7 bladsye.

Burgerlike Ongehoorsaamheid en Politieke Verantwoordelikheid

As ek dit nie mis het nie, wil u my mening oor burgerlike ongehoorsaam­heid hoor, omdat dié saak in u land tans so aktueel is. Eers wil ek graag iets sê oor burgerlike ongehoorsaamheid, om daarna iets op te merk oor die politieke verantwoordelikheid in verband met burgerlike ongehoorsaamheid.

Definisie van burgerlike ongehoorsaamheid🔗

Ek begin met die definisie van burgerlike ongehoorsaamheid wat ek in my boek Politieke verantwoordelijkheid gegee het: “Onder burgerlike ongehoorsaamheid verstaan ek dié demonstratiewe optrede wat doelbe­wus die wet skend om op dwingende - al is dit geweldloos bedoelde - manier verandering in ’n wet of maatreël van die owerheid tot stand te bring.” Hierdie definisie stem ongeveer ooreen met wat vry algemeen onder burgerlike ongehoorsaamheid verstaan word.

Demonstratief🔗

Graag wil ek ’n paar onderdele uit hierdie definisie toelig. Burgerlike ongehoorsaamheid is ’n demonstratiewe optrede. ’n Mens oortree die wet in burgerlike ongehoorsaamheid nie in die geheim, soos byvoor­beeld by ontduiking van belasting, nie. Die weiering om belasting te be­taal, kan egter wel burgerlike ongehoorsaamheid wees. So wou Thoreau (1817-1862) nie stemregbelasting betaal nie, omdat hy gekant was teen die slawerny en die oorlog met Mexiko, waarvan hy gevind het dat dit beide immoreel en in stryd met die Amerikaanse grondwet was. En vandag is daar in Nederland mense wat demonstratief 572 gulde minder aan belasting wil betaal uit protes teen die 572 kernkoppe wat deur die NAVO op die Sowjetunie se gebied gerig word. Juis vanweë die demon­stratiewe karakter van dergelike belastingontduikings, is die ontduiking ’n vorm van burgerlike ongehoorsaamheid.

Dwingend🔗

Burgerlike ongehoorsaamheid word verder gekenmerk deur die dwing­ende manier waarop mense ’n verandering in ’n wet of maatreël van die owerheid tot stand wil bring. Dit gaan dus nie oor rustige protesop­togte waarvan die owerheid via die televisie en pers kan kennis neem nie, maar oor aksies wat vir die owerheid hinderlik moet wees. Mense organiseer sitstakings, slaapstakings en knielstakings, hulle boikot winkeliers en ontwrig die verkeer. Mense betoog sonder toestemming; die protes gaan oor in ’n, vir die owerheid, hinderlike aksie.

Geweldloos🔗

In my definisie word verder genoem dat burgerlike ongehoorsaamheid streef na verandering van ’n wet of maatreël van die owerheid, maar dan op ’n geweldloos bedoelde manier. Opsetlik praat ek van geweld­loos bedoel. Want in die praktyk verloop dit dikwels anders. Daar word wél geweld gebruik. Wie ’n pad blokkeer, kan verwag dat geweld nie sal uitbly nie. Bowendien kan die gevolge van ’n geweldlose aksie net so erg wees as dié van ’n gewelddadige aksie. ’n Geweldlose boikot van winkeliers wat hulle klandisie verloor omdat mense sistematies weier om nog langer by hulle te koop, is noodlottiger as wanneer hulle alleen maar ’n pak slae sou kry.

Verskil van verset bo-gronds en ondergronds🔗

Dit het wel waarde om in die definisie te sê dat geweldloosheid bedoel word, naamlik om dit te onderskei van alle doelbewuste geweld. Om ’n gebou te beset, is ietwat anders as om ’n gebou op te blaas. Daar­van val ’n aksie nie meer onder burgerlike ongehoorsaamheid as ’n mens bedoel om te verniel en te dood nie. Geweldloos bedoelde verset staan teenoor gewapende verset. Vir ’n aksie om onder burgerlike on­gehoorsaamheid te val, moet daar versigtig gewerk word met ander mense se lewens en besittings. So nie het ons te doen met burgerlike of gewapende verset, waarin sabotasie, gewelddadige aksies en guerillametodes ’n rol speel.

Dit is nie moeilik om te sien dat burgerlike ongehoorsaamheid nouliks ’n kans kry onder diktatoriale regimes nie. ln Rusland byvoorbeeld kan geen koerante verskyn wat kritiek op die regering uitoefen nie. ’n Mens kan daar geen aksies van burgerlike ongehoorsaamheid organiseer nie. Protes van andersdenkendes bereik die Weste langs nie-amptelike weë en kan die burgers in die Sowjetunie net via radiosenders vanuit die Weste of langs ander, geheime kanale bereik. Verset is daar dus on­dergrondse verset. En dit moet juis bogronds wees om burgerlike ongehoorsaamheid genoem te word.

Ek kan dit ook korter stel: burgerlike ongehoorsaamheid veronderstel ’n demokratiese besef. Ek sê met opset: demokratiese besef en nie demokratiese struktuur nie. Daar is lande (en ek reken Suid-Afrika daar­by) waarin die demokrasie net gedeeltelik deurgevoer is, terwyl daar tog wel sprake is van ’n demokratiese besef waarin burgers of onder­dane hul stemme kan laat hoor sonder dat hulle protes onmiddellik on­derdruk word. ’n Nie-demokratiese staat is dus nog nie altyd ’n polisiestaat nie.

Ek gee ’n paar voorbeelde van burgerlike ongehoorsaamheid wat die verskil in demokratiese sfeer kan verduidelik.

Voorbeeld uit die geskiedenis van die VSA🔗

Toe die Negers in die Verenigde State, voor en tydens die lewe van Mar­tin Luther King, tot aksies van burgerlike ongehoorsaamheid oorgegaan het, het hulle daarna gestreef dat die gelykheid van alle burgers, wat konstitusioneel vasgelê was en wat ook tot algemene stemreg gelei het, in die praktyk tot uitvoer moes kom. Dit kan wel op papier staan dat alle mense gelyk is, maar dit blyk telkens weer dat (om George Orwell na te praat) sommige mense meer gelyk is as ander! Negers wou bur­gers in volle reg wees, maar as gevolg van allerlei bepalings was dit nie moontlik nie. Die verkryging van eiendom het in hulle geval ’n baie beperkte reg gebly. Verbreek hulle arbeidskontrakte, dan is hulle ‑ anders as die Blankes - in die tronk opgesluit. ln baie kafees en teaters was daar vir hulle geen plek nie. As daar in die openbare lewe deur privaatorganisasies en -persone teen hulle gediskrimineer is, dan kon dit weer nie met die Civil Rights Act teengewerk word nie. ln 1875 het die Geregshof die argument gebruik dat Negers wat uit openbare aan­geleenthede geweer is, deur privaatpersone in hulle regte aangetas is en dat die Kongres van die Verenigde State dus nie bevoeg was om daarteen op te tree nie. Vinnige verandering is bowendien altyd afgekeur met die argument dat sosiale onrus daardeur sou ontstaan.

Van 1875 af sou die stryd voortduur tot diep in hierdie eeu. Pas in 1948 is ’n einde gemaak aan apartheid in die krygsmag. Maar apartheid in die onderwys het bly bestaan, en nie net in privaatskole nie, maar ook in staatskole. Politieke gelykheid is ’n mooi term, maar dit word as huigelagtig ervaar as ’n mens in die openbare lewe nie kan gaan, staan of sit waar jy wil nie. Om daarteen te protesteer, het Rosa Sparks geweier om haar sitplek in ’n bus af te staan aan ’n Blanke man. Die Montgomery-busboikot was die begin van ’n lang reeks aktiwiteite wat oor die hele wêreld bekendheid verwerf het as burgerlike ongehoor­saamheid, veral ook omdat die naam van Martin Luther King onlosmaak­baar daaraan verbonde is. Met sy indringende betoë het hy heelwat gewetens wakker geskud.

Die voorbeeld van Amerikaanse burgerlike ongehoorsaamheid kan ons leer dat hierdie vorm van ongehoorsaamheid sy plek vind in die span­ningsveld tussen ideaal en werklikheid. Die beginsel van gelykheid en gelyke behandeling is die ideaal wat dikwels ook wel in ’n grondwet vasgelê is. Maar die afstand tussen ideaal en werklikheid is altyd daar, en in baie gevalle is dit so groot dat spanning tot ontlading kom.

Die voordeel van die situasie in die Verenigde State was dat daar na afskaffing van die slawerny ’n duidelik demokratiese konstitusie gekom het waarin alle onderdane ook as burgers met gelyke regte gekwalifiseer is. ’n Mens kon in die stryd om burgerregte teruggryp na wat verwerf is. En verder was daar in die Verenigde State so ’n sterk demokratiese gesindheid by baie, dat die spanning tussen ideaal en werklikheid móés afneem.

Gedwonge en natuurlike apartheid🔗

Segregasie sal daar waarskynlik altyd bly bestaan. Daar sal altyd busse bly ry met net Blankes of net Swartes, al is dit dan net in vakansietye. Altyd sal daar ook kerke wees waarin net Blankes of net Swartes sit. Wat op ’n natuurlike wyse eiesoortig ontwikkel, moet niemand op kuns­matige wyse vermeng nie. Die eie kring en die eie kultuur, insluitende die eie belewing van die Christelike geloof, kan lei tot allerlei vorme van eties aanvaarbare apartheid. Maar daar is ’n prinsipiële verskil tussen ’n situasie waar ek by die deure van ’n bus of kerk wil ingaan en mag ingaan, juis omdat die deure na die straatkant oopstaan, en ’n situasie waar dit op grond van my velkleur nie moontlik is nie. Daar is baie natuurlike apartheid wat die owerheid nie moet bestry nie; daar is ook baie skrynende apartheid wat die owerheid selfs met die beste wette nie kán bestry nie. Maar waar dit gaan oor gelyke burgers in een en dieselfde openbare lewe, is die owerheid daartoe geroepe om gelyk­heid tot stand te bring, sodat daar in die politieke en sosiale lewe geen tweederangse deelgenote is nie.

Ghandi in Indië🔗

Die volgende voorbeeld bring ons in lndië, voordat dit in 1947 selfstan­dig geword het. Daar het Gandhi die middel van burgerlike ongehoorsaamheid gebruik om die selfstandigheid van sy land teenoor die Britse bewind af te dwing. Britse goedere en Britse skole is geboikot. ln 1930 het Gandhi die sogenaamde “soutmars” na die see georganiseer met die bedoeling om sout uit die see te win en so die Britse soutmonopolie te verbreek.

Ghandi word altyd as voorbeeld gebruik om te wys wat burgerlike ongehoorsaamheid, met geweldloosheid as kenmerk, tot stand kan bring. Hier moet egter twee kanttekeninge geplaas word. Ten eerste het Gandhi geweldloosheid beoog, maar dit meermale nie bereik nie. ’n Mens kan die beste bedoelinge hê, maar dit is naïef om dié bedoelinge te veronderstel by almal wat meedoen aan ’n aksie van burgerlike on­gehoorsaamheid. Juis omdat dit ’n aksie van burgerlike ongehoorsaam­heid is, is die skeidslyn tussen geweldloosheid en geweld dikwels uiters vaag. Wie die verkeer ontwrig, moet nie verbaas wees as dit die emosies laat oplaai sodat klippe opgetel word, winkelruite stukkend gegooi word en motors aan die brand gesteek word nie. Mense wat bur­gerlike ongehoorsaamheid pleeg, is geen duiwels nie, maar ook geen engele nie.

ln die tweede plek: Ghandi het met sy geweldloos bedoelde en soms ook geweldloos verlopende aksies - ek dink aan sy eie hongerstaking - uiteindelik baie bereik, maar dan nie omdat geweldloosheid altyd ’n effektiewe middel in die politiek is nie. Dit mag vreemd klink wat ek nou sê, maar ek dink ek kan dit verdedig: Gandhi het met sy burgerlike ongehoorsaamheid ’n bepaalde resultaat bereik, omdat hy met Britte te doen gehad het wat geweet het wat demokrasie en demokratiese vry­heid is. Gandhi kon hom nie - soos die Negers in Amerika - beroep op ’n demokratiese konstitusie nie, want dié was daar nie. Sy vyand was imperialistiese Engeland, wat aan Voor-lndië géén selfstandige bestuur wou skenk nie. Maar ook imperialistiese Britte het wel geweet wat demokratiese vryheid in hul eie land beteken; hulle het daarom geweet dat ’n mens nie mense soos dinge of soos diere kon behandel nie. En daarom het hulle - hoe gering ook al - ruimte gelaat vir protes en burgerlike ongehoorsaamheid.

Ek gaan beslis nie hier in Suid-Afrika ’n loflied oor die Britte sing nie. U het in u geskiedenis ervaar wat Britse imperialisme kon beteken. Maar met al hulle foute bly die Britte afkomstig uit ’n land wat weet wat vry­heid vir die mense is. Jy kan probeer om hierdie kennis te verdring, en ongelukkig geluk dit dikwels vir korter of langer tye, maar jy kan die ken­nis nie uit die hart brand nie. Sonder om dit verder toe te lig, is ek oor­tuig daarvan dat demokrasie en die daarmee gegewe vryheid ‘n Christe­like agtergrond het, al speel nie-religieuse en nie-spesifiek Christelike faktore ook ’n rol. Volke en persone wat vanuit ’n Christelike tradisie die demokrasie aanvaar het as vooruitgang, of vir die verkryging daar­van selfs geveg het, kan nie blywend van andere weerhou wat hulle self as ’n geskenk beskou nie.

Wat ek met die voorafgaande betoog het, kan ek kortliks ook so stel: Gandhi se geweldlose verset sou polities gesien magteloos gewees het, as hy nie in Voor-lndië nie, maar in nasionalistiese Duitsland of in kom­munistiese Rusland gewoon het. ln sulke situasies is die demokratiese besef immers totaal verstik, ook al neem ’n mens die woord demokrasie nog in die mond. Onder ’n diktatuur kry burgerlike ongehoorsaamheid geen kans nie.

Die geval van die RSA🔗

Ek kom by die derde en ook die mees delikate voorbeeld: Suid-Afrika. Die probleme in die Verenigde State, waaroor ons hier bo gepraat het, staan in Suid-Afrika in veelvoud voor ons. ln die Verenigde State vorm die Nie-blankes ’n minderheid; hier in u land is hulle ’n baie groot meer­derheid binne die totale bevolking. Bowendien is die verskeidenheid onder die Nie-blanke bevolking van dié aard dat ’n mens rustig van Suid-Afrika kan praat as ’n mikrokosmos, ’n wêreld in die kleine, waarin groot verskille in historiese agtergrond en kulturele ontwikkeling elke rege­ring voor geweldige probleme plaas. Wie in Europa woon en weet hoe die godsdiens in Noord-Ierland en die taal in België volkere uitmekaar kan skeur, waar tog van ’n homogene kultuurvlak en van gelyke demokratiese regte sprake is, word versigtig in sy oordeel as hy aan die omvang van die probleme in Suid-Afrika dink. En wie dink dat een man een stem die geneesmiddel vir apartheid is, sal verstandig wees as hy in Afrika self rondkyk, beginnende in Zimbabwe – ’n land bevry van apartheid, maar nog meer in boeie geslaan deur ’n diktatuur wat ou stamoorloë laat oplaai.

’n Evaluering🔗

Dat ’n mens in Suid-Afrika 'n ander weg wil gaan, is te verstane. En dat die woord apartheid ’n sleutelwoord geword het, hoef ewe min te verbaas. Onder apartheid kan immers die eiesoortige ontwikkeling van al hierdie saamlewende volke verstaan word. Nie die sleutelwoord apart­heid nie, maar die inhoud daarvan kan beslis of die strewe na eiesoor­tige ontwikkeling ook op ’n moreel verantwoorde wyse gerealiseer word.

Dit kan nie ontken word dat die eiesoortige ontwikkeling ’n deur die Blanke bevolking opgelegde ontwikkeling geword het nie. Hulle het be­sluit oor die ander groepe, sonder die instemming van die ander groepe. Reeds dit maak ’n eiesoortige ontwikkeling uiters twyfelagtig. Want die ontwikkeling van volke kan nie ’n meganiese, van buite af opgelegde saak wees as dit die naam van ontwikkeling wil dra nie.

Neem die bevolkingsgroep van die Kleurlinge. Van oorsprong is hulle verbonde aan die Blankes en wil hulle lewe soos die Blankes, veral wan­neer daar onder hulle sprake is van hoër ontwikkeling. Die Kaapse Kleurlinge het reeds ’n lang tyd politieke invloed besit via stemreg, saam met die Blankes. Maar hierdie eiesoortige ontwikkeling na verdere in­tegrasie met die Blanke bevolking in die openbare lewe, is afgesny deur die apartheidsbeleid. Die wyse waarop dit gebeur het, het baie aandag getrek. Toe die vereiste twee-derde meerderheid nie gevind kon word in die Volksraad en Senaat om aan die Kleurlinge se stemreg ’n einde te maak nie, is die ledetal van die Senaat uitgebrei om tot die twee-derde meerderheid te kom.

Neem ook die miljoene Swartes van wie verklaar is dat hulle in die tuislande hoort, waarmee baie van hulle egter geen enkele band meer het of wil hê nie.

Gebore en getoë in Suid-Afrika, is hulle via die apartheidsbeleid vreem­delinge in wat hulle self as hul eie land beskou. Apartheid beteken vir baie van hulle skeiding tot selfs in die gesin. Vrou en kinders leef in ’n tuisland, terwyl hulle man en vader as trekarbeider ver daarvandaan sy eie lewe het.

Oppervlakkige veranderings🔗

Daar het al baie verander sedert die apartheidsbeleid met krag ter hand geneem is. Daar is konsessies gemaak, soms van die aard dat dit lyk asof selfs die uitgangspunt van die beleid aangetas is. Ek dink aan die verandering van opvatting oor die verbod op gemengde huwelike en op geslagsverkeer tussen Blank en Nie-blank. Maar al sal daar deur die afskaffing van baie sogenaamde “klein apartheid”, klein leed versag word, die groot leed het gebly, is verdiep en het uitgegroei tot ver­bittering en geweld. Hierdie verbittering het duidelik getoon dat mense voel hulle word verneder deur bepalings wat, presies net soos in die Verenigde State, meer gerig is op die eiesoortige ontwikkeling van die Blanke as van die Nie-blanke. Ongetwyfeld is daar deur die Blanke baie gedoen vir die Nie-blanke; maar dit neem nie weg dat die Blanke nog meer vir homself gedoen het nie. Wie op die herverdeling van die grond let, sien dat daar vir die Blankes baie en vir die tuislande min grond is, terwyl die tuislande se grond ook nog baie verbrokkel het. Blankes kan vryer beweeg in hul eie land as die Nie-blankes. Hulle sal nie die gevoel ken van ’n werklose wat na sy tuisland gestuur kan word nie, of van hulle wat soms al generasies lank op ’n swart plek in blanke ge­bied woon en vroeër of later, soms na baie juridiese prosesse, daar moet weg nie. Blankes het baie gedoen vir die Nie-blankes se onderwys, maar wat hulle vir hul eie onderwys doen, oortref dit wat hulle vir ander doen by verre.

Ek hoop dat u my nie kwalik neem dat ek ’n bietjie uitvoeriger praat oor die situasie in u land nie. As ek die feite onjuis weergegee het, maak ek staat op u korreksie. Maar as hierdie feite juis is, dan is dit te ver­stane dat die situasie in hierdie land plofbaar is en dit nog steeds meer sal word. Klein konsessies sal hierdie ontwikkeling nie keer nie. Elke beleid wat vir miljoene mense hul eiesoortige ontwikkeling wil oplê, sonder dat dit vir die mense ook ’n selfstandige en vrye ontwikkeling beteken, is gedoem. ’n Mens kan dit ’n stap in die regte, rigting noem dat Suid-Afrika tans die eerste veelrassige parlement en regering het, na die invoering van die driekamerstelsel, bestaande uit Blankes, Kleurlinge en Asiate. Maar solank aan die Swart bevolkingsgroep - wat getalsgewys die sterkste is, en waarvan waarlik nie net die Marxistiese woordvoerders betoog het dat hulle as burgers en nie as vreemdelinge binne die Republiek van Suid-Afrika erken wil word nie - solank aan hierdie bevolkingsgroep net gedesentraliseerde bevoegd­hede en geen stem in die nasionale politiek gegee word nie, sal die spanning bly oplaai en sal ook die middel van die burgerlike ongehoor­saamheid aangegryp word om verandering af te dwing.

Demokratiese besef🔗

Want – en nou neem ek weer die draad van my betoog oor burgerlik ongehoorsaam op - net soos in die situasies wat ek hier bo genoem het uit die geskiedenis van die Verenigde State en van lndië, is daar in Suid-Afrika genoeg demokratiese besef om dit onmoontlik te maak om diktatoriaal te word of in elk geval te bly. Wie Suid-Afrika bin­nekom, stap nie die Sowjetunie binne nie, al wil ’n deel van die Westerse pers ons dit laat glo. Daar is ’n groot mate van vryheid om te skryf, te praat en te organiseer. Daar is ook die opregte bedoeling om via die onderwys almal wat swak ontwikkeld is meer te vorm, en daardeur ook meer selfstandigheid te gee. Maar juis as gevolg van al hierdie dinge sal dit steeds onmoontliker word om die huidige apartheidsbeleid te handhaaf. Hoe meer hier in vryheid nagedink, geskryf, gepraat, onder­rig en vergader kan word, hoe meer voor-die-hand-liggend sal dit word dat Suid-Afrika ook uiteindelik ’n Swart president moet kan kies. Die een man een stem in die kader van die Westminister-sisteem is nie daar­voor 'n vereiste nie. Dit sou ook met ’n vierkamersisteem moontlik wees, as daarvoor nie à la George Orwell geld: alle kamers is gelyk, maar een kamer (van die Blankes) is meer gelyk as die ander kamers nie. Apartheid in die vorm van verskillende kamers hoef nie Demokratiese te wees nie. Dit kan inderdaad eiesoortige ontwikkeling respekteer en baie uiteenlopende bevolkingsgroepe teen mekaar beskerm. Maar ook dan kan daar apartheid in die slegte sin van die woord wees as die Blankes se stem op nasionale vlak die beslissende stem moet bly. Tot dusver is dit begryplik dat daar protes, ook in die vorm van burgerlike ongehoorsaamheid, is en dat dit steeds erger sal word namate die tyd verstryk.

Politieke verantwoordelikheid🔗

Oor ons politieke verantwoordelikheid in verband met burgerlike onge­hoorsaamheid wil ek graag kortliks die volgende sê: As Christen bely ek dat ’n mens soms aan jou owerheid ongehoorsaam moet wees. ’n Mens moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense (Handelinge 5:29). ’n Mens moet ook die lewe van jou naaste liefhê bo gehoorsaamheid aan ’n tirannieke owerheid. Vroedvroue wat God gevrees het, het Israelitiese kinders nie doodgemaak nie, ondanks die bevel van die Farao (Eksodus 1:17). Daniël het aangehou om God drie keer per dag op sy knieë te bid en te loof, presies soos hy gedoen het voordat dit op die koning se bevel verbied is (Daniël 1:11). Paulus het die Evan­gelie in Thessalonika verkondig, ook al het sy teenstanders gesê dat hy in stryd met die keiser se gebod optree (Handelinge 17:6).

Tog is daar baie sake waarin gehoorsaamheid aan God nie op die spel is nie, selfs al is daar sprake van groot onreg wat die een mens teenoor die ander, of ook ’n owerheid teenoor sy onderdane pleeg. ln dié gevalle moet elkeen protesteer op ’n wettige manier en geen middels gebruik wat tot ongehoorsaamheid aan die owerheid lei nie, met of sonder geweld. Die Christen moet weet wat dit is om onreg te ly, maar hy moet geen onreg doen nie.

Daarom wys ek burgerlike ongehoorsaamheid as middel in die stryd teen onreg af. Ek het dit gedoen in my boek Politieke verantwoordelijk­heid en ek sien geen rede waarom ek in Suid-Afrika anders moet sê nie, ook al wil ek duidelik stel dat burgerlike ongehoorsaamheid én in die Verenigde State én in Voor-Indië én in Suid-Afrika baie begryplik was en is. Maar alles wat begryplik is, kan nog nie daarom goedgekeur word nie. Burgerlike ongehoorsaamheid is ’n demonstratiewe optrede wat op dwingende wyse ’n verandering in die owerheidsbeleid wil aanbring. Dit wil op papier geweldloos wees, maar op ons televisie kan ons sien dat dit ook in Suid-Afrika nie geweldloos bly nie. Ek kan ook nie verswyg dat die huidige burgerlike ongehoorsaamheid in Suid-Afrika, tot dusver gelei deur teoloë, sterk beïnvloed is deur die teologie van die bevryding en van die revolusie nie, waarteen ek uit die grond van my hart nee sê.

“Wet en orde”🔗

Maar daar is nie net ’n politieke verantwoordelikheid in verband met die fenomeen van die burgerlike ongehoorsaamheid nie, want uiteraard sal ook die owerheid hier sy taak hê. Hy moet die orde handhaaf en oortreding van die wet nie sonder straf duld nie. Maar ek sal baie ellen­dig voel as ek, alles in ag genome wat ek hier bo gesê het, met hierdie wet en orde-opmerking my betoog moet afsluit. Want die Evangelie van Jesus Christus, wat niemand die reg gee om aan burgerlike ongehoor­saamheid mee te doen nie, sê ook dat ons dikwels wel die splinter in die oog van die ander en nie die balk in die eie oog sien nie. As Jesus weier om 'n aanklag in te dien teen die owerspelige vrou, wat op heter­daad betrap is en deur Skrifgeleerdes en Fariseërs na ons Heiland ge­bring is, keur Hy haar houding nie goed nie. “Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie” lui sy woorde aan haar. Maar Hy het ’n baie insnydender boodskap aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat op grond van wet en orde die owerspelige vrou wou vonnis (Johannes 8:1). Burgerlike ongehoorsaamheid is nie 'n goeie instrument in die stryd om geregtigheid nie. Maar die vraag wat elke owerheid hom dan be­hoort te stel, is: Waar is hier die splinter en waar is die balk? Dit is ongeloofwaardig as elke uitbarsting van geweld op die rekening van kom­munistiese agitasie geplaas word. Duisende in die buiteland wat u land goedgesind is en van die kommunisme ’n afkeer het, weier om dit te glo, omdat hulle vind dat die verset teen die apartheidsbeleid wel ver­sterk, maar nie veroorsaak is deur kommunistiese agitasie nie. Die wortel van die probleme én die oplossing daarvan moet niemand in Moskou nie, maar in Pretoria soek.

Siende blind en horende doof?🔗

Ek besef dat ek as gas uit die buiteland vrymoedig oor burgerlike ongehoorsaamheid en apartheidspolitiek gepraat het. Dit kan nog vrymoediger gestel word, sonder dat ’n mens dan van ’n vriend in ’n vyand van Suid-Afrika verander. Daarom wil ek iemand aanhaal wat in Suid-Afrika self ’n hoë pos beklee, wat met die regering van u land wil saamwerk aan ’n bepaalde vorm van apartheid, wat geweld afkeur, maar wat dan tog wel die volgende durf sê. Dit is die woorde van die heer Lucas Mangope, president van die tuisland Bophutatswana, en dit is gesê op 'n kongres van die Afrikaanse Calvinistiese Beweging in 1977: “U Afrikaners is juis die mense wat my keer op keer tot aan die rand van wanhoop dryf. En wanneer dit mag gebeur dat ek en my Swart geesverwante oor die rand gestoot word, dan moet u nie die Engelstalige pers die skuld daarvoor gee nie, nòg die druk vanuit die buiteland, nòg die opstokers en anargiste binne en buite ons grense. Nee, dan dra u die volle verantwoordelikheid daarvoor. Deur u besluiteloosheid, deur u leë beloftes wat altyd weer uitloop op uitstel en afstel, deur u traag­heid om die laat uur te herken, deur u lafhartige vrees om die agter­blyers in u eie geledere die hoof te bied. Daarby gaan dit om 'n vrees, wat vir u en vir ons noodlottig kan wees, want dit is in wese selfver­nietigend. Ek herhaal dit, wanneer die ramp kom, dra u daarvoor die volle verantwoordelikheid en wel vanweë u kleingeloof.”

ln die emosionele woorde van die heer Mangope bewys ek wat ek in alle kalmte as samevatting  formuleer: Wie bur­gerlike ongehoorsaamheid afkeur omdat wet en orde in gevaar is, moet nie verbaas wees as wet en orde hom ontglip omdat hy doof is vir die gevra, die gesmeek en die geskreeu om reg nie.

Bibliografie

BEDAU, H.A. red. 1969. Civil disobedience. Theory and practice. New York: Pegasus.

DOUMA, J. 1984. Politieke verantwoordelijkheid. Kampen: Van den Berg. HALL, R.T. 1971. The morality of civil disobedience. New York: Harper & Row.

MANENSCHIJN, G. 1984. Burgerlijke ongehoorzaamheid: over gren­zen aan politieke gehoorzaamheid in een democratische rechts- en ver­zorgingsstaat. Baarn: Ten Have.

SCHUYT, C.J.M. 1972. Recht, orde en burgerlijke ongehoorzaamheid. Rotterdam: Universitaire Pers.