pad wys : “Bly in my soos Ek in julle” (15:4). Hulle sal geen vrug kan dra, as hulle nie bly in die Wynstok wat net later die aand gevang, verhoor en sonder skuld veroordeel sou word nie. Sonder Hom kan hulle niks doen nie. Geen vrug op hulle werk is enigsins te wagte sonder Hom nie. Elkeen wat in Hom nie bly nie, beland uiteindelik in die vuur om verbrand te word (15:6). Wie is egter die ware dissipels van Jesus? Wie is die ware lote wat die ware vrug sal dra? Hulle wat in Hom bly en sy woorde in hulle (15:7)! Hulle sal die Vader vra net wat hulle wil hê en hulle sal dit verkry.
Hier lê die waarborg vir vrug op ons prediking steeds vandag! Prediking van die woorde van Christus. Prediking van Christus. Die Christus as die een wat gekom het om te ly en te sterf en op te staan vir die sondes van die wêreld (Joh. 3:16). Hy is die Woord wat vlees geword het, sodat sy woorde in sy kerk op aarde kan bly. Hierdie woorde van Christus moet in ons bly as ons kerk van Christus wil bly. Dit is ware apostoliese kerk-wees: Wanneer ons bly in die woorde van Christus (15:7). Woorde wat Hy eenmaal oorgelewer het aan die apostels sodat ons vandag daaruit kan leef en dit steeds verkondig. Daarin word al ons waarborge gegee. Waarborge vir vrug op ons prediking. Waarborge vir groei in die kerk en vir die bewaring van die kerk. Elke kerk wat met haar prediking in die woorde van Christus nie bly nie, sal uitgekap word uit die wingerd uit. Ons glo aan een christelike / apostoliese kerk. Die kerk wat met haar prediking in Christus bly. Hierdie kerk sal nie verdor nie, maar baie vrug dra. Snoeiwerk mag dringend noodsaaklik wees! Vir hierdie kerk is daar toekoms. Die toekoms saam met Christus en sy Gees op aarde tot Hy weer kom. Die vrugbaarheid van die Wynstok is self die waarborg!