Belydenis van Belhar: Quia of Quatenus?
Belydenis van Belhar: Quia of Quatenus?
In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (tans die Verenigende Gereformeerde Kerk) die Belydenis van Belhar - tesame met die Drie Formuliere van Eenheid - as vierde belydenisskrif aanvaar. Die NG Sendingkerk was ’n sogenaamde “dogterkerk” van die NG Kerk, gebore uit die NG Kerk se destydse sendingwerk onder die bruin mense van Suid-Afrika. Gedurende die laaste deel van die 19e eeu het dié twee kerke aparte kerkverbande gevorm wat gedurende die 20ste eeu gerugsteun is deur die Apartheidsbeleid wat deur die Suid-Afrikaanse regering van stapel gestuur is. Die lidmate van die NG Sendingkerk het aan die ontvángkant van Apartheid gestaan en mettertyd veel leed en onreg verduur. Leed, wat diegene wat deur Apartheid bevoordeel is, moeilik sal begryp. Die Belydenis van Belhar is vanuit hierdie leed as noodkreet gebore en is ’n poging om op voetspoor van die Skrif enige ideologie wat verontregting tot gevolg het, te veroordeel. Die Belydenis van Belhar is ’n poging om op Bybelse gronde aan te dui dat gelowiges wat met God versoen is, óók met mekaar versoen is en dat aparte kerkverbande tussen kerke van dieselfde belydenis, sonde is - veral wanneer hierdie kerklike apartheid gebaseer is op rassegrondslag.
Wie die hartklop van die Belydenis van Belhar wil hoor, moet die noodkreet van die lidmate van die NG Sendingkerk hoor. Nooit mag hierdie kerk se integriteit en opregtheid voor God in twyfel getrek word nie. Nooit mag die erns om opreg met die Woord te worstel, bevraagteken word nie. Elkeen wat trag om die Belydenis van Belhar te deurgrond, moet versigtig wees om nie op ’n liefdelose wyse in die harte van die ménse van die NG Sendingkerk (VGK) te trap nie.
Op die huidige oomblik is daar tussen die VGK en die NGK ’n proses aan die gang wat gewis mag lei tot die eenwording van dié twee kerkverbande. Die VGK stel egter aan die NGK ’n voorvereiste: die NGK moet bereid wees om die Belydenis van Belhar as volwaardige vierde Belydenisskrif te aanvaar. Onmiddellik ontplooi hierdie saak tot ‘n krisis vir die gereformeerde gelowige wat trou wil bly aan die Koning van die kerk. Aan die een kant is kerkeenheid ’n Bybelse opdrag. Met die saak waaroor dit in die Belydenis van Belhar gaan, kan moeilik verskil word. Die vraag is egter: Mag hierdie belydenis werklik op dieselfde vlak as die Drie Formuliere van Eenheid geplaas word? Sou ’n gereformeerde gelowige getrou wees aan die Herder deur die Belydenis van Belhar as gereformeerde belydenisskrif te onderskryf? Die bedoeling van hierdie artikel is nie om ’n waardeoordeel oor die Belydenis van Belhar te fel nie. Die doel is om gelowig na te dink oor die vraag aan watter vereistes ’n belydenisskrif moet voldoen ten einde gereformeerd te wees én op dieselfde vlak as die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls geplaas te word. Vir alle gereformeerdes, maar in besonder vir elke VGK en NG lidmaat en leraar - wat betref Belhar, is hierdie vraag deurslaggewend.
Die unieke uitstaande kenmerk van die Drie Formuliere is hul eksklusiewe teonome aard. Daarmee word bedoel dat die Drie Formuliere – eie aan die aard van die gereformeerde belydenis – op ’n vertikale lyn lê deurdat die Waarheid slégs vanuit God en Sý handelinge gedefinieer word sónder om die mens (en sy rede en ervaring) as tweede kriterium by te voeg. Daarteenoor neig die nie-gereformeerde denke altyd om die waarheid te definieer vanuit ’n wisselwerking (resiprositeit) tussen God en mens wat vereis dat die vertikale sowel as die horisontale lyne verdiskonteer moet word. Hieruit blyk die outonome aard van die nie-gereformeerde denke.
’n Mens mag nie die oë sluit vir die manier waarop Belhar tot stand gekom het nie. Die teologiese wortels van die Belhar Belydenis moet in die outonoom-religieus-humanistiese Bevrydings(Swart)teologie gesoek word. Belhar se broer is immers die Kairos Dokument. Die invloed van die Duitse “Barmen Erklärung” is opvallend. Die gedagte van ’n “status confessiones” (1982) is juis deur die NG Sendingkerk van die Duitse Belydende Kerk oorgeneem en oorgedra op die plaaslike situasie om ’n duidelike “statement” teen apartheid te maak en nie om – soos in die geval van die Drie Formuliere - die algemene (katolieke) Christelike Geloof te bely nie. Sodoende moes daar ’n bemiddeling bewerk word tussen die Bevrydingsteologie en die Gereformeerde belydenis. Die hout waaruit die Belydenis van Belhar gesny is, adem dus die geur van die outonome denke, wat vreemd is aan die teonome vertrekpunt van die gereformeerde konfessie.
Hand aan hand met die teonome vertrekpunt en aard van die Drie Formuliere, gaan hul katolisiteit. Die Drie Formuliere verwoord die algemene Christelike Geloof (die leer van die Apostels) wat die ware kerk deur alle eeue geglo het. Die belydenisskrifte se katolieke aard is juis die deurslaggewende kriterium waaraan ’n gereformeerde belydenisskrif moet voldoen. Die inhoud van die belydenis moet die belydenis van die kerk van alle tye en alle plekke wees. Dit is veelseggend dat die Gereformeerde Ekumeniese Raad in 1988 nie genoeg stemme kon kry om die Belhar Belydenis as belydenisskrif te aanvaar nie omdat geoordeel is dat dit té plek- en tydgebonde is. Die inhoud van die Belhar Belydenis is nie op só ’n wyse aan die geheel van die katolieke Christelike Geloof verbonde dat alle gereformeerdes wêreldwyd en deur alle eeue heen, dit sonder meer as belydenis sal herken nie. Dit sou eers nodig wees dat kerke ’n soortgelyke ervaring as die NG Sendingkerk moes smaak alvorens die inhoud van die Belhar Belydenis relevante betekenis kry. Die rede hiervoor is die historiese en kontekstuele gebondenheid van Belhar. Dit is ook so dat die inhoud van die Belhar Belydenis óók tuis sou kon wees in nie-gereformeerde kerke soos byvoorbeeld charismatiese kerke wat die Evangelie oorwegend outonoom verstaan, maar nietemin saamstem met Belhar se afwysing van alle ideologieë wat tot menslike verontregting lei. Die Drie Formuliere, daarenteen, is slegs welkom in gereformeerde kerke juis omdat die inhoud van die Drie Formuliere dié kerke gereformeerd maak deur hul teonoom-bybelse inslag. Die aanvaarbaarheid van Belhar in nie-gereformeerde kringe én die verdeeldheid wat Belhar in gereformeerde kringe veroorsaak, verraai juis sy outonome en nie-katolieke aard. Uiteindelik is dit ’n ope vraag óf die Belydenis van Belhar enigsins ’n formulier van eenheid is en of dit nie juis tot verdeeldheid aanleiding gee nie - juis omdat Belhar ’n ander “gees” adem as die Drie Formuliere.
In gereformeerde kerke word die Drie Formuliere deur lidmate, kerkraadslede en leraars onderskryf omdat dit volledig met die Skrifte ooreenstem (die sg. QUIA standpunt) en nie in soverre as wat dit met die Skrifte ooreenstem (die sg. QUATENUS standpunt) nie. Laasgenoemde impliseer dat die hoofsaak Bybels-korrek is, maar dat daar twyfel mag bestaan oor die fynere nuanses en formuleringe. Met betrekking tot die Belhar Belydenis, gaan daar ook huidiglik stemme op wat vra dat daar slegs gelet moet word op die hoofsaak waaroor dit in Belhar gaan en dat die fynere detail nie so belangrik is nie en dat op grond hiervan Belhar op gelyke vlak met die Drie Formuliere onderskryf mag word. Hiervolgens is die deurslaggewende vraag of die kerk hom met die “gees” van Belhar kan vereenselwig. Dit is egter belangrik om daarop te let dat dit in so ’n geval onmoontlik is om die QUIA te handhaaf. Gereformeerdes onderskryf die Belydenisskrifte omdat dit volmondig met die Skrif ooreenstem. Daar word geen ruimte gelaat vir eiesinnigheid nie. ’n Belydenisskrif is nie slegs ’n opinie oor die Waarheid sodat ander opinies dalk ook net so goed mag wees nie! ’n Belydenisskrif spreek die Waarheid op só ’n wyse na, dat alle ander opinies onwaar is! (vgl. Matt 16:13-19). Wie ’n Belydenisskrif onderskryf, onderskryf absolute Waarheid en laat geen ruimte vir relativisme nie. Daarom was gelowiges soos die Hugenote bereid om die martelaarsdood te sterf vir hul oortuiging van die waarheid van die gereformeerde geloof. Belhar sou slegs volgens die QUIA-standpunt onderskryf kan word, indien die kerk daarvan oortuig is dat, buiten die hoofsaak, ook die fynere nuanses met die Skrifte ooreenstem.
Juis wat betref die fynere nuanses is daar ’n aantal knelpunte wat om verheldering vra. ’n Mens sou byvoorbeeld kon let op die wyse waarop die fokus telkens verskuif wég van God (teonome) ná die mens (outonome). Enkele voorbeelde: Artikel 3 wy vyf paragrawe aan “versoening”, maar plaas deurentyd die klem op dit wat die mens/kerk moet doen in terme van horisontale versoening terwyl geen woord gerep word oor Christus se plaasvervangende offer en Sy ewige Hoëpriesterskap (soos die Drie Formuliere dit doen) nie. 2 Kor. 5: 17-21 word as Skrifverwysing gegee, terwyl Paulus dit daar juis oor versoening as eensydig daad van God het! Dit is ook ’n vraag of Artikel 4 op dieselfde manier as die Drie Formuliere oor die begrip geregtigheid praat. In die Drie Formuliere is God die Een wat geregtigheid in Christus oprig (teonoom), maar in Belhar funksioneer die geregtigheid op ’n horisontale (outonome) vlak wat sterk aan die begrippemateriaal van die Bevrydingsteologie herinner.
’n Mens sou ook ’n vraagteken kon plaas by Artikel 2 wat insinueer dat kerkeenheid slegs in strukturele organisatoriese eenheid gevind kan word. Aparte kerkverbande is dus per definisie sinoniem met sondige geskeidenheid en sigbare eenheid is per definisie sinoniem met strukturele eenheid. Per definisie is twee kerkverbande wat vanweë verskille in taal en kultuur apart funksioneer, ’n stuk sondige geskeidenheid en ’n bewys van haat en vyandskap! Die vraag is of dit nie ’n eensydige siening is nie.
Dit is voorts opvallend dat Belhar in sy “verwerping van dwalings” ánders (eensydig) te werk gaan as die Drie Formuliere. Alles wat die reuk dra van ’n “regse teologie” word tereg verwerp, maar niks word gesê van “linkse teologie” (soos die Swart Teologie) nie. Dit skep die indruk dat sonde en dwaling slegs in een rigting beur. Hiermee skep Belhar juis die ruimte vir die “linkse teologie” om onder sy vleuels te skuil.
Wie die Belydenis van Belhar op dieselfde vlak as die Drie Formuliere onderskryf moet daarteen waak om nie hierdie handeling te gebruik (misbruik?) as ’n meganisme om daarmee iets anders te sê/doen nie. Hoe maklik kan dit gebeur dat die kerk Belhar volgens die QUIA-standpunt gaan onderskryf ten einde daarmee kerkvereniging te bespoedig of apartheidskuld te bely of die VGK tevrede te stel of om wátter rede ookal. Dán word die Belydenis ’n meganisme (’n middel tot ’n doel) en funksioneer dit nie meer as egte Belydenis waarvoor die ondertekenaar bereid is om sy/haar bloed te gee nie.
’n Slotopmerking: Gemeet aan die kriteria waaraan ’n gereformeerde belydenisskrif moet voldoen, kan die Belydenis van Belhar hoogstens volgens die QUATENUS-standpunt onderskryf word – dus in soverre as wat dit met die Skrif ooreenstem. Die kerk onderskryf egter die Drie Formuliere omdat dit met die Skrifte ooreenstem (QUIA). Dit is dus beswaarlik moontlik om die Belydenis van Belhar op dieselfde vlak as die Drie Formuliere te plaas.