Belydenis en Toleransie
Belydenis en Toleransie
Die leer van die waarheid is nie ons eiendom nie, dit is die saak van God. Hy het aan ons, sy diensknegte, wat eenmaal van ons bediening rekenskap sal moet gee, beveel om die waarheid in alle suiwerheid te bely en te leer.
J Trigland
⤒🔗
Verdraagsaamheid←⤒🔗
Bostaande woorde is van die kerkhistorikus, J Trigland, wat so bekend is vir sy noukeurige opskryf van die gebeure voor, tydens en ná die Groot Sinode van Dordrecht 1618-19. Hy het geleef in ’n tyd waarin die oplossing vir onderlinge verskille in geloof en gehoorsaamheid, deur met name die Remonstrante, gesoek is in die oproep tot verdraagsaamheid. Waarskynlik is dit ook die mees uitstaande kenmerk van die moderne ekumeniese beweging, dat die onderlinge verskille en teenstrydighede gehandhaaf kan bly, deur die oproep tot verdraagsaamheid.
Hoe moet ons staan teenoor die oproep om verdraagsaam te wees teenoor ander wat op ’n totaal ander manier uitdrukking gee aan hul geloof? En hoe moet ons onsself as kerk in Suid-Afrika sien? Behoort die kerk nie ’n toevlugsoord te wees van voëls van verskillende vere nie? Kan daar nie in die kerk vrede gehandhaaf word in die naam van Christus deur mekaar bloot onderling te verdra nie? Die Skrif roep ons tog deeglik op tot onderlinge verdraagsaamheid. Ons dink onmiddellik aan hoofstukke 14 en 15 van die Romeinebrief. "En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie." (Romeine 15:1). En verder: "Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God." (Romeine 15:7). Die eer van God is hier op die spel! En die vrede en eenheid in die gemeente van Christus.
Ware Vrede←⤒🔗
Ons sal goed doen deur meer breedvoerig te luister na hoe Trigland herderlike leiding en voorligting hieroor gegee het. In sy besinning oor ware verdraagsaamheid begin hy by die vrede van Christus. Alleen die vrede van Christus is die ware vrede van die kerk. Enigeen wat die welstand van die kerk beoog, sal tog vurig verlang na die vrede van Christus in sy kerk. Dit is tog waarvoor Dawid bid in Psalm 122: "Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise. Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: vrede vir jou!" (vs. 6-8).
Aangesien daar onder die dekmantel van vrede al meer kere gepoog is om die vrede van Christus te vervals en dwaling die kerk in te smokkel, moet ons deeglik besin wat die aard van hierdie vrede is. Soveel as wat die Here die vrede vir sy gemeente aanprys, só ernstig het Hy die waarheid van sy evangelie aan ons voorgehou. Waarheid en vrede gaan hand aan hand. Verdraagsaamheid mag dus nooit gebruik word om ’n wettige plek aan die dwaling te gee nie. Die dwaling kan nie gehandhaaf bly saam met die waarheid van Christus se evangelie sonder om twis en skeuring in die kerk te bring nie.
En dan is dit nie die handhawing van die waarheid wat twis en tweedrag veroorsaak nie. Dit is altyd die weiering van mense om hulle gewillig en gelowig te onderwerp aan die onderrig van Christus wat onvrede stig. Vryheid en vrede is altyd en alleen daar waar ons ons bind aan God se Woord. Solank daar in alle erns en eerlikheid geleef word in onderwerping aan die Skrif, is daar ’n handhawing van Christelike verdraagsaamheid. Christus verdra egter nie die leuen in sy kerk nie. Die leuen het nooit ’n wettige plek in die kerk nie.
Swakheid Verdra←⤒🔗
Die kwaad en sonde wat daar nog in die gelowiges oorgebly het (en hoeveel daarvan is daar nie nog in ons nie!!) word geduld en verdra, sodat daar tyd en ruimte kom om dit te verbeter. Die kwaad wat verdra kan word, word alleen in hulle gevind wat hul swakheid erken en begeer om te verbeter. Swakheid moet as swakheid erken en bely word. Die wil moet daar wees om die swakhede neer te lê en daarvan af te sien. Wanneer swakheid egter as ’n krag begin waardeer word, dan is daar weerstand teen die werking van die Woord van die Here in mense se lewens. Swakheid wat as swakheid erken en bely word, word bestry deur kragtig in die Here se krag weerstand te bied teen die leuen en die sonde. Swakheid word verdra om ruimte te skep sodat die Woord in gewillige luisteraars se lewe sy weg van oorwinning kan gaan.
Kom ons illustreer dit met ’n konkrete voorbeeld. Stel u voor dat daar ’n broeder in die gemeente is wat op die punt van die verbondsdoop ernstige reserwes het oor die manier waarop ons dit bely in Sondag 27 van die Heidelbergse Kategismus. Sou so iemand tot die volle gemeenskap van die kerk en dus tot die Nagmaalstafel toegelaat kan word? Hier mag ons tog nie gemotiveer word deur gevoelens van humanistiese simpatie nie. Maar hier kan en móét die ware broederlike liefde deurwerking kry in die gemeente. Dit beteken dat hierdie broeder nie maar gelaat kan word in sy swakheid om in die duisternis te bly nie. Dit sou geen liefde wees nie. Liefde laat niemand anders in die duisternis waar jy nie glo jy self mag staan en bly nie.
Indien só ’n broeder sy onvolwassenheid in die geloof op hierdie punt sou erken as swakheid en homself bereid verklaar om verder onderrig te word uit die Skrif, kan daar weinig rede wees om hom van die Nagmaalstafel te weerhou. Stel voor dat hy geen openbare (of heimlike!) uitbreiding soek van dit wat hy as swakheid in sy eie geloof erken nie, en daar is verder hartlike instemming met die Christelike/gereformeerde belydenis. Sou ’n kerkraad en gemeente nie in hartlike eenheid hierdie broeder aan die Nagmaalstafel ontvang nie? Natuurlik! Maar dan nie omdat ons erken dat daar ’n wettige plek is vir die dwaling om sy gang te gaan nie. Die uiteindelike doel moet wees dat die Woord van die Here oorwinning oor swakheid en sonde kan behaal in mense se lewens. Daar kan nie maar ruimte gemaak word vir "swakkes en sterkes" in die gemeente om naas mekaar te lewe nie. Dit is naakte humanisme. Dan behaag ons onsself en dit is presies waarteen Paulus waarsku in Romeine 15:1!
In die gemeente van Christus moet daar alleen ruimte wees om die volle waarheid van die Woord van die Here onverkort te handhaaf. Ons kan dus nie as verdraagsaamheid aanvaar dat mense vrede wil handhaaf deur enige deel van die waarheid van die Skrif te verswyg of iets wat daarmee in stryd is toe te laat om sy vrye gang te gaan nie. Die leer van die waarheid is nie ons eiendom om mee handel te dryf nie.
Die vrede wat die waarheid verduister en vertroebel lei mense van die weg van die Here af en is nie die vrede van Christus nie, maar van die Satan.
Die Weg van die Here←⤒🔗
Kleinlikheid en krampagtigheid is daarom nie gepas in die kerk van Christus nie. Ons mag in die kerk van Christus leef vanuit die wete dat ons God ’n verdraagsame God is. Hy is soos ’n vader wat met ons swakhede medelye kan hê. Dink maar hoe buig Hy tot ons neer om ons verder in die geloof te bring deur by sy heldere Woord ook nog vir ons sakramente te gee. Is dit nie lankmoedigheid en verdraagsaamheid nie?! Is Hy nie vol vergewing en genade nie? Of verag ons die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat ons nie besef dat die goedertierenheid van God ons tot bekering wil lei nie? (Romeine 2:4).
Dit is tog die weg van die Here met ons as sondaars. Hy wil deur sy goedheid en verdraagsaamheid ons tot bekering bring. Nie maar altyd in ons swakheid en sonde laat bly nie. Maar dan gaan God ook ’n heel konkrete weg met ons elkeen as sy kinders. Hy laat Christus dan aan ons verkondig as ’n versoening vir ons sondes nadat Hy vantevore die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God (Romeine 3:25). Gelukkig is hy dan wat hierdie weg van die Here gaan (Psalm 1). Die weg wat duidelik nie die weg is van die goddeloses en die spotters en die sondaars nie. Die Christelike lewe is nie ’n lewe van een oomblik nie. Swakheid van hierdie oomblik word deur die goedheid van die Here verander tot krag en groei in sy liefde en genade. En dit kan slegs gebeur waar die ware evangelie van Christus alleenheerskappy het.