Bewaring
Bewaring
Bewaring is een van die laaste trappe van die heilsorde. Die woord bewaring onderstreep dat gelowiges, deur die krag en die genade van God, hulle saligheid nie kan verloor nie. God bewaar sy volk (Ps. 37:28; Jer. 32:40; 1 Pet. 1:5). Hierdie Woord herinner ons dat die saligheid alles genade is. Dat gelowiges nie hulle saligheid verloor nie, is nie die gevolg van hulle gehoorsaamheid, hulle getrouheid of hulle werke nie, maar enkel en alleen deur die genade van God wat hulle van afvalligheid behoed en bewaar.
Wat is dit wat God bewaar? God bewaar die nuwe lewe van die wedergeboorte wat in die gelowiges as die saad van hulle volle saligheid is (1 Joh. 3:9). Daardeur bewaar Hy ook hulle geloof en hulle gehoorsaamheid sodat hulle, hoe gebrekkig ook al, bly glo en die wet van God gehoorsaam. Eenvoudig gestel: God bewaar sy eie genadewerk in sy volk (Ps. 90:17; Ps. 138:8; Filip. 1:6).
God bewaar nie die vlees en die werke van die vlees nie! Die vlees, sy werke en sy heerskappy in die gelowige moet vernietig word (Gal. 5:24). Die gelowige moet dit nie wil of probeer bewaar nie.
Dit is goed om te besef dat, volgens hierdie leer, dit die uitverkorenes van God is wat bewaar word. Hy bewaar hulle omdat Hy hulle in Christus uitverkies het (Ef. 1:3, 4, 11).
Die uitverkorenes word ewewel nie sonder die geloof bewaar nie. Geloof is altyd die weg, maar nooit die rede nie, van die heil. In 1 Petrus 1:5 word geleer dat die gelowige “in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid”.
Waarvan word die gelowiges bewaar? Hulle word nie van versoeking, van swakheid of daarvan dat hulle in sonde val, bewaar nie.
Dit is belangrik om dit te onthou! Gelowiges word nie daarvan bewaar dat hulle val nie, maar daarvan dat hulle uitval; nie van versoeking nie, maar daarvan dat hulle deur versoeking vernietig word; nie van sonde nie, maar van die sonde tot die dood. Enkel as gevolg van hulle eie swakheid en sondigheid kan gelowiges in versoeking en sonde val, maar Psalm 37:24 verseker ons: “As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand”.
Dat gelowiges kan val, en inderdaad val, word in die Skrif met die voorbeelde van mense soos Dawid en Petrus gewys. Dat hulle nie kan wégval nie, blyk in hulle oprigting. In die geval van Petrus het die Here inderdaad vooraf die versekering gegee dat Petrus nie sal wegval nie: “En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Luk. 22:31, 32).
Wat ʼn wonderlike genadewerk is die bewaring!