Bron: Die Kerkblad, 2008. 4 bladsye.

Calvyn 'n Moordenaar?

Calvyn

Die redaksie het ‘n baie lang brief van Louis Viljoen van Kroondal ontvang waarin hy Calvyn as ‘n “dubbele moordenaar” en as teologiese dwaalgees tipeer. Omdat die brief te lank vir publikasie is, word die kern daarvan hier kortliks vir ons lesers saamgevat:

Calvyn word daarvan beskuldig dat hy (mede)oorsaak was van die teregstelling van die mediese dokter Jacques Gruet en Michael Servetus — asook talle Anabaptiste — omdat hulle dit durf waag het om Calvyn te kritiseer. Verder: om Calvyn 'n "uitstekende eksegeet" te noem, is "uiters misplaas". Sy Insitutsie dra wel die stempel van "groot intellektuele vermoë, maar nie van geestelike rypheid nie". Calvyn aanvaar (foutiewelik) die suigelingdoop en maak "geen melding van die noodsaaklikheid van wedergeboorte" nie. Die Calvinisme neem die verbondsteologie foutiewelik as grondslag en misken so die noodsaaklikheid van wedergeboorte en geloofsdoop. "Dit is ter wille van die verdediging van God se waarheid en karakter dat ons die foutiewe Calvinistiese teologie aan 'n Skriftoets moet onderwerp."

Tot sover die inhoud van die brief. Die redaksie het dit goedgedink om die brief aan 'n Calvynkenner vir beantwoording voor te lê. Die volledige brief is aan prof. Wim van't Spijker, emeritus van die Christelike Gereformeerde Kerke in Nederland (Apeldoorn), deurgestuur en hier volg sy (vertaalde) antwoord:

Die redaksie van Die Kerkblad het 'n brief ontvang met 'n groot aantal beskuldigings aan die adres van Calvyn, die Calvinisme en die Calviniste met hulle foutiewe leerstellings. Die strekking van die brief kom hierop neer dat geloofsleerstellings van die gereformeerde, Calvinistiese kerke berus op dwalings wat stelselmatig die waarheid van God en sy volmaakte wil ontken. Die skerp kritiek kom, soos duidelik blyk, veral voort uit die opvatting van die briefskrywer dat die kinderdoop 'n belangrike oorsaak is van wat hy sien as die verval van die kerk. Die leer van Calvyn kan die toets van die Skrif nie deurstaan nie. Dit moet kom tot 'n herstel en belewing van wedergeboorte en geloofsdoop.

Die groot boosdoener is Calvyn. Sy persoon moet dit allereers ontgeld. Hy is 'n dubbele moordenaar, omdat hy in 1547 Jacques Gruet, en op 27 Oktober 1553 Michael Servet ter dood laat veroordeel het. Bowendien het hy die Anabaptiste die brandstapel opgejaag, of laat verdrink. Iemand met so 'n karakter kan onmoontlik 'n leier van die gereformeerde of Calvinistiese Christendom genoem word.

Hierdie kritiek op Calvyn is besonder skerp geformuleer — om Calvyn 'n moordenaar, 'n dubbele moordenaar, selfs 'n honderdvoudige moordenaar te noem. Veral omdat hy in die naam van godsdiens mede-Christene op die brandstapel laat sterf het of in water laat verdrink het. Wanneer 'n mens dit lees, deins jy terug. Die briefskrywer wil waarskynlik die mense laat wakker skrik. Hulle ken mos nie, soos hy dink, die feite nie. Kennis van die feite word mos stelselmatig vir die kerkvolk verberg. Die skrywer suggereer ook dat studente en kandidate wat aan die Teologiese Skool of Universiteit opgelei word, nie op hoogte is van die geskiedenis nie. Met opset word die geskiedenis rondom Calvyn vir hulle weggesteek, sodat die glans rondom Calvyn se kop nie verduister word nie.

brandstapel

Nee, Calvyn was nie 'n heilige nie. Hy was ook nie 'n Calvinis nie. Hierdie naamsaanduiding het hy ver van hom of weggegooi. Hy was 'n mens soos ons. In sy optrede was daar dinge wat hy anders moes gesê of anders moes gedoen het. In die geskiedenis met Servet is Calvyn nie silwerskoon nie. En wat Gruet betref, sy saak het soos die van Servet 'n uitgesproke politieke kant gehad. Die verhoudings in Genève was van so 'n aard dat die owerheid minstens so fel, ja stellig feller, in haar optrede en strawwer was as wat Calvyn se bedoeling was.

Wat plaasgevind het, het tot stand gekom deur die opstoking/opruiing van die owerheid, wat ook daarop aangedring het dat Servet op die brandstapel moes sterf. Calvyn het teen 'n voltrekking van die vonnis deur vuur beswaar gemaak. Calvyn kan nie volledig vry gepleit word nie. Maar ons moenie vergeet nie dat die totale Christendom van daardie tyd die vonnis goedgekeur het, omdat die vonnis berus het op die Codex Justinianus wat op loëning van die Drie-eenheid en herhaling van die doop die doodstraf gestel het. Sowel lede van die Roomse Kerk as Protestante was van oordeel dat die ou rykswette gehandhaaf moes word. Daarmee is die dood van Servet nie verdedigbaar nie, maar ons kan die feite ook nie ontken nie.

Dit is opmerklik dat baIe van die eerste reformatore hulle openlik agter die vonnis geskaar het. Dieselfde geld vir die straf wat Gruet ontvang het. Calvyn het nie die bevoegdheid gehad om die aard van die straf te bepaal nie. Die magistraat het dit gedoen en hulle was nie bereid om hulle gesag aan Calvyn of te staan nie. Die hele saak rondom die doodstraf was in Genève baie gevoelig, omdat die reformasie as sodanig in die weegskaal was.

Wat die gebeure self betref, is dit nie soos die skrywer ons wil laat glo nie. Ek is nuuskierig wat die skrywer se bron van die gruwelike teregstelling van Gruet is. Die man is onthoof en daarna het hulle hom gehang. Dit is al erg genoeg. Wil die skrywer meer gruwelverhale en gruweldade van Calvyn lees, dan kan hy dit vind in die geskiedenis wat Bolsec op skrif gestel het en wat in 1631 in Leuven gepubliseer is.

Wat oor Calvyn en die wederdopers geskryf is, is nie juis nie. In Genève is niemand vanweë van sy opvattings oor die doop verbrand of opgehang nie. Die boek van dr. W Balke, Calvijn en de doperseradicalen (Amsterdam, 1973), is vir hierdie doel baie informatief. Egte wederdopers is uit Genève verban. Dit sal vandag nie meer gebeur nie. Maar in daardie tyd is dit gedoen. Waarskynlik kon Calvyn daarmee wel saamleef.

Dit neem nie weg nie dat in daardie tyd 'n groot aantal van hulle wat vroeër Anabaptiste was, niks wou weet van die revolusie en opstand van hulle wat in die dertigerjare van die 16de eeu die Godsryk in Monter wou oprig nie. Dit is vir ons baie moeilik om ons in te leef in die ingrypende gebeurtenisse op maatskaplike en politieke vlak in daardie uiters labiele tyd waarin dit alles kon gebeur het. Maar Calvyn was nie 'n moordenaar nie "wat in die naam van die godsdiens mede-Christene, wat dit gewaag het om Anabaptiste te wees en wat met Calvyn verskil het deur die belydenis van die geloofsdoop, op die brandstapel te laat sterf, of hulle laat verdrink het".

Naas die voorstelling van die feite wat in stryd is met die historiese werklikheid, soos dit uit die bronne herhaaldelik beskryf is, gee die skrywer in sy brief ook te kenne dat by hom wat die teologie van Calvyn betref, elke redelike insig ontbreek. Wat hy daaroor skryf, kan ons die beste as karikatuur aandui. Die volgende noem ek slegs by wyse van samevatting. Die skrywer beweer:

  1. Dit is verkeerd om Calvyn 'n uitstekende eksegeet te noem.
  2. Sy Institusie is 'n produk van groot geestelike vermoë, nie van geestelike rypheid nie.
  3. Calvyn se wedergeboorteberip gaan terug op Roomse opvattings.
  4. Calvyn se teologie is herleefde Augustinianisme.

Institusie🔗

Calvyn se krag lê in sy eksegese🔗

Sy kommentare word tot vandag toe geraadpleeg, omdat hulle op 'n beknopte manier 'n helder insig gee in die teks. Vir hom, die reformator, is 'n mensewoord, 'n menslike insig nie belangrik nie. Beslissend is wat God in sy Woord aan ons sê. Wel kon Calvyn daarby gebruik maak van kennis van die grondtale, Grieks en Hebreeus. Hy was op hoogte van wat Skrifverklaarders uit vroeëre en latere tye geskryf het oor die teks. Hy het kommentare uit die vroed kerk geraadpleeg en was op hoogte van wat reformatore wat hom voorgegaan het, en die uit sy eie omgewing, van die teks gesê het. Hy het die teks van die Skrif altyd gesien as 'n teks vir die prediking. Verklaring en verkondiging behoort by mekaar. Altyd is by hom 'n moment aanwesig waarin hy luister na die teks in sy betekenis vir die vroomheid en die opbou van die geestelike lewe.

Die Institusie van Calvyn word veelal sy beIangrikste werk genoem🔗

Hierdie boek vorm in 'n sekere sin sy lewenswerk. Dit was oorspronklik bedoel as 'n klein leerboekie vir die vervolgde evangelies-gesindes in Frankryk wat heftig vervolg is en gely het. Dit het egter meer en meer 'n hulpmiddel vir die verstaan van die Skrifte geword. En dit word tot vandag toe uitgegee, vertaal en dit bly 'n belangrike bron vir ons kennis van die Christelike geloof. Wie die werk lees, kan deurdring word van die innige en warm vroomheid van Calvyn, wat homself in God se diens gestel het.

Calvyn het die geskrifte van die kerkvaders baie hoog gewaardeer🔗

Hy was daarin tuis soos min ander. So dra sy bydrae tot die geloofsleer 'n duidelike katolieke karakter. Maar dit was nie aan Rome en aan die hiërargiese kerkopvatting van Rome gebind nie. Vir hom was geloof 'n baie persoonlike saak, nie 'n eenvoudige instemming met 'n kerklike leer nie. Die geloof het altyd twee kante: dit soek vergewing in pure genade, en nêrens anders nie; en dit kry die gestalte van die heiliging van die totale lewe. Calvyn se eie bekering was 'n plotselinge gebeurtenis. Sy begrip van die wedergeboorte staan in die teken van die werk van die Heilige Gees, dit is die werking van die Goddelike Woord in die hart en dit word duidelik in 'n lewe wat homself in diens van God se koninkryk stel.

​Inderdaad is Calvyn se opvatting nie anders te verklaar as 'n teken van die kragtige herlewing van die teologie van Augustinus nie🔗

Ook Luther en ander reformatore was onderhewig aan die invloed. Wie weet hoe groot die gedagtegoed van hierdie kerkvader was, wat alle nadruk gelê het op die prioriteit van die genade van God, kan sy invloed alleen maar positief waardeer. Intussen maak die briefskrywer van die ontwikkeling van Augustinus se invloed op Calvyn 'n spotbeeld.

Wie slegs maar enigsins op hoogte is met die ideëwêreld van die Reformasie in die algemeen, en van die teologie van Calvyn in die besonder, sal moet toegee dat die weergawe daarvan, soos ons dit vind in genoemde brief wat die redaksie ontvang het, getuig van 'n skreiende gebrek aan kennis. Die brief is vol van 'n diep wantroue ten opsigte van die onderrig van studente en predikante. Die skrywer beskuldig "evangeliese leiers" daarvan dat hulle die gemeentes mislei deur 'n vals beeld van Calvyn aan te bied. Daarteenoor stel ons dat gemeentes baat kan vind in die onderwys wat God ons mede deur die geskrifte van hierdie reformatore wil leer.

Ons hoef nie in alles met hulle saam te stem nie. Maar mens kan wel erken dat Calvyn tot vandag toe vir mens baie te sê het oor die sake van die koninkryk van God.

doop

Dit is welbekend dat die motief van die kinderdoop 'n groot rol gespeel het in die kritiek op die reformatoriese teologie. Luther, Zwingli en Calvyn het daarmee te doen gekry. Ook al kan mens in die strengste sin van die woord Calvyn nie 'n verbondsteoloog noem nie, het sy opvatting van die eenheid van die ou en nuwe verbond by die ontwikkeling van die gereformeerde tradisie die moontlikheid van 'n kragtige verbondsdenke moontlik gemaak. Intussen vind mens juis in hierdie teologiese stroming geen of weinige uitsprake wat verbond en verkiesing vereenselwig nie.

Die briefskrywer beskuldig Calvyn ten onregte daarvan dat by die oorsaak sou wees van 'n gebrek aan prediking van die noodsaak van geloof, wedergeboorte en bekering.

Ek volstaan met hierdie opmerkings. Ek doen 'n beroep op die skrywer van die hierbo gestelde aantyginge om die egte Calvyn self onbevooroordeeld en sistematies te gaan lees.