Betrek Christus by die Probleem
Betrek Christus by die Probleem
Charles Darwin het sy geloof in God uiteindelik opgegee – nie omdat hy bewyse ontdek het vir evolusie deur natuurlike seleksie (ʼn teorie wat hy ʼn paar jaar vroeër ontwikkel het) nie, maar as gevolg van sy smart oor die dood van sy tienjaar-oue dogter. Toe hy die Origin of Species in 1859 gepubliseer het, was dit sy bedoeling om te bewys dat die wêreld God nie nodig het nie, ʼn daad van wraak teen die God wat, soos hy volgehou het, nie bestaan nie.
Die probleem van boosheid is nie net ʼn filosofiese of selfs ʼn teologiese probleem nie. Dit is tasbaar, persoonlik, partykeer onredelik. As hulle die boosheid en lyding in die wêreld sien kan baie mense nie vir hulle ʼn liefdevolle, almagtige godheid voorstel nie. Selfs al sou hulle met hul verstand oortuig wees dat die bestaan van boosheid glad nie die bestaan van ʼn goeie God uitskakel nie, word hulle oorweldig deur die donkerheid wat hulle in die lewe sien. Ongelowiges sal op enige manier ʼn rede soek om teen God in opstand te kom, maar ook Christene word somtyds oorweldig deur tragedie en droefheid tot so ʼn mate dat hulle selfs hul geloof begin bevraagteken.
As iemand se kind ondraaglike pyn het, of deur ʼn misdadiger aangerand is, of in ʼn sinnelose ongeluk sterf, kan Christene hulle nouliks daarvan weerhou om te vra hoekom God nie tussenbeide gekom het nie. Miskien wou Hy nie, iets wat Sy mag sou bevestig maar Sy goedheid sou bevraagteken.
Hierdie strikvrae kan rasioneel of teologies opgelos word. Maar die antwoorde bied dikwels min troos vir ʼn siel wat op breekpunt staan. In al sy pyn kan hy nie anders nie as om te vra: “Waar is God?” ʼn Deel van die probleem is dat mense geneig is om God voor te stel as iemand wat ver weg is, wat neerkyk vanuit ʼn groot hoogte op die pyn en boosheid wat Sy skepping treiter. Nie slegs teenstanders van God nie, maar ook verdedigers is geneig om vanuit hierdie gesigspunt te werk. Maar Christene glo nie in ʼn God wat ver weg is nie.
Die God wat aan Christene bekend is, het mens geword in Jesus Christus. Hy het die menslike liggaam aangeneem. Hy het gely. Hy het die wêreld se boosheid op hom geneem. Hy het gesterf. Hy het opgestaan sodat almal wat in Hom glo ʼn koninkryk sal binnegaan waar elke traan afgedroog sal word en die probleem van boosheid sal verdwyn.
Baie teodiseë (die regverdiging van God se geregtigheid en goedheid in die lig van lyding en boosheid) verwys glad nie na Jesus Christus nie. Dit ontleed ʼn abstrakte godheid. Daar is niks uniek Christelik daaraan nie. Die argumente kan net so van toepassing gemaak word op Allah van Islam. In werklikheid is die probleem van boosheid van toepassing op enige teïsme en sulke metafisiese beredenering het sy plek.
Maar die Drie-Enige God van die Christendom het ʼn ander verhouding met Sy skepping – en met sonde, boosheid en lyding – as die gode van ander gelowe of die onpersoonlike godhede van die filosowe. Om Christus by die probleem van boosheid te betrek beantwoord nie al die metafisiese vrae nie, maar op ʼn belangrike manier maak Hy dit meer ingewikkeld. En, nog belangriker: Christus bring diepgaande troos aan mense in hul diepste nood, want hulle weet dat God by hulle is in hul lyding.
Die tweede persoon van die Drie-Eenheid het gely. Hy is gefolter. Hy het onder die gewig van die kruis neergeval. Hy was moeg, dors, bebloed. En aan die kruis het hy die ergste pyn wat die Romeinse Ryk kon uitdink, ervaar en is gemartel totdat Hy gesterf het. En die fisiese pyn was net ʼn deel van sy foltering. Hy het ook emosionele foltering ervaar. Hy was verag en deur die mense verlaat (Jes. 53:3). In die tuin van Getsémané het hy verlatenheid geken. Sy vriende en dissipels het hom in die steek gelaat. Hy is gespot, verneder en ontklee. En die ergste van alles: Hy is ook deur Sy hemelse Vader verlaat. Dit behoort ʼn verskil te maak vir iemand wat fisiese pyn of emosionele verlatenheid ervaar. Jesus Christus, deur wie die heelal geskep is, was ook deurtrek van pyn. Hy het ook verwerping, afsondering, bespotting en wreedheid ervaar. Hy het ook die afwesigheid van God ervaar.
Maar Christus se lyding het die probleem van boosheid op ʼn ander manier opgelos. Hy het die kwaad van die wêreld opgeneem. Deur Sy eie wil het Hy toegelaat dat Hy ly onder die werke van bose mense. Meer as dit, Hy het ook in Sy liggaam die sondes van die wêreld gedra. Dit is ʼn ander manier om te sê dat Hy die wêreld se boosheid gedra het.
Christus het die straf op die kwaad op Hom geneem. En deur Sy werk aan die kruis kry ons dat bose mense tot Hom kom vir vergiffenis.
En in die geheimsinnige uitruiling wat op Golgota plaasgevind het, waar Christus ons sondes op Hom geneem het en ons gevul het met sy geregtigheid, het daar ook iets anders plaasgevind. Volgens die profeet Jesaja het Hy nie net ons sondes gedra nie, maar ook ons lyde. Vir seker het Hy ons lyding op Hom geneem en ons droefheid gedra (Jes. 53:4).
Die probleem van boosheid en die probleem van lyding is opgelos in Jesus en Sy kruis. God het ingegryp. Hy is nie afwesig nie. Sy mag en Sy liefde vloei saam in die werk van Christus. Dis nie net die oplossing van ʼn intellektuele raaisel nie. Dit gee vasstaande sterkte, ondersteuning en vertroosting vir mense in nood. As die ergste gebeur kan die lyer weet dat Christus daar is en verlossing bring, en dat selfs God die Vader weet hoe dit voel om ʼn kind te verloor.