Aandag vir die Persoon en Optrede van die Predikant
Aandag vir die Persoon en Optrede van die Predikant
Is dit geregverdig om ons aandag hiervoor te vra? Word die mens nie op dié manier op die voorgrond geskuif nie? Ons verwag dit tog nie van mense nie? Dit is immers die Woord en die Gees wat dit moet doen?
1. Die gesag van die Woord⤒🔗
Ja, heeltemal reg — God moet dit doen en sy Woord moet dit doen. Gestel ʼn predikant is as persoon effens saai en kleurloos; sy preke is inhoudelik nie so boeiend nie en sy voordrag is nie juis sprankelend en inspirerend nie; maar… hy bring wel die Woord. Dan moet ons as gemeente luister. Dit is ons uitgangspunt. As daar kritiek is, sal dit goed wees om dit aan die gemeente voor te hou. Die Woord van God word gebring en voor die gesag van dié Woord moet ons buig.
In die praktyk blyk dit ewenwel moeilik om by sommige jongmense én volwassenes in dié verband aanklank te vind. Baie gemeentelede kan van tyd tot tyd behoorlik krities wees. Gelukkig kom die meeste van hulle wel graag kerk toe, maar juis daarom is hulle van mening dat daar ’n goeie produk gelewer behoort te word. Wanneer hulle meen dat dit nie die geval is nie, is hulle vinnig elders heen op pad. In baie plekke, veral in die groot stede, neem sulke ‘kerktoerisme’ toe: die eie predikant word dikwels vermy en ’n erediens in ʼn ander kerk word bygewoon. Ons sien ook dat ons studerende jongmense soms minder gereeld oor naweke huis toe kom, want “ag, daai predikant van my ouers … ons het gawe kerkdienste hier”, óf “...ons verkies om naweke na my verloofde se ouers toe te gaan — hulle het so ’n fantastiese predikant en ons kry baie uit die dienste waarin hy voorgaan”.
Ons sou ons reaksie kon beperk tot ʼn ‘Dít is nou tipies die tydgees! Ons kan en mag ons nie daarby aanpas nie, dit is die begin van die einde’.
Die verskynsel van ‘kerktoerisme’ pas inderdaad in ons huidige tydsgewrig. In ons samelewing het baie mense ʼn sterk verbruiks- en selfgerigtheid. Skynbaar ontkom ons, gereformeerdes, nie aan die invloed van hierdie kultuur waarin ons leef nie. Kerktoerisme vind sy oorsaak mede in ʼn té verbruiks- en individualistiese ingesteldheid. Hopelik kan daar verandering aan hierdie situasie kom. Dit is klaarblyklik nodig om binne die kerkgemeenskap daaraan aandag te gee en bykomende aandag hieraan is nie ’n oorbodige luukse nie.
Daarmee is alles nie gesê nie. Die verskynsel kom voor en dit is nie verstandig om dit te negeer of net daarteen te preek nie. Daar is naamlik ʼn ander sy aan die saak: die gesag van die Woord is wel die beslissende, maar nie die enigste faktor in die verhouding ampsdraer-gemeentelede nie. Ons gaan hierop verder in.
2. Die formele gesag van die ampsdraer←⤒🔗
Ons praat met opset van ‘ampsdraer’ en nie van ‘amp’ nie. Mens kan natuurlik van die ‘amp-op-sigself’ praat en die amp kan abstrak beskryf word, reëls daarvoor gemaak word, ensovoorts. Die amp kan ewenwel eers behoorlik funksioneer as dit konkreet deur ʼn ampsdraer beklee word. Hiervoor word aan Teologiese Universiteite opleiding verskaf: vir funksionering in die amp van predikant.
ʼn Predikant staan in diens van Christus. Hy is ʼn gawe van Christus aan die gemeente. Hy moet die Woord van God bring en die gemeente lei en versorg soos Jesus Christus dit wil hê. Die spreek van die Woord, die spreek ooreenkomstig die Woord en die optrede ooreenkomstig Gods woord staan sentraal in sy werk. In hierdie verband is daar die uitdrukkings, wat ons elders ook al genoem het, soos: ‘Die gesag van die amp is die gesag van die Woord’ en ‘Die gesag van ʼn ampsdraer is nie groter as die gesag van die Woord wat hy spreek nie.’
Hierin steek groot waarheid. Na ons oortuiging is dit selfs ’n kerngegewe: God moet dit doen en die Woord moet dit doen. Die predikant is, só beskou, net maar die middel, die medium, die tussenganger.
Ons kan die genoemde stellings ewenwel nie sonder meer onderskryf nie, want daar is méér in die predikant-gemeente verhouding as die gesag van die Woord. Al is die predikant maar net tussenganger ten opsigte van die gemeente — hy is dit! Hy is selfs amptelik aangestel om dit te wees. As ampsdraer het hy ook bepaalde formele gesag ontvang. Daarmee bedoel ons dat die ampsdraer die bevoegdheid, die wetlike reg gekry het om bepaalde besluite te neem en die lewensomstandighede van die gemeentelede te beïnvloed.
So moet die kerkraad oor heelwat sake beslis waaroor die individuele gemeentelede nie mag beslis nie, maar wat hulle wel raak.
ʼn Ouderling het die reg én die plig om ʼn afspraak vir ʼn huisbesoek te maak en, indien nodig, tydens so ʼn besoek die gesinslede op grond van God se Woord te vermaan.
Die woorde van ʼn ampsdraer het, op sigself beskou, nie meer waarde as die vermanende woorde van ʼn gewone gemeentelid op grond van God se Woord, teenoor ʼn vriend in die gemeente nie. Want ook dan behoort hierdie vriend na die goeie woorde van sy vriend en mede-gemeentelid te luister.
Ewenwel is die omstandighede waarin ʼn gemeentelid op grond van God se Woord ʼn mede-gemeentelid vermaan, nie identies aan die omstandighede waarin die vermaning van die ampsdraer afkomstig is nie. Die ampsdraer het naamlik die plig én die reg om deur middel van die huisbesoek die private kring van die huisgesin te betree. Hy het ook die reg om, indien nodig, baie persoonlike vrae te stel, want die ampsdraer is vir die gemeentelid verantwoordelik. En vir die gemeentelid beteken dit dat hy hom moet ontvang as ʼn gestuurde, ook al sou hy liewer ʼn ander predikant of ’n ander ouderling op besoek wou hê. Die gemeentelid moet die woorde van die ampsdraer dan ook werklik aanhoor en bewustelik inneem, want in die Bybel word die gemeentelede opgeroep om na hulle voorgangers te luister en hulle te gehoorsaam. Daar is sprake van ’n bepaalde gesagsverhouding, want die ampsdraers kom namens Christus, die Koning van die kerk.
Die formele gesag van die ampsdraer hang dus saam met die gemeentelede se samewerking deur te luister, hulle by die gesag neer te lê en te gehoorsaam. Allerhande persoonlike opvattings van die betrokke ampsdaer is uiteraard nie hier ter sprake nie.
Ons het nou twee dinge gesien:
- God se Woord het gesag, en jy moet daarna luister, óók as die Woord dalk nie so goed bedien word nie;
- Die ampsdraer het formele gesag, jy moet jou dus vir hom oopstel, na hom luister en sy leiding aanvaar, ook al sou jy hom nie as vriend gekies het nie.
Is die gevolgtrekking nou dat die persoon of die optrede van die ampsdraer uiteindelik nie soveel saak maak nie? Nee, want naas die formele gesag onderskei ons ook die persoonlike gesag.
3. Die persoonlike gesag van die ampsdraer←⤒🔗
Iemand kan vir ʼn ander gesaghebbend wees vanweë, byvoorbeeld, sy deskundigheid of sy persoonlike kwaliteite of sy geestelike volwassenheid. Ander sal dan na hom luister, sy woord en sy idees aanvaar. Hy sê hulle letterlik voor.
Iemand kan oor persoonlike gesag oor ander beskik, sonder dat hy ʼn spesiale posisie beklee en glad nie formele gesag oor hulle het nie. Ons sou kon sê dat so ’n persoon groot invloed het en deur ander as gesaghebbend beskou word alhoewel hy nie ’n formele ‘magsposisie’ beklee nie
In die praktyk gaan formele en persoonlike gesag ewenwel dikwels saam; ook by ampsdraers, en dit is goed so. Gelukkig maar. So iemand sê die ander dan nie net voor nie, maar het ook iets vir hulle te sê. In ons samelewing is dit ongelukkig oor die algemeen so, dat jy as leidinggewende figuur nie sonder meer op jou formele gesag kan steun nie, omdat jy in praktyk afhanklik is van jou persoonlike gesag. As jy laasgenoemde nie het nie, of nie meer het nie, verloor diegene wat onder jou staan hulle vertroue in jou en is jy, prakties gesproke, jou gesag kwyt. Die moderne mens se gesagsbesef setel naamlik in erkende mag; mag wat erken word deur hulle wat onder die gesag staan. Erken hulle dit nie meer nie, is die gesagsdraer dit kwyt.
’n Gesagsdraer of leier moet in ons samelewing homself dus altyd weer as sodanig vestig teenoor hulle wat onder hom staan. Vir baie leiers is dít een van die bekende oorsake van stres en probleme.
Kan mens dit net so op die ampsdraers van die kerk toepas?
Uit baie plekke in die Bybel blyk dit duidelik dat persoonlike gesag vir ʼn ampsdraer belangrik is. Dink maar aan die eise wat aan die ampsdraer gestel word: hy moet matig wees, vriendelik, hy moet sy eie gesin goed regeer, ens.
Persoonlike gesag het naamlik te doen met die sogenaamde voorbeeldfunksie wat ʼn ampsdraer moet vervul. Hy moet in ʼn seker opsig selfs ʼn identifikasiefiguur vir die gemeentelede wees, omdat hulle ook deur sy voorbeeld gevorm moet word. Daarom het ʼn goeie ampsdraer bepaalde gawes of persoonlike bekwaamhede, byvoorbeeld op die gebied van kommunikasievaardighede, kennis van die Woord van God, as spreker of om leiding gee. Maar ook as mens en as Christen moet hy ʼn voorbeeld vir die gemeentelede wees. En daarby moet hy veral laat sien wat ʼn egte geloof is en wat ware lewe in Christus inhou.
Met ander woorde: formele gesag is nie genoeg nie. Dit moet saamgaan met persoonlike gesag. En iemand moet nie ʼn ampsdraer word as vooraf al verwag kan word dat hy in die gemeente geen persoonlik gesag sal dra nie.
Gestel dat iemand tot ampsdraer benoem is, en dit blyk daarna dat sy persoonlike gesag in sekere opsigte tekort skiet. Moet die gemeentelede dan maar afwag of hy dit regkry om ‘homself te bewys’? Werk dit in die kerk net soos in ons samelewing? Nee, in so ʼn geval moet die gemeentelede hom aanvaar, die goeie woord wat hy spreek aanneem en met sy “gebreke geduld hê” (Heidelbergse Kategismus, V. & A. 104).
Hiermee is alles nie gesê nie, want die reël van antwoord 104 geld vir hulle wat onder die gesag staan. Dit is hulle wat aangespreek word en dit is hulle verantwoordelikheid om hulle hieraan te hou. Die gesagdraer moet homself nie te geredelik daarop beroep nie.
Dit gebeur ewenwel soms dat iemand wat nie al te goed funksioneer nie en gereeld kritiek ontvang, hom beroep op sy formele gesag en op die gesag van die Woord. Daarmee plaas hy die gemeentelede onder druk, terwyl hyself nalaat om werk te maak van sy gebrekkige prestasies en persoonlike vaardighede, dikwels met dié redenasie:
- die Woord moet dit doen;
- die Gees moet dit doen;
- ek mag mos aanvaarding en gehoorsaamheid verwag…
met daaragter die onuitgesproke gedagte: daarom is ek verskoon.
Iemand wat nie al te goed funksioneer nie, moet nie te gou wanhoop en homself blind staar teen sy gebreke en tekortkomings nie. Hy mag daarvoor bid dat die Woord en die Heilige Gees tog sal werk.
Hy mag God vra dat die gemeentelede hom, ondanks sy gebreke, sal aanvaar en hy mag troos put uit die wete dat dit God is wat dit van die gemeente eis.
Hy mag ook krag soek in die feit dat God swak mense soos hy wil gebruik. Maar vervolgens sal hy aan homself en aan sy vaardighede moet werk. Dit is sy verantwoordelikheid!
Diegene wat predikant word, kan dit deur die regte houding en optrede vir die gemeente makliker maak om sy woorde en leiding blymoedig te aanvaar.
Só word hy dan ʼn bruikbare instrument vir die Koning van die kerk.