Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Afrikanisering - 'n Kultuurkrisis

Mandela en de Klerk

Die proses van Afrikanisering is tans sterk aan die gang. Dit is 'n magtige stroom wat spoel en wat verskillend begroet word. Afrikanisering is waar enige element van Europa afgewys word en na 'n eie inheemse Afrika-manier van doen gesoek word. Dit sluit "regstelling" oor grond en werk en kuns en taal, alles, in. Al die kultuurhandelinge van die mens is hierby betrek. Baie mense is gekant teen wat hulle sien as die verlies van 'n eie identiteit, wat hierdie nuwe proses meebring. Daar word tans 'n vreemdheid beleef in wat eers 'n bekende omgewing was — mens kan maar net dink hoe dikwels die huidige musiek op televisie meermale vreemd op die oor val.

Doemprofete en Heldhaftiges🔗

Kan 'n mens van 'n kultuurkrisis praat?  Sommige doemprofete is in sak en as oor die Afrikanisering wat poog om 'n breë unieke Suid-Afrikaanse kultuur daar te stel. Ander heldhaftiges herhaal die cliché dat ons voor 'n unieke uitdaging staan. Hoe moet ons as gereformeerdes hierdie nuwe Afrikaniseringsproses beoordeel? Daar is verskeie moontlikhede.

Ope Arms🔗

Daar is mense wat positief hierteenoor staan en sê dat dit hoog tyd was om van kolonialisme en rassisme ontslae te geraak het, en hoe gouer daar 'n nuwe identiteit gevorm word hoe beter. Hierdie voorstanders wil dan hierdie identiteit skoei op die lees van individuele vryheid. Die Afrikanisering word met ope arms verwelkom omdat daar beweer word dat die mense nog nooit so vry was as juis nou nie. Die nuwe Suid-Afrikaanse kultuur, met al sy nuwe simbole en gebruike, word as bevrydend ervaar. In hierdie nuwe samesnoeringspoging speel sport ook 'n baie groot rol.

Te Veel, Te Vinnig🔗

Ander mense, wat miskien deur openlike of sluimerende nasionalisme beïnvloed word, beleef die Afrikanisering meer negatief. Die nuwe word al hoe meer as bedreiging gesien vir die ou bestaande manier van doen. Sommige mense, wat selfs erken dat die proses onafwendbaar is, is ontstem oor die tempo daarvan. Daar word ook gemeen dat daar te veel, te vinnig afgestaan word. Die nuwe taalstryd is hiervan 'n goeie voorbeeld. Daar kom ook meer en meer klagtes voor oor grondverlies, werkskaarste en werkroof. Beide groepe lê hulle eie klem, die een meer individueel, die ander meer nasionaal. Is die huidige proses 'n krisis of 'n uitdaging? Moet ons ontstig wees daaroor of daaraan meedoen, al is dit tot 'n mate vreemd?

Kultuur Gemeet🔗

Skrifgetroue gelowiges moet hulleself deeglik verantwoord oor die huidige kultuurbelewing. Professor Klaas Schilder het in sy boek "Christus en kultuur" (1953) 'n derde moontlikheid wat hy op die tafel plaas oor hoe 'n kultuur beoordeel moet word.  Schilder maak 'n saak uit dat 'n stand van enige kultuur gemeet moet word aan die wet van God. Daaruit kan gesien word of Christus, die gesalfde Messias, in so 'n kultuur as Here en Verlosser erken word. Kultuur is alles wat die mens doen en dit staan in sy geheel in verband met Christus se Hoofskap oor alles.

rysmiere🔗

Rysmier🔗

Wat ons tans beleef is 'n kultuurkrisis. Nie omdat die "eie volksgoedere" soseer bedreig word nie, maar omdat daar doelbewus van God se gebod wegbeweeg word. Hierdie krisis het al begin nog voor die Afrikanisering gekom het. Die Afrikanisering wys maar net die innerlike verrotting van die kultuur uit, wat reeds lank daar is. Die samelewing is besig om te verkrummel, nie vanweë die Afrikaniseringsproses nie, maar omdat gelowiges nie meer die inherente krag het om staande te wil bly nie. Oor dekades heen het die uitholling en rysmiering van die samelewing plaasgevind, selfs met meewerking van sekere gereformeerdes. As bewys dien die volgende:

  • In hoeveel gereformeerde kerke word lankal 'n liberale Skrifgesag stilletjies geduld. Die Skrifgesag word nie altyd openlik aangetas nie. Soms word dit gedoen deur verskillende teenstrydige interpretasies van die Skrif as gelykwaardig te sien. Hoe dikwels hoor mens nie die argument: "Dit is maar net jou siening op die saak" nie. Hoeveel gemeentes is ernstig verdeel, omdat daar nie meer erns gemaak word met die eenheidsbelewing van leer, diens en tug nie?

  • Hoe dikwels word daar 'n teenstrydigheid geduld tussen partybeleid en Skrifbelydenis. Word daar op staatkundige gebied erns gemaak met Christus as Koning oor alles?

  • Die eerste en tweede gebod (dat daar geen God naas die Here is nie) word vanweë menseregte in die huidige kultuur geminag. Elkeen het nou reg op 'n afgod. Hierdie verwarring en verkrummeling van die samelewing is deesdae orals sigbaar, selfs op plekke wat uitgesproke christelik is.

  • Die heiliging van die Naam van God wat die derde gebod eis, word ook deur ons kultuur nie hoog geag nie. In baie films en selfs televisie-uitsendings word God al so in die verbygaan gelaster — sonder 'n stem van protes deur gelowiges.

  • Die rusdag is verander in ritsdag, 'n nasionale sportdag. Geen onderskeid word meer deur winkeliers getref tussen Sondag en ander dae nie — en hierdie vergryping aan die Sabbat word grondwetlik beskerm.

  • God eis dat ses dae gewerk moet word. Met al die stakings en die geregtig-wees kultuur van die werkers is die mense nie meer besig om die aarde te bewerk nie, maar is hulle besig om die werk en werkgewer te gebruik vir selfverryking. Hoeveel gelowiges doen in hulle werk "net waarvoor ons betaal word", omdat dié manier van doen afgekyk is by militante vakbonde.

  • Die eerbied wat God eis vir owerheidspersone vervaag: selfs in ons skole word toegelaat dat onderwysers nie die nodige respek ontvang nie — lyfstraf, wat in God se Woord as 'n tugmiddel geag word, is as onmenslik verbied.

  • Die lewe van mense is bykans niks werd nie. Moord, roof en motorkapings bly styg — en ten spyte daarvan word die doodstraf, soos deur God beveel, nie op moordenaars toegepas nie. Aborsie is op die punt om in sekere staatshospitale op aanvraag toegepas te word.

  • Die vigs-epidemie het 'n mate van sobering in die seksuele losbandigheid gebring, maar desnieteenstaande word die huwelik al hoe meer as 'n gewoonte afgemaak. Selfs homoseksualisme en lesbinisme word as aanvaarbare alternatiewe leefwyses gesien. Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat hierdie gruwels in God se oë grondwetlik beskerm.

  • Die agste gebod verbied diefstal; tog styg korrupsie. En nie net die geharde misdadigers is daaraan skuldig nie, ook gelowiges gee en neem omkoopgeskenke ten einde sake gedoen te kry.

  • Een van die grootste oortredings van die negende gebod is selfbedrog, en in hierdie kultuurkrisis vier selfbedrog hoogty. Terwyl daar ekonomies gewerskaf word, word die nood en sonde nie eerlik voor God bely en erken nie. 'n Kultuur wat homself so bedrieg, loop op vernietiging uit.

Saamspan teen die Gesalfde🔗

Kan ons eerlik sê dat ons nie kollektief begeer om teen God te oortree nie? As al die bogenoemde in ag geneem word, kan God ons nie al beskuldig dat ons kultureel saamspan teen Hom en sy Gesalfde nie? Afrikanisering is nie 'n uitdaging, wat iets onbekends maar goed gaan voortbring nie. Afrikanisering is ten diepste ook nie 'n bedreiging "net omdat die eie volksgoedere bedreig word nie. Afrikanisering is die gevolg daarvan dat die rug op God gekeer is — en dit kollektief.

windpomp

Selfondersoek🔗

Nou is die vraag: hoe benader ons hierdie kultuurkrisis? Die eerste stap daartoe is om enige Godsonterende elemente in die samelewing uit te wys. Selfondersoek, nie net na die breë gemeenskap se doen en late nie, maar ook indringende selfondersoek oor die volks-, huis- en kerksondes is dringend noodsaaklik. Christus se eer in alles moet gehandhaaf word — nie die eie selfsug van die individu nie, en ook nie die kollektiewe grootheidswaan van 'n volk met Europese wortels nie. Volke bestaan vir Christus. 'n Kultuur wat dit besef, het geen bestaanskrisis nie.

Opsweep of Buig?🔗

Uiteindelik (soos in Openbaring duidelik blyk) is die satan besig om alle volkere teen God op te sweep. Dit is die Skrifgetroue gelowige se taak om hierdie verleiding voortdurend uit te wys, ook op die kultuurterrein, en om nie daaraan mee te doen nie. Die waarheid van Christus se heerskappy oor al wat kultuur is, moet onbevrees verkondig word aan almal wat deur die Afrikaniseringskrisis verwar word. Om te buig onder Christus as die Gesalfde — dit sal ons uit hierdie kultuurkrisis lei.