Beginselvas, roepingsbewus, koersvas …
Beginselvas, roepingsbewus, koersvas …
Iemand vra my nou die dag wat die besondere kenmerke van ’n “Calvinis” is.
Hoe antwoord ’n mens op so ’n vraag? Moet jy daarop wys dat Calvyn nooit “Calviniste” wou kweek nie en dat dit vir hom gewoon gegaan het oor Skrifgetroue gelowiges? Moet jy daarop wys dat die vraag “Waarom word jy Gereformeerd genoem?” nêrens in die Gereformeerde belydenisskrifte gestel word nie, maar wel die vrae: “Wat moet ’n Christen glo?” (HK 7:22), en: “Waarom word jy ’n Christen genoem?” (HK 12:32)?
Of moet daar verwys word na die bekende vyf “alleen-uitsprake” van die Reformasie, naamlik aan God alleen die eer, Christus alleen, genade alleen, geloof alleen, die Skrif alleen? Of na die hoofmomente van die Gereformeerde belydenisskrifte?
Uiteraard is daar veel invalshoeke om hierdie (belangrike) vraag te beantwoord.
In hierdie artikel lê ons klem op drie voor die hand liggende temas wat ’n sentrale rol in die Gereformeerde tradisie gespeel het en steeds speel, naamlik beginselvastheid, roepingsbewustheid en koersvastheid.
Beginselvas⤒🔗
“Beginselvastheid” is kenmerkend van die Gereformeerd-Christelike lewe en van die verstaan van die evangelie van Christus. Bygesê: dan moet van júíste beginsels uitgegaan word.
Daar is diegene wat nie hou van beginsels nie, wat uit beginsel teen enige beginsel is. Maar hieruit blyk al klaar dat beginselloosheid onmoontlik is; daar bestaan geen beginsellose mens nie; ook ’n nie-beginsel is ’n beginsel. Al ons menslike denke en doen word deur ons beginsels, ons uitgangspunte, ons lewens- en wêreldbeskouing bepaal. En ons Godsbeskouing.
In sy lesenswaardige boek, Wat’s die storie met die kerk? (2001), verset Andries Cilliers, NG-predikant van Potchefstroom, hom nogal teen beginseldenke. “Ek hou nie van die idee dat ’n mens ‘ewige beginsels’ in die Bybel kry nie” skryf hy (bl 25, 41-43). Natuurlik kan ’n mens van alles en nog wat “beginsels” maak, soos byvoorbeeld dat apartheid ’n beginsel is (of was). Maar die misbruik van beginsels hef die goeie gebruik daarvan nie op nie.
Beginselloosheid, het ons gesê, is onmoontlik. Vir Christene is dit ’n beginsel om hulle naaste soos hulleself lief te hê; dis ’n beginsel om in die huwelik getrou te wees, om nie te moor, te lieg en te steel nie; om nie korrup te handel of mag te misbruik nie, om jou nie aan manipulasie en boetiebegunstiging skuldig te maak nie. Dis ’n beginsel om skoon en met ’n goeie gewete voor God en jou medemens te lewe.
Die Bybel verwys na die “ontsag vir die Here” as dié beginsel van kennis en wysheid (Spr 1:7, 9:10; Ps 111:10). Christene word gewaarsku teen die verkeerde “beginsels” van die sondige wêreld (Kol 2:8, 20).
Gereformeerde Christene is beginselvaste mense – behoort dit te wees. Hulle gaan uit van beginsels wat hulle uit die Woord van God en die evangelie van Jesus Christus opdiep en in die gesin, kerk en samelewing in ’n wye verskeidenheid van situasies van toepassing maak – dikwels op unieke wyse. Maar dan gaan dit altyd oor Bybels-verantwoorde beginsels en nie oor beginsels wat op menslike willekeur berus nie.
Die jaar 2006, nee, die Here self, soek na beginselvaste mense.
Roepingsbewus←⤒🔗
Die woord “roeping” het in die Gereformeerde tradisie ’n besondere betekenis. Dit laat altyd ’n tinteling deur ’n mens se liggaam gaan. Dis ’n wekroep, ’n strydkreet selfs, en hou veel meer in as wat dekades gelede as ’n politieke slagspreuk in Suid-Afrika gebruik (en misbruik) is – “vervul jou roeping”.
’n Geroepene is eintlik ’n gevangene van die Here. Hy hoor dat iemand – Iemand - hom/haar roep om iets te doen, iets besonders, iets vir die koms van die koninkryk van God.
God roep mense om straatveërs en staatspresidente te wees; Hy roep mense om boere en maatskappydirekteurs te wees; Hy roep mense om mediese dokters, evangelieverkondigers, ingenieurs en rekenaartegnici te wees; Hy roep werkgewers en werknemers, onderwysers en dosente, mans en vrouens, ouers en kinders om werksaam te wees in die Suid-Afrikaanse samelewing, en om, as hulle Christene is, sy koninkryk te dien.
Ons het ’n roeping om misdaad en korrupsie te beveg, om armoede, werkloosheid en vigs te bekamp, om die omgewing te bewaar en teen vernieling en vernietiging te beskerm.
Vir Christene is daar natuurlik ook nog, voor alles, die Groot Roeping, die roeping om die evangelie van God se genade in Christus van harte te omhels, en om, vernuwe deur die Gees van Christus, hierdie goeie boodskap aan ander bekend te maak en tot bekering op te roep.
So gesien, het Christene ’n onoorsienbare taak hier aan die suidpunt van Afrika, om die kerk van die Here te bou, om ’n verantwoordelike en vreedsame samelewing op te bou, om die koninkryk van God te dien, ja, in alles God self te dien en te eer. As ons as Christene ons roepingsbesef verloor, ondermyn ons ons bestaansreg in Afrika en kan ons maar net sowel ons tasse pak en vertrek.
Koersvas←⤒🔗
Christene is nie mense wat koersloos in ’n groot oseaan ronddobber sonder enige rigting of hoop nie. Hulle is beginselvaste en roepingsbewuste mense wat koers vat na ’n hoopvolle toekoms. Hulle oog is altyd gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:2). Die evangelie van Jesus Christus en die koms van die koninkryk van God bepaal hulle koers.
Die kerkhervormer Johannes Calvyn het Christene gewys op die belangrikheid van – wat hy genoem het – die “oordenking van die toekomstige lewe” as onnalaatbare deel van die Christelike lewe, maar sonder om daarmee hulle roeping op aarde te ontken. Trouens, Christene leef altyd in die spanningsveld van die “lewe hier” (hiernoumaals) en die “lewe hierna” (hiernamaals), tussen koms en wederkoms, tussen gebroke werklikheid en verwagte volmaaktheid.
Hulle koers bly duidelik: op pad na die voltooide ryk van God, die nuwe hemel en die nuwe aarde. En op pad soontoe rig hulle klein tekens op van daardie groot Verwagting: ’n beker koue water vir ’n dorstige hier, ’n besoek aan ’n lydende daar; ’n woord van bemoediging aan ’n moedelose hier en ’n skouervat aan ’n treurende daar. Hulle weet dat God eenmaal al die trane van die oë afvee, maar hulle deel nou reeds die sakdoeke daarvoor uit – soos iemand so tiperend opgemerk het.
In hulle persoonlike, gesins- en sosiale lewe is hulle op koers. Ook in die kerk van die Here hou hulle koers, in die lig van die Woord en onder leiding van die Gees. En gebind deur bande van geloof, hoop en liefde aan hulle medebroers en -susters.
Beginselvas, roepingsbewus, koersvas? Inderdaad, ook in 2006! Deur die genade van God.